Jesus se lewe en bediening
Voorbereiding op vervolging
NA JESUS sy apostels vertel het hoe om die predikingswerk te doen, waarsku hy hulle teen teenstanders. Hy sê: “Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in . . . pas op vir die mense; want hulle sal jul oorlewer aan regbanke, en in hulle sinagoges sal hulle julle gésel. En ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word om My ontwil.”
Ondanks die hewige vervolging waarvoor sy volgelinge te staan sal kom, doen Jesus hierdie gerusstellende belofte: “Wanneer hulle jul oorlewer, moenie julle kwel oor hoe of wat julle sal spreek nie, want dit sal julle in daardie uur gegee word wat julle moet spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle spreek.”
“Maar”, sê Jesus verder, “die een broer sal die ander tot die dood oorlewer en die vader sy kind, en die kinders sal teen hulle ouers opstaan en hulle doodmaak.” Hy voeg by: “Julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.”
Die predikingswerk is van die allergrootste belang en daarom benadruk Jesus dat dit nodig is om oordeelkundig te wees ten einde vry te bly om die werk voort te sit. “Wanneer hulle julle vervolg in die een stad”, sê hy, “vlug na die ander toe. Want voorwaar Ek sê vir julle, julle sal met [die kring van] die stede van Israel sekerlik nie klaar kry voordat die Seun van die mens kom nie.”
Jesus het weliswaar hierdie bevel, waarskuwing en bemoediging aan sy 12 apostels gegee, maar dit was ook bedoel vir diegene wat ná sy dood en opstanding aan die wêreldwye predikingswerk sou deelneem. Dit blyk uit die feit dat hy gesê het dat sy dissipels “deur almal gehaat” sou word, nie net deur die Israeliete na wie die apostels gestuur is om te preek nie. En die apostels is blykbaar nie voor goewerneurs en konings gebring toe Jesus hulle op huIle kort predikingsveldtog uitgestuur het nie. Daarbenewens is gelowiges nie destyds deur familielede oorgelewer om gedood te word nie.
Toe hy dus gesê het dat sy dissipels nie met hulle predikingskring sou klaar kry “voordat die Seun van die mens kom nie”, het Jesus ons profeties vertel dat sy dissipels nie die kring van die hele bewoonde aarde met die verkondiging van God se opgerigte Koninkryk sou voltooi voordat die verheerlikte koning Jesus Christus as Jehovah se skerpregter by Armageddon sou kom nie.
Jesus gaan voort met sy predikingsinstruksies en sê: “’n Leerling is nie bo die meester nie en ’n dienskneg ook nie bo sy heer nie.” Jesus se volgelinge moet derhalwe dieselfde mishandeling en vervolging verwag as wat hy as gevolg van die verkondiging van God se Koninkryk ondergaan het. Hy vermaan nietemin: “Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in [Gehenna].”
Jesus het die voorbeeld hierin gestel. Hy het die dood onbevrees ondergaan eerder as om sy getrouheid aan die Een met al die mag, Jehovah God, prys te gee. Ja, dit is Jehovah wat nie net jou “siel” (wat in hierdie geval jou toekomstige vooruitsigte as ’n lewende siel beteken) kan vernietig nie, maar jou selfs kan opwek om die ewige lewe te geniet. Wat ’n liefdevolle, barmhartige, hemelse Vader is Jehovah tog!
Jesus bemoedig vervolgens sy dissipels met ’n illustrasie wat Jehovah se liefdevolle sorg vir hulle beklemtoon. “Word twee mossies nie vir ’n stuiwer verkoop nie?” vra hy. “En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader [se medewete] nie. En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.”
Die Koninkryksboodskap wat Jesus sy dissipels aansê om te verkondig, sal huisgesinne verdeel, wanneer party gesinslede dit aanvaar en ander dit verwerp. “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie”, verduidelik hy. “Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.” Dit verg dus moed vir ’n gesinslid om Bybelwaarheid te aanvaar. “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie”, sê Jesus, “en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.”
Ter afsluiting van sy instruksies verduidelik Jesus dat diegene wat sy dissipels ontvang hom ook ontvang, “En elkeen wat een van hierdie kleintjies net ’n beker kou water laat drink, omdat hy ’n dissipel is, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie.” Mattheüs 10:16-42, vgl. NW.
◆ Watter waarskuwings het Jesus aan sy dissipels gerig?
◆ Watter bemoediging en vertroosting het hy hulle gegee?
◆ Waarom is Jesus se intruksies ook op hedendaagse Christene van toepassing?
◆ In watter opsig is ’n dissipel van Jesus nie groter as sy meester nie?