‘Geen vrede vir die goddeloses nie’
“Vir die goddeloses is daar geen vrede nie, sê my God.”—JESAJA 57:21, NAV.
1, 2. (a) Hoe voel baie mense oor die mensdom se toekoms? (b) Wat is die gevolg van mensepogings om vrede te maak?
“EK IS voortdurend daarvan bewus dat die wêreld te eniger tyd in my gesig kan ontplof.” Hierdie skokkende woorde, wat in die tydskrif Psychology Today aangehaal is, is geuiter deur ’n Noord-Amerikaanse hoërskoolleerling. Die leerling het gevrees dat ’n kernoorlog waarskynlik die hele mensdom binnekort gaan vernietig. ’n Russiese skooldogter beskryf die gevolge van ’n kernoorlog: “Alle lewende dinge sal vergaan—daar sal geen gras, geen bome, geen groenigheid wees nie.” Watter verskriklike vooruitsig tog! Mense meen egter dat dit werklik kan gebeur. In ’n onlangse meningspeiling het 40 persent van die volwassenes wat om hul mening genader is, die mening gehuldig dat daar ’n “groot kans” op kernoorlog voor die jaar 2000 is.—Kyk Lukas 21:26.
2 Wêreldleiers is ook bewus van die gevaar. Na die vorige wêreldoorlog het hulle die Verenigde Volke-organisasie gestig om vir die mensdom vrede en veiligheid te bring maar tevergeefs. Gedurende die jare na die oorlog het daar eerder intense wedywer ontstaan tussen twee supermoondhede wat met kernwapens toegerus is. Van tyd tot tyd vergader die leiers van hierdie moondhede in ’n poging om internasionale spanning te ontlont, maar met min resultate. Ondanks die feit dat godsdiensleiers om vrede bid, kom die situasie baie ooreen met wat Jesaja beskryf het: “Die helde skreeu daarbuite, die boodskappers van vrede ween bitterlik.”—Jesaja 33:7.
3. Waarom bestaan daar geen moontlikheid dat mense se pogings om vrede te maak sal slaag nie?
3 Ingeligte Christene weet waarom politici nooit duursame vrede sal bring nie. Hulle besef dat so lank as mense vol selfsug, haat, hebsug, trots en ambisie is, daar nooit vrede sal wees nie. (Vergelyk Jakobus 4:1.) Gebeure in die menseryk word buitendien nie ten volle deur mense beheer nie. Die Bybel deel ons eerder mee dat “die hele wêreld in die mag van die Bose lê” (1 Johannes 5:19; 2 Korinthiërs 4:4). Die situasie van die mensdom onder sy beheer is goed deur Jesaja beskryf: “Die goddeloses is soos die onstuimige see wat nie tot rus kan kom nie . . . Vir die goddeloses is daar geen vrede nie, sê my God.”—Jesaja 57:20, 21, NAV.
Die “God wat vrede gee”
4. Wie alleen het die mag om vrede op aarde te bring?
4 Dit beteken nie dat die mensdom nie vernietiging in ’n toekomstige kernoorlog kan ontkom nie. Dit beteken eenvoudig dat as ons vrede wil geniet, dit uit ’n ander bron sal moet kom. Gelukkig bestaan daardie Bron in die persoon van Jehovah God, die “God wat vrede gee” (Romeine 16:20, NAV). Hy het die mag om Satan se invloed teë te werk en het hom voorgeneem om ‘sy volk met vrede te seën’ (Psalm 29:11). Hy het daarbenewens die verblydende belofte gedoen: “Die ootmoediges . . . sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.”—Psalm 37:11.
5. (a) Hoe het Jehovah Daniël gebruik om vir ons informasie te gee oor Sy voorneme om vrede te bring? (b) Waarom moet hierdie profesie wat deur Daniël opgeteken is vir ons van belang wees?
5 Baie jare gelede het Jehovah die geskiedkundige verloop van sake geopenbaar wat sy totstandbrenging van vrede op die aarde sou voorafgaan. Deur ’n engel het hy met sy getroue profeet Daniël gepraat oor “die einde van die dae”, ons dag (Daniël 10:14). Hy het die hedendaagse mededinging tussen die supermoondhede voorspel en getoon dat dit binnekort gaan eindig op ’n wyse wat nie een van die moondhede vermoed nie. En hy het beloof dat hierdie onverwagte ontwikkeling ware vrede sal inlui. Hierdie profesie is vir Christene van lewensbelang. Dit gee ’n duidelike beeld van waar ons in die tydstroom is en versterk ons vasbeslotenheid om neutraal te bly ten opsigte van die internasionale wedywer terwyl ons geduldig op God wag om ten behoewe van ons op te tree.—Psalm 146:3, 5.
Wedywer begin
6. Skets die geskiedkundige agtergrond van die hedendaagse wedywer tussen supermoondhede.
6 Feit is dat die hedendaagse wedywer tussen supermoondhede nie iets nuuts op die wêreldtoneel is nie. Dit is eerder ’n voortsetting van iets wat lank gelede begin het. Na die ineenstorting van Alexander die Grote se wêreldryk teen die einde van die vierde eeu v.G.J. het twee van sy militêre leiers die bewind in Sirië en Egipte oorgeneem. Voortdurende wedywer wat uiteindelik tot die hedendaagse wedywer tussen die supermoondhede gelei het, het tussen hulle en hulle opvolgers ontstaan—sogenaamd die koning van die noorde en die koning van die suide, omdat hulle noord en suid van die land van God se volk geleë was. Die geskiedkundige ontwikkeling van hierdie wedywer is vooraf deur ’n engel aan die profeet Daniël geopenbaar.
7. (a) Hoe weet ons dat menseaangeleenthede ’n onsigbare geestedimensie het? (b) Wie was oorspronklik die koning van die noorde en die koning van die suide, en hoe het wedywer tussen hulle ontstaan?
7 Die engel beskryf eers hoe hy, met die steun van Migael, geveg het teen die gees-‘vorste’ van Persië en Griekeland (Daniël 10:13, 20, 21; 11:1). Hierdie vlugtige blik op die geesteryk bevestig dat meer as blote mense by volkskonflikte betrokke is. Daar sit demoniese magte, of “vorste”, agter die sigbare menseheersers. Maar God se volk het van die vroegste tye af al ’n “vors”, Migael, om hulle teen hierdie demonmagte te versterk (Efesiërs 6:12). Dan vestig die engel ons aandag op die wedywer tussen Sirië en Egipte. Hy begin: “En die koning van die suide sal sterk word, ja, een van sy vorste” (Daniël 11:5a, NW). Die betrokke koning van die suide was Ptolemaeus I, die heerser van Egipte, wat Jerusalem omstreeks 312 v.G.J. verower het. Die engel praat vervolgens van ’n ander koning wat ‘die oorhand oor hom sal kry en stellig met omvangryke heerskappy sal heers wat groter is as daardie een se mag’ (Daniël 11:5b, NW). Dit is die koning van die noorde in die persoon van Seleukos I Nikator, wie se koninkryk, Sirië, sterker as Egipte geword het.
8. Wat beteken die merkwaardige akkuraatheid van die eerste deel van die engel se profesie oor die koning van die noorde en die koning van die suide vandag vir Christene?
8 Die engel profeteer dan talle besonderhede oor die voortdurende wedywer tussen opeenvolgende heersers van Sirië en Egipte (Daniël 11:6-19). Hierdie profesieë is so akkuraat dat sommige meen dat die boek Daniël ná die gebeure geskryf is.a Maar vir Christene versterk die merkwaardige akkuraatheid van hierdie profesieë hulle geloof in daardie dele van die profesie wat nog gedurende “die einde van die dae” vervul moet word.
Die vors van die verbond
9. Hoe het die optrede van die koning van die noorde daartoe gelei dat Jesus in Betlehem gebore is?
9 Ons moet nie verwag dat die engel elke heerser van Ptolemaeus af tot “die einde van die dae” moet bespreek nie. Ons begryp eerder dat die profesie ná vers 19 spring tot by die jare net voor ons Gewone Jaartelling, wanneer ons lees: “En in sy [die koning van die noorde se] plek sal iemand optree wat ’n geldinsamelaar [“eiser”, NW] deur die pragtigste deel van die koninkryk sal laat deurtrek” (Daniël 11:20). Teen hierdie tyd is Sirië ’n provinsie van Rome, en word die koning van die noorde deur die Romeinse keiser Augustus verteenwoordig. Dit is hy wat die volkstelling gelas het wat daartoe gelei het dat Jesus in Betlehem eerder as in Nasaret gebore is.—Lukas 2:1-7; Miga 5:1.
10. Op watter ander verband tussen die koning van die noorde en die Messias het die engel ons aandag gevestig?
10 Augustus is opgevolg deur Tiberius, ’n walglike man wat deur die engel beskryf word as “’n veragtelike” (Daniël 11:21). Gedurende sy bewind is ’n gevaarlike opstand aan die noordelike grens van die Romeinse Ryk beheer en is die vrede langs die grens herstel ter vervulling van die woorde van die profesie: “Die leërs van die instromende mag sal voor hom weggespoel en verbreek word.” Daarbenewens is Jesus gedurende sy bewind deur Romeinse soldate om die lewe gebring ter vervulling van die engel se profesie dat “die vors van die verbond” verbreek sou word.—Daniël 11:22; 9:27.
Op “die vasgestelde tyd”
11. (a) Wat was die identiteit van die koning van die noorde en die koning van die suide in 1914? (b) Watter profesie is “op die vasgestelde tyd” vervul?
11 Eindelik bring die profesie ons tot by “die vasgestelde tyd”, 1914 (Daniël 11:27; Lukas 21:24). Teen hierdie tyd was daar ’n verandering in die identiteit van God se volk. Aangesien vleeslike Israel die Messias verwerp het, het geestelike Israel, die gemeente van gesalfde Christene, Jehovah se uitverkore volk geword (1 Petrus 2:9, 10). Die identiteit van die twee konings het ook verander. Brittanje, met die Verenigde State van Amerika as sy politieke bondgenoot, het klaarblyklik die koning van die suide geword, terwyl die koning van die noorde nou Duitsland was. Die Eerste Wêreldoorlog is met hierdie woorde voorspel: “Op die vasgestelde tyd sal [die koning van die noorde] terugkeer en in die Suide kom, maar dit sal die laaste keer nie wees soos die eerste keer nie” (Daniël 11:29). Die koning van die suide het daardie oorlog gewen. Die situasie het dus verskil van wat “die eerste keer” die geval was, dit wil sê, toe alverowerende Rome die koning van die noorde was.
12. Beskryf aspekte van wêreldgebeure sedert 1914 wat in die engel se profetiese woorde aan Daniël voorspel is.
12 Die engel vertel voorts van die mededinging tussen die twee konings sedert 1914 en, in die besonder, van die wyse waarop albei Jehovah se volk sou teenstaan. Hy voorspel ook die verskyning van “die gruwel van die verwoesting”, wat vandag as die Verenigde Volke-organisasie bestaan (Daniël 11:31, NW). Die stigting van die VV was ’n politieke poging waarin albei konings saamgewerk het om vrede te bring. Maar dit is tot mislukking gedoem omdat dit teen God se Koninkryk gekant isb (Mattheüs 24:15; Openbaring 17:3, 8). Ten slotte vestig die engel ons aandag op “die tyd van die einde”.—Daniël 11:40.
“Die tyd van die einde”
13. (a) Waarop het die uitdrukking “die tyd van die einde” in hierdie deel van die profesie betrekking? (b) Wie het die rolle van die koning van die noorde en die koning van die suide sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog vervul?
13 Watter tyd is dit? Soms het die uitdrukking “tyd van die einde” betrekking op die tyd van die einde van hierdie stelsel, van 1914 tot Armageddon (Daniël 8:17, 19; 12:4). Maar gebeure in die jaar 1914, “die vasgestelde tyd”, is in vers 29 voorspel, en die engel se profesie het ons al veel verder gebring.c “Die tyd van die einde” hier in vers 40 moet gevolglik betrekking hê op die laaste stadiums van die 2 300 jaar lange stryd tussen die koning van die noorde en die koning van die suide. Ons lees dus met groot belangstelling verder aangesien ons nou leer van gebeure wat in die nabye toekoms gaan plaasvind. Teen hierdie tyd het magsverskuiwings op die wêreldtoneel tot verdere ontwikkelinge in die identiteit van die twee konings gelei. Sedert die ineenstorting van die Nazi-Fascistiese moondhede aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog het ons wedywer aanskou tussen twee supermoondhede—die een wat die koning van die noorde verteenwoordig, oorheers meestal ’n sosialistiese blok nasies, en die ander een, wat die koning van die suide verteenwoordig, oorheers ’n hoofsaaklik kapitalistiese blok.
14. Hoe beskryf die engel die koning van die noorde?
14 Die gesindheid van die jongste koning van die noorde word goed beskryf in vers 37, 38: “En op die gode van sy vaders sal hy nie ag slaan nie . . . Maar in plaas daarvan sal hy die god van die vestings vereer, en die god wat sy vaders nie geken het nie, sal hy met goud en silwer en edelgesteente en kosbaarhede vereer.” Kan enigiemand hierdie beskrywing misverstaan? Die hedendaagse koning van die noorde staan amptelik ateïsme voor en verwerp die godsdiensgode van die vorige konings van die noorde. Hy verkies om op krygstuig, “die god van die vestings”, te vertrou. Dit het bygedra tot ’n waansinnige wapenwedloop waarvan die twee konings ewe veel skuld dra. Die jaarlikse krygsbesteding van net die koning van die noorde het in 1985 feitlik 600 miljard rand beloop. Wat ’n reuseoffer van “goud en silwer en edelgesteente en kosbaarhede” aan die onversadigbare god van krygstuig tog!
15, 16. (a) Hoe sal sake tussen die koning van die noorde en die koning van die suide ontwikkel? (b) Wat sal dit vir God se volk beteken?
15 Wat gebeur dan uiteindelik tussen hierdie twee konings? Die engel sê: “Maar in die tyd van die einde [die einde van die geskiedenis van die twee konings] sal die koning van die Suide met hom in botsing kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe” (Daniël 11:40; Mattheüs 24:3). Dit is duidelik dat spitsberade nie die oplossing vir wedywer tussen die supermoondhede is nie. Die spanning wat veroorsaak word deur die koning van die suide se ‘botsings’ en die ekspansionisme van die koning van die noorde kan van tyd tot tyd toe- of afneem; maar uiteindelik sal die koning van die noorde op die een of ander manier uitgelok word tot die uiters gewelddadige optrede wat deur Daniël beskryf is.d
16 Hierdie laaste dae is veral moeilik vir God se volk, wat gedurende hierdie eeu deur albei konings vervolg is. Die engel het gewaarsku dat die koning van die noorde sal “kom in die Pragtige Land, en baie [lande] sal struikel”. “Die Pragtige Land” is simbolies die land van God se volk. Die engel se woorde moet gevolglik beteken dat die koning van die noorde nie net baie nasies verower nie, maar ook die geestelike staat van Jehovah se volk aanval (Daniël 8:9; 11:41-44, vgl. NW; Esegiël 20:6). In vers 45 voeg die profesie by: “En hy sal sy paleistente opslaan tussen die see en die berg van die heilige Prag.” Met ander woorde, hy neem sy posisie in om ’n finale aanval op hulle geestelike paradys te doen.
“Sy einde”
17. Deur watter onverwagte ontwikkeling sal die koning van die noorde uitgelok word?
17 Maar teen daardie tyd sou daar reeds iets gebeur het wat nòg die koning van die noorde nòg die koning van die suide voorsien het. Die engel profeteer: “Maar gerugte uit die ooste en uit die noorde sal [die koning van die noorde] verskrik; daarom sal hy met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref.”—Daniël 11:44.
18. (a) Wat is die bron van die “gerugte” wat deur die engel voorspel is? (b) Hoe sal sake uiteindelik vir die koning van die noorde verloop?
18 Wat sal hierdie gerugte wees? Die engel sê nie, maar hy openbaar wel die bron daarvan. Dit kom “uit die ooste”, en daar word van Jehovah God en Jesus Christus gepraat as “die konings wat van die Ooste af kom” (Openbaring 16:12). Hierdie gerugte kom ook “uit die noorde”, en die Bybel praat simbolies van die berg Sion, die stad van die groot Koning Jehovah, as “aan die noordekant” (Psalm 48:3). Dit is gevolglik “gerugte” of berigte van Jehovah God en Jesus Christus af wat die koning van die noorde op sy laaste groot veldtog laat uittrek. Maar die gevolge sal vir hom verwoestend wees. Die einde van vers 45 deel ons mee: “Hy sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie.”
19. (a) Hoe sal sake vir hierdie wêreld en vir “die opregtes” verloop? (b) Watter vrae moet nog beantwoord word?
19 “Vir die goddeloses” sal daar voorwaar “geen vrede” wees nie (Jesaja 57:21, NAV). Die geskiedenis van die koning van die noorde sal eerder reg tot aan die einde deur oorlog gekenmerk word. Maar aan Sy getroue knegte beloof Jehovah: “Die opregtes sal die land bewoon, en die regskapenes daarin oorbly, maar die goddelose sal uit die land uitgeroei . . . word” (Spreuke 2:21, 22). Wat sal egter met die koning van die suide gebeur wanneer die koning van die noorde “aan sy einde kom”? Wat sal met Christene gebeur wanneer die koning van die noorde “sy paleistente” in ’n dreigende posisie teen hulle opslaan? (Daniël 11:45). Hoe sal daar eindelik vrede op die aarde tot stand gebring word? Jehovah het hierdie vrae deur sy engel beantwoord, soos ons in die volgende artikels sal sien.
[Voetnote]
a Kyk hoofstuk 10 van die boek “Laat u wil geskied op aarde”, wat in 1967 deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee is, vir nadere besonderhede.
b Kyk “Laat u wil geskied op aarde”, hoofstuk 11, vir nadere besonderhede oor hierdie deel van die profesie.
d Kyk “Laat u wil geskied op aarde”, bladsye 299-305.
Kan jy verduidelik?
◻ Watter geeswesens is betrokke by die mens se politieke aangeleenthede?
◻ Wie was in 1914 die koning van die noorde en die koning van die suide?
◻ Hoe aanbid die hedendaagse koning van die noorde die god van die vestings?
◻ Watter druk gaan die koning van die noorde op God se volk uitoefen?
◻ Wat gaan uiteindelik met die koning van die noorde gebeur?
[Kaart/Prente op bladsy 12]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die Groot See
Sirië
Judea
Egipte
[Foto-erkenning op bladsy 10]
Die Amerikaanse Staatsargief