Jesus se lewe en bediening
’n Hoë standaard vir sy volgelinge
DIE godsdiensleiers beskou Jesus as ’n oortreder van God se Wet en het ’n rukkie tevore selfs saamgesweer om hom dood te maak. In sy Bergpredikasie het Jesus gevolglik verduidelik: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.”
Jesus het die grootste agting vir God se Wet en spoor ander aan om dit ook te hê. Trouens, hy sê: “Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense so leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele”—met ander woorde, so ’n persoon sal glad nie in die Koninkryk kom nie.
Jesus toon nie minagting vir God se Wet nie, maar veroordeel eerder die gesindhede wat tot die verbreking daarvan lei. Nadat hy gemeld het dat die Wet sê: “Jy mag nie doodslaan nie”, voeg Jesus by: “Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad [bly], verantwoording moet doen voor die gereg”—Vgl. NW.
Aangesien dit so ernstig is om vir ’n metgesel kwaad te bly, iets wat selfs tot moord kan lei, lig Jesus toe hoe ver ’n mens moet gaan om vrede te bewerkstellig. Hy beveel: “As jy dan jou [offer]gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.”
Jesus vestig die aandag op die sewende van die Tien Gebooie en sê voorts: “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie.” Maar Jesus veroordeel selfs die volgehoue neiging tot egbreuk. “Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.”
Jesus praat nie hier van ’n kortstondige, onsedelike gedagte nie, maar van ‘aanhou kyk’ (NW). So ’n aanhoudende kykery wek hartstog wat op egbreuk kan uitloop indien die geleentheid hom voordoen. Hoe kan ’n persoon voorkom dat dit gebeur? Jesus lig toe watter ernstige stappe nodig kan wees deur te sê: “As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af; . . . En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af.”
Mense is dikwels bereid om ’n letterlike ledemaat wat siek is prys te gee om hulle lewe te red. Maar volgens Jesus is dit selfs noodsaakliker om enigiets, selfs iets so kosbaar soos ’n oog of ’n hand, ‘weg te gooi’ om onsedelike denke en dade te vermy. Andersins, het Jesus verduidelik, sal sulke persone in Gehenna (’n brandende vullishoop naby Jerusalem), wat ewige vernietiging afbeeld, gegooi word.
Jesus bespreek ook hoe om op te tree teenoor mense wat beledig en kwets. Sy raad was dat ons “’n slegte mens nie moet weerstaan nie”. “Maar as jemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe.” Jesus bedoel nie dat ’n persoon homself of sy gesin nie moet verdedig wanneer hulle aangeval word nie. Die doel van ’n klap is nie om fisies seer te maak nie, maar eerder om te beledig. Wat Jesus dus sê, is dat dit verkeerd sou wees om iemand met gelyke munt terug te betaal as hy probeer om ’n geveg of ’n argument uit te lok, hetsy deur letterlik met ’n oop hand te klap of deur met beledigings te krenk.
Nadat Jesus die aandag gevestig het op God se wet dat ’n mens jou naaste moet liefhê, sê hy: “Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê . . . en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg.” Hy verstrek ’n kragtige rede om dit te doen wanneer hy byvoeg: “Sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies.”
Jesus sluit hierdie deel van sy predikasie af deur te vermaan: “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.” Jesus bedoel nie dat mense in die absolute sin volmaak kan wees nie. Maar deur God na te volg, kan hulle hulle liefde verruim om selfs hulle vyande in te sluit. Lukas se parallelle verslag gee Jesus se woorde soos volg weer: “Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is.” Mattheüs 5:17-48; Lukas 6:36.
♦ Hoe het Jesus groot agting vir God se Wet getoon?
♦ Watter bevel het Jesus gegee om die oorsake van moord en egbreuk uit te roei?
♦ Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het dat ’n mens die ander wang moet draai?
♦ Hoe kan ons volmaak wees soos God volmaak is?