Getuieniswerk in die land van 700 tale
WEET jy van ’n land met ’n kleiner landoppervlakte as dié van Spanje, maar waar die bevolking van veel minder as viermiljoen feitlik ’n kwart van die wêreld se tale praat? Weet jy wat die naam van die land is wat nagenoeg die helfte van die tweede grootste eiland in die wêreld beslaan? Die eiland is Nieu-Guinee, die land is Papoea Nieu-Guinee, en die bewoners daarvan besig meer as 700 tale! Hoe het hierdie smeltpot van tale ontstaan?
’n Ontsaglike smeltpot
Papoea Nieu-Guinee is ’n eilandstaat wat net noord van Australië en slegs ’n paar grade suid van die ewenaar geleë is. Dit bestaan uit sowat 600 tropiese eilande wat oor 1 600 kilometer versprei is. Meer as vier vyfdes van Papoea Nieu-Guinee se totale landoppervlakte is egter op die groot eiland Nieu-Guinee, wat die nasie met Indonesië, aan die weste, deel.
Papoea Nieu-Guinee se eerste bewoners het glo van Asië deur Indonesië geëmigreer. Melanesiërs en Polinesiërs het later by hulle aangesluit. Die mense se velkleur wissel van ligbruin tot gitswart en hulle liggaamsbou van kort en geset tot lank en maer. As gevolg van die ruigheid van ’n groot deel van die binneland, met sy digte woude en hoë berge, het talle stamme feitlik heeltemal afgesonderd van mekaar gelewe en hulle eie tale ontwikkel. Die meeste van hierdie Papoea-tale het ’n uiters ingewikkelde grammatika. Ja, Papoea Nieu-Guinee is die land van sowat 700 tale, nie dialekte nie!
In 1975 het Papoea Nieu-Guinee ’n onafhanklike nasie in die Britse Statebond geword. Dit is ’n parlementêre demokrasie met die Britse monarg as staatshoof, maar met ’n plaaslike eerste minister. Hoewel Engels vandag die amptelike taal is, praat talle persone in die 700 taalgroepe een van die twee volkstale, Hiri Motu of Nieu-Guinee-Pidgin.
Nog ’n taal
Glo dit as jy wil, maar enkele jare gelede het een “taal” nog in hierdie land van 700 tale ontbreek. Watter taal was dit? Dit was die “suiwer taal”—Bybelwaarheid oor God en sy Koninkryk (Sefanja 3:9, NW). Hierdie nuwe taal is eers in die middel-dertigerjare in Papoea Nieu-Guinee ingebring.
Dit het alles in 1935 begin toe die Lightbearer, ’n gemotoriseerde seilbootjie met ’n bemanning van Jehovah se Getuies, Australië verlaat en uiteindelik Port Moresby, aan die suidoostelike kus van Papoea Nieu-Guinee, binnegevaar het. Dit was die eerste keer dat die bevolking die klank van die “suiwer taal” gehoor het—hulle het die boodskap van God se Koninkryk letterlik gehoor toe dit deur middel van klanktoerusting vanaf die dek van die Lightbearer uitgesaai is.
Dit was egter eers in 1951 dat hierdie “suiwer taal” bekender geword het en gebruik is. Van daardie jaar af het Getuies van Australië, Kanada, die Verenigde State, Duitsland, Engeland en Nieu-Seeland aangebied om na die gebied van Papoea en Nieu-Guinee, soos dit toe genoem is, te gaan. Ná hulle vir die Europeërs aldaar getuig het, het hulle weldra maniere gevind om met die boorling-Papoeane oor God se Koninkryk te praat. Dit het beteken dat hulle van huis tot huis moes gaan, wat groter inspanning geverg het, aangesien party huise bo die water of op die land op stelte gebou is.
Om die “suiwer taal” aan hierdie veeltalige bevolking te verkondig, moes die Getuies uit die buiteland natuurlik een van die twee volks-, of handelstale, leer. Dit het nie al hulle probleme opgelos nie, want nie een van hierdie twee tale is die eilanders se moedertaal nie, maar bloot ’n vermenging van tale wat mense wat verskillende tale praat in staat stel om te kommunikeer. En selfs hierdie twee tale is nie deur almal op die eilande gebesig nie. Die getuieniswerk was dus dikwels ’n tydrowende proses, want daar is met een persoon in een van die handelstale gepraat, en hy moes dan die boodskap vir die ander aanwesiges tolk.
Die Getuies het ook van oorspronklike onderrigmetodes gebruik gemaak, soos om eenvoudige prente op ’n skryfbord of enige ander beskikbare materiaal te teken. Mettertyd is Bybellektuur en -tydskrifte in die handelstale, naamlik Hiri Motu en Nieu-Guinee-Pidgin, beskikbaar gestel. Die brosjure Jy kan vir ewig op die aarde lewe! in hierdie twee tale was in die besonder nuttig om die eilanders die “suiwer taal” te leer.
’n Prins hoor die “suiwer taal”
Jesus Christus het gesê dat sy dissipels ‘voor goewerneurs en konings gebring sou word om sy ontwil, tot ’n getuienis vir hulle’ (Markus 13:9). Op 9 Augustus 1984 het ’n paar sendelinge van Jehovah se Getuies op Manus-eiland die geleentheid gehad om vir ’n prins te getuig, hoewel in aangenamer omstandighede. Prins Charles, die troonopvolger van Groot-Brittanje, het die eiland daardie dag besoek.
Lede van die Titanstam het prins Charles met hulle versierde kano’s van sy skip na die strand, net oorkant die sendinghuis, begelei. Na hy deur honderd dansers begroet en as ’n “opperhoof” gekroon is, het hy ’n noenmaal bygewoon waarheen die eerste minister van Manus-eiland die sendelinge genooi het. Toe die prins hulle vra wat hulle op Manuseiland doen, het hulle met graagte hulle werk kortliks aan hom verduidelik. Hulle was verheug dat hulle ’n geleentheid gehad het om hom mee te deel dat Jehovah God ook Getuies op vergeleë Manus-eiland het.
Terloops, die amptenares wat die sendelinge aan prins Charles voorgestel het, het self die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe gelees. Sy loer ook soms by die sendinghuis in vir ’n geselsie en koffie en koek.
’n Nuwe taal vir ’n politikus
’n Nieu-Guinese sakeman was by die politiek betrokke en in die Lutherse Kerk. Die plaaslike kerk waarheen hy gegaan het, was egter so verdeeld dat die twee strydende pastore twee groepe gevorm het wat feitlik ’n jaar lank met boë, pyle, spiese en wapenskilde teen mekaar geveg het. Die vegtery het nege persone gedood en talle beseer. Die man het besluit om die Lutherse Kerk te verlaat, maar hy het nie geweet waar om na waarlik verenigde Christene te soek nie. ‘Nie Jehovah se Getuies nie, want hulle is valse profete’, het hy gedink.
Hy was steeds hierdie mening toegedaan toe ’n plaaslike groep van Jehovah se Getuies aansoek gedoen het om sy bus te huur om ’n streekbyeenkoms by te woon. Om sakeredes het hy ingestem en die bus self bestuur. Hy het die Sondagprogram bygewoon, en die vrede en kalmte, die gespanne aandag van die gehoor—volwassenes en kinders—wat na die sprekers geluister het deur hulle Bybels te raadpleeg, het hom diep beïndruk. Dit het hom selfs dieper beïndruk toe hy gedurende die etensuur gesien het dat die vreugdevolle Getuies geduldig in ’n tou vir hulle etes staan, en dat die wittes en die sprekers soos die ander hulle beurt afwag en dieselfde kos eet. Gedurende die ses uur lange terugrit het hy die Getuies vreugdevol Koninkryksliedere hoor sing. ‘Wat’n kontras is dit tog met die strydende Lutherane!’ het hy gedink.
Hierdie man het ingestem om die Bybel saam met ’n plaaslike Getuie te bestudeer, maar in die geheim, sodat hy nie sy mede-Lutherane sou aanstoot gee nie. Hy het egter gou die geestelike krag verkry om uit die kerk sowel as uit sy politieke amp te bedank. Hy en sy vrou het tot “’n suiwer taal” oorgegaan en begin om “die naam van Jehovah aan te roep, ten einde hom skouer aan skouer te dien” saam met Sy verenigde getuies.—Sefanja 3:9, NW.
Daar is nog baie onderrigtingswerk
Wat ’n wonderlike werk het die sendelinge en ander Getuies wat aangebied het om van ander lande te kom en die “suiwer taal” in Papoea Nieu-Guinee te verkondig tog gedoen! Van net twee verkondigers in 1951 het die getal Getuie-predikers en -onderrigters tot meer as 1 800 toegeneem, waarvan die meeste nou van die plaaslike bevolking is.
Hierdie plaaslike Getuies is ’n bron van aanmoediging vir diegene wat van ander lande gekom het om hier te dien. ’n Engelse broer wat op die eiland Bougainville woon, skryf: “Een van die aanmoedigendste dinge wat ons beweeg om Jehovah hier te bly dien, is wanneer ons sien hoe ons Papoea Nieu-Guinese broers Jehovah steeds getrou dien, dikwels onder uiters moeilike omstandighede. Baie van hulle het nie hulle eie huise nie, maar moet by familie woon. Hulle moet dikwels in baie warm weer of in swaar reën ver ente loop om die vergaderinge by te woon of in die velddiens uit te gaan. Een van ons plaaslike susters woon in die woud. Wanneer sy ons vir straatgetuieniswerk moet ontmoet, roei haar man haar, sowel as haar dogtertjie en baba, op ’n groot binneband oor ’n rivier om tyd te spaar.”
Baie onderrigtingswerk moet nog onder die plaaslike bevolking gedoen word. Die belangstelling is daar. Dit blyk uit die feit dat 10 235 persone in 1987 die Herdenking van Christus se dood bygewoon het. Maar nog hulp is nodig om al hierdie belangstelling in die “suiwer taal” te behartig. ’n Buitelandse Getuie, wat hier kom dien het waar meer hulp nodig is, het dit soos volg gestel: “Dit stem my hartseer wanneer ek dink aan die talle belangstellendes in hierdie afgeleë bosdorpies van Papoea Nieu-Guinee. Ons het eenvoudig nie genoeg werkers in hierdie veld nie. Daar is beslis baie hulp in hierdie deel van die wêreld nodig. Ons weet dat Jehovah hiervan bewus is en dat hy voorsiening sal maak om om te sien na hierdie mense wat na die waarheid honger.”
Wat van jou? Wil jy graag daaraan deel hê om die “suiwer taal” in hierdie land van 700 tale te verkondig?
[Kaart op bladsy 21]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
AUSTRALIË
PAPOEA NIEU-GUINEE
Manus
Port Moresby
Bougainville