Koninkryksverkondigers berig
Chili floreer danksy toenemende verligting
SOOS helder sonlig wat met sonop oor die Andesgebergte skyn, het die lig van Bybelwaarheid in 1930 na Chili gekom. In daardie jaar het een van Jehovah se toegewyde knegte uit Argentinië met die goeie nuus soontoe gekom. Vandag het die lig van God se Woord verder geskyn en die uithoeke van die land bereik.
Die eerste takkantoor in Chili is in 1945 opgerig, maar ’n nuwe, groter gebou is in 1970 gebou, toe daar 7 000 Koninkryksverkondigers was. In die volgende tien jaar het toenemende verligting uit God se Woord talle ontvanklike harte geraak. Teen die vroeë tagtigerjare was daar ’n dringende behoefte om die takkantoor verder te vergroot. In September 1982 is ’n perseel van sewe hektaar dus in die buitewyke van Santiago gekoop. En ná baie voorwerk is daar in Junie 1984 met die uitgrawings begin.
Dit was verblydend om te sien hoe die Chileense broers, jonk en oud, die projek met hulle milddadige bydraes ondersteun het. Duisende ander het hulle tyd en vaardighede gebruik om te help. Sommige wat vakopleiding het, het met die ingenieurswerk gehelp. Ander het houtwerk gedoen, gesweis, gordyne gemaak en tuine aangelê, of het eenvoudige liefdewerk verrig deur onkruid uit te trek, kruiwaens te stoot en slote te grawe. Die progressiewe lig van God se Woord het inderdaad die harte van sy volk geraak en hulle beweeg om hulle gewillig aan te bied.—Psalm 110:3,
Buitestaanders het die eenheid en gewilligheid raakgesien. Baie verkoopsmanne en selfs universiteitstudente en -professore het na die bouterrein gekom om te kyk en te leer. Een bouer wou die hele betonwerkspan in diens neem om te help met ’n selfdienwinkel wat hy bou. ’n Verkoopsman het ’n opmerking gemaak oor hoe anders die werkspan is—geen vuil taal, geen gesloer nie. Toe daar vir hom gesê is dat almal Jehovah se Getuies is en as vrywilligers werk, het hy gesê: “’n Mens sal dit op geen ander plek sien nie. Julle mense is iets besonders.”
Die Chileense takpersoneel het uiteindelik in Augustus 1986 die nuwe gebou in Puente Alto betrek. En op 25 Oktober was A. D. Schroeder van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies teenwoordig toe ’n geesdriftige skare van 933 te kenne gegee het dat hulle die toewyding van die nuwe gebou aan Jehovah se diens heelhartig steun. Die volgende dag het nog 18 012 by ’n spesiale geleentheid in ’n nabygeleë stadion die resolusie met hulle sí aangeneem.
Is hierdie uitbreiding werklik nodig? Laat die feite antwoord. Toe die perseel in 1982 gekoop is, was daar 17 500 Koninkryksverkondigers in Chili. Nou is daar meer as 29 000! En met nagenoeg 40 000 tuisbybelstudies wat gehou word, is dit nog glad nie die einde nie. Laat die lig van God se Woord dus nog helderder skyn in hierdie vrugbare gebied in die uitlopers van die Andesgebergte, tot lof van Jehovah en tot die seën van sy volk.—Daniël 12:3.