Waarom ek die gedagte van hemel toe gaan prysgegee het
—Soos vertel deur Yuriko Eto
AS ’N Japannese Metodis het ek vas geglo dat daar geen groter geluk kan wees as om hemel toe te gaan nie. Dit sou heerlik wees om vir ewig by God te wees en saam met die Here Jesus Christus te woon. Waarom het ek so ’n innige begeerte gehad om hemel toe te gaan? En waarom het ek die gedagte prysgegee? Laat ek jou my verhaal vertel.
Eeue lank is slegs Sjintoïsme en Boeddhisme in my land, Japan, toegelaat. Ek is in 1911 gebore, slegs 22 jaar nadat godsdiensvryheid toegestaan is. My gesin het Metodiste geword. My vader was ’n handelaar. My moeder was die dogter van ’n geestelike. Die feit dat my moeder die Bybel opreg geglo het, was vir my ’n seën. Ek onthou in die besonder dat my moeder se vriendin, ’n onderwyseres by ’n teologiese skool vir meisies, ons dikwels besoek het. Sy het altyd oor die Bybel gepraat, en ek het graag geluister. Maar na afloop van die besprekings het sy altyd gesê: “Is dit nie jammer dat die Bybel nog nie ontsluit is en verstaan word nie?” Aangesien God mense gebruik het om die Bybel te skryf, het ek altyd gewonder waarom hy hulle dit nie laat verstaan nie.
Wanneer ek na skool by die huis gekom het, was daar vir my niks lekkerders as om in ’n gemaklike stoel te sit, die Bybel te lees en oor die hemel te droom nie. Die hoop dat Christus ons miskien gedurende my leeftyd sou kom haal, het my hart veral geraak. Jesus Christus het homself met ’n bruidegom vergelyk en ons gewaarsku dat vyf van die tien maagde vas aan die slaap was en nie die bruidegom kon ontmoet en hemel toe kon gaan nie! Ek het dus elke dag gebid vir die tyd wanneer die Here Jesus ons sou kom roep, en ek het gebid dat Christus se tweede teenwoordigheid nie vergeet moet word nie. Ek het die teks in gedagte gehou wat sê: “Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien”, en ek het gewag en gehoop. Trouens, ek het soos ’n onbesorgde reisiger in hierdie wêreld gelewe.—Mattheüs 25:1-12; 5:8.
In 1933 is ek getroud, en omdat ek altyd die hemel in ons gesprekke ingebring het, het my man gewoonlik vir my gelag en gesê: “Jy behoort aan die hemel, maar ek behoort aan hierdie wêreld.” My skoonvader was egter verknog aan die Bybel en het dikwels gesê: “Dit is feitlik 2 000 jaar sedert die Here Jesus Christus gekom het, daarom kan ons aanneem dat Christus se tweede teenwoordigheid naby is.” My hart het al hoe meer gebrand.
Toe het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek, en my man het in die laaste jaar van die oorlog gesterf. Ek het toe gedink dat as daar ’n verskriklike hel is, dit hierdie wêreld moet wees. Na die oorlog het ek my vier kinders (die jongste was sewe maande oud) geneem en verskeie kere getrek, aangesien Tokio nog in ’n toestand van wanorde was. Omdat ek nie ’n hele Sondag kon verduur sonder om kerk toe te gaan nie, het ek elke keer dat ons getrek het die naaste kerk aan ons huis bygewoon. Ek het nie omgegee watter kerk dit is nie, aangesien daar myns insiens slegs een God en een Bybel was. Ek het nie van die gedagte gehou om by een godsdiens te bly nie.
My soeke na God se organisasie
Toe ek die verskille sien, het ek mettertyd begin wonder hoe God self al die sektes beskou. Ek het tot die slotsom gekom dat God beter as enigiemand weet dat daar dwalinge in die talle godsdienste is. Ek het gemeen dat God punte sou toeken aan die organisasie wat die Bybel die akkuraatste verstaan, net soos ’n onderwyser punte aan ’n leerling se eksamenvraestel toeken. Ek het begin voel dat ek die organisasie moet vind wat reg is in God se oë. Toe het Mattheüs 7:9 deur my verstand geflits. Dit sê: “Watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ’n klip sal gee”? Omdat ek die ware “brood” gesoek het, het ek geloof in daardie teks gestel en dag na dag ernstig begin bid: “Laat my asseblief omgaan met die organisasie wat die regte begrip van die Bybel het.” ’n Jaar nadat ek so begin bid het, het ek na Jokohama verhuis. Dit was hier dat ’n sekere gesprek my opgewonde gemaak het.
Elke keer as ek mense teëgekom het wat gesê het dat hulle kerk toe gaan, het ek hulle dadelik gevra: “Ek wonder of jy iemand ken wat die Bybel volkome verstaan?” Eendag het ek in ’n nabygeleë dorp ’n lidmaat van ’n kerk teëgekom en haar dieselfde vraag gevra. Hoewel ek tot op daardie tydstip nie ’n positiewe antwoord ontvang het nie, het sy met oortuiging geantwoord: “Ja. Daar is so iemand. Nou die dag het ’n sendelinge hier besoek afgelê. Ek het haar ingenooi, en sy het dadelik die Bybel oopgeslaan en die een ding na die ander verduidelik. Voor sy vertrek het, het sy gesê dat sy op die heuwel woon waar jy woon.” Toe ek dit hoor, het ek haar huis opgewonde verlaat. Ek het sommer die volgende dag al die sendinghuis van Jehovah se Getuies besoek.
’n Krisistyd
Uiteindelik kon ek ’n gedetailleerde studie van die Bybel doen. Nagenoeg ’n maand het verstryk—en toe het die bom gebars! My sendelingonderrigster, Jean Hyde (nou Nisbet), het geglimlag en gesê: “In die toekoms sal jy waarskynlik nie in die hemel nie, maar op die aarde woon.” Ek was geskok, want ek het gevoel asof ek uit die hemel gestoot is. Ek was woedend. “Dit is die eerste keer dat ek ’n sendeling ontmoet wat so onbeskof is soos jy”, het ek haar toegesnou. “Dit is jammer dat, hoewel ek daarna uitgesien het dat jy my die Bybel leer, daardie gevoel nou weg is. Maar aangesien ek na die hedendaagse ware organisasie soek en op Die Wagtoring ingeteken het en ook die boek ‘Laat God waaragtig wees’ het, sal ek op my eie ’n noukeurige ondersoek instel. Wanneer ek bevestig het dat dit die waarheid is, sal ek jou gelyk gee en jou weer om hulp vra.”
Jean was nie kwaad nie. Sy het breed geglimlag en gesê: “Doen dit gerus, ondersoek asseblief die waarheid.” Toe het sy vertrek, maar sy het van tyd tot tyd vriendelik ingeloer om te vra: “Is jy besig met jou ondersoek?” Ek het gehoop dat hierdie organisasie God se antwoord op my gebede was, maar nou was ek heeltemal van stryk af. Ek het nog nooit gehoor dat daar ’n onderskeid getref word tussen die wat hemel toe sal gaan en die wat vir ewig op die aarde sal lewe nie.
Daarna het ek die Wagtoringpublikasies elke dag in alle erns ondersoek. Na ’n rukkie het die reisende opsiener van Jehovah se Getuies, Adrian Thompson, my besoek. Ek het dadelik ’n bietjie opstandig gevra: “Al is daar in die toekoms twee groepe, ’n hemelse en ’n aardse groep, sou God mos die een wees wat besluit, of hoe? Dit sou vermetel van die mens wees om te besluit, nie waar nie?” Hy het geantwoord: “Heeltemal reg! God is die Een wat besluit.” Hoewel ek nie die besonderhede verstaan het nie, het ek ’n bietjie beter gevoel. ‘My vooruitsigte om hemel toe te gaan, is dus nie weggeneem nie’, het ek gedink. Daarna het ek gebid en voortgegaan om op my eie te studeer.
In 1954 het ek die herdenking van Christus se dood bygewoon. Lloyd Barry was die spreker. In sy toespraak het hy gesê dat dit diegene in die “verbondsooreenkoms” is wat van die brood en die wyn gebruik. Aangesien ek ná die Gedenkmaal talle vrae gehad het, het ek die hele pad huis toe saam met Shizue Seki, ’n ywerige Getuie, geloop. Sy het groot besorgdheid getoon en my aangespoor om nie tou op te gooi net omdat ek oor een punt gestruikel het nie, maar om seker te maak of al die ander leerstellings op die Bybel gegrond is of nie.
Terwyl ek eendag, na die kinders weg is skool toe, besig was om die plek vir verwagte gaste aan die kant te maak, het ek stilweg gebid: ‘Ek sal weer saam met Jehovah se Getuies studeer.’ Toe ek my oë oopmaak, was ek verstom om, pleks van die gaste wat ek verwag het, drie Japannese getuies van Jehovah te sien. Ek het hulle verbaas vertel wat ek pas tevore gebid het. Fumiko Seki het opgewonde op en af gespring, haar hande geklap en gesê: “Goed! Goed!” Weldra het ’n ander sendeling, Sonny Dearn, met Fumiko se hulp as tolk, ’n aangename studie begin. Hierdie keer het twee van my kinders saam met my aan die studie deelgeneem. Sonny het egter ’n ander toewysing gekry. Toe het Leon Pettitt, ’n ander buitelander, gekom. Ons het hom altyd met vrae bestook. Hy het ewe kalm vir ons tekste gewys sodat ons tot die regte slotsom kon kom en meer Skriftuurlike kennis kon opdoen.
Ek leer wat die doel is van hemel toe gaan
In teenstelling met my persoonlike strewes het ek geleer dat daar, bo en behalwe die blote verlange om vir ewig by die heerlike God te wees en saam met die Here Jesus te woon, ’n doel is waarom iemand hemel toe gaan. Namate ek sekere waarhede geleer het, kon ek hulle geredelik aanvaar.
Eerstens, as die eerste man Adam nie gesondig het nie, sou dit nie vir enige mens nodig gewees het om hemel toe te gaan nie. Dit is omdat daar voor die wêreld geskep is reeds derduisende engele in die hemel was.—Job 38:4-7; Daniël 7:9,10.
Namate die studie gevorder het, het ek uit Lukas 12:32 geleer dat slegs ’n klein groepie, wat die Bybel ’n “klein kuddetjie” noem, hemel toe gaan. Jesus het gesê: “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ’n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.” Wat die doel betref, is daar nie in Openbaring 20:6 geskrywe dat “hulle . . . saam met Hom [Christus] as konings [sal] regeer duisend jaar lank” nie? En in Openbaring 5:10 (NAV) dat ‘hulle oor die aarde sal regeer’ nie?
Ek het ook geleer wat die betekenis van die Onse Vader is. Jesus het gebid: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheüs 6:10). Toe ek verstaan het dat dit betrekking het op die hemelse Koninkryksregering wat bestaan uit mense wat van die aarde geneem word om saam met die Koning Jesus Christus te regeer, het ek my oor God se wysheid verwonder. Ek was daarvan oortuig dat dit presies is wat ons nodig het, ’n unieke, nuwe regering wat die mensdom sal bevry van die lyding, smart en druk wat deur Satan veroorsaak word. Ek kon nie my lof vir Jehovah inhou nie.
En toe ek geleer het dat die getal wat hemel toe gaan tot 144 000 beperk is, kon ek nie anders as om met die redelikheid hiervan saam te stem nie (Openbaring 14:1, 3). Selfs die aantal amptenare in ’n regering op die aarde is beperk. Ek het tot die besef gekom dat diegene wat hemel toe gaan belangrike pligte het. Hulle werk in God se liefdevolle reëling sluit in om almal wat op die aarde lewe gelukkig te maak en om ’n paradystoestand op hierdie aarde te herstel.
Ek was so oorweldig met waardering dat ek my gedagtes om hemel toe te gaan met graagte laat vaar het. Ek koester nou die hoop om in ’n paradys op die aarde te lewe. God het ongetwyfeld die betekenis van die Bybel deur middel van sy organisasie geopenbaar. Ek het na die waarheid gesoek. Ek voel my gedwonge om God te dank dat hy my gehelp het om te assosieer met die organisasie wat hy goedkeur.
’n Vrugbare, gelukkige bediening
Ek is in Oktober 1954 gedoop. Sedert 1955 neem twee van my kinders voltyds saam met my aan die Koninkrykspredikingswerk deel. My seun Keijiro het sewe jaar lank as ’n reisende opsiener gedien. Hy is nou geseën met twee kinders, en hy en sy vrou werk ywerig as voltydse predikers (pioniers). As ’n spesiale pionier het ek gehelp om gemeentes van Jehovah se Getuies in ses stede te stig.a Ek het onlangs die vreugde gesmaak om etlike jare lank saam met my oudste dogter, Hiroko, op Hasjio-eiland, wat 300 kilometer van Tokio in die Stille Oseaan lê, te preek.
Sedert ek tevrede geraak het met die hoop op ’n wonderlike toekoms op die aarde het my gesindheid teenoor die aarde grootliks verander. Op Hasjio-eiland veral was ons omring deur buitengewone blomme, en wanneer ons van huis tot huis gegaan het, het ons hulle bewonder terwyl ons met die huisbewoners in hulle pragtige tuine gepraat het. Eendag het ons ’n bejaarde vrou teëgekom wat besig was om haar blomme te versorg. Ons het hulle bewonder, maar sy het gesê: “Ek is nie bang om te sterf nie, maar dit ontstel my dat ek van hierdie blomme sal moet afskeid neem wanneer ek na die ander wêreld gaan.” Ek het verduidelik dat sy onder God se Koninkryksheerskappy uit die dood opgewek sal word op ’n paradysaarde waar mense blomme vir ewig sal geniet. Haar oë het begin blink, en ’n Bybelstudie is gereël.
Die eenvoudige lewenswyse van die eilanders het my ook aangetrek. Hulle is veral vroom wanneer dit by die verering van hulle voorouers kom. Wanneer iemand sterf, woon almal in die gemeenskap die begrafnis beleef by. Ek wens net dat al hierdie mense Jehovah, die Vader van die lewe, wil leer ken en wil verstaan dat hy die God is wat hulle voorouers sal laat herlewe wanneer die aarde tot ’n paradys herstel is. Ek wil hê dat hulle moet weet dat daar ’n belangrike verskil is tussen respek vir en aanbidding van ons voorouers. Ons moet slegs die een Vader van die lewe, Jehovah, aanbid. Soos Jesus gesê het: “Maar daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”—Johannes 4:23, 24.
Nou, in my sewende gebiedstoewysing, dank ek Jehovah terwyl ek voortgaan om mense te vertel van die voorneme van Jehovah se hemelse Koninkryksregering en die heerlike seëninge wat dit sal bring vir dié van ons wat die wonderlike voorreg sal hê om vir ewig op die aarde te lewe.—2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4.
[Voetnote]
a Yuriko Eto het ook 75 van haar Bybelstudente gehelp om Koninkryksverkondigers te word.
[Prent op bladsy 12]
Yuriko Eto, waar sy met ander oor die Bybel se belofte van ’n aardse paradys studeer