Vrae van lesers
▪ Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het dat “die water” wat hy gee “’n fontein [sal] wees met water wat opborrel en . . . die ewige lewe gee”?
Jesus het vir ’n Samaritaanse vrou gesê: “Elkeen wat van hierdie water [by die fontein van Jakob] drink, sal weer dors kry; maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.”—Johannes 4:13, 14, NAV.
Jesus het die aandag hier gevestig hoofsaaklik op die geestelike voordele wat ’n persoon smaak wanneer hy Sy woorde ontvang en ’n dissipel van Christus geword het. So ’n persoon wat voortgegaan het om juiste kennis van Jehovah God en Jesus Christus in te neem en in geloof daarvolgens gehandel het, sal in aanmerking kom om die ewige lewe te ontvang (Johannes 17:3). Jesus het hierdie proses in die persoon se verstand en hart toegelig deur dit te vergelyk met ’n fontein wat voordele opborrel, sy geloof voortdurend versterk en sy tree op die weg na die ewige lewe rig.
Terwyl die klem in Johannes 4:14 val op die voordele wat die individu self ontvang, het die Christendissipel wat ’n oorvloed van hierdie geestelike water besit ’n natuurlike begeerte om dit onselfsugtig met ander te deel. Hy wil hê dat ander die Christelike boodskap moet hoor en dat hulle in hulself ’n fontein moet hê wat dieselfde geestelike voordele opborrel wat tot die ewige lewe lei. Hierdie verkondiging van die boodskap aan ander is skynbaar die gedagte agter Jesus se woorde in Johannes 7:37-39: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo.”
Jesus se apostels en dissipels het, aangedryf deur die aktiverende krag van God se gees wat van Pinkster 33 G.J. af ontvang is, wonders verrig om lewende water aan ander te bring. God se gees is vandag ook belangrik om Jesus se hedendaagse dissipels, die gesalfde oorblyfsel sowel as die “groot menigte” “ander skape”, toe te rus en te beweeg om lewegewende water aan die dorstige mensdom te gee deur die goeie nuus van God se Koninkryk wêreldwyd te verkondig. Die dorstige moet dus kom na die een wat God gebruik om die water van die waarheid uit te deel wat tot die ewige lewe lei.—Mattheüs 24:14; 28:19, 20; Johannes 7:37; 10:16; Openbaring 7:9.