Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 4/15 bl. 15-20
  • Vermeerder jou vrede deur juiste kennis

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vermeerder jou vrede deur juiste kennis
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Juiste kennis van God”
  • Juiste kennis van Christus
  • Ons moet goddeloosheid haat
  • Bied teëspoede wat vrede versteur die hoof
  • Kennis verskaf vrede
  • Laat ons Jehovah se naam saam verhef
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Waarom ons juiste kennis nodig het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Werp altyd jou sorge op Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Wees wys—Vrees God!
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 4/15 bl. 15-20

Vermeerder jou vrede deur juiste kennis

“Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die [juiste] kennis van God en Jesus, onse Here!”—2 PETRUS 1:2.

 1, 2. (a) Waarom kan ’n vreedsame verhouding met God met ’n huwelik vergelyk word? (b) Hoe kan ons ons vrede met God versterk?

DIE vreedsame verhouding wat jy by jou doop met Jehovah God aangegaan het, kom in sommige aspekte met ’n huwelik ooreen. Hoewel die huweliksdag vreugdevol is, is dit slegs die begin van ’n kosbare verhouding. Met inspanning, tyd en ondervinding sal ’n huweliksverhouding selfs kosbaarder en ’n toevlug in tye van benoudheid word. Met ywer en Jehovah se hulp kan jy gevolglik ook groter vrede met hom geniet.

2 Die apostel Petrus het verduidelik hoe diegene wat ‘geloof verkry het’ hulle vrede met God kon versterk. Hy het geskryf: “Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die [juiste] kennis van God en Jesus, onse Here!”—2 Petrus 1:1, 2, vgl. NW.

“Juiste kennis van God”

 3. Wat beteken dit om juiste kennis van Jehovah en Jesus te hê?

3 Die Griekse woord vir “juiste kennis” (e·piʹgno·sis) wat in hierdie konteks gebruik word, beteken ’n dieper, intiemer kennis. Die werkwoord kan verwys na kennis wat deur persoonlike ondervinding opgedoen is en word in Lukas 1:4 (NW) met “volledig ken” weergegee. Grekis Culverwel verduidelik dat die woord syns insiens beteken “om beter vertroud te raak met iets wat ek voorheen geken het; ’n presieser beskouing van ’n voorwerp wat ek voorheen van ver gesien het”. Om sulke “juiste kennis” te verkry, beteken om Jehovah en Jesus as persone intiemer te leer ken en beter vertroud te raak met hulle eienskappe.

 4. Hoe kan ons ons kennis van God vermeerder, en waarom verbeter dit ons vrede met hom?

4 Twee maniere waarop hierdie kennis opgedoen kan word, is deur goeie studiegewoontes en gereelde bywoning van vergaderinge van God se volk. Op hierdie maniere sal jy meer leer oor hoe God optree en wat hy dink. Jy sal ’n duideliker beeld van sy persoonlikheid kry. Maar om God intiem te ken, beteken dat jy hierdie beeld navolg en weerspieël. Jehovah het byvoorbeeld iemand beskryf wat godvrugtige onselfsugtigheid weerspieël het, en toe het Hy gesê: “Was dit nie ’n geval van my ken nie?” (Jeremia 22:15, 16, NW; Efesiërs 5:1). As jy God noukeuriger navolg, word jou vrede met hom vermeerder omdat jy jou in groter mate met die nuwe persoonlikheid beklee, “wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper”. God skep groter behae in jou.—Kolossense 3:10.

 5. (a) Hoe het juiste kennis een Christin gehelp? (b) Op watter maniere kan ons Jehovah noukeuriger navolg?

5 Een Christin, Lynn, het dit moeilik gevind om vergewensgesind te wees weens ’n misverstand met ’n ander Christin. Maar Lynn se noukeurige persoonlike studie het haar haar gesindheid laat ondersoek. “Ek het onthou watter soort God Jehovah is, dat hy nie ’n wrok teen iemand koester nie”, het sy erken. “Ek het gedink aan al die dingetjies wat ons Jehovah elke dag aandoen, en tog neem hy ons dit nie kwalik nie. Hierdie saak met my Christensuster was so gering in vergelyking daarmee. Elke keer wat ek haar gesien het, het ek dus vir myself gesê: ‘Jehovah het haar lief net soos hy my liefhet.’ Dit het my gehelp om die probleem te bowe te kom.” Sien jy gebiede waar jy Jehovah ook noukeuriger moet navolg?—Psalm 18:35, NW; 103:8, 9; Lukas 6:36; Handelinge 10:34, 35; 1 Petrus 1:15, 16.

Juiste kennis van Christus

 6. Hoe het Jesus Christus getoon dat die predikingswerk vir hom van die allergrootste belang was?

6 Om juiste kennis van Jesus te hê, beteken om “die sin van Christus” te hê en hom na te volg (1 Korinthiërs 2:16). Jesus was ’n geesdriftige verkondiger van die waarheid (Johannes 18:37). Sy vurige evangelisasiegees is nie deur gemeenskapsvooroordele beïnvloed nie. Hoewel ander Jode die Samaritane gehaat het, het hy by ’n put vir ’n Samaritaanse vrou getuig. Selfs ’n lang gesprek in die openbaar met enige vrou is moontlik afgekeur!a Maar Jesus het nie toegelaat dat gemeenskapsgevoelens hom verhinder om ’n getuienis te lewer nie. God se werk was verkwikkend. Hy het gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring.” Die vreugde wat die gunstige reaksie van mense, soos die Samaritaanse vrou en talle van die dorpenaars, verskaf, het Jesus soos voedsel versterk.—Johannes 4:4-42; 8:48.

 7. (a) Wat moet kennis van Jesus ons beweeg om te doen? (b) Verwag God dat al sy knegte ewe veel preek? Verduidelik.

7 Voel jy soos Jesus? Talle vind dit weliswaar moeilik om met ’n vreemdeling ’n gesprek oor die Bybel aan te knoop, en ander in die gemeenskap keur dit dikwels af. Maar as ons dieselfde gesindheid as Jesus wil hê, kan ons nie hierdie feit ontduik nie: Ons moet getuig. Almal kan natuurlik nie ewe veel preek nie. Dit verskil na gelang van ons vermoëns en omstandighede. Ons moet dus nie voel dat God nooit met ons heilige diens tevrede is nie. Ons kennis van Jesus moet ons egter aanspoor om ons bes te doen. Jesus het heelhartige diens aanbeveel.—Mattheüs 13:18-23; 22:37.

Ons moet goddeloosheid haat

 8, 9. Wat is party dinge wat God haat, en hoe kan ons dieselfde haat weerspieël?

8 Juiste kennis help ons ook om te besef watter dinge Jesus en Jehovah haat (Hebreërs 1:9; Jesaja 61:8). “Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel ’n gruwel: trotse oë, ’n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet, ’n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop, een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai” (Spreuke 6:16-19). Hierdie gesindhede en gedrag is “vir sy siel ’n gruwel”. Die Hebreeuse woord wat hier met “gruwel” weergegee word, kom van ’n woord wat beteken “om te verafsku, te walg”, “om wars te wees van, wat betref dinge wat vir al die sinne aanstootlik is; te verfoei, met verontwaardiging te haat”. As ons vrede met God wil hê, moet ons derhalwe dieselfde afkeer hê.

9 Vermy byvoorbeeld “trotse oë” en enige blyk van trots. Party het gemeen dat hulle ná hulle doop nie meer die gereelde bystand nodig gehad het van diegene wat hulle geleer het nie. Maar nuwe Christene moet hulp nederig aanvaar terwyl hulle goed gevestig raak in die waarheid (Galasiërs 6:6). Vermy ook skinderpraatjies, wat maklik ‘tweedrag tussen broers kan saai’. As ons onvriendelike gerugte, ongeregverdigde kritiek of leuens versprei, “vergiet” ons miskien nie “onskuldige bloed” nie, maar kan ons beslis iemand anders se goeie reputasie vernietig. Ons kan nie in vrede met God verkeer as ons nie in vrede met ons broers lewe nie (Spreuke 17:9; Mattheüs 5:23, 24). God sê ook in sy Woord dat hy ‘egskeiding haat’ (Maleagi 2:14, 16). Lê jy jou derhalwe daarop toe om jou huwelik sterk te hou as jy getroud is? Is ’n flirtasie met en vrypostigheid teenoor ’n ander se huweliksmaat vir jou walglik? Het jy, soos Jehovah, ’n afsku van geslagsonsedelikheid? (Deuteronomium 23:17, 18). Dit is nie maklik om sulke gebruike te haat nie, want dit kan vir ons sondige vlees aanloklik wees en word deur die wêreld goedgekeur.

10. Hoe kan ons haat vir goddeloosheid kweek?

10 Dit sal jou help om haat vir goddeloosheid te kweek as jy nie vir vermaak na rolprente of TV-programme kyk of lektuur lees wat spiritisme, onsedelikheid of geweld uitbeeld nie (Deuteronomium 18:10-12; Psalm 11:5). Deur sonde ‘nie so sleg nie’ of selfs snaaks te laat lyk, ondermyn sulke vermaak pogings om godvrugtige haat daarvoor te kweek. Vurige gebed sal andersyds help, want Jesus het gesê: “Bid voortdurend, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is natuurlik bereidwillig, maar die vlees is swak” (Mattheüs 26:41, NW). Een Christen het gesê wat hy doen wanneer hy ’n sterk vleeslike begeerte ondervind: “Ek dwing myself om te bid. Soms voel ek onwaardig om Jehovah te nader, maar deur myself te dwing om dit te doen, deur hom om hulp te vra, kry ek die nodige krag.” Jy sal beter begryp waarom Jehovah sonde verafsku as jy aan die pynlike gevolge daarvan dink.—2 Petrus 2:12, 13.

11. Watter dinge kan ons soms kwel?

11 Al verkeer jy in vrede met God, sal jy soms deur die daaglikse druk en versoekinge en selfs deur jou eie swakhede gekwel word. Onthou, jy het jouself ’n spesiale teiken vir Satan gemaak. Hy voer oorlog teen diegene wat God se gebooie hou en Jehovah se Getuies is! (Openbaring 12:17). Hoe kan jy dan jou gemoedsrus behou?

Bied teëspoede wat vrede versteur die hoof

12. (a) Wat is die agtergond van Psalm 34? (b) Hoe beskryf die Skrif Dawid se gevoelens gedurende hierdie ondervinding?

12 “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige”, het Dawid in Psalm 34:20 geskryf. Volgens die eerste vers van hierdie psalm Ps 34:0 het Dawid dit geskryf na ’n noue ontkoming aan die dood. Dawid het van koning Saul gevlug en by Agis, die Filistynse koning van Gat, skuiling gesoek. Daardie koning se knegte het Dawid herken, en omdat hulle sy vorige wapenfeite namens Israel onthou het, het hulle by Agis gekla. Toe Dawid die gesprek toevallig hoor, het hy “hierdie woorde ter harte geneem en baie bevrees geword vir Agis, die koning van Gat” (1 Samuel 21:10-12). Dit was immers die geboortedorp van Goliat, en Dawid het hulle held doodgemaak—hy het selfs die reus se swaard gedra! Sou hulle nou hierdie groot swaard gebruik om sy kop afte kap? Wat kon Dawid doen?—1 Samuel 17:4; 21:9.

13. Wat het Dawid ten tyde van hierdie teëspoed gedoen, en hoe kan ons sy voorbeeld volg?

13 Dawid het God intens om hulp gesmeek. “Hierdie ellendige het geroep, en die HERE het gehoor, en Hy het hom uit al sy benoudhede verlos”, het Dawid gesê. Hy het ook gesê: “Hy het . . . my uit al my vrees gered” (Psalm 34:5, 7, 16, 18). Het jy ook geleer om Jehovah om hulp te vra en jou hart gedurende angstige tye uit te stort? (Efesiërs 6:18; Psalm 62:9). Hoewel jou besondere nood miskien nie so dramaties soos Dawid s’n is nie, sal jy nietemin vind dat God jou op die regte tyd sal help (Hebreërs 4:16). Maar Dawid het nie net gebid nie.

14. Hoe het Dawid “denkvermoë” gebruik, en wat het God voorsien om ons te help om dieselfde te doen?

14 “Daarom het hy [Dawid] hom voor hulle oë kranksinnig aangestel en hom mal gehou . . . Daarop sê Agis aan sy dienaars: Julle sien tog die man is kranksinnig, waarom bring julle hom na my toe?” (1 Samuel 21:13-15). Dawid het ’n plan uitgewerk waarvolgens hy ontsnap het. Jehovah het sy pogings geseën. Wanneer ons voor netelige probleme te staan kom, verwag Jehovah eweneens dat ons ons geesvermoëns gebruik en nie net verwag dat hy hulle vir ons oplos nie. Hy het vir ons sy geïnspireerde Woord gegee, wat “aan die onervarenes skranderheid gee, . . . kennis en denkvermoë” (Spreuke 1:4, NW; 2 Timotheüs 3:16, 17). God het ook gemeentelike ouere manne voorsien, wat ons kan help om te weet hoe om God se standaarde te handhaaf (1 Thessalonicense 4:1, 2). Hierdie manne kan jou dikwels help om die publikasies van die Wagtoringgenootskap na te vors vir hulp om ’n regte besluit te neem of ’n probleem die hoof te bied.

15. Waarom is Psalm 34:19 vertroostend?

15 Selfs wanneer ons ons oor swakhede of mislukkings verknies, kan ons ons vrede met God handhaaf as ons die regte gesindheid het. Dawid het in Psalm 34:19 geskryf: “Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees.” As ons om vergifnis vra en die nodige stappe doen om sake reg te stel (veral in gevalle van ernstige oortreding), sal Jehovah na aan ons bly en ons emosioneel ondersteun.—Spreuke 28:13; Jesaja 55:7; 2 Korinthiërs 7:9-11.

Kennis verskaf vrede

16. (a) Op watter ander manier kan ons juiste kennis van God opdoen? (b) Verduidelik Dawid se stelling: “Smaak en sien dat die HERE goed is.”

16 Nog ’n manier waarop ons juiste kennis van God kan opdoen, benewens om geestelike inligting in te neem, is deur persoonlik sy liefdevolle hulp te ervaar (Psalm 41:11, 12). Om uit benoudheid verlos te word, beteken nie altyd die onmiddellike of algehele einde van ’n probleem nie; jy moet dit dalk verduur (1 Korinthiërs 10:13). Hoewel Dawid se lewe by Gat gespaar is, het hy etlike jare ’n vlugteling gebly en die een gevaar na die ander getrotseer. Dawid was voortdurend bewus van Jehovah se sorg en ondersteuning. Hy het vrede met God nagestreef en gevind, en hy het geleer dat diegene wat dit doen “geen gebrek aan enigiets [het] nie”. Omdat hy deur persoonlike ondervinding besef het hoe Jehovah hom gedurende teëspoed onderskraag het, kon Dawid sê: “Smaak en sien dat die HERE goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil!”—Psalm 34:9-11, 15, 16.

17. Watter uitwerking het dit op een gesin gehad toe hulle gedurende teëspoed hulle toevlug tot Jehovah geneem het?

17 As jy gedurende moeilike tye by Jehovah skuiling soek, sal jy ook kan “smaak en sien dat [Jehovah] goed is”. As gevolg van ’n ongeluk het ’n Christen in die Midde-Westelike Verenigde State die goed besoldigde betrekking verloor wat hy 14 jaar beklee het. Aangesien hulle geen inkomste gehad het nie, het hy en sy gesin God om hulp gevra. Maar hulle het terselfdertyd hulle uitgawes besnoei, oesoorblyfsels in nabygeleë lande opgetel en vis gevang. Met die hulp van party in die gemeente en deur deeltydse werk te doen wanneer dit beskikbaar was, het hierdie gesin van vier die mas opgekom. ’n Jaar na die ongeluk het die moeder gesê: “’n Mens kan jou wysmaak dat jy op Jehovah vertrou terwyl jy eintlik op jou eie vermoëns, jou huweliksmaat of jou werk staatmaak. Ons het egter werklik geleer om net op Hom te vertrou. Hierdie ander dinge kan weggeneem word, maar Jehovah het ons nooit verlaat nie—nie ’n oomblik nie. Hoewel ons net die allernodigste het, is ons verhouding met Jehovah as gesin baie intiemer.”

18. Wat sal jou help om selfs hardnekkige probleme te verduur?

18 Ja, finansiële probleme kan voortduur. Of jy kan geteister word deur ’n chroniese siekte; ’n persoonlikheidsverskil met iemand anders; ’n emosionele kwaal soos neerslagtigheid; of een van ’n magdom ander probleme. Maar as jy God werklik ken, sal jy geloof in sy ondersteuning hê (Jesaja 43:10). Hierdie onverbreeklike vertroue sal jou help om te volhard en om “die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan” te hê.—Filippense 4:7.

19. Hoe weet ons dat Jehovah nie ons lyding lig opneem nie?

19 Wanneer jy ’n moeilike ondervinding deurmaak, moet jy nooit vergeet dat Jehovah weet dat jy ly nie. In ’n psalm wat hy ook gekomponeer het toe hy aan sy ondervinding in Gat gedink het, het Dawid Jehovah gesmeek: “Hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek nie?” (Psalm 56:9). God het beslis Dawid se versoek verhoor. Dit is inderdaad vertroostend om te weet dat God sulke trane wat deur beproewing en angs veroorsaak word, bymekaarmaak en dit as ’t ware in sy kruik sit, net soos wat jy kosbare wyn of drinkwater in so ’n houer sal gooi! Sulke trane sal altyd onthou word, ja, in God se boek geskryf word. Hoe teer is Jehovah se sorg tog!

20. Hoe kan ons ons vrede met God vermeerder?

20 Jou doop is derhalwe net die begin van ’n vreedsame verhouding met God. Jy sal jou vrede met God vermeerder deur beter vertroud te raak met die eienskappe van God en Jesus en deur self Jehovah se onderskraging gedurende beproewinge te ervaar. Jy sal nie net ’n verhouding met Jehovah hê wat nou ’n veilige hawe word nie, maar jy sal ook die kosbare hoop hê om vir ewig te lewe in die Paradys, waar jy jou sal “verlustig oor groot vrede”.—Psalm 37:11, 29.

[Voetnote]

a Volgens die Talmoed het eertydse rabbi’s gemaan dat ’n geleerde “nie met ’n vrou op straat moet praat nie”. As dit nog in Jesus se dag die gewoonte was, kan dit die rede wees waarom sy dissipels “hulle verwonder [het] dat Hy met ’n vrou in gesprek was”.—Johannes 4:27.

Onthou jy?

◻ Op watter maniere kan ons juiste kennis van God en Jesus verkry?

◻ Wat sal ons doen as ons God en Jesus navolg?

◻ Hoe volg ons God se haat vir die kwaad na?

◻ Hoe kan ons vrede ondanks moeilikhede behou?

[Prent op bladsy 17]

Jesus het nie toegelaat dat gemeenskapsvooroordele hom verhinder om ’n getuienis te lewer nie. Volg jy sy ywer om te preek na?

[Prente op bladsy 18]

Toe Dawid voor ’n ernstige probleem te staan gekom het, het hy Jehovah om hulp gebid . . . . . . en hom kranksinnig gehou terwyl hy ’n ontsnapping beplan het. Jehovah het Dawid se gebed verhoor

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel