Doen meer as om te sê: “Word warm, word versadig”
“As daar nou ’n broeder of suster . . . gebrek het, en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie—wat baat dit? . . . Geloof, as dit geen werke het nie, [is] in sigself dood.”—JAKOBUS 2:15-17.
1. Hoe het ’n broer in Nigerië hulpbehoewend geword?
DAAR word gereken dat Lebechi Okwaraocha voor 1880 gebore is, wat beteken dat hy ver oor die honderd is. Hy het sy Nigeriese ouers se fetisj geërf en aanbid. Toe het hy in sy tagtigerjare die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin bestudeer. Hy het toegepas wat hy geleer het en is gedoop. Hy is dus nagenoeg 30 jaar al ’n Getuie. Ouere manne van sy gemeente het hom en sy 72-jarige Anglikaanse vrou onlangs na ’n baie swaar stortbui besoek. Albei was terneergedruk—die vloer van hulle strooidakhut was onder water, en hulle het geen familie gehad wat vir hulle verblyf kon gee of hulle met herstelwerk kon help nie. Wat sou jy gedoen het as jy daar was? Laat ons eers na Bybelraad kyk voor ons uitvind wat gebeur het.
2. Waarom stel ons in “goeie werke” belang?
2 Christus Jesus het “Homself vir ons gegee [om] . . . vir Homself ’n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke” (Titus 2:14). Hierdie werke draai om die lewensreddende Koninkrykspredikingswerk (Markus 13:10; Openbaring 7:9, 10). Christelike “goeie werke” behels egter meer as die lewensbelangrike predikingswerk, want Jesus se halfbroer Jakobus verduidelik: “Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.”—Jakobus 1:27, NAV.
3, 4. Wat kan ons uit 1 Timotheüs hoofstukke 3-5 oor “goeie werke” leer, en watter vrae laat dit ontstaan?
3 Gemeentes in die eerste eeu het deel gehad aan albei soorte “goeie werke”. In 1 Timotheüs hoofstuk 3 het die apostel Paulus, ná hy die vereistes vir opsieners en bedieningsknegte uiteengesit het, geskryf dat ‘die gemeente van die lewende God ’n pilaar en grondslag van die waarheid’ is (1 Timotheüs 3:1-15). Hy het getoon dat Christene wat by sulke suiwer leerstellings bly hulleself kon red sowel as die wat na hulle luister (1 Timotheüs 4:16). Toe het Paulus die ‘goeie werk’ om materieel om te sien na getroue weduwees wat “behoeftig” is, bespreek.—1 Timotheüs 5:3-5, NW.
4 Benewens ons evangelisasiewerk moet ons derhalwe ook aandag skenk aan “goeie werke”, soos om “weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan”. Wat kan ouere manne en bedieningsknegte, as “diegene wat die leiding gee”, in hierdie opsig doen? (Hebreërs 13:17, NW). Hoe kan ons hulle hierin bystaan? En wat kan ons persoonlik doen om hierdie soort “goeie werke” te verrig?
Ouere manne wat die leiding gee
5. Hoe het Paulus in ’n besondere behoefte voorsien, met watter hedendaagse parallelle?
5 Toe ’n spesiale behoefte in Judea ontstaan het, het Paulus, ’n ouere man, die voortou geneem om bystand te reël. Sulke leierskap het verwarring tot die minimum beperk; dinge kon regverdig uitgedeel word, na gelang van die behoefte (1 Korinthiërs 16:1-3; Handelinge 6:1, 2). Hedendaagse ouere manne gee ook die leiding met bystand ná rampspoedige oorstromings, modderstortings, vloedgolwe, tornado’s of aardbewings, en ‘sien aldus om na die belange van ander’.—Filippense 2:3, 4.
6. Hoe het die ouere manne gereageer toe daar ’n ramp in Kalifornië, V.S.A., was?
6 Ontwaak! van 8 Oktober 1986 bevat ’n voorbeeld van sulke Christelike liefde in aksie. Ouere manne het gereageer toe ’n oewerwal gebreek en ’n vloed in Kalifornië, V.S.A., veroorsaak het. Hierdie geestelike herders het gou met hulle kudde in aanraking gekom om uit te vind wie vermis was of mediese sorg, voedsel of huisvesting nodig gehad het. Die ouere manne het hulle pogings met dié van die hoofkwartier van Jehovah se Getuies gekoördineer. ’n Noodlenigingskomitee is in die lewe geroep, en namate mede-Getuies opgedaag het om te help, is hulle in spanne georganiseer om beskadigde huise op te ruim en te herstel. Die ouere manne het ook toesig gehou oor die aankoop en uitdeel van voorrade. Dit lig toe dat wanneer sulke spesiale behoeftes ontstaan ‘elke dissipel kan besluit wat hy na sy vermoë kan gee’ of doen, maar dit sou verstandig wees om plaaslike opsieners te raadpleeg en leiding van hulle te ontvang.—Vergelyk Handelinge 11:27-30.
7. In watter algemener behoeftes moet ons ook voorsien?
7 Hoewel jy (’n ouere man al dan nie) dalk soms kan help as daar ’n groot nood ná ’n ramp ontstaan, is daar algemener behoeftes wat net so dringend kan wees—dié in jou eie gemeente. Omdat hierdie behoeftes moontlik nie so sensasioneel soos ’n groot ramp is nie, kan hulle maklik oor die hoof gesien word of baie min aandag ontvang. Maar plaaslike behoeftes is in werklikheid die soort wat in Jakobus 2:15-17 gemeld word. Ja, jou gemeente kan jou die grootste uitdaging bied om te toon of jou ‘geloof werke het of in sigself dood is’.
8. Hoe kan opsieners behoeftes in die gemeente met wysheid hanteer?
8 Wanneer ouere manne die leiding gee, moet hulle probeer om “wys en verstandig” te wees (Jakobus 3:13). Met wysheid kan hulle die kudde beskerm teen bedrieërs wat van broer tot broer (of gemeente tot gemeente) gaan en geld leen of stories versin om “hulp” te kry. Opsieners het wyslik geen simpatie met luiheid nie, want die Bybelreël is: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie” (2 Thessalonicense 3:10-15). Maar hulle wil nie ‘die deur van hulle tere medelye sluit’ of veroorsaak dat hulle broers dit doen nie (1 Johannes 3:17, NW). Nog ’n rede waarom hulle wysheid moet openbaar, is dat die Bybel nie eindelose reëls voorskryf oor hoe om vir die behoeftiges en die geteisterdes te sorg nie. Situasies verskil van tyd tot tyd en van plek tot plek.
9. (a) Hoe is verdienstelike Christenweduwees in die eerste eeu versorg? (b) By watter soort hulp kan sulke persone vandag baat vind?
9 In 1 Timotheüs 5:3-10 het Paulus byvoorbeeld verdienstelike weduwees bespreek wat behoeftig agtergelaat is. Hulle gelowige familielede was hoofsaaklik daarvoor verantwoordelik om hulle te help; die verwaarlosing van daardie plig kon die familielede se posisie voor God benadeel. Maar as ’n behoeftige en verdienstelike weduwee nie op hierdie wyse hulp kon kry nie, was dit vir die ouere manne moontlik om materiële bystand in die gemeente te reël. In onlangse tye het party gemeentes ook besonder behoeftige persone in hulle midde gehelp. Die meeste lande het egter nou belastingondersteunde programme vir bejaardes, siekes of werkloses wat bereid is om te werk, maar nie werk kan kry nie. Christen- ouere manne kan ewenwel op ’n ander manier help. Party wat waarlik gebrek ly en heeltemal geregtig is op staatshulp, ontvang dit nie omdat hulle nie weet hoe om daarvoor aansoek te doen nie of te skugter is om te vra. Ouere manne kan dus by staatsinstellings navraag doen of met Getuies in aanraking kom wat ondervinding in hierdie sake het. Hulle kan dan reël dat ’n bekwame broer of suster die behoeftige persoon help om die beskikbare voordele te ontvang.—Romeine 13:1, 4.
Organisering van praktiese hulp
10. Waaraan moet ouere manne aandag skenk terwyl hulle as herders oor die kudde toesig hou?
10 Dit berus dikwels by wakker opsieners om toe te sien dat geteisterdes en behoeftiges hulp van liefdevolle broers en susters ontvang. Die ouere manne moet attent wees op geestelike en fisiese behoeftes terwyl hulle as herders oor die hele kudde toesig hou. Ouere manne lê begryplikerwys die klem op “gebed en die bediening van die woord” (Handelinge 6:4). Hulle sal dus probeer reël dat lede van die kudde wat bedlêend of in die hospitaal is geestelik gevoed word. Die ouere manne kan die vergaderinge laat opneem vir diegene wat dit nie kan bywoon nie. Ouere manne en bedieningsknegte het gevind dat wanneer dit hulle beurt is om die kassette af te lewer hulle besoeke hulle in staat stel om ander geestelike gawes met die persoon te deel (Romeine 1:11, 12). Hulle kan terselfdertyd vasstel wat hy nodig het.
11. Verduidelik hoe bystand gereël kan word vir ’n suster wat hulp nodig het.
11 Hulle merk dalk op dat ’n gestremde of bejaarde suster soms na die Koninkryksaal kan kom of ’n rukkie aan die veldbediening kan deelneem as ’n suster haar help om te bad en aan te trek. (Vergelyk Psalm 23:1, 2, 5.) Een van die opsieners kan selfs aangestel word om die reëlings te tref. Die opsieners kan eweneens vrywilligers in die gemeente vra om saam met die geteisterde persoon te ry of hom op te laai. ’n Rooster hiervoor sal dinge selfs ordeliker laat geskied.
12. Hoe kan ander met opsieners saamwerk om siekes of bejaardes te help?
12 Ouere manne kan let op ander omstandighede waar hulp aangebied of liefdevolle reëlings getref kan word. ’n Bejaarde of siek suster kan miskien nie so goed na haar huis omsien soos voorheen nie. Kan party bedieningsknegte en ander hand bysit? As hulle die gras sny of die struike snoei, kan selfs dit haar beter laat voel omdat sy weet dat die huis nou nie afbreuk doen aan die omgewing nie. Moet die tuin skoongemaak of natgemaak word? Sal ’n suster wat kruideniersware gaan koop, bereid wees om uit te vind wat sy nodig het en dan die nodige artikels koop? Onthou, die apostels was begaan oor sulke praktiese aspekte, en hulle het gereël dat bekwames in die gemeente hulp verleen.—Handelinge 6:1-6.
13. Waartoe het die ouere manne se hulp aan die voormelde Nigeriese broer gelei?
13 Die voormelde ouere manne wat tydens ’n herdersbesoek gevind het dat Lebechi Okwaraocha en sy vrou in ’n ellendige toestand verkeer, het sulke Christelike besorgdheid aan die dag gelê. Die liggaam van ouere manne het onverwyld werk gemaak van die saak en die gemeente meegedeel wat hulle in gedagte het—om die huis te herbou. Verskeie broers en susters het materiaal geskenk en gewillig met die projek gehelp. Binne ’n week het hulle ’n stewige sinkdakhuisie gebou. Die berig uit Nigerië lui:
“Die dorpsmense was verbaas en het spontaan voedsel en drinkgoed gebring vir die broers en susters wat lang skofte gewerk het om die taak voor die volgende stortbui te voltooi. Talle dorpsmense het gekla oor ander godsdiensgroepe wat, volgens hulle, die mense uitbuit in plaas van die armes te help. Almal in die gemeenskap het oor hierdie voorval gepraat. Die dorpsmense het baie ontvanklik geword en talle tuisbybelstudies is begin.”
Jou aandeel in hierdie “goeie werke”
14. Wat moet ons beskouing van “goeie werke” teenoor ons broers wees?
14 Ons kan natuurlik dikwels privaat en regstreeks hulp verleen aan diegene om ons wat bejaard, sieklik, in die hospitaal of andersins geteister is. As ons ’n manier sien om ware Christelikheid aan die dag te lê, kan ons gerus probeer om daadwerklik te help (Handelinge 9:36-39). Ons word nie beweeg deur druk van ander nie, maar deur Christelike liefde. Die eerste bestanddeel van enige praktiese hulp is dat ons opregte belangstelling en medelye moet hê. Nie een van ons kan natuurlik die wysers vir die bejaardes terugdraai, siektes deur wonderwerke genees of die ekonomiese posisie van almal in die gemeente gelyk stel nie. Maar ons moet beslis besorg en mededeelsaam wees. As dit die geval is en ons dienooreenkomstig optree, sal dit die band van liefde tussen ons en dié vir wie ons help, versterk. Dit was die geval met Paulus en Onesimus, ’n taamlik nuwe Christen wat ‘Paulus in sy gevangenisboeie gedien het’.—Filemon 10-13; Kolossense 3:12-14; 4:10, 11.
15. Hoe kan ons sommige verdienstelikes help wat werklik hulp nodig het?
15 Soms kan ons met ’n liefdevolle geskenk in ’n materiële behoefte voorsien, hetsy ons dit anoniem stuur of privaat gee. Het ’n broer sy werk verloor en nog nie ’n ander werk gevind nie? Het ’n suster onverwagte mediese onkoste; het sy ’n ongeluk gehad of is sy beroof? Sulke situasies kan om ons ontstaan. Wanneer ons “liefdadigheid” bewys, sal ons Vader wat in die verborgene sien dit opmerk en goedkeur (Mattheüs 6:1-4). Of in plaas van geld te gee, kan ons, soos Job, klere vir die armes en kruideniersware of tuisgemaakte etes vir die weduwees of die wese voorsien.—Job 6:14, NW; 29:12-16; 31:16-32.
16. Op watter ander praktiese manier kan hulp soms verleen word? Lig dit toe.
16 Jou ondervinding of konneksies kan ’n bron van praktiese hulp word. ’n Broer het broer W—— om ’n lening gevra. Hy het vriendelik geantwoord: ‘Wat laat jou dink dat ek ekstra geld het om uit te leen?’ Die antwoord was: ‘Omdat jy beter werk met jou geld.’ Broer W——, wat dikwels geld aan behoeftiges geleen het, het oordeelkundig aan die hand gedoen: ‘Wat jy miskien werklik nodig het, is hulp om te leer hoe om met jou geld te werk, en as jy wil, sal ek jou graag help.’ Broers wat hulle lewenstandaard by nuwe omstandighede moet aanpas of wat bereid is om selfs in ’n nederiger soort werk skouer aan die wiel te sit, waardeer veral sulke hulp. As ’n lening werklik nodig is, sal dit natuurlik goed wees om dit op skrif te stel sodat daar nie later probleme ontstaan nie. Maar baie broers wat teensinnig is om geld by ander te leen, sal persoonlike bystand in die vorm van advies, of raad gebaseer op persoonlike ondervinding diep waardeer (Romeine 13:8). Dit word toegelig deur Emmanuel se ondervinding uit Wes-Afrika:
16 Hoewel Emmanuel ’n opgeleide barbier was, het hy min klante gehad en was hy mismoedig oor sy onvermoë om ’n bestaan te maak. Toe het ’n opmerksame ouere man in die gemeente vir Emmanuel gevra of hy dit sou oorweeg om ander werk te doen. Ja, was sy antwoord, want hy sou nie toelaat dat professionele trots in sy pad staan nie. Die ouere man het met kennisse gepraat en vir Emmanuel ’n werk as helper in ’n hospitaal gekry. Hy het goed gevaar in hierdie werk en kon ander in die gemeente help.
17. Hoe kan jy ’n broer help wat in die hospitaal is? (Psalm 41:2-4).
17 Wanneer ’n mede-Christen in ’n hospitaal of verpleeginrigting is, is daar spesiale geleenthede om hulp te verleen. Opregte belangstelling en besorgdheid is weer eens fundamenteel. Jy kan dit toon deur jou bereidwilligheid om vir die pasiënt opbouende Christelike lektuur te lees of aanmoedigende ondervindinge te vertel. Is daar egter fisiese behoeftes waarmee jy kan help? Die mediese fasiliteite in party gebiede is so oorbelas dat ’n pasiënt nie gebad of gevoed word tensy ’n besoeker dit doen nie. Met die dokters se toestemming kan jy dus vir hom ’n voedsame ete bring of hom help om sy hare te was of te bad. Sal hy ’n warm japon of pantoffels waardeer? (2 Timotheüs 4:13). Of kan jy aanbied om na iets om te sien waaroor die pasiënt hom bekommer? Miskien is hy bekommerd oor hoe sy salaristjek gewissel en die water-en-elektrisiteitsrekening betaal gaan word. Jy kan hulp verleen deur selfs eenvoudige dingetjies vir hom te doen, soos om seker te maak dat die pos by sy huis nie ophoop nie, dat die plante natgemaak word of dat die warmwatertoestel afgeskakel is.
18. Wat is jy vasbeslote om te doen omtrent broers wat hulp nodig het?
18 Elkeen van ons kan ongetwyfeld ander maniere vind waarop ons meer kan doen as om te sê: “Word warm, word versadig” (Jakobus 2:16). Dink aan die broers en susters in julle gemeente. Is party verdienstelikes werklik behoeftig, siek, gestrem of bedlêend? Hoe kan jy hierdie geliefde lede van die gemeente vir wie Christus gesterf het prakties help? As jy hierdie gesindheid het, sal dit jou help om beter voorbereid te wees om gou te reageer wanneer moeilikhede ontstaan.
19. (a) Waarom is ewewig in hierdie opsig so belangrik? (b) Wat is die grootste nut wat ons onder ander kan stig, en waarom is dit die geval? (Psalm 72:4, 16).
19 As ons ons daarop toelê om ons broers te help, sal ons bewys dat ons geloof nie dood is nie. Daardie selfde geloof beweeg ons om ons in die Christelike predikingswerk in te span. Ons moet die ewewig tussen materiële hulp aan ander en gereelde deelname aan die Christelike evangelisasiewerk bewaar. (Vergelyk Mattheüs 15:3-9; 23:23.) Jesus se raad aan Martha en Maria weerspieël daardie ewewig. Hy het gesê dat as ’n mens materiële benodigdhede teen geestelike voedsel opweeg, laasgenoemde “die goeie deel” is wat nie weggeneem sal word nie (Lukas 10:39-42). Daar sal altyd siekes en armes in hierdie stelsel wees. Ons kan, en ons moet, goed doen aan hulle (Markus 14:7). Maar die beste en blywendste nut wat ons kan stig, is om ander van God se Koninkryk te leer. Dit is waarop Jesus hom toegelê het (Lukas 4:16-19). Dit is die manier waarop die armes, die siekes en die geteisterdes blywende verligting kan ontvang. Watter vreugde is dit tog om ons broers en ander te help om hulle hoop op God te stel en “die werklike lewe stewig vas te gryp”.—1 Timotheüs 6:17-19, NW.
Onthou jy?
◻ Wat is die belangrikste “goeie werke” wat die Christengemeente moet verrig?
◻ Hoe kan ouere manne die ewewig bewaar in die “goeie werke” wat hulle in verband met hulle broers se materiële omstandighede verrig?
◻ Watter praktiese stappe kan die ouere manne doen?
◻ Watter praktiese dinge kan jy doen om jou broers of susters te help wat hulp nodig het?
[Venster op bladsy 17]
Die gemeente het omgegee
’n Egpaar wat na ’n plattelandse gemeentetjie verhuis het, het hierdie gedagteprikkelende verslag verstrek:
‘Drie jaar gelede het ek en my vrou ons huis verkoop en verhuis na ’n afgeleë gemeente wat bystand nodig gehad het omdat daar probleme was. Ek het weldra vier verantwoordelikheidsposisies beklee. Ons was lief vir die broers en wou saam met hulle werk. Met die verloop van maande het die gemeente se gees verbeter, en twee eersteklas ouere manne het ingetrek.
‘My vrou het probleme met haar gesondheid begin ondervind, en verlede jaar moes sy ’n groot operasie ondergaan. Die dag wat sy hospitaal toe gegaan het, het ek met hepatitis in die bed beland. Twee maande later is ek uit my werk ontslaan omdat die ekonomie in die gebied baie sleg was. Ons geld was op, ek was sonder werk en ons albei het probeer om ons gesondheid te herwin. Ek was terneergedruk, want die streekbyeenkoms het voorgelê en ek het ’n deel op die program gehad. Ek het ook ’n paar weke daarna ’n toewysing by die kringbyeenkoms gehad. Maar ek het nie geweet hoe ek sonder geld daar sou kom of selfs na my gesin sou omsien nie. Een oggend het my vrou in die veldbediening uitgegaan, en ek het gaan sit om oor ons situasie na te dink.
‘Terwyl ek by die venster uitgekyk het, het ek my afgevra: Waar is my vertroue in Jehovah? Ek het reeds vir my vrou gesê dat sy haar nie moet bekommer nie, maar nou het ek begin twyfel. Ek het toe my “kleingelowigheid” aan Jehovah gemeld en hom om hulp gesmeek. Ek het net klaar gebid toe ’n broer aan die deur klop. Hy wou hê dat ek saam met hom koffie moes gaan drink. Ek het verduidelik dat ek liewer nie moes gaan nie, want ek moes ’n deel vir die vergadering daardie aand voorberei. Hy het egter daarop aangedring en gesê dat ons net ’n paar minute weg sou wees. Ons het dus gegaan. Ons het ’n halfuur later teruggekeer, en ek het beter gevoel toe ek uit sy motor klim.
‘Toe ek by die huis instap, het ek ’n klomp kruideniersware op die kombuiskas gesien. Ek het gedink dat my vrou seker inkopies gedoen het. “Maar wag ’n bietjie, sy kon nie, want ons het nie geld nie.” Toe het ek ’n koevert opgemerk. Voorop was geskryf:
‘“Van julle broers en susters, wat julle baie liefhet. Moenie hiervan in die bydraebussie sit nie. Dit is reeds vir julle gedoen.”
‘Ek kon nie die trane keer nie. Ek het aan my “kleingelowigheid” gedink, en dit het my nog meer bewoë gemaak. Toe het my vrou tuisgekom. Ek het net na die kos en ander geskenke beduie. Sy het ook in trane uitgebars, asook die twee susters wat saam met haar ingekom het. Ons het probeer verduidelik dat ons nie so baie kon aanvaar nie, maar die susters het vir ons gesê dat niemand weet wie wat gegee het nie. Die hele gemeente het bygedra, en hulle wou dit doen omdat hulle gevoel het dat ons hulle geleer het om vir ander te gee. Dit het die trane net nog vinniger laat rol!’
Later, toe hy hierdie verslag geskryf het, het die broer weer werk gehad. Hy en sy vrou het hulppionierdiens gedoen.
[Venster op bladsy 18]
Bewys van Christelike liefde
’n Gemeente van Jehovah se Getuies in die westelike Verenigde State het te kampe gehad met ’n unieke situasie wat hulle in staat gestel het om Christelike liefde te openbaar, die soort wat in die Skrif aanbeveel word. Die staat het ’n sentrum vir die versorging van ernstig gestremde slagoffers van breinverlamming in hulle gebied geopen. Een van die eerste inwoners van die sentrum was vyf-en-twintigjarige Gary wat nie langer tuis versorg kon word nie. Die siekte het van hom ’n kwadrupleeg gemaak, en sy spraak was ook aangetas.
Gary was al sewe jaar lank ’n gedoopte Getuie. As inwoner van die nuwe sentrum wou hy graag die vergaderinge van die plaaslike gemeente bywoon. Sy ouers het nie ver daarvandaan gewoon nie, en hulle het hom ’n ruk lank gebring. Maar omdat hulle bejaard was, het ander broers in die gemeente begin help. Een het ’n vervoerwa besit. Hy, sy vrou en hulle twee dogters sou dus klaarmaak en hulle huis 45 minute voor die vergadering verlaat sodat hulle Gary kon oplaai. Na die vergadering het hulle hom weer na die sentrum teruggeneem, met die gevolg dat hulle taamlik laat tuisgekom het.
Daar was egter ontwikkelinge by die sentrum. Ander slagoffers van breinverlamming het belangstelling in Bybelwaarheid getoon. Dit was nie lank voordat ’n paar van hulle ’n Bybelstudie aanvaar het nie. Later het ander ook belangstelling getoon. Hoe kon hulle almal na die vergaderinge gebring word? ’n Ander gesin in die gemeente het ’n vervoerwa gekoop, en ’n onderneming wat aan plaaslike Getuies behoort, het ’n derde vervoerwa tot hulle beskikking gestel. Hierdie middele was by tye nietemin onvoldoende of ongerieflik. Kon die gemeente meer doen?
Die ouere manne het die saak bespreek en toe voorgestel dat ’n vervoerwa gekoop word uitsluitlik vir die vervoer van die gestremdes na en van die vergaderinge. Die gemeente het ingestem en met graagte daartoe bygedra. Sommige Getuies in naburige gebiede het van die onderneming gehoor en ook bydraes gegee. ’n Vervoerwa is gekoop en toegerus sodat rolstoele daarin vervoer kon word.
Nou maak die verskillende Gemeentelike Boekstudiegroepe beurte om die vervoerwa ’n maand lank na vergaderinge en byeenkomste toe te bestuur. Vyf inwoners van die sentrum vir breinverlamdes woon gereeld die vergaderinge by, en vier van hulle is nou gedoopte Getuies. Hulle het bekend en bemind geraak by baie broers en susters wat die geluk smaak om hulp te verleen. Hoe? Deur die liedereboek vas te hou en gedurende vergaderinge die tekste na te slaan. By kring- en streekbyeenkomste help hulle selfs om diegene wat hulleself nie kan help nie te voer en te versorg. Dit het ’n wedersydse geneentheid gewek wat waarlik hartverblydend is. En wat van Gary? Hy is nou ’n bedieningskneg in hierdie gemeente wat sulke bewys van sy liefde lewer.—Handelinge 20:35.