Skep behae in Jehovah se Woord
“Welgeluksalig is die man . . . [wie se] behae is in die wet van die HERE.”—PSALM 1:1, 2.
1. Wie is aangestel om ander “die geopenbaarde dinge” van Jehovah te leer?
OMDAT “die geopenbaarde dinge” so noodsaaklik vir ons redding is, het Jehovah dikwels verantwoordelike persone aangewys om onderrigters van die geopenbaarde waarheid te wees (Deuteronomium 29:29). In Israel het die priesters en die Leviete hierdie rol vervul (Levitikus 10:8-11; 2 Kronieke 35:3). Israelitiese ouers het ook hulle eie kinders geleer (Deuteronomium 11:19; Spreuke 6:20). In die eerste eeu G.J. het aangestelde ouere manne as onderrigters in die gemeente van gesalfde Christene gedien, en Christenouers is aangespoor om hulle kinders te leer (Efesiërs 6:4; 1 Timotheüs 3:2; 2 Timotheüs 2:2). Daarbenewens was dit elke individuele Christen se verantwoordelikheid om Jehovah se geopenbaarde dinge bekend te maak aan diegene wat nog buite die Christengemeente was.—Handelinge 1:8.
2. Is dit genoeg om op ander staat te maak om ons Jehovah se Woord te leer? Verduidelik.
2 Maar is dit genoeg om op ander staat te maak om ons God se Woord te leer? Nee. Elkeen van ons is ook persoonlik verantwoordelik om “die geopenbaarde dinge” van Jehovah te bestudeer. Daarom het die psalmis vir mede-Israeliete geskryf: “Welgeluksalig is die man . . . [wie se] behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag” (Psalm 1:1, 2). Die apostel Petrus het ook mede-aanbidders aangespoor en geskryf: “Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry.”—1 Petrus 2:2, NAV.
3. Wat is nodig in die lig van die meeste mense se natuurlike neiging ten opsigte van studie?
3 Hoe beskou jy Bybelstudie? As jy Christenvergaderinge gereeld bywoon, hoor jy ongetwyfeld talle puik Bybelbesprekings. En as jy ‘in die waarheid grootgemaak is’, soos party dit stel, het jou ouers jou ongetwyfeld baie van “die geopenbaarde dinge” van Jehovah geleer. Maar afgesien daarvan, bestudeer jy self die Bybel? Die psalmis het daardie soort studie klaarblyklik geniet, maar miskien vind jy dit nie maklik nie. Dan is jy nie die enigste een nie. Die feit dat Petrus geïnspireer is om medegelowiges aan te spoor om te “smag na die suiwer geestelike melk” gee te kenne dat persoonlike studie vir talle nie vanself sou kom nie. Maar ons kan leer om dit te geniet. Hoe?
4. Watter illustrasie toon dat persoonlike studie interessanter gemaak kan word?
4 Wel, gestel jy word aangesê om ’n diep gat in die grond te grawe. Tensy jy van nature geneig is om swaar fisiese werk te doen, sal jy nie uitsien na die taak nie. Maar gestel daar word vir jou gesê dat daar ’n skat in die grond begrawe is. Dan sal die delwery nie so swaar lyk nie! Dit kan selfs opwindend wees terwyl jy uitsien om die skat op te grawe. Net so kan studie, al is jy nie van nature leergierig nie, interessant en selfs opwindend wees as jy die regte gesindheid het. En daar is maniere om hierdie gesindheid aan te kweek.
Kweek die regte gesindheid aan
5, 6. Beskryf party van die onvergelyklike seëninge wat ons deur Jehovah se geopenbaarde Woord kry.
5 Eerstens, ons moet voortdurend dink aan wat ’n skat die Bybel vir ons is. Die apostel Paulus het uitgeroep: “o, Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!” (Romeine 11:33). Jehovah se voornemens, wat geleidelik oor duisende jare geopenbaar is, is ontsagwekkend en gee ons ’n hoop wat ewe wonderlik en seker is. Die lewensadvies wat Jehovah in die Bybel laat opteken het, sal altyd welslae behaal wanneer dit toegepas word (2 Timotheüs 3:16). Geen wonder dat die psalmis gesing het nie: “Die opening van u woorde gee lig; dit maak die eenvoudiges verstandig”!—Psalm 119:130.
6 Daarbenewens bevat die Bybel God se gedagtes, en deur hierdie gedagtes ons eie te maak, kom ons nader aan hom (Jakobus 4:8). Ons word ook aangesê om ander te leer om dissipels van Jesus te wees (Mattheüs 28:19). Aangesien die Bybel ons vernaamste instrument in hierdie werk is, moet ons dit bestudeer sodat ons dit goed kan gebruik (Efesiërs 6:17; 2 Timotheüs 2:15). Laastelik, dit is vir ons ’n beskerming as ons ons verstand met Bybelse gedagtes vul, want dit help ons om in ons onkreukbaarheid te wandel en geloofverswakkende twyfelgedagtes en verkeerde idees te vermy.—Spreuke 4:5, 6; 20:7; Filippense 4:8.
7, 8. Waarom is ons vandag geseënder as God se knegte in vervloë tye wat “die geopenbaarde dinge” betref?
7 Dink ook daaraan dat ons vandag “saam met al die heiliges ten volle [kan] begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte” van die waarheid is, in ’n mate wat God se knegte in die verlede nie kon doen nie (Efesiërs 3:14-18). Maar onthou, Abraham het sy tuisstad verlaat en die res van sy lewe in tente gewoon, hoewel hy nooit in sy leeftyd die vervulling van God se beloftes sou sien nie (Hebreërs 11:8-10). En Daniël het gepleit om ’n begrip van die gesigte wat hy gesien het, maar daar is vir hom gesê: “Die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe” (Daniël 12:8, 9). Vandag het die Saad waarna Abraham uitgesien het lank gelede reeds verskyn. Ons lewe nou in “die tyd van die einde” wanneer die betekenis van baie dinge wat Daniël gesien het by ons begrip van “die geopenbaarde dinge” gevoeg is.
8 Die apostel Petrus het geskryf: “Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors. Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons die dinge bedien het wat julle nou aangekondig is . . . dinge waarin die engele begerig is om in te sien” (1 Petrus 1:10, 12). Aangesien Jehovah nou lig gewerp het op so baie dinge wat daardie vroeë profete gesmag het om te weet, moet ons hierdie waarhede werklik waardeer en hulle nie vanselfsprekend aanvaar nie.
9, 10. Watter voorbeelde moet ons die vryheid wat die meeste van ons het om persoonlike Bybelstudie te doen laat waardeer?
9 Om die regte gesindheid te verkry, moet ons besef hoe hard party gestry het om die Bybel te studeer. In William Tyndale se dag was dit ’n misdaad vir enige Engelsman om ’n vertaling van die Griekse Skrifte in sy eie taal te verkoop, te koop of te lees. John Foxe, die 16de-eeuse Puriteinse prediker, het vertel wat gebeur het toe ’n pasbekeerde Protestant Bybels in Spanje ingesmokkel het. Hy is verraai en op die brandstapel verbrand, en 800 van die persone wat die Bybels gekoop het, is in hegtenis geneem. Twintig het op die brandstapel gesterf. Ander is lewenslank opgesluit, in die openbaar met die sweep geslaan of na die galeie gestuur. ’n Paar is vrygespreek.
10 In die nuwere tyd moes Jehovah se Getuies ook soms die Bybel ondanks groot gevaar bestudeer. In konsentrasiekampe of tronke het hulle hulle aan straf of die dood blootgestel om ’n Bybel in die hande te kry. Een sendeling, wat weens sy geloof in eensame opsluiting gewerp is, het al die tekste wat hy kon onthou, neergeskryf en toe die “godsdiens”-rubrieke in die koerante gefynkam vir die Bybelverse wat hier en daar gebruik is. Dit was jare lank sy enigste toegang tot ’n Bybel. Ja, wanneer die Bybel verbied word, doen Christene groot moeite om dit te lees. Moet ons dan minder ywerig wees wanneer ons, in die meeste gevalle, dit slegs uit ’n boekrak hoef te haal?
11. Moet die feit dat sekere inligting herhaaldelik bespreek word ons minder besorg maak oor Bybelstudie?
11 Party het gesê dat hulle die vrae in Die Wagtoring redelik maklik kan beantwoord, aangesien sekere materiaal herhaal word. Hulle kan gevolglik nie die nodigheid vir persoonlike studie insien nie. Sulke persone onderskat die waarde van herhaling. Die psalmis het Jehovah se herinneringe liefgehad, en ons moet ook (Psalm 119:119, NW). Onthou, die wêreld bestook ons aanhoudend met dieselfde onsedelike, materialistiese propaganda. Ons moet dus ons verstande met herhaaldelike Bybelse herinneringe daarteen versterk.
Probeer probleme te bowe kom
12. Meld ’n paar praktiese wenke oor hoe om tyd vir Bybelstudie te vind.
12 ’n Persoon met die regte gesindheid ten opsigte van Bybelstudie sal gewoonlik ’n manier vind om te studeer, maar dit is dalk nie maklik nie. Daar is moontlik probleme wat te bowe gekom moet word. Waar vind ons byvoorbeeld in vandag se besige lewe tyd vir persoonlike studie? Die eerste stap om hierdie probleem op te los, is om te besef dat Bybelstudie ’n noodsaaklikheid is, soos die veldbediening en vergaderingbywoning (1 Timotheüs 4:15). Dan kan ons ons daaglikse roetine ondersoek om tyd daarvoor in te ruim. Party studeer terwyl hulle met openbare vervoer reis. Ander luister na opnames van Bybelboeke terwyl hulle ry of in die huis werk. Daar is diegene wat gedurende hulle etenstyd by die werk studeer. Ander staan soggens ’n bietjie vroeër op en studeer voor die dag se roetine begin of studeer saans nadat die kinders bed toe is. Ons moet dikwels studietyd van ander bedrywighede—miskien selfs van ontspanning—uitkoop (Kolossense 4:5). Maar talle vind dat hulle weldra daardie ander vorms van ontspanning nie meer so nodig het nie omdat studie op sigself hulle laat ontspan.
13. Wat kan ons help om te konsentreer op wat ons studeer?
13 Vir party is konsentrasie ’n probleem. Dit is vir hulle moeilik om op te hou dink aan hulle daaglikse probleme en op Bybelstudie te konsentreer. Gebed kan help om dit te bowe te kom. Voor ons begin studeer, kan ons Jehovah gerus bedank vir die dinge wat hy geopenbaar het en om sy hulp vra om daarop te konsentreer en die waarde daarvan in te sien (Filippense 4:6; 2 Timotheüs 2:7). So ’n gebed is in volle ooreenstemming met Jehovah se wil vir ons (1 Johannes 5:14). Selfdissipline is ook onmisbaar, veral aan die begin (1 Korinthiërs 9:25). Die Bereane het God se Woord daagliks ondersoek (Handelinge 17:10, 11). Hulle het ’n goeie voorbeeld gestel. Gereelde studie sal weldra interessant word, en jy sal waarskynlik daarna begin uitsien pleks van jou te moet dwing om dit te doen.
14. Waarom is ’n stil milieu wenslik wanneer ons persoonlike studie doen?
14 ’n Geskikte milieu bevorder ook konsentrasie. Isak het in die veld uitgegaan wanneer hy wou peins—weg van die gewoel by die tente (Genesis 24:63). Ons kan weliswaar nie almal ’n plek vind om in te studeer wat so vry van steurnisse is soos ’n oop veld nie, maar ons kan gewoonlik die steurnisse om ons verminder. Studie voor ’n aangeskakelde televisie of met ’n radio wat luid in die agtergrond speel, sal verreweg nie so produktief—of interessant—wees soos studie in ’n stiller plek nie. Ons kan nie altyd wegkom van steurnisse nie, maar die meeste van ons kan ongetwyfeld ’n redelik stil hoekie vir studie vind.
15. Wat is party informele maniere om Bybelkennis op te doen?
15 Daar kan nog ’n probleem bestaan: Party weet dalk nie hoe om te studeer nie. Ons kan dit veral deesdae nie vanselfsprekend aanvaar dat kinders op skool leer om te studeer nie, en diegene wat geruime tyd al uit die skool is, het miskien die studiegewoonte afgeleer. Maar studie is nie werklik so moeilik nie. Dit kan so eenvoudig wees soos om artikels waarin jy belangstel in die boek Aid to Bible Understanding te lees of om die naslaanuitgawe van die New World Translation te lees. Ander maniere om te studeer, is om na die Bybelopnames te luister of persoonlike navorsing te doen. Het jy al probeer om net deur ou nommers van Die Wagtoring of Ontwaak! te blaai en artikels te lees wat jou belangstelling wek? Dit is weliswaar nie doelgerigte studie nie, maar dit sal help om jou behae in Jehovah se Woord te vergroot.
16. Wat moet ons doel wees wanneer ons vir die weeklikse Wagtoring-studie voorberei?
16 Maar wat van doelgerigter studie, soos wanneer jy vir die weeklikse Wagtoring-studie voorberei? Vir sulke studie moet die student ’n doelwit in gedagte hê. Watter soort doelwit? Wanneer hy vir die Wagtoring-studie voorberei, moet hy die grootste voordeel wil trek uit die “voedsel op tyd” wat deur “die getroue en verstandige dienskneg” voorsien word en moet hy ook ander deur sy kommentare by die vergadering wil help (Mattheüs 24:45). Hoe kan hy te werk gaan? Daar is geen reëls nie, maar hier is ’n wenk:
17, 18. (a) Meld ’n paar wenke oor hoe ’n student vir die weeklikse Wagtoring-studie kan voorberei. (b) Meld ander wenke wat jy in persoonlike studie nuttig gevind het. (Kyk voetnoot.)
17 Lees eerstens die hele artikel deur, miskien kort nadat jy jou eksemplaar van Die Wagtoring ontvang. Dit sal moontlik slegs 20 minute duur, maar dit sal jou ’n totaalindruk van die hoofpunte en die strekking van die artikel gee. Wanneer die tyd aanbreek om die artikel in alle erns te bestudeer, moet jy met ’n Bybel en ’n pen of die een of ander skryfding gaan sit. Lees dan die eerste paragraaf noukeurig terwyl jy let op die argumente en die manier waarop die gedagtes uitgebou word. Slaan tekste na wat in die paragraaf gesiteer maar nie aangehaal is nie en kyk of jy kan sien waarom dit daar aangegee is. Lees vervolgens die paragraaf se vraag en kyk of jy kan antwoord. Wanneer jy die antwoord gevind het, moet jy ’n paar woorde in die paragraaf onderstreep wat jou aan die antwoord sal herinner wanneer jy die Wagtoring-studie bywoon. Jy wil dalk kort aantekeninge in die kantruimte maak oor die tekste wat jy nageslaan het, punte waaroor jy meer navorsing wil doen, ensovoorts.
18 Wanneer jy die hele artikel op hierdie manier voltooi het, moet jy die vrae in die leervenstertjie aan die einde van die artikel deurgaan en kyk of jy die hoofgedagtes gesnap het. As daar enige vrae is wat jy nie kan beantwoord nie, moet jy teruggaan na die artikel om die antwoord te vind. As jy dit ’n paar dae voor die weeklikse Wagtoring-studie doen, sal jy dit moontlik voordelig vind om die artikel die dag van die studie weer vlugtig deur te kyk om jou gedagtes oor die materiaal te verfris.a
Bepeinsing is nodig
19. Hoe kan bepeinsing jou help om liefde vir Jehovah se Woord op te bou?
19 Onthou dat studie bepeinsing moet insluit. Studie sonder bepeinsing is soos om te eet sonder dat die kos verteer word. Dink gevolglik na oor wat jy studeer. Probeer om dit in verband te bring met ander dinge wat jy weet. Hoe raak dit jou lewe? Hoe kan jy dit gebruik om ander te help? (Spreuke 15:28). Leer om aandag te skenk aan besonderhede. Praat met ander oor wat jy leer. Deel gedagtes wat vir jou nuut is met ander (Spreuke 27:17). Dit sal ook jou behae in die Bybel vergroot.
20. Beskryf die diepe waardering wat koning Dawid vir Jehovah se geopenbaarde Woord gehad het.
20 Koning Dawid het uitsonderlike waardering vir Jehovah se Woord gehad. Hy het geskryf: “Die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel; die getuienis van die HERE is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige. Die bevele van die HERE is reg: hulle verbly die hart; en die gebod van die HERE is suiwer: dit verlig die oë. Die vrees van die HERE is rein: dit bestaan tot in ewigheid; die verordeninge van die HERE is waarheid—tesame is hulle regverdig. Hulle is begeerliker as goud, ja, as baie fyn goud; en soeter as heuning en heuningstroop.”—Psalm 19:8-11.
21. Watter seëninge sal ons geniet as ons ware liefde vir “die geopenbaarde dinge” van Jehovah ontwikkel?
21 As jy die raad van die eerste psalm volg en die Bybel gereeld bestudeer, sal jy ook hierdie soort waardering vir “die geopenbaarde dinge” van Jehovah opbou. En dit sal weer daartoe lei dat jy die seën geniet wat in daardie psalm beloof word vir diegene wie se behae in Jehovah se Woord is: “Hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit. . . . Die HERE ken die weg van die regverdiges.”—Psalm 1:3, 6.
[Voetnote]
a Kyk die Wagtoringpublikasie Teokratiese Bedieningskool-Handleiding vir wenke oor ander aspekte van studie en hoe om toesprake voor te berei.
Hoe sou jy verduidelik?
◻ Waarom is dit nie genoeg om net op ander staat te maak om ons God se Woord te leer nie?
◻ Watter seëninge sal ons ontvang as ons die Bybel bestudeer?
◻ Hoe kan tyd gevind word om die Bybel te bestudeer?
◻ Watter dinge kan ons help om te konsentreer wanneer ons studeer?
◻ Wat moet ons doelwit wees wanneer ons vir die Wagtoring-studie voorberei?
[Prent op bladsy 17]
Mense het gesterf omdat hulle die Bybel gelees het.
[Prente op bladsy 18]
Ons moet êrens in ons lewens tyd maak om God se Woord te ondersoek