Jesus se lewe en bediening
Die weg tot die lewe
Die weg tot die lewe is die weg van gehoorsaamheid aan Jesus se leringe. Maar dit is nie maklik nie. Die Fariseërs is byvoorbeeld geneig om ander te oordeel, en baie volg hulle waarskynlik na. Gevolglik sluit Jesus die volgende vermaning by sy Bergpredikasie in: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word.”
Dit is gevaarlik om die voorbeeld van die oorkritiese Fariseërs te volg. Volgens Lukas se verslag lig Jesus hierdie gevaar toe deur te sê: “’n Blinde kan nie ’n blinde lei nie! Sal hulle nie altwee in ’n sloot val nie?”
Dit is ’n ernstige oortreding om te krities te wees teenoor ander, hulle foute te vergroot of op hulle te pik. Jesus vra dus: “Hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk! Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.”
Dit beteken nie dat Jesus se dissipels geen onderskeidingsvermoë in verband met ander mense aan die dag moet lê nie, want hy sê: “Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie.” Die waarhede van God se Woord is heilig. Hulle is soos figuurlike pêrels. Maar as sommige mense, wat soos honde of varke is, geen waardering vir hierdie kosbare waarhede toon nie, moet Jesus se dissipels daardie mense met rus laat en ontvankliker ore soek.
Hoewel Jesus gebed vroeër in sy preek bespreek het, beklemtoon hy nou die nodigheid om daarin te volhard. “Hou aan vra”, spoor hy sy hoorders aan, “en dit sal aan julle gegee word” (NW). Om toe te lig hoe gewillig God is om gebede te verhoor, vra Jesus: “Watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ’n klip sal gee . . . ? As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!”
Vervolgens sê Jesus iets wat sedertdien ’n beroemde gedragsreël geword het en algemeen as die Gulde Reël bekend staan. Hy sê: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen.” Iemand wat volgens hierdie reël lewe, doen daadwerklik goed aan ander en behandel hulle soos hy behandel wil word.
Dat die weg tot die lewe nie maklik is nie, blyk uit Jesus se instruksie: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.”
Die gevaar is groot dat ’n mens mislei kan word, en daarom waarsku Jesus: “Pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.” Net soos goeie bome en slegte bome aan hulle vrugte geken kan word, sê Jesus, kan valse profete aan hulle gedrag en leringe geken word.
Jesus verduidelik voorts dat dit nie bloot iemand se woorde is wat hom Sy dissipel maak nie, maar wel sy dade. Sommige mense beweer dat Jesus hulle Here is, maar as hulle nie die wil van sy Vader doen nie, sal hy aan hulle sê: “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk.”
Jesus lewer nou die onvergeetlike slot van sy preek. Hy sê: “Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ’n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots.”
Aan die ander kant sê Jesus: “Elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ’n dwase man wat sy huis op die sand gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot.”
Wanneer Jesus klaar is met sy preek, is die skare verslae oor sy manier van onderrig, want hy leer hulle soos iemand wat gesag het en nie soos hulle godsdiensleiers nie. Mattheus 7:1-29; Lukas 6:27-49.
♦ Wat sê Jesus oor oordeel, maar hoe toon hy dat sy dissipels onderskeidingsvermoë in verband met mense aan die dag moet lê?
♦ Wat sê Jesus verder oor gebed, en watter gedragsreël gee hy?
♦ Hoe toon Jesus dat die weg tot die lewe nie maklik is nie en dat die gevaar bestaan dat ’n mens mislei kan word?
♦ Hoe sluit Jesus sy preek af, en watter uitwerking het dit?