Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 4/15 bl. 15-19
  • Wat Jehovah se tye en seisoene vir ons dag beteken

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat Jehovah se tye en seisoene vir ons dag beteken
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Te lig bevind”
  • Nog ’n rede vir die oordeel
  • Nog ’n rede
  • Sluitingstyd kom nader
  • Soek Jehovah nou
  • Jehovah—die God van tye en seisoene
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Uiteindelik vrede!—Wanneer God spreek
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Luister na Jehovah terwyl die einde nader kom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Wanneer sal die voorspelde wêreldvernietiging kom?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 4/15 bl. 15-19

Wat Jehovah se tye en seisoene vir ons dag beteken

“Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”​—MATTHEÜS 7:19.

1. Wat kan ons leer uit die manier waarop Jehovah in die verlede teenoor sommige heersers opgetree het?

DIE geskiedenis getuig van die feit dat Jehovah ‘die tye en die seisoene kan verander; Hy sit konings af en stel konings aan’ (Daniël 2:21). In vervloë eeue het hy Farao, Nebukadnesar, Belsasar, Herodes Agrippa I en ander verwyder wanneer dit sy voorneme gepas het. ‘Maar’, sê party dalk, ‘daardie gebeure is alles ou geskiedenis. Wat het dit met ons te doen?’ Dit het baie met ons te doen, want dit bevat kragtige lesse. Wat ons uit daardie gebeure leer, is dat Jehovah ’n end maak aan die heerskappy van wêreldleiers wanneer sy tyd daarvoor aanbreek. En wanneer hy wou, het hy die heerser van sy keuse aan bewind gestel.

2. Waarvoor het Jehovah se tyd in ons dag aangebreek?

2 Jehovah se tyd om ‘konings af te sit en konings aan te stel’, het weer eens in ons dag aangebreek. Noudat God die Koning van sy keuse ‘aangestel’ het, sal hy binnekort al hierdie wêreld se heersers, sowel as die hele stelsel wat deur hulle oorheers word, uit die weg ruim. Waarom? Omdat hulle, soos Belsasar van eertydse Babilon, “op die weegskaal geweeg en te lig bevind” is. Die situasie is vandag net soos toe God se kneg Daniël vir Belsasar gesê het: “God het u koningskap getel en daar ’n einde aan gemaak” (Daniël 5:26, 27). Jehovah sal dus beslis in ons dag “konings op die dag van sy toorn [verbrysel]. Hy sal ’n strafgerig hou onder die nasies.”​—Psalm 110:5, 6.

“Te lig bevind”

3, 4. Hoe is wêreldheersers in ons eeu “te lig bevind” ten opsigte van vrede?

3 Hoe is aardse heersers “te lig bevind” ten opsigte van wêreldverwikkelinge? Hulle moet grootliks die skuld dra vir wat in ons dag​—’n tyd van ongeëwenaarde rampe—​met die mensdom gebeur het. Net sedert 1914 is daar byvoorbeeld sowat honderdmiljoen mense in verskillende oorloë gedood! Vandag bedreig kernwapens die voortbestaan van lewe op aarde. Op hierdie oomblik is duisende kernmissiele, met spanne wat gereed staan om dit af te vuur, op bevolkingsentrums gemik.

4 Die tydskrif Science het hierdie ysingwekkende ontleding van kernoorlog gegee: ‘In ’n grootskaalse kernoorlog sal ’n groot deel van die plante- en dierelewe op aarde waarskynlik uitgewis word. Die uitwissing van die mensdom kan nie uitgesluit word nie.’ ’n Regeringsamptenaar in Europa het gesê: “Die verliese sal nie in terme van stede bereken word nie, maar in terme van vastelande.” Die President van ’n Latyns-Amerikaanse land het oor verdedigingskoste gesê: “Die mensdom seil in ’n swak skip wat heel moontlik sal sink . . . As dit sink, kan almal ondergaan.” En ’n Japannese koerant het opgemerk: “Die wêreld is skynbaar verder van [vrede] af as in enige ander tyd in die geskiedenis.”

5, 6. Wat is die ekonomiese toestand van talle lande en volke?

5 Die nasies bestee nietemin al hoe meer aan wapens. Die koste het nou tot meer as tweebiljoen rand per jaar gestyg! Een bron sê dat die wêreld sowat 50 keer meer geld aan elke soldaat bestee as wat dit aan elke skolier bestee. Dink ook aan ’n verslag deur die Verenigde Volke wat sê dat ten minste 450 miljoen mense dwarsoor die wêreld honger is, en hulle getal neem toe. ’n Ander berig sê dat daar in ontwikkelingslande “elke jaar 30 tot 40 miljoen mense van die honger omkom”. Dit meld ook dat sowat die helfte van die wat sterf kinders onder die ouderdom van vyf is.

6 ’n Regeringsamptenaar van een groot land in Suid-Amerika sê dat “40 persent van die werkkragte in volslae armoede lewe”. In ’n ander land aldaar raak werkloosheid in die hoofstad 51 persent van die werkkragte. ’n Verslag sê: “’n Vasteland van 260 miljoen mense het tot in sy grootste depressie van ’n halfeeu gesink.” Let ook op hierdie drie opskrifte uit verskillende lande: “Armoedesyfer ‘onrusbarend’.” “Armoedesyfer is hoër.” “Armoede, ’n pynlike ervaring.” Kom hierdie berigte uit ontwikkelingslande? Nee, dit kom van regeringsamptenare in Kanada, die Verenigde State en die Bondsrepubliek van Duitsland. Ja, selfs sogenaamde ryk lande is in moeilikhede gedompel.

7. Watter opmerkings is gemaak omtrent die misdadigheid en geweld wat vandag hoogty vier?

7 Hierdie probleme word in talle lande weerspieël deur ’n vlaag misdadigheid, geweld en terrorisme. In die Verenigde State toon die Federale Sentrums vir Siektebeheer byvoorbeeld dat meer as 50 000 Amerikaners elke jaar vermoor word of selfmoord pleeg! ’n Hoofartikel in The New York Times het gevolglik gesê: “Dinge is buite beheer.” ’n Ander hoofartikel het opgemerk: “Dis ’n tyd van internasionale anargie.” Wêreldleiers kan dus ondanks eeue se pogings, ondervinding en tegnologiese vooruitgang nie in die basiese behoeftes van baie lede van hulle volk voorsien nie.

8. Waarvan getuig die geskiedenis?

8 Die ou sowel as hedendaagse geskiedenis getuig ongetwyfeld dat die mens, op sy eie, nie die oplossings het nie. Die politieke, handels- en godsdiensleierskap van hierdie wêreld kan nooit die vrede, veiligheid, geluk, gesondheid en lewe bring wat ons verlang en nodig het nie. Hierdie wêreld moet dus uit die weg geruim word! En dit sal uit die weg geruim word, want dit is wat Jehovah daarmee voorhet. Dit is soos die Bybel sê: “Die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom dan wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”​—Lukas 3:9.

Nog ’n rede vir die oordeel

9. Hoe beskou wêreldleiers Jehovah se voornemens oor die algemeen?

9 Die slegte vrugte wat hierdie wêreld en sy leiers voortgebring het, is een rede waarom Jehovah die wêreld, toe hy dit geweeg het, te lig bevind het en sal vernietig. Maar daar is nog ’n rede: Die wêreldleiers het Jehovah​—die Skepper en Universele Soewerein—​in al hulle planne buite rekening gelaat. Hulle stel nie werklik in sy voornemens of tye en seisoene belang nie. Dit is waarom 1 Korinthiërs 2:8 (NAV) met juistheid van hulle sê: “Nie een van die heersers van hierdie wêreld het hierdie [goddelike] wysheid geken nie.” Psalm 146:3 vermaan ons dus: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.”

10, 11. (a) Wat moet persone doen wat Jehovah wil leer ken? (b) Waarom weet God se knegte dinge wat ander nie weet nie?

10 Spreuke 3:5 en 6 spoor ons eerder aan: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” Mense wat dit doen, sal nie in die duistere wanhoop van hierdie wêreld bly nie. Jehovah sal hulle met sy gees seën sodat hulle sy voornemens en sy tye en seisoene vir hulle kan leer ken. Handelinge 5:32 sê Jehovah gee sy heilige gees ‘aan die wat Hom as heerser gehoorsaam’.

11 God se knegte weet derhalwe wat hierdie wêreld se heersers nie weet nie. Hulle weet wat Jehovah se voornemens en sy seisoene is. Eerste Petrus 1:11 (NAV) sê dat God se knegte in die verlede “probeer naspeur [het] wat die tyd en die omstandighede sou wees wat die Gees bedoel het”. Omdat God se gees dit aandui, kon die apostel Paulus vir ware mede-aanbidders sê: “Julle weet watter seisoen dit is” (Romeine 13:11, NW). Aangesien Jehovah se hedendaagse knegte hom as heerser gehoorsaam, openbaar God se heilige gees ook aan hulle watter seisoen dit volgens hom is. Amos 3:7 sê: “Die Here Here doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.”

Nog ’n rede

12, 13. Wat is nog ’n kragtige rede waarom Jehovah hierdie wêreld en sy leiers te lig bevind?

12 Dit bring ons by nog ’n rede waarom Jehovah hierdie wêreld en sy leiers te lig bevind het en hulle sal vernietig. Onthou wat Farao, Belsasar, Herodes en ander heersers in die verlede aan Jehovah se knegte gedoen het. Hulle het hulle teengestaan, vervolg en selfs doodgemaak. God het daardie heersers daarvoor aanspreeklik gehou.

13 Dit is ook in ons dag die geval. Verskeie wêreldheersers het Jehovah se vredeliewende knegte teengestaan, vervolg en selfs doodgemaak. Sulke heersers spreek “woorde . . . teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel” hulle (Daniël 7:25; 11:36). Maar die geïnspireerde verslag in Jesaja 54:17 sê: “Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie . . . Dit is die erfdeel van die knegte van die Here.” Alle teenstanders sal gevolglik net soos ander in die verlede vernietig word. Jehovah beloof andersyds dat sy volk behoue sal bly en voorspoedig sal wees.

Sluitingstyd kom nader

14, 15. (a) In watter tydperk lewe ons, en op watter waarskuwings moet ons ag slaan? (b) Wat kom vinnig nader ondanks pogings deur wêreldleiers?

14 Hoe laat is dit dan volgens God? Dit is sluitingstyd vir hierdie wêreld. Sy son sak. Sy nag kom vinnig nader. Sy winter is amper hier. AI die bewyse ter vervulling van Bybelprofesie en Jehovah se tydtafel toon dat ons in “die laaste dae”, aan “die voleinding van die wêreld”, lewe (2 Timotheüs 3:1-5; Mattheüs 24:3-14). Ons moet dus Jesus se waarskuwing ter harte neem: “Bid dat julle vlug nie in die winter . . . mag plaasvind nie” (Mattheüs 24:20). Wanneer hierdie wêreld se nag of winter aanbreek, sal dit te laat wees om Jehovah se guns te soek.

15 Die tyd dat daar ’n einde aan hierdie God-onterende wêreld gemaak sal word, kom vinnig nader. Wanneer dit aanbreek, sal Jehovah alle wêreldheersers gewelddadig uit hulle amp verwyder. Hoe opreg hulle ook al is, hulle nuttelose en hopelose planne sal tot ’n einde kom. Die heersers probeer weliswaar om hulle volk met wapenverdrae en allerhande planne vir vrede en veiligheid, selfs met ‘heilige jare’, moed in te praat; maar die finale konfrontasie by God se oorlog, Armageddon, kom meedoënloos nader.​—Openbaring 16: 13-16.

16. Aan wie het Jehovah wêreldheerskappy gegee?

16 Onthou ook dat Jehovah nie net ‘konings afsit’ nie, maar dat hy ook ‘konings aanstel’ (Daniël 2:21). Die hemelse leërs wat Jehovah sal gebruik om sy strafgerigte by Armageddon te voltrek, sal aangevoer word deur die Heerser wat hy vir die hele aarde ‘aangestel’ het. Dit is sy getroue Seun, Christus Jesus, wat nou met hemelse mag en heerlikheid beklee is. Openbaring 19:16 noem hom “die Konings van die konings en die Here van die here”. Daniël 7:14 sê: “Aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.”​—Kyk ook Daniël 2:44.

17, 18. (a) Wat sal volgens God se Woord met diegene gebeur wat hom en sy aangestelde Heerser vir hierdie aarde nie erken nie? (b) Wie anders weet dat daar min tyd oor is?

17 God se profetiese Woord vertel ons in eenvoudige taal wat met diegene sal gebeur wat Jehovah en sy aangestelde Heerser vir die hele aarde nie erken nie. Dit sê: “Ek het een engel sien staan in die son; en hy het met ’n groot stem uitgeroep en vir al die voëls gesê wat in die middel van die lug vlieg: Kom hierheen en versamel julle tot die maaltyd van die grote God, dat julle kan eet die vlees van konings en die vlees van owerstes oor duisend en die vlees van sterkes en die vlees van perde en van die wat daarop sit, en die vlees van almal, vrymense sowel as slawe, klein sowel as groot.”​—Openbaring 19:17, 18.

18 Jeremia 25:33 beskryf dit soos volg: “Die wat deur die Here verslaan is, sal die dag lê van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde; hulle sal nie beklaag of versamel of begrawe word nie; hulle sal mis op die aarde wees.” Ja, dit is sluitingstyd vir Satan se hele verdorwe stelsel. En selfs hy weet dit! Openbaring 12:12 sê hy weet dat hy slegs “min tyd het”.

Soek Jehovah nou

19. Watter opwindende dag en seisoen sal aanbreek wanneer hierdie stelsel vernietig is?

19 Wat sal gebeur wanneer die nag of winter van Satan se stelsel verby is? Dan sal dit Jehovah se tyd wees om ’n helder, nuwe dag, ’n opwindende, nuwe lenteseisoen, in te lui. Dit sal tyd wees vir Jehovah se regverdige nuwe orde onder die heerskappy van sy hemelse Koning, Christus Jesus, om te begin. In daardie nuwe orde sal daar nie meer geweld, onregverdigheid, lyding, siekte en die dood wees nie. Mense sal verhef word tot volmaaktheid met die ewige lewe in die vooruitsig. Wat ’n besielende vooruitsig tog!​—Psalm 37:10, 11, 29; Openbaring 21:4

20, 21. Hoe soek baie mense uit alle nasies Jehovah nou?

20 Maar voor hierdie stelsel eindig en die nuwe stelsel begin, is dit Jehovah se seisoen om iets belangriks vir die sagmoediges op die aarde te doen. Dit is sy tyd om diegene te versamel wat van hom wil leer, wat hulle aan sy wil wil onderwerp en wat hulle voor die Koning van sy keuse wil neerbuig. Sodoende verkry hulle Jehovah se beskerming: “Die Naam van [Jehovah] is ’n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.”​—Spreuke 18:10.

21 Vandag doen baie mense​—trouens, miljoene—​dit. Hulle kom uit elke nasie op die aarde. Hulle word in Sagaria hoofstuk 8, verse 20 en 21, beskryf: “So sê die HERE van die leërskare: Nog sal volke aankom en die inwoners van baie stede. En die inwoners van die een stad sal gaan na die ander en sê: Kom, laat ons heengaan om die aangesig van die HERE om genade te smeek en die HERE van die leërskare te soek.” Vers 23 voeg by: “In die dae [ja, in ons tyd] sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ’n Joodse man [gesalfde lowers van Jehovah] gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is.”

22. Wat moet ons besef en doen as ons die dag van Jehovah se toorn wil oorleef?

22 Aanbid Jehovah dus saam met sy volk en kom na sy plek van veiligheid. Neem deel aan die belangrikste werk wat vandag op aarde gedoen word​—die insameling en onderrigting van diegene wat Armageddon sal oorleef en die wonderlike vooruitsig het om ’n paradys op aarde te skep en vir ewig daarin te lewe. Ons moet besef hoe laat en watter seisoen dit is en ag slaan op die aansporing in Jesaja 55:6: “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.” Ja, “soek [Jehovah], o alle ootmoediges van die land, wat sy ordening onderhou; soek geregtigheid, soek ootmoedigheid​—miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van [Jehovah]”.​—Sefanja 2:3.

Vrae ter hersiening

◻ In watter opsigte is wêreldheersers in God se oë “te lig bevind”?

◻ Waarom weet Jehovah se knegte wat Sy tye en seisoene is terwyl wêreldheersers dit nie weet nie?

◻ Waarom verdien wêreldheersers God se strafgerig?

◻ Watter tyd en seisoen het nou volgens Jehovah aangebreek?

◻ Waarom en hoe moet ons Jehovah nou soek?

[Prent op bladsy 18]

Baie wat nou geloof beoefen, sal die sluitingstyd van hierdie wêreld oorleef.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel