Vasbeslote om Jehovah met ’n volkome hart te dien
“Dien Hom met ’n volkome hart en met ’n gewillige siel, want die HERE deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes.”—1 KRONIEKE 28:9.
1. Watter vrae laat 1 Kronieke 28:9 ontstaan?
DIE teks wat hierbo aangehaal word, laat sekere vrae oor die hart ontstaan. Hoe kan ’n mens, as dit op die fisieke hart betrekking het, met enigiets minder as ’n volkome hart lewe? Kan enigiemand byvoorbeeld met ’n halwe hart lewe? Deursoek of ondersoek Jehovah, soos ’n hedendaagse hartspesialis, die fisieke hart vir gebreke? En wat die versinsels van die gedagtes betref, ontstaan die vraag: Is daar gedagtes in ons hart? Sommige Skrifgedeeltes wil dit te kenne gee, want dit praat van ‘die versinsels wat in die hart bedink word’ (Genesis 6:5; 1 Kronieke 29:18). Ondersoek Jehovah ons fisieke hart om ons gedagtes te lees? Wat beteken dit werklik om ‘Hom met ’n volkome hart te dien’?
2. Watter opvattings in verband met die hart het die ou Egiptenare, die Babiloniërs en die Griekse wysgeer Aristoteles gehuldig?
2 Die ou Egiptenare het geglo dat die fisieke hart die setel van die intellek en die emosies is. Hulle het ook gedink dat die hart sy eie wil het. Die Babiloniërs het gesê dat sowel die intellek as die liefde in die hart gesetel is. Die Griekse wysgeer Aristoteles het geglo dat dit die setel van die sinne en die terrein van die siel is. Maar met verloop van tyd en namate kennis vermeerder het, is hierdie beskouings verwerp. Uiteindelik is daar vasgestel wat die hart eintlik is, ’n pomp wat die bloed deur die liggaam laat sirkuleer.
3. Watter feite maak die hart so ontsagwekkend?
3 Ja, dit is hoofsaaklik ’n pomp, maar wat ’n ontsagwekkende pomp! Elke sekonde van ons lewe stoot dit getrou die rooi lewenstroom uit. Die mensehart is net effens groter as ’n vuis en weeg minder as ’n halwe kilogram, maar dit klop 100 000 keer per dag terwyl dit die lewensbloed deur die liggaam se 100 000 kilometer lange bloedvatstelsel pomp—sowat 7 500 liter per dag, tienmiljoene liter in ’n leeftyd. Die hartklop word veroorsaak deur ’n konsentrasie selle wat sy pasaangeër uitmaak en wat elektriese prikkels uitstuur om die tempo van die hartklop te bepaal. Geen spier in die liggaam werk dekade na dekade harder, langer en aanhoudender as die hart nie. Emosionele spanning of strawwe oefening kan die hart vyf keer meer bloed laat pomp. Verwyder die hart uit die borskas en dit sal ’n ruk lank aanhou klop. Selfs selle wat uit die hart gesny is, sal in gunstige omstandighede aanhou klop. Slegs die brein het meer voeding en suurstof nodig as die hart.
4, 5. (a) Watter eienskappe skryf die Skrif aan die hart toe? (b) Watter emosies en beweegredes woon volgens die Skrif in die hart?
4 God se Woord praat byna duisend keer van die hart. ’n Paar van daardie gevalle het te doen met die letterlike hart. ’n Paar ander verwys na die kern of middel van ’n saak, soos “die hart van die see” en “die hart van die aarde” (Esegiël 27:25-27; Mattheüs 12:40). In bykans eenduisend ander gevalle word “hart” egter in figuurlike sin gebruik. Kittel se Theological Dictionary of the New Testament gee talle skriftuurplase onder “hart” aan by elk van die volgende hofies: “Die hart huisves gevoelens en emosies, begeertes en hartstogte.” “Die hart is die setel van die begrip, die bron van gedagtes en oordenking.” “Die hart is die setel van die wil, die bron van besluite.” “Die hart is bowenal die een deel in die mens waartoe God hom wend, waarin die geloofslewe gewortel is, wat die sedelike gedrag bepaal.”
5 Emosies en beweegredes woon in hierdie figuurlike hart. Volgens talle teksverse kan die hart bly, bedroef, verduister, verlig, verdorwe, vol vertroue, week en verhard wees. Dit kan verhit wees van woede of smelt van vrees, dit kan trots en hoogmoedig of sagmoedig en nederig wees, dit kan vurig liefhê of vol haat wees, dit kan suiwer en rein wees of skuldig wees aan egbreuk. Dit is geneig tot die slegte, maar dit kan ons aanvuur om goed te doen.
Moenie halfhartig of dubbelhartig wees nie
6, 7. (a) Watter soort mense het die psalmis gehaat, en deur watter optrede in sowel Israel as Juda word die toestand toegelig? (b) Hoe het Jesus toegelig dat halfhartige diens vir Jehovah onaanneemlik is?
6 Die letterlike hart moet volkome wees om te funksioneer, maar die figuurlike hart kan verdeeld wees. Die psalmis, ongetwyfeld ’n man na God se hart, het onder inspirasie geskryf: “Die halfhartiges het ek gehaat” (Psalm 119:113, NW). Onder sulke halfhartiges was die Israeliete aan wie Elia die vraag gestel het: “Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na!” (1 Konings 18:21). Hulle het halfhartig ‘op twee gedagtes gehink’.
7 Nadat Juda hom gedeeltelik tot Jehovah bekeer het, lees ons eweneens: “Tog het die volk nog op die hoogtes geoffer, maar net aan die HERE hulle God” (2 Kronieke 33:17). Met verdeelde harte het hulle beweer dat hulle Jehovah dien, maar op ’n ongemagtigde wyse en op plekke waar hulle tevore Baäl aanbid het. Jesus het gesê: “Niemand kan twee here dien nie” (Mattheüs 6:24). In daardie dae was slawe soos besittings. Hulle moes 24 uur per dag gereed staan om hul heer te dien. Hulle tyd kon nie tussen twee here verdeel word, met die helfte vir die een en die ander helfte vir die ander nie. Jesus het hierdie punt duidelik gestel: geen halfhartige diens aan Jehovah nie!
8. Hoe kan een mens in figuurlike sin twee harte hê, en watter tekste bevestig dit?
8 Daar is net een letterlike hart in elke mens, maar ’n mens kan in figuurlike sin twee harte hê. Dawid het van sulke mense gepraat en gesê: “Met vleiende lippe spreek hulle dubbelhartig [“met ’n hart en ’n hart”, voetnoot in NW-naslaanuitgawe]” (Psalm 12:3). Die een hart was vir openbare vertoon terwyl die ander heimlik geknoei het met die oog op selfsugtige voordeel. Hierdie geveinsde, dubbelhartige houding word in die Skrif beskryf: “Want soos hy in sy siel bereken, so is hy; eet en drink, sê hy vir jou, maar sy hart is nie met jou nie.” “As hy sy stem lieflik maak, vertrou hom nie; want sewe gruwels is in sy hart.”—Spreuke 23:7; 26:25; Psalm 28:3.
9. Wat toon dat dubbelhartige aanbidding in sowel Jeremia as Jesus se dag bestaan het?
9 Sulke geveinsdheid in menseverhoudinge is laakbaar, maar wanneer dit in die aanbidding van Jehovah gesaai word, maai dit ’n ramp. “Vertrou nie op bedrieglike woorde nie—wat sê: Die HERE se tempel, die HERE se tempel, die HERE se tempel is dit! Kyk, julle vertrou op bedrieglike woorde wat nie baat nie. Sal julle steel, doodslaan en owerspel bedrywe en vals sweer en vir Baäl offerrook laat opgaan en agter ander gode aan loop, wat julle nie ken nie, en dan kom staan voor my aangesig in hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, en sê: Ons is verlos!—om al hierdie gruwels te doen?” (Jeremia 7:4, 8-10). Jesus het sulke dubbelhartige geveinsdheid onder die skrifgeleerdes en die Fariseërs veroordeel en gesê: “Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.”—Mattheüs 15:7, 8.
10, 11. Waar kyk Jehovah en Christus Jesus wanneer hulle iemand beoordeel, en waarom?
10 Uit die voorgaande is dit duidelik waarom Jehovah vir Samuel gesê het: “Nie wat die mens sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan” (1 Samuel 16:7). Wanneer Jehovah ’n man takseer, is sy oordeel dus nie op oppervlakkige getuienis gegrond nie; hy kyk tot in die hart van die saak. Christus Jesus het aangedui dat die hart die dryfkrag agter ons gedrag is, hetsy goed of sleg: “Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is; en die slegte mens bring uit die slegte skat van sy hart te voorskyn wat sleg is; want uit die oorvloed van die hart spreek die mond.” Ook: “Uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal.”—Lukas 6:45; Mattheüs 15:19.
11 Christus Jesus, aan wie die oordeel toevertrou is, kyk ook waar Jehovah kyk: “Dit [is] Ek . . . wat niere [“diepste emosies”, voetnoot in NW-naslaanuitgawe] en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke” (Openbaring 2:23). Daarom moet ons ‘die hart meer bewaak as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe’.—Spreuke 4:23.
12. Waarom verg heelhartige diens aan Jehovah ywerige inspanning van ons?
12 Ons aanbidding van Jehovah moet nòg halfhartig nòg dubbelhartig wees, maar heelhartig. Dit verg ywerige inspanning van ons. Waarom? Omdat die hart verraderlik is en baie bedrieglik kan wees. Dit is skrikwekkend om te sien hoe bedrewe dit daarin is om die sondes waartoe ons gevalle vlees aangetrokke is te rasionaliseer. Al kan dit ons bedrieg of ons ware beweegredes vir ons verberg, sien Jehovah die hart soos dit werklik is. Hy verwittig ons daarvan met die woorde: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken? Ek, die HERE, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge.”—Jeremia 17:9, 10.
Hoe om ’n volkome hart te kry
13. Wat het Jesus oor sommige godsdiensbeoefenaars van sy dag gesê, en watter gevolg het hulle gedrag vir hulle gehad?
13 Jesus het van die godsdiensbeoefenaars van sy dag gesê: “Die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie” (Mattheüs 13:15). Weens hulle vooropgesette godsdiensopvattings het hulle hul oë en ore gesluit en hulle harte verhard vir Jesus se leer. Hulle het teregwysing verwerp en nooit ’n hart met regte beweegredes verkry nie: “Wie na teregwysing luister, verwerf hart [“goeie beweegredes”, voetnoot in NW-naslaanuitgawe]” (Spreuke 15:32, NW). Hulle het bely dat hulle God aanbid maar het hulle “liefdadigheid” bewys om deur mense gesien te word.—Mattheüs 6:1, 2, 5, 16.
14. Watter voorbeelde toon die kanaal aan waardeur die waarheid diep binne-in ons kom woon?
14 Hoeveel beter is dit tog nie om soos koning Josafat van Juda te wees wat ‘sy hart daarop gerig het om God te soek’ nie (2 Kronieke 19:3). Die beste manier om jou hart daarop te rig om God te soek, is deur hartgrondige gebed. Toe die ontstelde Hanna vurig tot Jehovah gebid het, het sy “in haar hart gespreek”, en haar gebed is verhoor. Ons moet ook bereid wees om te luister. Jesus se moeder het geluister: “Sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar.” Sy het sake “in haar hart oordink” en ’n getroue dissipel van Jesus geword. Jehovah help die opregte soeker. Godvresende Lidia het na Paulus geluister, en “die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is”. Sy het haar laat doop (1 Samuel 1:12, 13; Lukas 2:19, 51; Handelinge 16:14, 15). Dit is altyd die figuurlike hart—die gevoelens, die emosies, die goeie beweegredes—wat die waarheid laat inkom sodat dit in die persoon kan woon.
15. Wat moet ons bereid wees om te doen as ons ’n volkome hart wil verkry?
15 As ons ’n volkome hart wil verkry, moet ons emosioneel bereid wees om van vooropgesette opinies afstand te doen. Ons moet God waaragtig laat wees al verpletter dit van ons geliefkoosde idees of gekoesterde leerstellige beskouings (Romeine 3:4). Selfsugtige beweegredes moet uitgesuiwer word om ons hart ontvanklik te maak vir Jehovah se wil en weë. Jehovah het eens sy wette op klippe geskrywe, maar later het hy dit op menseharte geskrywe. Die apostel Paulus het ook op harte geskrywe. En jy kan ook ‘liefde en trou op die tafel van jou hart skryf.—Spreuke 3:3; Hebreërs 10:16; 2 Korinthiërs 3:3.
16. Watter vrae dui die stappe aan wat ’n mens moet doen om ’n volkome hart teenoor Jehovah te hê?
16 Is jou hart ’n geskikte skryfoppervlak vir die beginsels en gebooie van Jehovah? Sal jy dit van vooropgesette menings suiwer om plek te maak vir goddelike waarheid? Sal jy dan aanhou studeer, om jou gemoed te vernuwe, om die ou persoonlikheid af te lê en jou te beklee met die nuwe persoonlikheid wat na die beeld van God gevorm is? Sal jy jou bes doen om ’n arbeider te wees wat hom nie vir sy werk hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid suiwer verkondig?—Romeine 12:2; Kolossense 3:9, 10; 2 Timotheüs 2:15, NAV.
Hoe om ’n volkome hart te behou
17. Hoe het Dawid sy seun Salomo vermaan, en hoekom het Salomo nie end-uit op die advies ag geslaan nie?
17 Dawid het vir Salomo gesê: “En jy, my seun Salomo, ken die God van jou vader en dien Hom met ’n volkome hart en met ’n gewillige siel, want die HERE deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes.” Salomo het aanvanklik met ’n volkome hart gedien, maar in latere jare het hy dit nie volkome gehou nie: “En in die tyd van Salomo se ouderdom het sy vroue sy hart verlei agter ander gode aan, sodat sy hart nie volkome met die HERE sy God was soos die hart van sy vader Dawid nie.”—1 Kronieke 28:9; 1 Konings 11:4.
18, 19. (a) Watter middele sal Satan gebruik om jou te laat afwyk sodat jy nie ’n volkome hart behou nie? (b) Tot watter taktiek sal Satan hom wend as hierdie subtiele pogings misluk?
18 Sal jy slaag waar Salomo gefaal het? Sal jy nou, nadat jy jou aan Jehovah toegewy het as sy getuie, nadat jy afgesien het van alle halfhartigheid en dubbelhartigheid in jou aanbidding, nadat jy gehoor gegee het aan Jesus se woorde om ‘Jehovah jou God lief te hê met jou hele hart’, vasbeslote wees om jou hart volkome toegewyd te hou aan die diens van Jehovah? (Mattheüs 22:37). Satan sal nie daarvan hou nie, en hy is ’n listige teenstander. Jou hart sal sy teiken word. Hy weet dat dit geneig is tot sonde, en hy kan hom daarin inwurm as jy jou waaksaamheid laat verslap. Het hy dit nie ‘in die hart van Judas Iskariot ingegee om Jesus te verraai’ nie? (Johannes 13:2). Geld, materialisme, vermaak, trotsheid, sekulêre loopbane, opsigtige vertoon, vleeslike begeertes—hy weet waar ons swak plekke is en hy mik sy vurige pyle daarheen. Sal jy hulle almal uitblus met die skild van die geloof?—Efesiërs 6:16; 1 Johannes 2:15-17.
19 En wanneer al hierdie sataniese sette misluk, is hy nog nie klaar nie. Hy word ’n brullende leeu wat Jehovah se getroue getuies deur middel van gewelddadige gepeupelbendes, slae, gevangenskap en selfs die dood probeer verslind. Maar deur dit alles heen sal Jehovah almal versterk wie se hart onverdeeld op hom gerig is.—Jakobus 4:7; 1 Petrus 5:8-10; Openbaring 2:10.
20, 21. (a) Watter vrae kan gestel word om die letterlike hart te ondersoek? (b) Hoe kan soortgelyke vrae gebruik word om die figuurlike hart te ondersoek?
20 Die letterlike hart moet van tyd tot tyd ondersoek word. Kry dit met gereelde tussenpose goeie voeding in die regte hoeveelhede? Klop dit egalig en sterk, of traag en swak? Handhaaf dit die regte bloeddruk? Kry dit die nodige oefening? (Die hart moet oor lang tydperke kragtig pomp om gesond te bly.) Vertraag of verhoog die pasaangeër die hartklop om in die veranderende behoeftes te voorsien? Word die hart aan ’n omgewing onderwerp wat dit onder swaar emosionele druk plaas?
21 As die fisieke hart ondersoek moet word, hoeveel te meer dan nie die figuurlike hart nie! Jehovah ondersoek dit; ons moet ook. Kry dit genoeg geestelike voedsel deur gereelde persoonlike studie en vergaderingbywoning? (Psalm 1:1, 2; Spreuke 15:28; Hebreërs 10:24, 25). Vuur die gevoelens en diep emosies in ons figuurlike hart ons tot ywerige diens in die veldbediening aan—by tye miskien tot ywerige inspanning in die hulppionierdiens? (Jeremia 20:9; Lukas 13:24; 1 Korinthiërs 9:16). Wat van sy omgewing? Word hy omring deur ander harte wat verenig en volkome is, met soortgelyke gevoelens en beweegredes?—2 Konings 10:15, 16; Psalm 86:11; Spreuke 13:20; 1 Korinthiërs 15:33.
22. Wat sal verseker dat ons slaag in ons voorneme om Jehovah met ’n volkome hart te dien?
22 As jou ondersoek jou in staat stel om ja te antwoord op die bogenoemde vrae, is jy besig om jou figuurlike hart te bewaak. Jy sal, saam met miljoene ander getroue Getuies, slaag in jou voorneme om Jehovah met ’n volkome hart te dien. Al diesulkes het hierdie versekering: “Die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.”—Filippense 4:7.
Onthou jy?
◻ Watter eienskappe word aan die figuurlike hart toegeskryf?
◻ Hoe kan ons sorg dat ons nie halfhartig of dubbelhartig is nie?
◻ Waarom kyk Jehovah en Christus Jesus na die hart wanneer hulle oordeel?
◻ Hoe kan ons ’n volkome hart verkry en behou?
[Prent op bladsy 17]
Het jy twee gesigte?
[Prente op bladsy 18]
Lidia
Josafat
Hanna
Maria