Job se onkreukbaarheid—Wie kan dit navolg?
“Hy [sal] my op ’n noukeurige weegskaal weeg en God sal my onkreukbaarheid te wete kom.”—JOB 31:6, NW.
1. Waarom is dit goed om Job se voorbeeld te ondersoek, en watter vrae word gestel?
JOB was seker van sy onkreukbaarheid en het derhalwe ondersoek deur God verwelkom. Sy voorbeeld kan vir ons vandag ’n groot aansporing wees, veral wanneer Satan die Duiwel wanhopige pogings aanwend om die onkreukbaarheid van al God se knegte te verbreek (1 Petrus 5:8). Die dissipel Jakobus het dit besef en gesê: “Neem as voorbeeld van lyding, my broeders, en van geduld die profete”, by uitstek Job (Jakobus 5:10, 11). Maar wie kan Job se onkreukbaarheid navolg? Kan ons? In watter opsigte het Job vir ons ’n voorbeeld van onkreukbaarheid gestel?
2. (a) Wat beteken die naam Job? (b) Wat het Job deur sy weg van onkreukbaarheid bereik?
2 Die naam Job beteken “Voorwerp van vyandigheid”, en dit het hy beslis geword. Maar toe Jehovah Satan se versoek toegestaan en die beskutting rondom Job weggeneem het, kon Satan niks doen om Job sy onkreukbaarheid teenoor God te laat prysgee nie (Job 1:1-2:10). Job het sodoende ’n antwoord verskaf op Satan se uitdaging dat hy enigiemand van God se diens kan afkeer (Spreuke 27:11). Deur sy weg van onkreukbaarheid het Job in werklikheid voor die ganse heelal uitgeroep: ‘Satan, jy is ’n veragtelike leuenaar, want Jehovah is my God, en ek sal my onkreukbaarheid teenoor hom handhaaf al gebeur wat ook al!’—Job 27:5, NW.
Die wat soos Job is
3. Wie was in die hemel beskerm, en watter vrae is aangaande hom geopper?
3 Dit is van betekenis dat die geskil tussen Jehovah en Satan ’n universele geskil was, een waarby die geesteryk betrokke was. Daar in die hemel, alkant beskut deur Jehovah se beskermende sorg, was die beloofde “saad” deur wie God Sy groot voornemens sou verwesenlik (Genesis 3:15). Maar sou hierdie “saad” werklik Job se onkreukbaarheid navolg wanneer die ‘beskutting’ weggeneem is? Sou hy bewys dat ’n volmaakte man, soos Adam eens was, volmaakte onkreukbaarheid teenoor God kan handhaaf? (1 Korinthiërs 15:45). Satan het voorbereidsels getref om hierdie “saad” tot die uiterste te beproef wanneer Hy Sy verskyning op aarde maak.
4. (a) Wie het die vernaamste voorwerp van Satan se vyandigheid geword, en hoe weet ons dat God sy beskermende sorg van hom weggeneem het? (b) Wat het Jesus aan Jehovah gebied?
4 Jesus Christus was die “saad” wat uit die hemel gestuur is. Hy het derhalwe die brandpunt van Satan se aandag geword, ja, die vernaamste voorwerp van Satan se vyandigheid. As bewys dat Jehovah sy beskermende sorg onttrek het, het Christus aan die folterpaal uitgeroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Mattheüs 27:46; Psalm 22:2). Ofskoon hy pynlik daarvan bewus was dat God sy beskerming onttrek het, het Jesus, soos Job, “aan God niks ongerymds toegeskrywe nie” (Job 1:22). Hy het Job nagevolg, volmaakte onkreukbaarheid teenoor God gehandhaaf en sodoende bewys dat ‘daar niemand op die aarde soos hy is nie’ (Job 1:8). In Jesus het Jehovah God dus ’n volledige en ewige antwoord op Satan se valse beskuldiging dat God nie ’n man op die aarde kan plaas wat onder die grootste beproewing aan hom getrou sal bly nie.
5. (a) Wat hou Satan aan om te doen? (b) Wat het Satan gedoen toe hy uit die hemel gewerp is?
5 Maar omdat Satan nog ’n verdere antwoord wil hê, bring hy steeds beskuldigings in teen Jesus se geestelike broers wat, saam met Jesus, die “saad” van God se gemalinorganisasie uitmaak. Waar die Bybel die oprigting van die Koninkryk in die hemel beskryf, sê dit aangaande Satan: “Die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag.” Maar Satan kla hulle nie net aan nie, hy doen ’n verwoede aanval! Nadat hy uit die hemel gewerp is, so verduidelik die Bybel, was “die draak [Satan] . . . vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou”.—Openbaring 12:7-12, 17.
6. (a) Wie gee vandag die leiding in die predikingswerk, en wie het by hulle aangesluit? (b) Wat probeer Satan om hulle aan te doen?
6 Die vrou se “ander nakomelinge” is Jehovah se gesalfde getuies wat vandag nog op die aarde oor is. Hulle gee die leiding in “die getuienis van Jesus Christus”, die openbare, wêreldwye verkondiging dat hy nou Koning geword het en binnekort hierdie onregverdige stelsel uit die weg gaan ruim (Mattheüs 24:14; Daniël 2:44). Maar hulle is lank nie alleen nie! ’n Ontsaglike menigte van meer as driemiljoen mense het nou by hulle aangesluit om ’n verenigde, wêreldwye organisasie van handhawers van onkreukbaarheid te vorm. AI hierdie handhawers van onkreukbaarheid het ook die voorwerpe van Satan se meedoënlose vyandige vervolging geword, en hulle hemelse Vader Jehovah skep behae in hulle onkreukbaarheid.—2 Timotheüs 3:12; Spreuke 27:11.
7. Waarom kan ons vol vertroue wees ondanks Satan se aanvalle?
7 Dit is gewis verontrustend om te besef dat, net soos Satan ’n verwoede aanval teen Job gedoen het, hy ons ook aanval wat probeer om ons onkreukbaarheid teenoor God te bewaar. Ons hoef egter nie bekommerd te wees nie. Waarom nie? Omdat Jehovah “vol medelye en ontferming is” en ons nie sal “begewe of verlaat” nie (Jakobus 5:11; Deuteronomium 31:6). Ja, Jehovah sal ons onderskraag. “Vir die wat in onkreukbaarheid wandel, is hy ’n skild”, sê die Bybel (Spreuke 2:7, NW). Dit beteken egter nie dat Jehovah nie sal toelaat dat ons beproef word nie. Hy sal, net soos hy dit in die geval van Job toegelaat het. “Maar God is getrou”, het die apostel Paulus opgemerk, “wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.”—1 Korinthiërs 10:13.
Wanneer ons beproef word
8. Hoe kan ons vandag by Job se voorbeeld baat vind?
8 Job se voorbeeld van onkreukbaarheid kan veral vir ons van nut wees wanneer ons voor swaar beproewinge te staan kom. Job se lyding was so erg dat hy liewer wou sterf en in die doderyk weggesteek wou word (Job 14:13). Vandag voel mense ook soms so. Hulle sê dat hulle hulle met Job kan vereenselwig toe hy so vreeslik gely het. Miskien het jy ook al by tye so gevoel. Wanneer ons van sy lyding lees, kan dit inderdaad wees soos bemoediging van ’n vriend wat ’n selfs swaarder beproewing as ons deurgemaak het. Die wete dat iemand anders volhard het, en verstaan, help ons gewis om ook te volhard.
9. Hoe vind ons baat by die onkreukbaarheid van ander?
9 Omdat Jehovah ons behoeftes ken, het hy die boek Job laat opteken om ons te help om ons onkreukbaarheid te bewaar net soos Job gedoen het (Romeine 15:4; Jakobus 5:10, 11). God weet dat sy getroue knegte mekaar nodig het, net soos een liggaamsdeel afhanklik is van die ander (1 Korinthiërs 12:20, 26). Dink aan die onlangse “Handhawers van onkreukbaarheid”-Byeenkomste wat deur miljoene lesers van hierdie tydskrif bygewoon is. Die wat daar was, sal onthou hoe aangenaam dit was om in die geselskap te wees van so baie mense wie se vernaamste doel in die lewe die handhawing van onkreukbaarheid teenoor God is. Hoe het die besef dat die derduisende rondom hulle ook hulle onkreukbaarheid tydens moeilike beproewinge bewaar—hetsy by die werk of by die skool in hulle onderskeie gemeenskappe—tog nie die aanwesiges aangespoor om ook hulle onkreukbaarheid te bewaar nie!—1 Petrus 5:9.
10. (a) Hoe kan iemand die regte beskouing verloor? (b) Waaraan het Job begin twyfel?
10 Maar soos Job behou ons miskien nie altyd die regte beskouing nie. Iemand wat groot lyding verduur en baie neerslagtig is, kan sê: ‘Ag, waarom doen God dit aan my? Waarom laat hy toe dat dit gebeur?’ Uiteindelik kan hy selfs vra: ‘Watter nut het dit dat ek God dien?’ Omdat hy nie besef het waarom hy ly nie, het Job getwyfel aan die onmiddellike nut daarvan om regverdig te wees, aangesien die goeies oënskynlik net soveel, indien nie meer nie, as die slegtes ly (Job 9:22). Volgens Elihu het Job gesê: ‘Wat baat dit? Wat help dit my meer as wanneer ek sou sondig?’ (Job 35:3). Maar ons kan nie toelaat dat ons so oorweldig word deur ons eie moeilikhede dat ons die regte beskouing verloor en begin twyfel aan die nut daarvan om God te dien nie.
11. Watter uitstekende teregwysing het Elihu Job gegee?
11 Elihu het Job die nodige teregwysing gegee en sake in die regte lig gestel deur daarop te wys dat Jehovah hoog bo Job verhewe was (Job 35:4, 5). Elihu het getoon dat ons nooit, wat ook al gebeur, moet dink dat God nie omgee nie en redeneer dat ons Hom kan vermaak weens onregte wat Hy sou gepleeg het nie. “As u sondig”, het Elihu vir Job gevra, “watter skade is dit vir Hom? En is u oortredinge baie, wat kan u Hom daarmee aandoen?” (Job 35:6). Ja, as jy God probeer vermaak deur sy weë of sy diens te verlaat, benadeel jy net jouself, nie God nie.
12. Hoe raak ons onkreukbaarheid God?
12 Aan die ander kant het Elihu getoon dat Jehovah nie persoonlik daarby baat vind as ons doen wat reg is nie. God skep natuurlik behae in ons onkreukbaarheid, maar terselfdertyd is hy geensins afhanklik van ons aanbidding nie, soos aangedui deur Elihu se vraag aan Job: “As u regverdig is, wat gee u aan Hom? Of wat kan Hy uit u hand aanneem?”(Job 35:7). God het ons die lewe gegee, en danksy hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Hy besit alles! (Handelinge 17:25; 1 Kronieke 29:14). Ons goddeloosheid of regverdigheid kan God dus nie persoonlik raak nie.—Job 35:8.
Wanneer ons tereggewys word
13. (a) Hoe het Job op die teregwysing gereageer? (b) Watter probleem ondervind ons almal?
13 Hoe het Job gereageer op die teregwysing, eers van Elihu en toe van Jehovah self? Hy het dit aanvaar en berou gehad “in stof en as” (Job 42:6). Ja, Job het hom verootmoedig en sy sonde erken. En bewonder ons nie sulke nederigheid nie? Maar wat van ons? Al is ons standvastige handhawers van onkreukbaarheid soos Job, is ons almal geneig om foute te begaan en in die een of ander opsig van balans te raak (Jakobus 3:2; Galasiërs 2:11-14). Wat sal ons doen wanneer ons fout of onvolmaaktheid onder ons aandag gebring word, selfs deur ’n jonger persoon soos Elihu?—Job 32:4.
14. (a) Wat is ’n algemene neiging wanneer iemand tereggewys word? (b) Wat kan tot foute of verkeerde oordele bydra, en watter voorbeeld het Job gestel toe hy tereggewys is?
14 Dit is nie altyd maklik om teregwysing te aanvaar nie (Hebreërs 12:11; Spreuke 3:11, 12). Ons is geneig om onsself te probeer regverdig. Soos Job het ons miskien nie moedswillig iets verkeerds gesê of gedoen nie. Ons beweegrede was dalk goed. Maar ons het moontlik sonder volledige kennis, met ’n gebrek aan begrip of sensitiwiteit gepraat. Miskien het ons woorde ’n gevoel van rasse- of volksmeerderwaardigheid verraai, of onskriftuurlike onbuigsaamheid oor die een of ander saak. Ons word dalk daarop gewys dat ons uitlatings eintlik ons persoonlike beskouing weerspieël en dat dit ander so seergemaak het dat hulle geestelikheid in gevaar is. Sal ons, wanneer ons tereggewys word, soos Job erken dat ons ‘gespreek het sonder om te verstaan’ en ons woorde “herroep”?—Job 42:3, 6.
Vertrou op God, nie rykdom nie
15. Hoe weet ons dat Job nie op sy rykdom vertrou het nie?
15 Bildad het die voorwerp van Job se vertroue bevraagteken deur te kenne te gee dat hy God vergeet en sy vertroue elders geplaas het (Job 8:13, 14). Maar hoewel Job met baie materiële dinge geseën was, het hy nie op daardie dinge vertrou nie. Sy onkreukbaarheid is geensins geskud toe hy al sy besittings verloor het nie (Job 1:21). In sy slotverweer het Job gesê: “As ek op goud my hoop gestel het en vir die fyn goud gesê het: My vertroue! As ek bly gewees het, omdat my vermoë groot was en my hand baie verwerf het . . . ook dit sou ’n strafbare misdaad wees, want ek sou God daarbo verloën het.”—Job 31:24-28.
16. (a) Watter selfondersoek moet ons doen? (b) Watter beloftes maak God aan die wat op hom vertrou?
16 Wat van ons? Waar stel ons ons vertroue—in Jehovah of in besittings? Sal God ons onkreukbaarheid in hierdie saak te wete kom as ons op ’n noukeurige weegskaal geweeg word, soos Job geweeg wou word? Is dit werklik die hoofdoel in ons lewe om aan Jehovah ’n weg van onkreukbaarheid te bied waarmee hy Satan se smadelike uitdagings kan beantwoord? Of is ons hoofsaaklik daarop uit om ons begeerte na plesier en besittings te bevredig? Hoe goed sal dit tog nie wees as ons Job kan navolg en Jehovah se hart kan verbly deur op Hom te vertrou nie, pleks van te veel waarde te heg aan onsself of aan die materiële dinge wat beskikbaar is! As ons op Jehovah vertrou en sy belange eerste stel, belowe hy om ons nooit te begewe of te verlaat nie.—Mattheüs 6:31-33; Hebreërs 13:5, 6.
Geslagsedelikheid
17. Watter insinuasies het Job se “troosters” gemaak, maar wat het Job oor sy sedelike gedrag gesê?
17 Job se valse troosters het hom nooit direk van seksuele wangedrag beskuldig nie, maar hulle het keer op keer geïnsinueer dat hy skuldig was aan die een of ander geheime sonde waarvoor God hom nou gestraf het. As ’n vermoënde man, trouens, “die belangrikste man” onder die mense van die Ooste, het Job seer seker geleenthede vir buite-egtelike omgang gehad (Job 1:3, NAV; 24:15). Ander knegte van God, voor en na Job se tyd, het voor seksuele versoekinge geswig (Genesis 38:15-23; 2 Samuel 11:1-5). Job het homself egter teen alle insinuasies van sulke sonde verdedig deur te sê: “Ek het ’n verbond gesluit met my oë: hoe sou ek dan ag gegee het op ’n jonkvrou? As my hart verlok was oor ’n vrou, en ek geloer het by die deur van my naaste . . . dit is ’n skandelike daad, en dit is ’n strafbare misdaad.”—Job 31:1, 9-11.
18. Waarom is dit so moeilik om geslagsedelikheid te handhaaf, maar waarom sal ons gelukkig wees as ons dit doen?
18 Daar is seker geen ander metode wat Satan met groter welslae gebruik het om die onkreukbaarheid van God se knegte te ondermyn as om hulle tot geslagsonsedelikheid te verlok nie (Numeri, hoofstuk 25). Kan jy Job se onkreukbaarheid navolg deur alle verlokkinge tot seksuele wangedrag te weerstaan? Dit is inderdaad ’n uitdaging, veral in hierdie seksbehepte wêreld waar onsedelikheid so algemeen is. Maar dink net hoe goed dit sal wees om, wanneer ons tot verantwoording geroep word, met vertroue soos Job te kan sê: “God sal my onkreukbaarheid te wete kom”!—Job 31:6, NW.
Wat ons kan help
19. Wat is noodsaaklik as ons ons onkreukbaarheid wil bewaar?
19 Dit is nie maklik om Job se onkreukbaarheid na te volg nie, want Satan probeer net so hard om ons onkreukbaarheid te verbreek as wat hy Job s’n probeer verbreek het. Daarom is dit noodsaaklik dat ons die volle wapenrusting van God aantrek (Efesiërs 6:10-18). Dit beteken dat ons God voortdurend voor oë moet hou, soos Job gedoen het, en dat ons Hom altyd moet probeer behaag in alles wat ons of ons gesin doen (Job 1:5). Bybelstudie, gereelde omgang met medegelowiges en openbare belydenis van ons geloof is dus lewensbelangrik.—2 Timotheüs 2:15; Hebreërs 10:25; Romeine 10:10.
20. (a) Watter hoop kan ons tydens beproewinge onderskraag?(b) Watter beloning vir onkreukbaarheid kan ons ontvang, soos deur die psalmis gemeld is?
20 Maar wat ons bowenal tydens beproewing kan onderskraag, is wat Job onderskraag het—sy vertroue dat hierdie lewe nie al is wat daar is nie. “As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe?” het Job gevra. En hy het geantwoord: “U sou roep, en ek sou U antwoord” (Job 14:13-15). As ons dieselfde vaste vertroue het dat Jehovah sy getroue knegte uit die dood sal opwek, kan dit ons ook help om enige beproewing wat Satan oor ons bring te deurstaan (Hebreërs 6:10). Lank gelede het die Bybelpsalmis geskryf: “Wat my betref, weens my onkreukbaarheid het u my ondersteun, en u sal my tot onbepaalde tyd voor u aangesig stel” (Psalm 41:12, NW). Mag dit die gelukkige toekoms van elkeen van ons wees—om vir ewig deur Jehovah ondersteun en bewaar te word omdat ons sy onkreukbare knegte is!
Kan jy antwoord?
◻ Wie het getoon dat hulle soos Job is, en watter ooreenkomste kan tussen hulle en Job aangetoon word?
◻ Wat kan ons uit Job se reaksie op sy beproewinge leer?
◻ Hoe het Job op teregwysing gereageer, en wat kan ons daaruit leer?
◻ Watter uitstekende voorbeeld het Job gestel ten opsigte van materiële dinge en geslagsedelikheid?
◻ Wat kan ons help om ons onkreukbaarheid te handhaaf soos Job gedoen het?
[Prent op bladsy 17]
Het jy al ooit, soos Job, getwyfel aan die onmiddelike nut van ’n weg van onkreukbaarheid?