Moet jy Kersfees vier?
OM DIE ooreenkoms en die verskil tussen die Oosterse en die Westerse manier van Kersfeesviering toe te lig, word die inligting hier aangebied in die vorm van twee briewe wat ’n Japannese skrywer en sy vriend in Engeland vir mekaar geskryf het. Die inligting sal jou help om die vraag te beantwoord: Moet ek Kersfees vier?
Liewe David,
Hulle is alweer daarmee besig. Die handelaars lei die mense soos owerpriesters. Sinterklaas is die seremoniemeester. Kersbome dien as die simbool van die viering. En offers in die vorm van Kerskoeke en speelgoed word gebring. Die handelaars propageer die godsdiens van Kersfees in Japan. Hulle sending was die afgelope drie of vier dekades baie suksesvol. Baie, baie Japannese is tot hierdie “godsdiens” bekeer—ten minste ’n paar dae per jaar!
Dit het my dronkgeslaan. Ek het dikwels gewonder waarom soveel Japannese, wat hoofsaaklik nie-Christene is, ’n “Christelike” feesdag vier. Wanneer het die Japannese begin om Kersfees in so ’n mate te vier? Wat sit agter dit alles?
In my soeke na die oorsprong van die Japannese Kersfees het ek op hierdie interessante verhaal afgekom. Sōseki Natsume, ’n groot skrywer in die Meiji-tydperk (1868-1912), het ’n Kerskaartjie vanuit Engeland aan Shiki Masaoka, ’n beroemde digter, gestuur. In die kaartjie het hy die boeiende Kerstoneel in Londen aan die einde van die jaar 1900 beskryf. Shiki het selfs ’n haiku, die kortste vorm van Japannese digkuns, oor ’n kerkie op ’n Kersdag geskryf. Kersfees was by die eeuwisseling skynbaar nog ’n nuwigheid in Japan. Wanneer presies het die Japannese dan hulle eerste Kersfees gevier?
Jy sal dit dalk interessant vind om te weet dat party kenners beweer dat Kersfees reeds in die agtste jaar van Meiji (1875) in ’n meisieskool in Ginza gevier is. Maar “die gebruik om Kersfees te vier het eers in 1945 werklik in Japan posgevat”, het The Christian Century gesê. Dit was toe Japannese die gesinne van Amerikaanse soldate en sendelinge Kersfees sien vier het. Nadat hulle in die Tweede Wêreldoorlog verslaan en in ’n geestelike vakuum gelaat is, het die Japannese in die algemeen iets nodig gehad om hulle op te beur.
Kersfees het in daardie behoefte voorsien. Soos jy jou kan voorstel, het handelaars nie op hulle laat wag om Kersversierings te gebruik om hulle verkope aan die einde van die jaar te bevorder nie. Kersversierings “het soos towerkrag gewerk om klante te lok”, sê ’n koerantrubriekskrywer, Kimpei Shiba. Hy het bygevoeg: “Dit was omdat hierdie versierings mooi was en vrolikheid gewek het.”
Maar, David, aangesien jy in Engeland woon, weet jy miskien nie dat die Japannese lank voor Kersgeskenke gebruiklik geword het die gewoonte gehad het om aan die einde van die jaar geskenke te gee nie. Desember was altyd ’n seën vir handelaars. Mense wat hulle bonus aan die einde van die jaar ontvang, gee links en regs geld uit. Maar “hierdie atmosfeer [van Kersfees] plaas die mense in ’n opgewekte koopluim en laat hulle meer osei-bo [jaareinde-geskenke] as voorheen koop, en daarom het die gewoonte om Kersversierings te gebruik voortgeduur”, verduidelik mnr. Shiba.
Vandag gaan selfdienwinkels en handelaars met die stroom saam om die “Kersgees” wat skynbaar so goed werk ten beste te benut. Speelgoedvervaardigers en bakkerye spits hulle op hierdie atmosfeer toe om voordeel uit die seisoen te trek. In Desember is die verkope van Kiddy Land, die grootste speelgoedkettingwinkel in Japan, vier keer hoër as ander maande. Daar word geraam dat 5 tot 10 persent van al die koeke wat elke jaar in Japan gebak word as “Kerskoeke” geklassifiseer kan word.
Ek het uitgevind dat party mense vies is omdat kommersialisme die Kersfeestoneel in Japan oorheers. The Daily Yomiuri haal byvoorbeeld ’n Amerikaner aan wat al lank in Japan woon: “Die Japannese het feitlik al die Kersfeesfoefies aangeneem, maar op die een of ander manier is die gees van die feesgety nie hier nie.” Hy het van die godsdiensaspek van Kersfees gepraat.
Dit het my beweeg om die godsdienssy van Kersfees te ondersoek. Kerkgangers beweer dat Kersfees (25 Desember) Christus se geboortedag is. Hoe verbaas was ek tog om in die Nihon Shukyo Jiten (Ensiklopedie van Japannese godsdienste) te lees dat daar nie vasgestel kan word dat Jesus op 25 Desember gebore is nie! Die ensiklopedie sê: “Hoewel die presiese datum van Jesus se geboorte nie bekend is nie, is Kersfees van omstreeks die derde eeu af op 25 Desember gevier . . . Hierdie datum val min of meer op die dag van die wintersonstilstand, en dit het die voorchristelike fees van die wedergeboorte van die Son oorgeneem.” Die wedergeboorte van die son? Ek het gedog dis veronderstel om die geboorte van Jesus te wees. Wel, hoe kan opregte Christene ’n fees vier wat oorspronklik ’n heidense viering van die wintersonstilstand was? Dit was nie die geboorte van Jesus nie, maar die fees van die wedergeboorte van die son. Hoe kan Westerse kerkgangers sê dat Japannese beginselloos is omdat hulle ’n “Christelike” feesdag vier, terwyl hulle self in wese dieselfde soort viering het?
David, ek sal dit waardeer as jy hierdie vrae vir my kan beantwoord, want hulle is uiters verontrustend.
Jou vriend,
Ichiro
Liewe Ichiro
Baie dankie vir jou brief wat die Kersviering in jou land beskryf. Dit is vir ons as Westerlinge baie interessant om te verneem hoe Oosterlinge ’n Westerse feesdag vier.
Ek wil sommer reguit sê dat jy heeltemal gelyk het wanneer jy sê dat Kersfees ’n heidense feesdag is. Feitlik enige naslaanwerk sal vir jou vertel dat Kersfees sy oorsprong in die heidense Saturnalieë, die Romeinse fees ter ere van hulle landbougod Saturnus, het.
Ja, net soos julle Japannese Kersfees in julle Boeddhistiese en Sjintoïstiese kulture opgeneem het, het die kerke van die Christendom heidense feeste in hulle “Christelike” tradisie opgeneem. In sekere sin is dit dalk selfs ’n groter sonde, want terwyl die Japannese Kersfees as ’n vreemde fees vier, vier die kerkgangers die heidense Saturnalieë as ’n “Christelike” Kersfees.
Daar was in werklikheid ’n tyd hier in Engeland toe die sekulêre en godsdienstige viering van Kersfees as ’n heidense gebruik verbied is. Dit was toe die Puriteine oor Engeland geheers het. In die kolonie Massachusetts in Noord-Amerika het die Puriteine, wat Engeland weens hulle geloof verlaat het, Kersfees ook verbied en boetes opgelê vir feesviering gedurende hierdie seisoen.
Maar ek dink jy moet weet wat die Bybel se beskouing is van die samesmelting van die Christelike godsdiens met heidense godsdienste. “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie.” Dit is hoe die apostel Paulus in 2 Korinthiërs 6:14-16 gemaan het. Toe het hy in vers 17 uit die boek Jesaja (52:11, as jy dit wil naslaan) aangehaal: “Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie.”
Hoe kan ons ons van ongelowiges afsonder as ons steeds ’n fees vier wat van heidense godsdienste afkomstig is? Hierdie vraag het talle opregte Christene beweeg om hulle tradisionele viering van Kersfees te laat vaar. (Jy sal dit interessant vind om jou Bybel by Mattheüs 15:3-6 oop te slaan en Jesus se woorde daar te lees.) Maar daar is nog redes waarom ons sulke vierings moet vermy.
As 25 Desember nie die geboortedag van Jesus is nie, kom die viering van daardie datum as sy geboortedag op ’n leuen neer. Soos jy in jou brief gemeld het, hoe kan ’n Christen wat die waarheid liefhet en beveel word om eerlik te wees ’n leuen bevorder? (Efesiërs 4:25). Kersfees is propvol leuens, van die datum tot die storie oor Sinterklaas. Daar word egter vir Christene in Openbaring 22:15 gesê dat “elkeen wat leuens liefhet en doen” nie die ewige lewe as goddelike seën sal ontvang nie.
Waarom vier sogenaamde Christene in die Weste dan Kersfees? Een van die redes is kommersialisme, net soos in jou land die geval is. Ek het van ’n Baptiste-predikant in die Verenigde State gelees wat gekla het: “As die kommersiële aspek heeltemal weggeneem word, sou die meeste mense voel dat hulle nie Kersfees gehad nie. Maar die godsdiensaspek kan heeltemal weggeneem word en baie mense sal nie die verskil agterkom nie.” Hierdie woorde is ook in Engeland van toepassing.
Die Bybel toon, interessant genoeg, ’n noue verbintenis tussen kommersialisme en die sogenaamde ‘Babilon die Grote’. Nadat dit die val van hierdie ‘Babilon die Grote’ beskryf het, sê die Bybel (in Openbaring 18:2, 11-19): “Die handelaars van die aarde sal ween en rou bedrywe oor haar, omdat niemand hulle koopware meer koop nie . . . Die handelaars in hierdie dinge, wat van haar ryk geword het, sal ver weg staan uit vrees vir haar pyniging, terwyl hulle ween en rou bedrywe.”
Kan jy hierdie ‘Babilon die Grote’ identifiseer? Wel, wie het vir “die handelaars van die aarde” hier in Engeland en in Japan groot winste besorg deur valse leerstellings oor Kersfees te versprei? Is dit nie die Christendom se godsdienste nie? Ja, ek het uit my studies geleer dat ‘Babilon die Grote’ die wêreldryk van valse godsdiens, met inbegrip van die valse Christendom, is.
Wat dink jy moet ons doen? Die Bybelverslag van ‘Babilon die Grote’ het my gehelp om te besluit wat ek moet doen. Openbaring 18:4 vermaan: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.”
‘Om uit haar uit te gaan’, dit wil sê, om godsdiens wat leuens bevorder te verlaat, het daadwerklike optrede van my geverg. Dit was nie maklik om los te breek van al die gebruike wat met Kersfees gepaard gaan nie. Kersfees is hier ’n sosiale sowel as ’n godsdienstige vakansiedag. Ek moes die moed bymekaarskraap om anders as ander te wees. Die woorde wat ek in Spreuke 29:25 gevind het, het my gehelp: “Die vrees vir die mens span ’n strik; maar hy wat op die HERE vertrou, sal beskut word.”
Jehovah se Getuies het my gehelp om hierdie dinge te besef. Duisende mense in Engeland het dieselfde stap gedoen en ‘uitgegaan uit Babilon die Grote’ met al haar godsdiensgebruike, waaronder die viering van Kersfees. Maar dit beteken nie dat ons Jesus Christus nie eer nie. Ons eer hom, nie deur een keer per jaar ’n “Kersgees” te toon nie, maar deur die hele jaar lank die gees van Christus te openbaar.
Jou vriend,
David
(Kyk Efesiërs 4:20-24; Filippense 2:1-6; Kolossense 3:1-14 vir die gees van Christus wat hulle probeer aankweek.—Redakteur.)
[Lokteks op bladsy 4]
Die handelaars is soos owerpriesters. Sinterklaas is die seremoniemeester
[Lokteks op bladsy 5]
Handelaars het Kersfees gebruik om verkope aan die einde van die jaar te bevorder
[Lokteks op bladsy 5]
Dit het my beweeg om die godsdienssy van Kersfees te ondersoek
[Lokteks op bladsy 6]
“Daarom, gaan onder hulle uit . . . en raak nie aan wat onrein is nie”
[Lokteks op bladsy 6]
“Die handelaars van die aarde sal ween en rou bedrywe oor haar”
[Lokteks op bladsy 7]
“Die vrees vir die mens span ’n strik; maar hy wat op die HERE vertrou, sal beskut word”