Respekteer jy God se gawe van voortplanting?
“TERWYL ek op die harde, smal kraamtafel gelê het”, vertel Joanne, “het die verskriklike pyn sy hoogtepunt bereik. Die dokter was besig om sy hande te was, maar nie vinnig genoeg nie. ‘Dokter’, het die verpleegster uitgeroep, ‘die baba is hier.’ Hy het hom na die tafel gehaas en my aangespoor: ‘Nog ’n slag.’ Die pyn was byna ondraaglik! En toe?
“‘Veels geluk’, het die dokter gesê, ‘jy het ’n pragtige dogtertjie.’ Hoe het die pyn van net ’n oomblik gelede in die niet vervaag toe daardie warm, sagte liggaampie teen my bors geplaas is. My man het my hand vasgehou, en saam het ons gestaar na hierdie pragtige wonderwerkie waarvoor ons liefde vir mekaar verantwoordelik was.”
God se gawe van voortplanting is iets wonderliks. Na dekades in die mediese beroep het dokter Joseph Krimsky geskryf: “Bevrugting en geboorte is wonderwerke bo ons begrip . . . Selfs die liefde en ekstase wat lei tot die samesmelting van manlike en vroulike kiemselle is ’n raaisel . . . wat die wetenskap nie kan verklaar nie.”—The Doctor’s Soliloquy.
Die Bybel se verklaring
‘Die liefde en ekstase’ wat huweliksmaats geniet, is ’n gawe van God. Die Bybel sê aan getroude mans: “Verheug jou oor die vrou van jou jeug . . . mag jy in haar liefde gedurigdeur bedwelmd [“in ekstase”, NW] wees” (Spreuke 5:18, 19). God het klaarblyklik bedoel dat geslagsomgang tussen ’n man en sy vrou sou meehelp om ’n intieme en blywende band te smee. Kinders wat uit so ’n huweliksband voortspruit, sou ’n goeie begin in die lewe hê. Aldus sou God se voorneme dat mense die aarde vul op wonderlike wyse verwesenlik word.—Genesis 1:27, 28.
Maar baie het nie ’n goeie begin in die lewe gehad nie. Sommige het in ’n sedelik verdorwe atmosfeer grootgeword, en ander kom uit gebroke huise. Wat het verkeerd geloop? Die Bybel verduidelik hoe die eerste mensepaar teen God in opstand gekom en sy gebod oortree het. Hulle kinders is eers ná hulle sondeval verwek (Genesis 3:1-4:1). Gevolglik het hulle kroos onvolmaaktheid en die neiging tot sonde geërf (Romeine 5: 12). Dit is om hierdie rede dat God se gawe van voortplanting misbruik is.
Het geestelikes die Bybelse beskouing voorgestaan?
Vandag is die misbruik van seks op sy ergste. Waarom? Gedurende die laaste eeu het miljoene na die Christendom se kerke opgesien vir morele leiding. Het die geestelikes hulle invloed gebruik om respek vir voortplanting te bevorder?
“Die Protestantse kerke van die hooftradisie—Lutheraans, Hervormd, Anglikaans, Presbiteriaans, Methodisties, asook talle Baptistegemeenskappe—het hulle betreklik maklik aangepas . . . by die evolusie-idee”, verduidelik The New Encyclopædia Britannica. Maar dink hieraan: Is evolusie iets waarby diegene wat beweer dat hulle die Bybel verteenwoordig hulle kan ‘aanpas’? Nee, want evolusie is ’n teorie wat niks van sedelikheid weet nie. Dit loën die feit dat God die Skepper is en dat die mens verlossing van sonde en die dood nodig het.—Genesis 2:7, 18, 19; 1 Korinthiërs 15:21, 22.
Die Katolieke Kerk het ook voor die evolusieteorie gebuig. In 1950 het pous Pius XII in sy ensikliek Humani generis navorsing oor evolusie aangemoedig. Gedurende 1982 is 11 wetenskaplikes na die Vatikaanstad genooi vir ’n bespreking oor evolusie onder voorsitterskap van die President van die Pouslike Akademie vir Wetenskappe. Agterna het die hoogste wetenskapliggaam van die Katolieke Kerk ’n boek gepubliseer waarin die stelling verskyn dat “die linies wat tot die mens, die sjimpansee en die gorilla lei skynbaar 5 tot 7 miljoen jaar gelede van hulle gemeenskaplike voorsaat . . . uiteengeloop het”.
Die evolusieteorie is ’n verwerping van die Bybel, wat sê dat mense en diere afsonderlik “volgens hulle soorte” geskep is (Genesis 1:20-27). En dit is interessant dat die Bybel voorspel het: “Omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Mattheüs 24:3,11,12, 33). Het evolusie bygedra tot ’n ‘vermeerdering in ongeregtigheid’?
Het evolusie bygedra tot morele ongeregtigheid?
Deur die evolusieteorie te aanvaar, het talle geestelikes mense se vertroue in die Bybel ondermyn. ‘As die Genesisverslag oor die skepping onwaar is, wat dan van die res van die Bybel?’ vra mense. En selfs geestelikes betwis wat die Bybel oor voorhuwelikse seks en homoseksualiteit sê, sowel as die Bybel se beskouing van die lewe van ongeborenes.—Exodus 20:13, 14; 21:22, 23; Levitikus 18:22; 1 Korinthiërs 6:9, 10.
Daar is nog ’n manier waarop die evolusieteorie tot ongeregtigheid bygedra het. Onlangs het miljoene televisiekykers in ’n sekere “Christelike” land gedurende prima tyd die verhaal gesien van ’n vader wat sy dogter seksueel gemolesteer het. Volgens die blad Science 85 is daar uitgegaan van die veronderstelling dat “geen persoon geheel en al vir sy of haar gedrag verantwoordelik gehou kan word wanneer hartstog sterk word nie”. Volgens die tydskrif is miljoene mense bereid om hierdie beskouing te onderskryf. Waarom? Omdat hulle glo dat “mense so na verwant aan diere is”. Mense, sê hierdie wetenskapblad, “aanvaar te geredelik Darwin se beskouing dat ‘die mens nog steeds die onuitwisbare stempel van sy nederige oorsprong in sy liggaam dra’”.
Evolusionistiese denke het mense se beskouing van die Bybel ernstig beÏnvloed. Het dit seëninge meegebring? Nee. Verwerping van die Bybel se voortreflike sedes het gelei tot ’n onrusbarende toename in aborsies en seksueel oordraagbare siektes. Boonop word al hoe meer kinders buite die eg gebore, wat beteken dat hulle nooit die seëninge van ’n hegte gesinslewe smaak nie.
Hoe kan die Bybel jou help?
Die Bybel toon dat die mens se Skepper, Jehovah, ’n God van ontferming is (Psalm 103:10-13). Hy wil graag mensesondaars help om aan sy sedelike standaarde te voldoen (Jesaja 1:18; 55:6-9). Dink byvoorbeeld aan die eertydse stad Kolosse, waar voorhuwelikse seks en owerspel algemeen was. “Vroeër het julle ook aan die dinge meegedoen toe julle nog daarin gelewe het”, sê ’n Bybelse brief wat aan Christene in Kolosse gerig is (Kolossense 3:5-7, NAV). Maar deur die bemoediging van God se Woord en deur die krag van sy heilige gees het talle Kolossense hulle lewe ten goede verander. Hulle het ware Christene geword.
Beskou ook die inwoners van eertydse Korinthe. Die stad was baie onsedelik, vol homoseksuele en prostitute. “Dit was sommige van julle”, sê ’n Bybelse brief wat aan Christene aldaar gerig is. “Maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.”—1 Korinthiërs 6:9-11; kyk ook Lukas 11:13.
Gebeur dit vandag nog? Ja, want duisende is gehelp om hulle lewe in ooreenstemming met die Bybel te bring nadat hulle vorige nommers van hierdie tydskrif gelees het. Neem die voorbeeld van ’n tienderjarige in Afrika wat as kind seksueel gemolesteer is. Sy het haar mettertyd aan allerhande onsedelikheid, waaronder lesbianisme, skuldig gemaak. “Die wêreld gee miskien ’n kort rukkie plesier”, het sy gesê, “maar dit word soos ’n dwelm wat jou verlore, nikswerd, laat voel.” Uit wanhoop het sy selfmoord probeer pleeg, maar gedurende hierdie kritieke tydperk het iets gebeur wat haar lewe verander het. Sy het vergaderinge van Jehovah se Getuies begin bywoon en die advies aanvaar om die Bybel daagliks te lees. Dit het haar krag gegee om haar onsedelike dade te bowe te kom. “Ek voel nou soveel beter”, sê sy. “Dis verstommend wat Jehovah vir ’n mens kan doen.”
Kinders wat in ’n hegte Christengesin grootword, het ’n voorsprong. Christenouers moet alles in hulle vermoë doen om die wondere van voortplanting aan hulle kinders te verduidelik (Efesiërs 6:4). Dit sal kinders help om hulle geslagsorgane te respekteer en nie daarmee te speel nie. Selfbevlekking is dikwels die eerste stap wat lei tot ernstiger vorme van onsedelikheid.a
Dit is vandag dringend om onsedelike gebruike te bowe te kom. “Deur sulke dinge kom die straf van God”, waarsku die Bybel (Kolossense 3:5, 6, NAV). Ja, Jehovah se ontferming en genade het perke. Hy is ook ’n God van geregtigheid (Deuteronomium 32:4). Nadat hy die hedendaagse ‘vermeerdering van ongeregtigheid’ voorspel het, het Jesus gesê: “Dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Mattheüs 24:11, 12, 21). Hierdie optrede deur God sal ’n einde maak aan ongeregtigheid en sal ’n regverdige nuwe stelsel inbring.—Psalm 37:9-11, 29.
[Voetnote]
a Kyk die artikels “’n Moeder praat met haar dogters” en “’n Vader praat met sy seun” in Ontwaak! van 22 September 1965 en 22 Februarie 1969. Kyk ook hoofstuk 5 van die boek Jou jeug—Hoe om dit ten beste te benut, uitgegee deur die Wagtoringgenootskap.
[Prent op bladsy 5]
Kinders het ’n intieme gesinsatmosfeer nodig om ’n goeie begin in die lewe te kry
[Prent op bladsy 7
Godvresende ouers moet hulle kinders help om die regte beskouing van voortplanting te verkry