Jesus se lewe en bediening
Wat is geoorloof op die Sabbat?
OP ’N ander Sabbat besoek Jesus ’n sinagoge naby die see van Galilea. Daar is ’n man met ’n verdorde regterhand. Die skrifgeleerdes en die Fariseërs hou Jesus stip dop om te sien of hy hom sal genees. Uiteindelik vra hulle: “Is dit geoorloof om op die sabbat gesond te maak?”
Die Joodse godsdiensleiers glo dat genesing op die Sabbat slegs geoorloof is wanneer ’n lewe in gevaar verkeer. Hulle leer byvoorbeeld dat dit nie geoorloof is om op die Sabbat ’n been te spalk of ’n verstuiting te verbind nie. Die skrifgeleerdes en die Fariseërs vra Jesus dus uit in ’n poging om ’n aanklag teen hom te vind.
Maar Jesus ken hulle gedagtes. Hy besef terselfdertyd dat hulle ’n uiterste, onskriftuurlike beskouing huldig oor wat ’n skending van die Sabbatsverbod op werk behels. Jesus skik dus die toneel vir ’n dramatiese konfrontasie deur vir die man met die verdorde hand te sê: “Staan op in hul midde.”
Jesus wend hom dan tot die skrifgeleerdes en die Fariseërs en sê: “Watter mens sal daar onder julle wees wat een skaap het, en as dit op die sabbat in ’n sloot val, dit nie sal gryp en uithaal nie?” Aangesien ’n skaap ’n finansiële belegging is, sou hulle hom nie tot die volgende dag in die sloot los om miskien siek te word en sy waarde te verloor nie. Die Skrif sê boonop: “Die regverdige sorg goed vir sy diere.”
Jesus trek ’n parallel en sê voorts: “Hoeveel meer is ’n mens dan nie werd as ’n skaap nie! So is dit dan geoorloof om op die sabbat goed te doen.” Omdat hulle nie sulke logiese, medelydende redenering kan weerlê nie, bly die godsdiensleiers stil.
Verontwaardig sowel as bedroef oor hulle hardnekkige dwaasheid kyk Jesus rond. Toe sê hy vir die man: “Steek jou hand uit!” En hy steek dit uit, en die hand is genees.
In plaas van bly te wees dat die man se hand genees is, gaan die Fariseërs uit en sweer onmiddellik saam met die partygangers van Herodes om Jesus dood te maak. Hierdie politieke party sluit blykbaar lede van die godsdienstige Sadduseërs in. Hierdie politieke party en die Fariseërs is gewoonlik openlik teen mekaar gekant, maar hulle is stewig verenig in hulle teenkanting teen Jesus. Mattheüs 12:9-14; Markus 3:1-6; Lukas 6:6-11; Spreuke 12:10, NAV; Exodus 20:8-10.
♦ Wat was die toneel vir ’n dramatiese konfrontasie tussen Jesus en die Joodse godsdiensleiers?
♦ Wat het die Jode geglo ten opsigte van genesing op die Sabbat?
♦ Watter illustrasie het Jesus gebruik om hulle verkeerde beskouings te weerlê?