Kan jy die regte godsdiens vind?
RONALD—wat in die voorgaande artikel gemeld is—het gemeen dat hy sy soektog na ’n godsdiens wat hom praktiese hulp en leiding kan gee, moet laat vaar. Maar hy het besluit om hom ’n laaste kans te gun. “As daar werklik ’n God is, wou ek hê hy moet weet dat ek opreg na hom soek”, het hy gesê. Ronald het dus een nag gebid: “As u werklik ’n liefdevolle God is, sal u my moet vind, want ek soek al jare na u en het niks gevind nie.”
Ronald is ’n paar dae later by sy werk aangewys om ’n skof saam met een van Jehovah se Getuies te werk. Hy het haar vrae oor die Bybel begin vra. Die antwoorde het sy nuuskierigheid geprikkel. Hy het weldra begin om die Bybel gereeld te bestudeer. Hy het ook vergaderinge van die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies bygewoon.
Ses maande later was Ronald daarvan oortuig dat hy ’n godsdiens gevind het wat hom aangespoor het om sy lewe op ’n baie praktiese manier te wysig. Nadat hy drie jaar met Jehovah se Getuies omgegaan het, het hy in ’n brief aan Die Wagtoring verduidelik hoe hy by hierdie omgang baat gevind het.
“Moordlus” verdwyn
Ronald skryf: “Die eerste manier waarop ek uit kennis van die waarheid [die Bybel se lering] voordeel getrek het, was dat ek my humeur beter kon beteuel. Ek was lank by die verweerkuns betrokke. . . . Ek het ses tot agt uur per dag geoefen, en dit is my altyd ingeprent dat ek ’n moordlus moet ontwikkel.”
Om te baklei en dood te maak is nie doeltreffende maniere om konflikte met jou medemens op te los nie. ’n Nuttige godsdiens werk derhalwe vrede in die hand. Die Bybel sê in Romeine 12:18: “Leef in vrede met alle mense.” Jehovah se Getuies oefen nie hulle liggame vir bakleiery nie, en hulle probeer hulleself ook nie beskerm deur vuurwapens te leer hanteer nie. Hulle is oor die hele wêreld bekend vir hulle vreedsame, neutrale standpunt gedurende oorlogstyd.
’n Rooms-Katolieke non, wat die praktiese krag of potensiaal van so ’n godsdiens besef het, het in ’n Italiaanse kerktydskrif geskryf: “Hoe anders sou die wêreld tog wees as ons almal een oggend wakker word en vasbeslote is om nie weer die wapen op te neem nie, . . . net soos Jehovah se Getuies!”
Hierdie vreedsame gesindheid onder die Getuies het bygedra tot die vorming van ’n wêreldwye broederskap van meer as driemiljoen mense in 208 lande. Hulle behandel mekaar soos ware vriende, ongeag hulle nasionaliteit, ras of sosiale stand. Dit is baie prakties in ’n vyandelike wêreld, veral wanneer hulp nodig is. Eva, ’n jong Sweedse vrou wat een van Jehovah se Getuies is, het dit ondervind.
Gedurende ’n besoek aan Griekeland het Eva meningitis opgedoen. Bewusteloos en met bloedvergiftiging en inwendige bloeding is sy inderhaas na ’n hospitaal in Athene geneem, waar sy niemand geken het nie. Haar vader in Swede is telefonies daarvan in kennis gestel. Hy het ’n ouere man in die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies gebel. Hierdie ouere man het Getuies wat hy in Athene geken het, gebel. Griekse medegelowiges wat Eva nog nooit ontmoet het nie, het gou met haar in aanraking gekom.
Dit herinner ons aan ’n illustrasie wat die apostel Paulus gebruik het om te toon hoe eenheid en medelye saamhoort. Hy het in 1 Korinthiërs 12:25, 26 gesê: ‘Daar mag geen verdeeldheid in die liggaam wees nie, maar die lede moet gelyke sorg vir mekaar dra. En as een lid ly, ly al die lede saam.’
Dit is wat Eva in Griekeland ondervind het. Haar nuwe vriende was feitlik drie weke lank pal aan haar sy. Sy het herstel en huis toe gegaan. Sy sê: “Ek het waarlik die voordele van ’n liefdevolle broederskap ondervind.”
Geen begeerte na “daardie ekstra dollar” nie
Laat ons terugkeer na Ronald se brief. Nadat hy vertel het hoe sy nuwe geloof hom gehelp het om sy humeur te beteuel, van daardie “moordlus” ontslae te raak en vredeliewender te word, sê hy dat die Bybel se leer hom ’n gebalanseerde beskouing van werk en geld gegee het. “Ek was my werkgewer se beste rekenaaroperateur”, sê Ronald, “en ek het nagelaat om tyd saam met my gesin en vriende deur te bring bloot om oortyd te werk. Ek het langer as sewe jaar saans gewerk. Ek wou altyd daardie ekstra dollar hê.”
Hierdie begeerte na “daardie ekstra dollar” kan op die lange duur nadelig, dodelik nadelig, wees. “Vir sommige beteken geld veiligheid. Vir sommige beteken dit mag. Vir ander beteken dit dat hulle liefde sal kan koop, en vir ’n vierde groep beteken dit wedywer en dat hulle die spel kan wen”, sê psigiater Jay Rohrlich, wie se meeste kliënte finansiële bestuursbeamptes van New York se Wall Street-gebied is.
’n Berig in die tydskrif Science Digest sê omtrent hierdie uitlating: “Die beskouing dat geld hierdie dinge kan verskaf, . . . lei dikwels tot impotensie, slapeloosheid, hartaanvalle en probleme met ’n huweliksmaat of kinders.” Die Bybel se raad is: “Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees.” Ronald het dit geleer en dit toegepas. Hy het gevind dat dit baie voordelig is.—Hebreërs 13:5.
Die behoorlike beskouing van werk
Die najaging van geld beweeg mense dikwels om noodgedwonge die beroepsleer te bestyg. Dit kan vir blakend gesonde mense ernstige spanning en emosionele konflik veroorsaak—en selfs tot selfmoord lei. “Een man, wat een oggend by die werk gekom en gevind het dat sy lessenaar geskuif is, het tot bo-op die gebou geklim en afgespring.” Dr. Douglas LaBier het hierdie ondervinding vertel in ’n onderhoud met U.S.News & World Report oor die verband tussen loopbane en emosionele probleme.
“’n Meer ontwikkelde lewe, wat nie in so ’n groot mate om ’n loopbaan draai nie, is nodig”, sê dr. LaBier. “Benewens dinge soos ’n voldoende dieet, rus en oefening, moet mense wat ’n meer gebalanseerde lewe wil lei dit oorweeg om meer tyd saam met hulle gesinne deur te bring en vaardighede aan te leer wat niks met hulle loopbaan te doen het nie en wat hulle genot verskaf.”
Jehovah se Getuies leer uit die Bybel om gebalanseerd te wees ten opsigte van werk en geld. Prediker 4:4, 6 praat van harde werk wat “naywer . . . van die een teenoor die ander” behels en sê: “Een handvol rus is beter as altwee vuiste vol moeite en ’n gejaag na wind.” Ronald het gevind dat dit praktiese wysheid is. Hy het sy sekulêre werk verminder sodat hy meer tyd aan sy geestelike belange en sy gesin en vriende kan bestee.
’n Gelukkiger gesinslewe
Ronald sê vervolgens in sy brief dat die Bybel se raad oor die huwelik en gesinslewe hom gehelp het om situasies in die gesin verstandiger te hanteer. Dít is nou noodsaaklik, aangesien dit lyk asof die gesinslewe op baie plekke besig is om te verdwyn. Nywerheidslande berig minder huwelike, meer egskeidings en ’n dalende geboortesyfer.
Hierdie neiging is onrusbarend, want dit is juis in die gesinskring dat daar in sommige van die mees fundamentele menslike behoeftes voorsien word. Die Sydney Morning Herald van Australië het 2 000 mense in ’n meningspeiling gevra watter van die volgende dinge hulle die grootste bevrediging verskaf: werk, die gesin, vriende, vryetydsbedrywighede, besittings of godsdiens. Die oorgrote meerderheid het “die gesin” boaan die lys geplaas.
Jehovah se Getuies stel daarin belang om hulle gesinne sterk te hou. Hulle twee tydskrifte Die Wagtoring en Ontwaak! (met ’n gesamentlike sirkulasie van sowat 22 miljoen eksemplare in meer as 100 tale) het byvoorbeeld in net die afgelope vyf jaar ongeveer 60 praktiese artikels oor die hantering van verskillende situasies in die gesinslewe bevat. ’n Godsdiens wat op die Bybel gebaseer is en mense help om hulle gesinne op ’n verstandige en liefdevolle wyse te versorg, is ongetwyfeld prakties.
Die groot “Waarom?” word beantwoord
Ronald sluit sy brief af deur te sê: “Daar is iets wat dikwels by my opkom wanneer ek die koerant lees, na die nuus kyk, met werkmaats gesels of my geloof aan ander verkondig. Dit is dat ek as een van Jehovah se Getuies die antwoord het op een van die vrae wat wêreldwyd die meeste gestel word—‘Waarom?’ Waarom is daar soveel misdadigheid, geweld, oorlog, onsedelikheid, siekte en onrus, benewens al die alledaagse probleme? Die wete dat hierdie stelsel en sy probleme net tydelik is, het ’n swaar las van my skouers gelig.”
Die Bybel onthul wat agter vandag se verwikkelde wêreldsituasie sit. Dit verduidelik waarom die Skepper se oorspronklike voorneme om hierdie aarde ’n paradystuiste vir die mensdom te maak nog nie verwesenlik is nie. Dit verduidelik hoe God alle steurende invloede van die aarde af sal verwyder en ’n blywende paradys tot stand sal bring wat mense vir ewig sal kan geniet.—2 Petrus 3:9-13.
’n Godsdiens moet goeie vrugte oplewer om van praktiese waarde te wees. Dit moet beter mense voortbring. Dit moet kan verduidelik waarom toestande op aarde vandag is soos dit is. En dit moet ’n vaste hoop vir die toekoms in mense se verstand en hart inprent. Ronald het na so ’n godsdiens gesoek, en hy het dit gevind. Jy word steeds dieselfde geleentheid gebied.—Mattheüs 7:17-20.
[Prent op bladsy 5]
Ware Christene behandel mekaar soos ware vriende