Die diere van Openbaring—Wat beteken hulle?
OP SATERDAG, 15 Junie 1985, het die middagson helder geskyn op die geboue van die Verenigde Volke in New York. Soos gewoonlik het ’n stroom besoekers die indrukwekkende kompleks kom besoek, en talle kon nie hulle bewondering verberg vir al die dinge wat hulle gesien het nie.
Maar skynbaar kon die Verenigde Volke tot dusver nog lank nie die nasies verenig nie. Soos ’n amptelike gids daardie middag gesê het: “Daar was 150 oorloë sedert die Tweede Wêreldoorlog, en meer as 20 miljoen mense is gedood. Daar is nog nie ’n wêreldregering nie. Hierdie is moontlik die naaste daaraan.” Is ’n wêreldregering dan ’n ontwykende droom? Glo dit as jy wil, die antwoord kan gevind word deur die diere van Openbaring te ondersoek.
Sommige Bybelkommentators sien geen profetiese betekenis in die diere van die boek Openbaring nie. Hulle pas hulle eerder toe op gebeure wat plaasgevind het terwyl die apostel Johannes nog gelewe het. The Catholic Encyclopedia sê byvoorbeeld in sy bespreking van die diere van Openbaring: “Dit was die gebruik van apokaliptiese skrywers . . . om hulle gesigte in die vorm van profesieë te skryf sodat dit lyk of dit ’n vroeëre werk is.”
Maar die apostel Johannes het gesê: “Deur inspirasie was ek in die dag van die Here” (Openbaring 1:10, NW). Ja, die boek Openbaring handel nie oor geskiedenis nie, maar oor ’n toekomstige “dag” wanneer die Here Jesus Christus vanuit die hemel sou begin regeer. Volgens Openbaring hoofstuk 6 word “die dag van die Here” deur wêreldoorlog, wydverspreide voedseltekorte en dodelike siekte gekenmerk. Die gebeure wat gedurende hierdie 20ste eeu op die aarde plaasvind, is oortuigende bewys dat ons sedert 1914 in “die dag van die Here” lewe.—Openbaring 6:1-8.a
Jesus Christus het in daardie geskiedkundige jaar sy Koninkryksheerskappy begin (Openbaring 11:15, 18). Die diere van Openbaring moet derhalwe ná daardie datum prominent wees. Daardie diere beeld inderdaad vyande van God af wat mense verhinder om op God se Koninkryk te vertrou as die enigste reëling wat die mensdom se begeerte na vrede sal bevredig. Hierdie vyande sluit ’n draak en drie diere in. Kom ons ondersoek hulle in die volgorde waarin hulle verskyn.
Die groot draak
“Daar was ’n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings”, het Johannes uitgeroep. Wat beeld hierdie groot draak af? Johannes self verduidelik dat dit niemand anders as Satan die Duiwel voorstel nie. Volgens Johannes se gesig het hierdie draak die geboorte van God se hemelse Koninkryk in 1914 hewig teengestaan. Die gevolg? “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.”—Openbaring 12:3, 7-9.
Johannes toon dat dit rampspoedige gevolge vir die mensdom sou hê. “Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:12). Hoewel hy tot die omgewing van die aarde beperk is, is Satan steeds daarop uit om hom met God se opgerigte Koninkryk te bemoei. Hy doen dit deur die mensdom deur middel van drie diere te mislei. Beskou Johannes se beskrywing van die eerste dier.
Die seedier
“Ek het ’n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings . . . En die dier wat ek gesien het, was soos ’n luiperd, en sy pote soos dié van ’n beer, en sy bek soos die bek van ’n leeu; en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag.—Openbaring 13:1, 2.
Wat beeld hierdie afgryslike dier af? Onder inspirasie verskaf Johannes ’n belangrike leidraad: “Aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Openbaring 13:7). Wat oefen gesag oor elke lewende persoon op die aarde uit? Slegs een ding: die wêreldwye stelsel van politieke heerskappy. Ontvang hierdie stelsel werklik mag van “die draak”, Satan? Die Bybel antwoord ja. Die apostel Johannes het byvoorbeeld gesê: “Die hele wêreld [lê] in die mag van die Bose.” Geen wonder nie dat Satan vir Jesus, toe hy hom in die woestyn versoek het, mag oor “al die koninkryke van die wêreld” aangebied en gesê het: “[Hierdie mag] is aan my oorgegee.”—1 Johannes 5:19; Lukas 4:5, 6.
Maar wat beeld daardie sewe koppe af? Johannes is ’n ander afgryslike dier getoon wat feitlik ’n spieëlbeeld van hierdie een was. Dit het ook sewe koppe gehad. Daar is verduidelik dat die koppe van die beeld “sewe konings”, of wêreldmoondhede, voorstel waarvan ‘vyf geval het en een is; die ander een het nog nie gekom nie’ (Openbaring 17:9, 10). In Bybelgeskiedenis was daar vyf wêreldmoondhede voor Johannes se dag: Egipte, Assirië, Babilon, Medo-Persië en Griekeland. Rome, die sesde, was nog aan die bewind toe Johannes gelewe het.
Wat was die sewende kop? Aangesien die gesig oor “die dag van die Here” gehandel het, moet dit slaan op die wêreldmoondheid wat gedurende hierdie laaste dae sedert 1914 in Rome se magsposisie staan. Die geskiedenis toon dat dit ’n dubbele wêreldmoondheid is, naamlik Brittanje en die Verenigde State van Amerika. Voor 1914 het Brittanje die grootste ryk opgebou wat die wêreld ooit gesien het. Gedurende die 19de eeu het dit ook sterk diplomatieke en handelsbetrekkinge met die Verenigde State aangeknoop. Hierdie twee lande het gedurende die Eerste en Tweede Wêreldoorlog sy aan sy geveg, en hulle besondere verhouding duur vandag nog voort. In 1982 het Amerikaanse President Reagan die Britse parlement toegespreek oor “ons twee lande se merkwaardige vriendskap”. In onlangser tye, in Februarie 1985, het die Britse eerste minister die twee kamers van die Amerikaanse Kongres toegespreek en gesê: “Mag ons twee broedernasies saam vooruit gaan . . . doelgerig, een in geloof, . . . terwyl ons die derde millennium van die Christelike tydvak nader.”
Weens sy groot invloed op wêreldaangeleenthede word die Anglo-Amerikaanse wêreldmoondheid afsonderlik in die boek Openbaring afgebeeld. Hoe? Deur die tweede dier van Openbaring.
Die Landdier
“En uit die aarde het ek ’n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos ’n lam en het gepraat soos ’n draak”, skryf Johannes. Die Anglo-Amerikaanse wêreldmoondheid neem ’n lamagtige voorkoms aan deur te beweer dat dit Christelik en nie-aggressief is. Maar dit het in werklikheid soos ’n draak opgetree. Hoe? Deur talle nasies te koloniseer en die aarde se hulpbronne gierig te misbruik. Daarbenewens “maak [hy] dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is. Hy . . . [sê] aan die bewoners van die aarde . . . dat hulle ’n beeld moet maak vir die dier” (Openbaring 13:3, 11-15). Hoe is dit vervul?
Satan se wêreldwye politieke stelsel het gedurende die Eerste Wêreldoorlog ’n “dodelike wond” opgedoen. Brittanje en Amerika het ‘aanbidding’ van die politieke stelsel bevorder om te voorkom dat so iets weer gebeur. Hulle het dit gedoen deur die nasies ‘’n beeld vir die dier te laat maak’. Hoe het dit gebeur?
Teen die einde van die Eerste Wêreldoorlog het President Wilson van die Verenigde State ’n kruistog ten gunste van die pas voorgestelde Volkebond onderneem. Daarom het hy vir die afgevaardigdes by die Paryse Vredeskonferensie gesê: “Verteenwoordigers van die Verenigde State ondersteun hierdie groot projek vir ’n Volkebond. Ons beskou dit as die hoeksteen van die hele program wat ons doel . . . met hierdie oorlog uiteengesit het. . . . Kortom, ons is hier om toe te sien dat die fondamente van hierdie oorlog weggevee word.”
Na afloop van president Wilson se toespraak het niemand anders nie as die Britse eerste minister, Lloyd George, gepraat: “Ek staan op om hierdie resolusie te sekondeer. Na die edele toespraak van die President van die Verenigde State meen ek dat geen opmerkings nodig is om hierdie resolusie by die Konferensie aan te beveel nie, en ek . . . verklaar hoe nadruklik die volk van die Britse Ryk hierdie voorstel ondersteun.”
Later daardie jaar is ’n brief van die koning van Groot-Brittanje voorgelees by ’n vergadering in Londen om die bekragtiging van die Volkebond te ondersteun: “Ons het die oorlog gewen. Dit is ’n groot prestasie. Maar dit is nie genoeg nie. Ons het geveg om duursame vrede te bewerkstellig en dit is ons vernaamste plig om elke maatreël moontlik te tref om dit te verseker. Te dien einde is niks belangriker as ’n sterk en blywende Volkebond nie. . . . Ek beveel hierdie saak by alle burgers van die Ryk aan sodat ’n steunpilaar en ’n gewisse vredesverdediging, met behulp van alle ander welwillende mense, tot heerlikheid van God . . . opgerig kan word.”
Op 16 Januarie 1920 is die Volkebond opgerig met 42 ledenasies. Teen 1934 het dit 58 lande ingesluit. Die Ianddier met twee horings het daarin geslaag om die wêreld ‘’n beeld vir die dier te laat maak’. Hierdie beeld, of voorstelling van Satan se wêreldwye politieke stelsel, word deur die laaste dier van Openbaring afgebeeld.
Die skarlakenrooi dier
Hier is Johannes se beskrywing van hierdie laaste dier: “’n Skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings.” Johannes is omtrent hierdie dier meegedeel: “Die dier wat jy gesien het, was en is nie en sal uit die afgrond opkom en na die verderf vaar . . . [Hy] is self ook die agtste [koning]” (Openbaring 17:3, 8, 11). Getrou aan hierdie beskrywing het die Volkebond soos ’n wêreldmoondheid op die wêreldtoneel probeer optree. Dit kon egter nie die Tweede Wêreldoorlog, wat in 1939 uitgebreek het, voorkom nie. Die dier het as ’t ware in die afgrond verdwyn.
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die Anglo-Amerikaanse wêreldmoondheid hard probeer om daardie internasionale organisasie weer in die lewe te roep. In 1941 het die eerste minister van Groot-Brittanje, Winston Churchill, aan boord van ’n skip in die Atlantiese Oseaan geheime samesprekinge met president Franklin Roosevelt van die Verenigde State gevoer. Hulle het ’n gesamentlike verklaring gedoen oor “hulle verwagtinge vir ’n beter toekoms vir die wêreld” en “die oprigting van ’n omvattender en permanente stelsel vir algemene veiligheid”. Die volgende jaar het 26 nasies in Washington, D.C., hierdie Anglo-Amerikaanse voorstel onderskryf in wat die “Verklaring deur Verenigde Volke” genoem is. Dit het tot die stigting van die Verenigde Volke-organisasie op 24 Oktober 1945 gelei. Die skarlakenrooi dier het met ’n nuwe naam uit die afgrond opgekom. Hierdie organisasie het tans 159 ledenasies, en hulle hoop dat dit die bestaande stelsel van menslike politieke heerskappy sal laat voortbestaan.
Dit alles laat egter die Messiaanse Koninkryk van God, wat in 1914 in die hemel opgerig is, buite rekening. Elke mens op die aarde moet tussen heerskappy deur God en heerskappy deur die mens kies. Die skarlakenrooi dier, tesame met alle menseregerings, sal binnekort in oorlog met God se gekroonde Koning, Jesus Christus, gewikkel wees. Die uitslag? “Die Lam [Jesus Christus] sal hulle oorwin—want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings.” Ja, die skarlakenrooi dier sowel as die hele stelsel van menseregering sal ‘na die verderf vaar’.—Openbaring 17:11, 14; kyk ook Daniël 2:44.
Wat ’n seën sal dit dan wees as ’n mens nie deur die draak en sy drie diere mislei is nie! Diegene wat lojale onderdane van God se Koninkryk is, sal behoue bly om deel van “’n nuwe aarde” uit te maak. “God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4). Onderwerp jou dus aan God se Koninkryk, die enigste doeltreffende wêreldregering. Dan kan jy ook in aanmerking kom vir hierdie ewige seëninge.
[Voetnote]
a Hierdie gedagte is breedvoeriger bespreek in Die Wagtoring se nommers van 1 Januarie en 15 Januarie.