Koninkryksverkondigers berig
“Handhawers van onkreukbaarheid”-Byeenkomste in die Filippyne
DIE reeks van 23 “Handhawers van onkreukbaarheid”-Byeenkomste wat in 1985 in die Filippyne gehou is, was in elke opsig ’n groot sukses. Die opkoms van altesaam 213 734, ’n vermeerdering van 27 persent vergeleke met verlede jaar se syfer, was ruim twee en ’n half keer die getal verkondigers in die land. Dit toon dat baie belangstellendes die byeenkomste bywoon. Daar is ook 2 223 gedoop, en dit is 14,5 persent meer as verlede jaar.
Daar is verwag dat 12 000 die byeenkoms in Tuguegarao, Cagayan, sou bywoon, maar 24 327 het opgedaag! ’n Radiostasie het ’n onderhoud van 30 minute met die broers uitgesaai, wat sonder twyfel tot die goeie opkoms bygedra het. Die omroeper het gevra hoe ons daarin slaag om vrede en orde by ons byeenkomste te handhaaf. Daar is verduidelik dat alle lede van ons organisasie probeer om Bybelvrugte soos liefde en vrede aan te kweek. Daarom is daar geen getwis wanneer ons sulke byeenkomste het nie. Die omroeper was verbaas en het gesê: “Hoe wonderlik is julle organisasie tog! Ander organisasies kan dit nie doen nie. Wanneer hulle ’n skare soos hierdie het, is daar altyd onaangename voorvalle.“
By dieselfde byeenkoms het ’n dosent aan die Cagayan-Staatsuniversiteit gesê: “Die opkoms was oorweldigend; byeenkomsgangers was gedissiplineerd; daar was samewerking tussen hulle; hulle het volkome toegewydheid aan die bediening geopenbaar. Ondanks die groot aantal byeenkomsgangers was die plek silwerskoon; daar was orde en geen onaangename voorvalle het plaasgevind nie, wat slegs bewys dat die Getuies nougeset beoefen wat hulle in die Skrif leer.“
Die konsessionaris by die Rizal-Gedenkstadion in Manila het gedurende die byeenkoms gesê: “Ek bewonder die ordelikheid van julle byeenkoms. Julle Genootskap is georganiseerd, en ek het nou eers hierdie soort ordelikheid van die Getuies gesien, want ek het nou eers ’n byeenkoms soos hierdie gesien.”
Sewe verkondigers van ’n afgesonderde groep het die byeenkoms in die stad Calbayog bygewoon, en hulle het 14 belangstellendes saam met hulle gebring. Omdat hulle besef het hoe belangrik dit is om by hierdie geestelike feesmaal te wees, het een gesin uit Palawan sowat 20 persent van hulle jaarlikse inkomste gebruik om die byeenkoms in die stad Puerto Princesa by te woon.
Talle buitelandse afgevaardigdes het na die byeenkoms in Manila gereis, en nagenoeg 80 persent van hulle was in die een of ander vorm van die voltydse diens. Dit was opbeurend om te sien hoe die drama Jou toekoms—’n uitdaging, wat oor die voltydse diens gehandel het, die broers aangespoor het. In die stad Iloilo is drie persone, wat aan hierdie drama deelgeneem het, gedurende die repetisies so geraak dat hulle selfs voor die byeenkoms aansoek gedoen het om gewone pioniers te word. In die stad Ormoc het die byeenkomsvoorsitter vertel dat ses verkondigers direk na die drama aansoekvorms om gewone pionierdiens gevra het.
Jehovah se gees beweeg beslis sy volk om hulle in hierdie laaste dae “gewillig” aan te bied (Psalm 110:3). Die “Handhawers van onkreukbaarheid”-Byeenkomste in die Filippyne het die broers en belangstellendes aldaar grootliks aangemoedig.