Engele—Beïnvloed hulle jou lewe?
BESTAAN engele werklik? Of is hulle net ’n hersenskim? Kan hulle, indien hulle wel bestaan, jou lewe beïnvloed?
Daar is slegs een betroubare bron van die antwoorde op sulke vrae. Dit is die geïnspireerde Verslag wat God aan die mensdom gegee het—sy Woord, die Heilige Bybel. Die apostel Paulus skryf die volgende daaromtrent: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig . . . tot teregwysing.”—2 Timotheüs 3:16.
Ons kan dus seker wees dat die Bybel ons reguit antwoorde sal gee aangaande die bestaan van engele en of hulle ons lewe beïnvloed. Die Skepper van die heelal kan seer seker vir ons sê of hy engele geskape het.
Bestaan engele werklik?
Die Bybel sê duidelik: “Hy [God] maak sy engele geeste” (Hebreërs 1:7, NW). Die Skepper het dus geesskepsele in die hemelse ryk. Hulle is onsigbaar vir ons, en hulle is magtig.—Psalms 104:4; 2 Petrus 2:11.
Het God bedoel dat die engele bloot onpersoonlike, vae wesens moet wees? Waarom beeld die Bybel engele dan met gevoelens uit? Dit sê byvoorbeeld dat die engele “saam gejubel en al die seuns van God [die engele] gejuig het” toe die aarde gegrondves is.—Job 38:4-7.
Dit blyk dat die intelligente geesskepsele, die engele, soos God se intelligente aardse skepsele hulle eie persoonlikheid het. Ofskoon die Bybel net twee engele se name noem (Migael en Gabriël), dra die feit dat engele wel name het tot hulle individualiteit by (Lukas 1:11, 19, 26; Judas 9). Die Bybel keur engele-aanbidding ten sterkste af, en dit sluit gebed tot hulle in. In plaas dat ons tot engele bid, raai die apostel Paulus ons aan: “Laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God”.—Filippense 4:6; Openbaring 19:10; 22:8, 9.
Maar is engele geprogrammeer om, soos verstandelose robotte, sonder die vermoë van persoonlike keuse tussen reg en verkeerd te wees? Nee, engele het, net soos mense, ’n vrye wil. Toe sekere engele byvoorbeeld God se wette in Noag se tyd verbreek het, het God hulle verwerp, en hulle is uit God se hemelse howe verban. Hulle ongehoorsame gedrag was ’n duidelike vertoon van engele se individualiteit.—Genesis 6:1, 2; 2 Petrus 2:4; Mattheüs 25:41.
Die Bybel voorsien ons dus van nuttige inligting oor die oorsprong, bestaan en aard van engele. As ’n mens verder gaan as wat God se Woord van hulle sê, kan dit jou onnodig laat nadink oor vrae wat die Bybel nie beantwoord nie. Dit kan selfs daartoe lei dat oormatige aandag of verering aan engele gegee word (Kolossense 2:18). Die Bybel herinner ons daaraan dat ons ons ‘van die belangriker dinge moet vergewis’ en nie verder moet gaan ‘as wat reeds as goeie nuus bekendgemaak is’ nie.—Filippense 1:10, NW; Galasiërs 1:8, NW.
Engele in God se voorneme
Ofskoon baie dalk oor die oorsprong en eienskappe van engele saamstem, is weinig werklik bewus van die rede vir hulle bestaan en hoe engele ons lewe vandag beïnvloed.
Die twee woorde wat in die Bybel vir “engel” gebruik word, is mal·’akhʹ (Hebreeus) en agʹge·los (Grieks). Albei beteken “boodskapper”. Hulle vertel ons iets van een van die funksies van engele. Die engele dien as boodskappers, of bodes, tussen God en die mens.
’n Engel is byvoorbeeld gestuur om ’n boodskap aan Abraham oor te dra aangaande sy seun Isak en die seën wat deur hom sou kom, ’n seën wat ons kan ontvang (Genesis 22:11-17). ’n Engel is gestuur om met Moses te kommunikeer (Handelinge 7:37, 38). God het ook deur middel van ’n engel instruksies aan die profeet Elia gestuur (2 Konings 1:3). En ’n engel het aan Josef, Jesus se pleegvader, verskyn met spesiale instruksies in verband met die kindjie.—Mattheüs 2:13.
Engele is ook gestuur om God se volk te beskerm. “Die Engel van die HERE trek ’n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit” (Psalm 34:8). ’n Engel het die apostel Petrus byvoorbeeld uit die gevangenis bevry (Handelinge 12:6-11). Twee engele het Lot en sy dogters gehelp om die vernietiging van Sodom en Gomorra te oorleef deur hulle uit daardie gebied uit te lei. Lot se vrou het egter nie in volle ooreenstemming met die engele gehandel nie, en sy is gevolglik saam met daardie stede vernietig.—Genesis 19:1-26.
Die Bybel noem talle ander voorbeelde van engelehulp en bevestig wat Hebreërs 1:7 en 14 sê: “Van die engele sê Hy wel: Hy wat van sy boodskappers winde [“geeste”, NW] maak en van sy dienaars vuurvlamme . . . Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?”
’n Engel het Jesus grootliks vertroos. Jesus het die nag voor sy dood geweet wat op hom wag—dat hy verraai, geslaan en wreed tereggestel sou word. Hy het krag nodig gehad om hierdie toets van sy onkreukbaarheid te deurstaan. Op daardie kritieke tydstip het ’n engel aan hom verskyn ‘om hom te versterk’. Wat ’n seën moes daardie engel se vertroosting tog vir Jesus gewees het! As gevolg daarvan kon hy tot die dood toe getrou bly, hoewel hy soveel angs deurgemaak het dat ‘sy sweet soos bloeddruppels geword het wat op die grond val’.—Lukas 22:43, 44.
God het ook engele gebruik om sy volk se vyande uit te delg. Toe die Assiriese wêreldryk God se vroeë aanbidders bedreig het, het die volgende gebeur: “In dieselfde nag het die engel van die HERE uitgetrek en in die laer van die Assiriërs honderd-vyf-en-tagtigduisend verslaan; en toe hulle die môre vroeg hul klaarmaak—was dit almal dooie liggame!” (2 Konings 19:35). Jy kan besef hoe ontsaglik die krag van engele is—net een engel het 185 000 teenstanders van God en sy volk om die lewe gebring!
Godslasterende Herodes het ook teenoor die krag van ’n engel te staan gekom. Toe Herodes homself as goddelik begin beskou het, “het ’n engel van die Here hom [onmiddellik] getref, omdat hy die eer nie aan God gegee het nie; en hy is deur wurms verteer en het gesterwe”.—Handelinge 12:21-23.
Ons word ook meegedeel dat engele binnekort weer as skerpregters gebruik gaan word wanneer God hierdie hele goddelose stelsel tot ’n einde bring. “Die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen, en sal hulle in die vuuroond gooi.”—Mattheüs 13:41, 42.
Engele is dus heeltemal anders as wat baie mense dalk dink. Die Duitse godsdiensskrywer dr. Manfred Barthel het gesê: “As ons ons die Here se engele wil voorstel soos die skrywers van die Ou Testament hulle beskou het, sal ons eers die engeltjies met kuiltjies moet vergeet . . . wat ons Kerskaarte versier.”—What the Bible Really Says.
Hoe beïnvloed engele jou lewe?
Die vraag bly egter: Wat doen die engele vandag? Beïnvloed hulle ons lewe op hierdie oomblik? Ja, beslis!
Onthou dat Jesus in sy profesie aangaande “die voleinding van die [stelsel]” voorspel het: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei.”—Mattheüs 24:3, vgl. NW; 25:31, 32.
Hoe sal hierdie skeiding van mense uitgevoer word? Jesus het voorspel: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). Ja, God gebruik sy volk op aarde om hierdie aardwye predikingswerk te doen.
God se Koninkryk is die regering wat die enigste oplossing vir die mensdom se probleme gaan bring. Die boodskap daaromtrent word vandag dwarsdeur die wêreld verkondig deur meer as driemiljoen van Jehovah se Getuies wat deur die engele gerugsteun word. “So sal dit wees in die voleinding van die [stelsel]: die engele sal uitgaan en die slegte mense onder die regverdiges uit afskei.”—Mattheüs 13:49, vgl. NW.
Hierdie predikingswerk wat onder leiding van die engele gedoen word, lok vandag ’n gemengde reaksie by die mense uit. Party sê dat hulle te besig is of weier eenvoudig om te luister. Ander is weifelagtig of besluiteloos. Maar talle regskapenes wat oor hulle toekoms besorg is, het geredelik daarop ag geslaan. Hoe?
In 208 lande hou Jehovah se Getuies tuisbybelstudies met miljoene mense wat “bewus is van hulle geestelike behoefte” en wat ‘honger na geregtigheid’ (Mattheüs 5:3, 6, vgl. NW). Talryke ondervindinge toon dat engele God se knegte dikwels met die boodskap van verlossing na sulke regskapenes lei. Openbaring 14:6 (vgl. NW) beskryf simbolies ’n ‘engel wat in die middel van die lug vlieg met ewige goeie nuus om te verkondig aan die bewoners van die aarde’. Dit vind gewis op hierdie oomblik plaas! Hoe sal dit jou toekoms raak?
Engele in jou toekoms
Die Bybel identifiseer ons tye duidelik as “die laaste dae” van hierdie teenswoordige stelsel (2 Timotheüs 3:1-5). Die Bybel deel ons ook mee dat engele nou ‘op die vier hoeke van die aarde staan en die vier winde van die aarde vashou’ (Openbaring 7:1). Wat beteken hierdie simbolisme?
Aangesien hulle op die “hoeke” van die aarde staan, is die engele gereed om verwoestende “winde” uit alle rigtings los te laat. Geen gebied van die aarde sal ontsien word nie, en dit sal ‘skade’, of vernietiging, vir hierdie goddelose stelsel en al die ondersteuners daarvan beteken. Volgens die beskrywing is God se engele dus gereed om tot handeling oor te gaan wanneer die teken gegee word!—Openbaring 7:3; 19:11-21.
Die vernietigende ‘skade’ gaan egter net oor diegene kom wat nie gehoor gee aan die boodskap wat nou aardwyd met die steun van die engele verkondig word nie. Dit sal geen kwaad doen aan diegene wat na God soek en wat na die Koninkryksboodskap luister nie. Hulle sal behoue bly, soos God se Woord sê: “Soek die HERE, o alle ootmoediges van die land . . . soek geregtigheid, soek ootmoedigheid—miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE.”—Sefanja 2:3.
Wat sal sulke “ootmoediges” se lot dan wees? Psalm 37:11 sê: “Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.” Vir hoe lank? “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon” (Psalm 37:29). Dit beteken dat dit moontlik sal wees om vir ewig te lewe op ’n aarde wat in ’n paradys omskep gaan word, soos Jesus aangetoon het.—Lukas 23:43.
Die vraag wat jy jou dus moet afvra, is: ‘Wat sal my toekoms wees?’ Die antwoord hang af van hoe jy op die engele se leiding reageer. Sal jy luister en gehoor gee wanneer die boodskap wat deur hulle ondersteun word aan jou gebring word? As jy dit doen, sal jy onder diegene wees wat op grond van God se onfeilbare belofte met vertroue na die toekoms kan uitsien: “Die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Johannes 2:17.
[Prent op bladsy 7]
Engele ‘hou nou die vier winde vas.’ Waarom?