Hou aan om in goddelike lig te wandel
Gedurende gemeentelike studie van hierdie artikel en die twee wat daarop volg, moet die studiehouer die verwysings na Eerste Johannes laat lees soos die tyd toelaat
“God is lig.”—1 JOHANNES 1:5.
1, 2. Wanneer en waar is Eerste Johannes geskrywe, en op wie is dit van toepassing?
JEHOVAH SE GETUIES is dankbaar vir goddelike lig en is voornemens om daarin te bly wandel. Dit is egter nie maklik om dit te doen nie, want selfs vroeë dissipels van Jesus Christus het voor afvalligheid te staan gekom. Maar Jesus se lojale apostels het die verspreiding daarvan teëgehou, en die apostel Johannes was een van dié wat dit ‘teëgehou’ het (2 Thessalonicense 2:1-12). Toe hy sy eerste goddelik geïnspireerde brief omstreeks 98 G.J. geskryf het, was hy ’n hoogs bejaarde man wat in of naby Efese gewoon het. Die raad daarin het eerste-eeuse Christene gehelp om aan te hou om in goddelike lig te wandel. Maar wat van ons?
2 Johannes se woorde is net so nuttig vir 20ste-eeuse Christene. Lees dus gerus gedurende privaat studie van hierdie artikel en die twee wat daarop volg alle verwysings na sy eerste geïnspireerde brief soos dit bespreek word. In die apostel se brief en ons kommentaar daaroor slaan die voornaamwoord “ons” hoofsaaklik op Jesus se gesalfde volgelinge. Maar basiese beginsels ten opsigte van geregtigheid, liefde, geloof, en so meer, is ook op Christene met aardse verwagtinge van toepassing.
Gemeenskap wat blydskap meebring
3. Watter bewys is daar dat God se Seun as ’n mens gelewe, gely en gesterf het, en waarom word hy “die Woord van die lewe” genoem?
3 Johannes praat eerstens van vreugdevolle “gemeenskap”. (Lees 1 Johannes 1:1-4.) Jesus, “die Woord van die lewe”, was “van die begin af” saam met Jehovah as God se eerste skepping, deur wie “alle dinge geskape” is (Kolossense 1:15, 16). Sekere eerste-eeuse afvalliges het beweer dat hulle sondeloos is en het Christus se regmatige plek in die goddelike reëling geloën. Maar Jesus se apostels het hom hoor praat, hom noulettend aanskou en hom aangeraak. Hulle het geweet dat God se krag deur hom gewerk het. Daar was dus ooggetuies van die feit dat hy God se Seun was wat as ’n mens gelewe, gely en gesterf het. Hy is “die Woord van die lewe” omdat ‘die ewige lewe geopenbaar is’ deur Jesus, deur wie God die losprys voorsien het.—Romeine 6:23; 2 Timotheüs 1:9, 10.
4. Wat word aangedui deur die “gemeenskap” wat gesalfdes het?
4 Deur wat die apostels gesê en geskryf het, het hulle van die sondelose mens Jesus Christus “getuig”. Johannes het sulke sake “verkondig” sodat gesalfdes “gemeenskap”, of deelgenootskap, met ander Koninkrykserfgename, met die Vader en met Sy Seun kon hê. Hierdie “gemeenskap” dui eenheid aan en verskaf groot vreugde (Psalm 133:1-3; Johannes 17:20, 21, vgl. NW). Afvalliges wat voormalige metgeselle in Jehovah se diens haat, het nie meer sulke gemeenskap met God en Christus nie.
“God is lig”
5. Watter boodskap het die apostels van Jesus ontvang, en hoe raak dit die gedrag van Jehovah se Getuies?
5 ’n “Verkondiging” of boodskap wat die apostels van Jesus ontvang het, word volgende genoem. (Lees 1 Johannes 1:5-7.) Dit is: “God is lig, en geen duisternis [niks onheilig, onsedelik, onwaar of goddeloos] is in [eendrag met] Hom nie.” Jehovah se Getuies vermy derhalwe alle sondige gebruike wat met die duisternis verband hou (Job 24:14-16; Johannes 3:19-21; Romeine 13:11-14; 2 Korinthiërs 6:14; 1 Thessalonicense 5:6-9). Aangesien sekere afvalliges nie geglo het dat daar sondige werke is nie, was hulle in geestelike duisternis. Hulle het beweer dat hulle verborge kennis het, maar God is lig, nie duistere verborgenheid nie. Hy gee slegs aan sy getroue Getuies geestelike lig.—Mattheüs 5:14-16; 1 Petrus 2:9.
6. Watter seën geniet ons as ons ‘die waarheid doen’?
6 As ons sê dat ons “gemeenskap” met God het, maar “in die duisternis wandel”, ’n sondige lewe lei, “dan lieg ons en doen [ons] nie die waarheid nie”, of lewe ons nie in ooreenstemming daarmee nie. Maar as ons ’n weg bewandel wat met die waarheid ooreenstem, is ons in die lig, net soos God daarin is. Ons het “gemeenskap” met mede-Christene, wat almal verenig is in leer, geestelike uitkyk, die dissipelmaakwerk en ander aspekte van ware aanbidding.
7. Waarom kan Jesus se bloed ‘ons van alle sonde reinig’?
7 Anders as sekere vroeë afvalliges, erken ons wat “in die lig wandel” dat sonde onrein is. Jesus se bloed “reinig ons van alle sonde” omdat ons nie opsetlike sondaars is nie (Mattheüs 12:31, 32). Ons is inderdaad dankbaar dat God selfs aan sondige dog berouvolle Christene barmhartigheid betoon.—Psalm 103:8-14; Miga 7:18, 19.
Grondslag vir versoening
8, 9. (a) Op watter grondslag sal Jehovah ons vergewe? (b) Wat het sekere afvalliges ten opsigte van sonde gesê, en waarom was hulle verkeerd?
8 Johannes meld vervolgens die grondslag vir reiniging van sonde. (Lees 1 Johannes 1:8-2:2.) As ons sê: ‘Ons het geen sonde nie’, ontken ons die feit dat alle onvolmaakte mense sondig is, en is “die waarheid . . . nie in ons nie” (Romeine 5:12). Maar God is “getrou” en vergewe ons as ons met ’n berouvolle gesindheid wat ons beweeg om sonde te laat vaar teenoor hom “ons sondes bely” (Spreuke 28:13). God het van diegene in die nuwe verbond gesê: “Ek sal . . . aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jeremia 31:31-34; Hebreërs 8:7-12). Deur hulle te vergewe, doen hy daardie belofte gestand.
9 God is boonop “regverdig”, en bly altyd by sy standaarde van geregtigheid. Hy het deur die losprys aan die vereistes van die reg voldoen en kan ons ‘ons sondes vergewe en ons van alle ongeregtigheid reinig’ as ons ons sondigheid met geloof in Jesus se offer bely (Hebreërs 9:11-15). Deur sy dood het die Messias sondes weggedra, net soos die sondebelaaide bok op Versoendag die woestyn ingestuur is (Levitikus 16:20-22; Jesaja 53:5, 8, 11, 12; 1 Petrus 2:24). Sekere afvalliges het gesê: ‘Ons het nie gesondig nie’, en het Jehovah sodoende ‘tot ’n leuenaar gemaak’. Maar ‘God kan nie lieg nie’, en sy Woord toon dat alle onvolmaakte mense sondig is (Titus 1:2; Prediker 7:20; Romeine 3:23). As ons sê dat “ons nie gesondig het nie”, sou dit beteken dat God se Woord nie “in ons”, in ons hart, is nie!—Vergelyk Hebreërs 8:10.
10. In watter opsig is Jesus “’n versoening”?
10 Johannes skryf “hierdie dinge” oor sonde, vergifnis en reiniging sodat ons nie sonde moet beoefen nie. Sy woorde moet ons beweeg om hard te stry om nie te sondig nie (1 Korinthiërs 15:34). Maar as ons wel “sondig” en berouvol is, het ons “’n Voorspraak by die Vader”—“Jesus Christus, die Regverdige” wat ons saak by God bepleit. (Hebreërs 7:26; vergelyk Johannes 17:9, 15, 20.) Jesus is “’n versoening”, of soenoffer. Sy dood het aan die vereistes van die reg voldoen en het dit vir God moontlik gemaak om in die geval van geestelike Israeliete en “die hele wêreld”, die “groot menigte” inkluis, genade te betoon en die aanklag van sonde te verwyder (Romeine 6:23; Galasiërs 6:16; Openbaring 7:4-14). Hoe waardeer ons tog daardie offerande!
Gehoorsaam God en betoon liefde
11. Aan watter bewys weet ons dat ons ‘in eendrag met’ God is?
11 Ons moet Jehovah gehoorsaam as ons wil aanhou om in goddelike lig te wandel. (Lees 1 Johannes 2:3-6.) Ons besef dat ons God leer “ken” het, hom en sy hoedanighede verstaan, “as ons sy gebooie bewaar”. Enigiemand wat beweer dat hy Jehovah ken maar hom nie gehoorsaam nie, “is ’n leuenaar”. Aan die ander kant het “die liefde van God waarlik volmaak”, of volkome, geword as ons sy woord bewaar. Aan hierdie bewys van gehoorsaamheid aan en liefde vir God weet ons dat ons “in [eendrag met] Hom” is. En ons is verplig om net soos sy Seun te wandel, in die dissipelmaakwerk, in ons verhoudinge met ander, en so meer.
12. Watter “ou gebod” het Christene, en hoe is dit ook ‘nuut’?
12 Broederliefde is ook noodsaaklik. (Lees 1 Johannes 2:7, 8.) Johannes skryf oor “’n ou gebod” wat die getroues “van die begin” van hulle lewens as Christene gehad het. Dit is ‘oud’ omdat Jesus dit jare tevore gegee het toe hy vir sy volgelinge gesê het om ‘mekaar lief te hê soos hy hulle liefgehad het’ (Johannes 13:34). Maar dit is ook ‘nuut’, want dit strek verder as die naasteliefde wat deur die Wet vereis is en verg dat ’n persoon bereid moet wees om sy siel ter wille van medegelowiges op te offer (Levitikus 19:18; Johannes 15:12, 13). Aangesien ons selfopofferende liefde bewys dat die nakoming van hierdie “nuwe gebod” ‘in Christus se geval sowel as in ons s’n waar is, gaan die duisternis verby en skyn die waaragtige lig alreeds’ onder ons.
13. Wie is volgens 1 Johannes 2:9-11 “in die lig” en wie is nie?
13 Maar wie is werklik “in die lig”? (Lees 1 Johannes 2:9-11.) Wel, “hy wat sê dat hy in die lig is en sy broeder haat”, is in geestelike duisternis “tot nou toe”. Maar “wie sy broeder liefhet, bly in die lig”, en in sy geval is daar “geen oorsaak van struikeling nie”. Die Griekse woord hier bevat die gedagte van ’n dierestrik met aas in en dui op iets wat ’n val tot sonde kan meebring. ’n Naamchristen wat sy broeder haat, weet in werklikheid “nie waarheen hy gaan nie, omdat die duisternis sy oë verblind het” (Mattheüs 13:13-15). Sal hierdie waarskuwing jou beweeg om geestelike duisternis te vermy deur nie toe te laat dat persoonlike verskille, die leuens van afvalliges of enigiets anders jou broederliefde vernietig nie?
Grondslag vir vertroue
14. Wie is die “kinders” en die “vaders” wat deur Johannes aangespreek word?
14 Johannes spreek vervolgens vertroue in die “kinders” uit, wat blykbaar die hele gemeente beteken. (Lees 1 Johannes 2:12-14.) Ons sondes is ter wille van ‘Christus se naam’ vergewe, want slegs deur hom het God redding moontlik gemaak (Handelinge 4:12). Gesalfdes ‘ken die Vader’, want hy het hulle deur sy gees verwek. Party is “vaders”—waarskynlik ouer, meer ervare en geestelik ryp gelowiges. Hulle ken Jesus, wat “van die begin af” bestaan het, daar God hom voor alle ander dinge geskep het.
15. (a) Wie is die “jongmanne” met wie Johannes praat, en hoe het hulle “die Bose oorwin”? (b) Meld ’n voorbeeld van hoe ons Satan vandag kan “oorwin”.
15 Die “jongmanne” wat Johannes aanspreek, is moontlik jonger, minder ervare Christene. Hulle ‘het die Bose, Satan, oorwin’ deur nie voor sy “planne” te swig nie (2 Korinthiërs 2:11). Dit kan byvoorbeeld vandag onrein vermaak, sensuele musiek en pornografie insluit, wat Christelike beginsels kan ondermyn en tot geslagsonsedelikheid kan lei. Die “jongmanne” het Satan oorwin omdat hulle geestelik “sterk” is en “die woord van God” in hulle bly. Laat ons soos hulle wees en God se geestelike voorsienings aanvaar, afvalligheid verwerp en aanhou om in goddelike lig te wandel.
Wat ons nie moet liefhê nie
16. Wat moet ons nie liefhê nie, maar wat sou waar wees van ons as ons wêreldse beskouings en strewes het?
16 Hetsy ons ouer of jonger Christene is, daar is iets wat ons nie moet liefhê nie. (Lees 1 Johannes 2:15-17.) Ons moet ‘nie die wêreld of enigiets daarin liefhê nie’. Ons moet eerder oppas dat ons nie besmet word deur die verdorwenheid van die onregverdige mensegemeenskap nie en moet nie sy “gees” inasem of deur sy oorheersend sondige gesindheid beïnvloed word nie (Efesiërs 2:1, 2; Jakobus 1:27). As ons wêreldse beskouings en strewes sou hê, sal “die liefde van die Vader” nie in ons wees nie (Jakobus 4:4). Dit is waarlik stof tot biddende nadenke, nie waar nie?
17. Watter wêreldse begeertes moet Christene nie bevredig nie?
17 “Alles wat in die wêreld is”, kom nie van God nie. Dit sluit “die begeerlikheid van die vlees” in, en die bevrediging daarvan sou beteken dat sondige verlangens soos onsedelike geslagsbegeertes bevredig sou word (1 Korinthiërs 6:15-20; Galasiërs 5:19-21). Daar moet ook nie voor “die begeerlikheid van die oë” geswig word nie. Die begeerlike, verbode vrug wat Eva gesien het, het haar verlok, en Dawid se aanskouing van Batseba terwyl sy gebad het, het tot growwe sonde gelei (Genesis 3:6; 2 Samuel 11:2-17). As ons wil aanhou om in goddelike lig te wandel, moet ons verdorwe vermaak en ander dinge wat sondige begeertes prikkel en die hart verderf, vermy.—Spreuke 2:10-22; 4:20-27.
18. Waarom is “die opsigtige vertoon van jou lewensmiddele” sinloos, en wat bring dit nie?
18 “Die opsigtige vertoon van jou lewensmiddele” (NW), is ook uit die wêreld. ’n Trotse persoon spog dalk met sy rykdom, sy klere, ensovoorts, wat alles verloor kan word. Sy “opsigtige vertoon” beïndruk miskien party mense en bring vlugtige eer, maar nie goddelike seën nie.—Mattheüs 6:2, 5, 16, 19-21; Jakobus 4:16.
19. Wat gaan met hierdie wêreld gebeur, en hoe behoort hierdie feit ons te raak?
19 Onthou dat ‘die wêreld verbygaan’ en vernietig sal word (2 Petrus 3:6). Die begeertes en verwagtinge daarvan sal saam met die wêreld vergaan, asook individue wat dit liefhet. “Maar”, sê Johannes, “hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” Laat ons dus die ewige lewe in die oog hou deur “wêreldse begeerlikhede te laat vaar” en voort te gaan om in goddelike lig te wandel.—Titus 2:11-14, NAV.
Waak teen afvalligheid
20. Wat is die teen Christus genoem, en hulle verskyning het bewys dat wat aangebreek het?
20 Johannes waarsku nou teen antichriste. (Lees 1 Johannes 2:18, 19.) Hy herinner medegelowiges daaraan dat hulle by die apostels “gehoor het dat die Antichris kom”. Die verskyning van “baie antichriste” het bewys dat dit die “laaste uur”, die finale deel van die apostoliese tydperk, was. Hoewel dié teen Christus ’n samegestelde “Antichris” uitgemaak het, het talle individuele antichriste voorgegee dat hulle God aanbid, maar “hulle was nie van ons nie” en het die ware Christelike godsdiens verlaat. Ons is bly dat die vertrek of uitsetting van sulke persone vandag verwording van die gemeente voorkom.
21. Waarom het geesverwekte Christene kennis, en watter “waarheid” ken hulle?
21 Lojale geesverwekte Christene verwerp afvallige beskouings. Aangesien “die salwing van die Heilige”, Jehovah, hulle help om sy Woord te verstaan, het hulle almal kennis. (Lees 1 Johannes 2:20, 21, vgl. NW.) Hulle ken gewis “die waarheid” met betrekking tot Jesus Christus, terwyl die afvalliges verkeerde gedagtes oor hom het. Aangesien “geen leuen uit die waarheid is nie”, verwerp alle liefhebbers van Jehovah sulke valse beskouings en diegene wat dit verkondig.
22. Wat het C. T. Russell gedoen toe een van sy vroeë metgeselle die losprys verloën het?
22 Wie is op stuk van sake “die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus”, God se Gesalfde, is? (Lees 1 Johannes 2:22-25.) ‘Die een wat die Vader en die Seun loën, is die Antichris’! Dit is interessant dat toe ’n vroeë metgesel van Bybelstudent Charles T. Russell die losprys verloën het Russell sy omgang met hom gestaak en hierdie tydskrif begin publiseer het wat altyd die waarheid oor Christus se begin, Messiaanse rol en liefdevolle diens as die soenoffer verkondig.
23. Hoe raak dit ons verhouding met God, en ons vooruitsigte, as ons die Seun bely?
23 Afvalliges wat Christus verloën, het Jehovah nie as hulle Vriend nie (Johannes 5:23). Maar ons wat die Seun in die openbaar bely, het die Vader, en is in ’n goedgekeurde verhouding met God (Mattheüs 10:32, 33). Jesus se lojale, vroeë volgelinge het vasgehou aan wat hulle “van die begin” van hulle lewens as Christene oor God se Seun gehoor het. En as dieselfde waarheid in ons harte is, sal ons ‘in eendrag’ met God sowel as Christus bly en “die belofte”, die ewige lewe, ontvang.—Johannes 17:3.
Geleer deur Jehovah God
24. Wie het ’n “salwing” met die heilige gees, en waarom het hulle ‘nie nodig dat iemand hulle leer nie’?
24 Ons het behoorlike geestelike onderrig nodig om in goddelike lig te wandel en nie deur afvalliges mislei te word nie. (Lees 1 Johannes 2:26-29, vgl. NW.) Geesverwekte persone het ’n “salwing” met die heilige gees, het God en sy Seun leer ken en ‘het nie nodig dat iemand [’n afvallige] hulle leer nie’. Deur sy salwende gees “leer” God geestelike Israeliete “alles” wat nodig is om hom op aanvaarbare wyse te dien (Johannes 4:23, 24; 6:45). Ons is verheug dat ons, as Jehovah se Getuies, sulke geestelike onderrig van God deur “die getroue en verstandige dienskneg” ontvang.—Mattheüs 24:45-47.
25, 26. (a) Waarom kan gesalfdes ‘vrymoedigheid van spraak’ hê? (b) Wat beteken dit om ‘die geregtigheid te doen’?
25 Johannes spoor goed onderrigte gesalfdes aan om ‘in eendrag met’ God te bly. Diegene wat ‘in eendrag met’ Jehovah is, is eweneens eensgesind met sy Seun (Johannes 14:19-21, vgl. NW). Sulke eenheid word voorgestaan sodat “ons vrymoedigheid [van spraak] kan hê wanneer Hy [Christus] verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy [teenwoordigheid] nie”, dit wil sê, gedurende sy Parousia.
26 Hoe kan ons seker maak dat ons niks het om oor skaam te wees nie en werklik in goddelike lig wandel, aangesien ons nou gedurende Jesus se “teenwoordigheid” lewe? Deur ‘die geregtigheid te doen’. ‘As ons weet dat God regverdig is’, redeneer Johannes, ‘dan weet ons dat elkeen wat die geregtigheid doen, uit Hom gebore is.’ ‘Om die geregtigheid te doen’, beteken om aan God se gebooie gehoorsaam te wees, ongeregtigheid te vermy en goeie werke te verrig soos om dissipels te maak en medegelowiges te help (Markus 13:10; Filippense 4:14-19; 1 Timotheüs 6:17, 18). Om ‘uit God gebore’ te word, beteken om “weer gebore” te word as sy geestelike kinders.—Johannes 3:3-8.
27. Wat sal die apostel Johannes ons volgende toon?
27 Johannes het dus getoon hoe ons kan aanhou om in goddelike lig te wandel. Vervolgens toon hy hoe ons as God se kinders kan lewe. Wat vereis dit?
Wat is jou antwoorde?
◻ Watter bewys lewer Johannes dat God se Seun as ’n mens gelewe, gely en gesterf het?
◻ In watter opsig is Jesus Christus “’n versoening”?
◻ Watter gebod het Christene wat ‘oud’ sowel as ‘nuut’ is?
◻ Wat gaan met hierdie wêreld gebeur, en hoe behoort hierdie feit ons as Christene te raak?
◻ Hoe kan gesalfdes seker wees dat hulle in goddelike lig wandel?
[Lokteks op bladsy 12]
Toon jy waardering vir Jesus se offerande?