‘Die goeie nuus moet eers verkondig word’
“En die [goeie nuus] moet eers aan al die nasies verkondig word.”—MARKUS 13:10, vgl. NW.
1. Wat is een ding wat Jehovah se Getuies anders as al die godsdienste van die Christendom maak, en waarom?
VAN almal wat beweer dat hulle Christene is, neem net Jehovah se Getuies die verkondiging van die goeie nuus ernstig op. Hulle is die enigste groep waarin elke lid persoonlik verplig voel om sy naaste gereeld te nader om met hom oor God se voornemens te praat. Waarom? Omdat elke Getuie meen dat hy, as ’n Christen, Christus se voetstappe moet navolg (1 Petrus 2:21). Wat behels dit?
2. Hoe beskou baie mense Jesus Christus, maar wat was sy vernaamste werk op die aarde?
2 Baie beskou Jesus Christus bloot as ’n man wat goeie dade gedoen het. Hy het die siekes genees, honger mense gevoed en liefde en vriendelikheid aan behoeftiges betoon. Maar Jesus het baie meer gedoen. Hy was allereers ’n ywerige verkondiger van die goeie nuus van God se Koninkryk. ’n Paar maande nadat hy in die Jordaanrivier gedoop is, het Jesus in die openbaar begin preek: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mattheüs 4:17). Markus se verslag sê: “Jesus het na Galilea gegaan en die goeie nuus van God verkondig en gesê: ‘Die bestemde tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; toon berou en stel geloof in die goeie nuus.’”—Markus 1:14, 15, NW.
3, 4. (a) Wat het Jesus in sy bediening beklemtoon, hoewel hy elke soort siekte genees het? (b) Waarom is Jesus gestuur? (c) Waarmee het Jesus sy predikingswerk vergelyk, en wat het hy sy dissipels beveel om te doen?
3 Jesus het Petrus, Andreas, Jakobus en Johannes geroep om hom te volg, en ons lees: “En Jesus het deur die hele Galilea rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die [goeie nuus] van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees.” Toe die menigtes in Galilea probeer het om hom langer daar te hou, het hy gesê: “Ek moet aan die ander stede ook die [goeie nuus] van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur.” Toe het hy in die sinagoges van Judea gaan preek.—Mattheüs 4:18-23, vgl. NW; Lukas 4:43, 44, vgl. NW.
4 Jesus het weer na Galilea teruggekeer en “die een stad en dorp ná die ander deurgereis en gepreek en die [goeie nuus] van die koninkryk van God verkondig” (Lukas 8:1, vgl. NW). Hy het sy predikingswerk met oeswerk vergelyk en gesê: “Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur” (Mattheüs 9:35-38). Selfs wanneer die skares hom geen rus gegun het nie, “het [hy] hulle ontvang en met hulle gespreek oor die koninkryk van God, en die wat genesing nodig gehad het, gesond gemaak”.—Lukas 9:11.
5. Watter opdragte het Jesus sy apostels en ander dissipels gegee toe hy hulle in die bediening uitgestuur het?
5 Jesus het weliswaar die siekes genees en soms dié wat honger was, gevoed. Maar hy was hoofsaaklik besig om mense van die Koninkryk van God te vertel. En wou hê dat sy volgelinge dieselfde moes doen. Nadat hy sy apostels opgelei het, het hy hulle in pare uitgestuur om te preek en gesê: “Gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mattheüs 10:7). Lukas sê: “Hy het hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak” (Lukas 9:2). Jesus het die 70 dissipels ook beveel om ‘die siekes gesond te maak en vir hulle te sê dat die koninkryk van God naby gekom het’.—Lukas 10:9.
6. Watter opdragte in verband met hulle bediening het Jesus sy volgelinge voor sy hemelvaart gegee?
6 Voordat Jesus na die hemel opgevaar het, het hy sy volgelinge die opdrag gegee om die predikingswerk voort te sit en dit selfs uit te brei. Hy het hulle beveel: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies . . . en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mattheüs 28:19). Daarbenewens het hy gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Handelinge 1:8). Jesus en sy apostels het dus die voorrang gegee aan die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk.
Die Koninkryk moet in ons tyd verkondig word
7. Wat het Jesus omtrent ’n predikingswerk gesê wat aan ‘die voleinding van die stelsel’ gedoen sou word?
7 In sy profesie oor gebeure gedurende ‘die voleinding van die stelsel’ het Jesus gesê: “En hierdie [goeie nuus] van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:3, 14, vgl. NW). Of soos Markus 13:10 (vgl. NW) dit stel: “En die [goeie nuus] moet eers aan al die nasies verkondig word.”—Kyk ook Openbaring 14:6, 7, vgl. NW.
8. (a) Wat het die goeie nuus in die apostels se tyd ingesluit? (b) Wat sluit die boodskap van die goeie nuus vandag in?
8 In “die laaste dae” behels die goeie nuus van die Koninkryk meer as toe Jesus op aarde was. Jesus het bekend gemaak dat die Koninkryk naby gekom het en het sodoende die aandag gevestig op die feit dat hy as die Messias en Koning onder die mense was (2 Timotheüs 3:1; Mattheüs 4:17; Lukas 17:21, NW). Die goeie nuus wat die vroeë Christene verkondig het, het Jesus se opstanding en hemelvaart ingesluit, en dit het sagmoediges aangespoor om geloof te stel in die komende Koninkryk (Handelinge 2:22-24, 32; 3:19-21; 17:2, 3; 26:23; 28:23, 31). Noudat ons ‘die voleinding van die stelsel’ bereik het, sluit die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk die treffende boodskap in dat die Koninkryk in die hemele opgerig is.—Openbaring 11:15-18; 12:10.
Wie sal die goeie nuus verkondig?
9. (a) Hoe redeneer sommige dat dit nie vandag vir alle Christene verpligtend is om die goeie nuus te verkondig nie? (b) Wie het Jehovah in die verlede gebruik om sy woord te verkondig, en wat beteken dit vandag vir ons?
9 Wie behoort vandag die predikingswerk te doen? Die Christendom meen klaarblyklik dat dit nie vir almal verpligtend is nie, en dit is waar dat Jesus nie gespesifiseer het wie die werk sou doen toe hy gesê het dat die goeie nuus verkondig sou word nie. Maar wie anders sou Jehovah vir so ’n werk gebruik as diegene wat reeds geloof in sy Woord stel en begin het om dit in hulle lewe toe te pas? Toe Jehovah in Noag se tyd besluit het om die goddelose mensewêreld teen ’n komende vernietiging te waarsku, het hy ’n man gebruik wat “met God gewandel” het (Genesis 6:9, 13, 14; 2 Petrus 2:5). Toe hy profetiese boodskappe aan Israel wou oordra, het hy ‘sy knegte, die profete’, gestuur (Jeremia 7:25; Amos 3:7, 8). Die toegewyde nasie Israel was ’n nasie van sy getuies (Exodus 19:5, 6; Jesaja 43:10-12). Ja, Jehovah gebruik sy toegewyde knegte as sy getuies.
10. Hoe blyk dit uit die bewoording van Mattheüs 28:19 dat die bevel om dissipels te maak op alle Christene van toepassing is?
10 Sommige het gesê dat die bevel om dissipels te maak, wat in Mattheüs 28:19 gegee is, net aan die apostels gegee is en derhalwe nie op Christene in die algemeen van toepassing is nie. Maar let op wat Jesus gesê het: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies . . . en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Jesus se volgelinge moes nuwe dissipels leer om alles te onderhou wat Jesus hulle beveel het. En een van die dinge wat hy hulle beveel het, was om te ‘gaan en dissipels te maak’. Alle nuwe dissipels sou tog seker geleer moet word om ook hierdie besondere bevel te gehoorsaam.
11. (a) Watter verpligting het die Christengemeente in die eerste eeu gehad? (b) Wat is ’n vereiste vir redding en wat sluit dit in?
11 Die Christengemeente van die eerste eeu is beskryf as ‘God se volk wat as eiendom verkry is, om te verkondig die deugde van Hom wat hulle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig’ (1 Petrus 2:9). Die lede daarvan het ywerig van die Koninkryk van God getuig (Handelinge 8:4, 12). Daar is vir al die “heiliges”, dit wil sê gesalfde Christene, in Rome gesê dat ’n mens ‘met die mond openbare bekendmaking doen tot redding’ en dat ‘elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, gered sal word’ (Romeine 1:7; 10:9, 10, 13, vgl. NW). Hierdie openbare bekendmaking tot redding, wat ten tyde van ’n mens se doop gedoen word, sluit ook die openbare verkondiging van die goeie nuus van Jehovah se Koninkryk in.
12, 13. (a) Wat sluit ‘die openbare bekendmaking van ons hoop’ wat in Hebreërs 10:23 genoem word in? (b) Hoe toon Psalm 96 dat ’n openbare bekendmaking buite die gemeente nodig is, en hoe staaf Openbaring 7:9, 10 dit?
12 Die apostel Paulus het aan die Hebreeuse Christene geskryf: “Laat ons die [openbare bekendmaking van ons hoop] onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou” (Hebreërs 10:23, vgl. NW). Hierdie openbare bekendmaking is nie tot vergaderinge van die gemeente beperk nie (Psalm 40:9, 10). In Psalm 96:2, 3, 10 sien ons duidelik in die volgende woorde ’n profetiese opdrag om buite die gemeente, vir die nasies, te preek: “Verkondig sy heil van dag tot dag. Vertel onder die nasies sy eer, onder al die volke sy wonders. Sê onder die volke: Die HERE is Koning!” Trouens, in Mattheüs 28:19 en Handelinge 1:8 het Jesus Christene beveel om vir die nasies te preek.
13 Paulus meld hierdie openbare predikingswerk in sy verdere woorde aan die gesalfde Hebreeuse Christene: “Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam [in die openbaar bekend maak]” (Hebreërs 13:15, vgl. NW). In die boek Openbaring roep “die groot menigte”, wat uit alle nasies versamel is, ook luid uit: “Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!” (Openbaring 7:9, 10, NAV). In hierdie tyd van die voleinding van die stelsel word die verkondiging van die goeie nuus dus gedoen deur Jehovah se toegewyde Getuies, die oorblyfsel van Christus se geestelike broers en hulle sagmoedige metgeselle wat die “groot menigte” uitmaak. Maar hoe behoort hulle hierdie werk te doen?
“In die openbaar en van huis tot huis”
14. Waar het Jesus sy predikingswerk gedoen, en watter beginsel leer ons daaruit?
14 Jesus het regstreeks vir die mense gepreek. Ons lees byvoorbeeld dat hy in die sinagoges onderrig het. Waarom? Omdat mense op die Sabbat daar bymekaargekom en na ’n voorlesing en bespreking van die Skrif geluister het (Mattheüs 4:23; Lukas 4:15-21). Jesus het ook langs die pad, langs die see, teen ’n berghang, by ’n put buite ’n stad en in huise vir mense getuig. Waar daar ook al mense was, Jesus het vir hulle getuig.—Mattheüs 5:1, 2; Markus 1:29-34; 2:1-4, 13; 3:20; 4:1, 2; Lukas 5:1-3; 9:57-60; Johannes 4:4-26.
15. (a) Watter opdragte het Jesus sy dissipels gegee toe hy hulle uitgestuur het om te preek? (b) Hoe het sommige Bybelkommentators dit verklaar?
15 Toe Jesus sy dissipels uitgestuur het om te preek, het hy hulle ook direk na die mense gestuur. Dit blyk uit sy opdragte wat in Mattheüs 10:1-15, 40-42 opgeteken is. In vers 11 het hy gesê: “In watter stad of dorp julle ook al mag ingaan, ondersoek wie daarin waardig is, en bly dáár totdat julle vertrek.” The Jerusalem Bible gee hierdie vers soos volg weer: “Vra om iemand betroubaar”, asof die dissipels by die een of ander vooraanstaande of goed ingeligte persoon in die dorpie moes uitvind wie ’n goeie reputasie het en derhalwe die boodskap waardig is. (Kyk ook Weymouth-vertaling en die King James Version.) En dit is hoe sommige Bybelkommentators vers 11 verklaar.
16. Watter meer objektiewe ondersoek van Jesus se woorde in Mattheüs 10:11 toon hoe die apostels verdienstelike persone moes soek?
16 ’n Mens moet egter in gedagte hou dat die meeste toeloë van die Christendom nie van huis tot huis gaan nie, en baie Bybelkommentators is geneig om die Skrif teen die agtergrond van hulle eie ondervinding te interpreteer. ’n Meer objektiewe ondersoek van Jesus se opdrag toon dat hy bedoel het dat sy dissipels individue moes soek, hetsy van huis tot huis of in die openbaar, en die boodskap van die Koninkryk aan hulle moes oordra (Mattheüs 10:7). Hulle reaksie sou toon of hulle dit waardig was of nie.—Mattheüs 10:12-15.
17. Wat bewys dat Jesus se dissipels nie bloot verdienstelike persone besoek het wat aanbeveel is of met wie hulle afsprake gehad het nie?
17 Dit blyk uit Jesus se woorde in Mattheüs 10:14: “En as iemand julle nie ontvang nie en na julle woorde nie luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af.” Jesus het gepraat van sy dissipels wat mense ongenooid besoek om vir hulle te getuig. Hulle sou weliswaar ook tuisgaan by een van die huise wat die boodskap aanvaar het (Mattheüs 10:11). Maar die belangrikste saak was die predikingswerk. Lukas 9:6 (vgl. NW) lui: “En hulle het uitgegaan en dorp vir dorp deurgegaan en oral die [goeie nuus] verkondig en siekes gesond gemaak.” (Kyk ook Lukas 10:8, 9.) Verdienstelike persone wat die dissipels as profete in hulle huise ontvang het en hulle dalk “’n beker koue water” of selfs verblyf gegee het, sou nie hulle beloning verloor nie. Hulle sou die Koninkrykboodskap hoor.—Mattheüs 10:40-42, NAV.
18, 19. (a) Hoe het die vroeë Christene volgens Handelinge 5:42 hulle predikingswerk gedoen? (b) Hoe toon Paulus se woorde in Handelinge 20:20, 21 dat hy gepraat het van ’n bediening aan ongelowiges, nie ’n interne herderswerk nie?
18 Nadat die Christengemeente gestig is, lees ons aangaande die apostels: “En hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die [goeie nuus] te verkondig dat Jesus die Christus is.” (Handelinge 5:42; kyk voetnoot in NW-naslaanbybel.) Die Griekse uitdrukking wat met “van huis tot huis” weergegee word, is kat’ oiʹkon. Hier word ka·taʹ distributief gebruik. Daar kan dus gesê word dat die dissipels se getuienis van huis tot huis versprei is. Hulle het nie bloot vooraf gereëlde sosiale besoeke afgelê nie. ’n Soortgelyke gebruik van ka·taʹ kom voor in Lukas 8:1 (NW) in die uitdrukking “van stad tot stad en van dorp tot dorp”.
19 Die apostel Paulus gebruik dieselfde uitdrukking in die meervoud, kat’ oiʹkous, in Handelinge 20:20 (NW). Daar het hy gesê: “Ek het my nie daarvan weerhou om . . . julle in die openbaar en van huis tot huis te onderrig nie.” Die uitdrukking “van huis tot huis” word in party vertalings met “in julle huise” weergegee. Sommige van die Christendom se Bybelkommentators sê dus dat Paulus hier praat van herdersbesoeke in die huise van gelowiges. Maar Paulus se volgende woorde toon dat hy gepraat het van ’n bediening aan ongelowiges, want hy sê: “Terwyl ek kragtig by die Jode sowel as die Grieke aangedring het op [berou teenoor] God en die geloof in ons Here Jesus.”—Handelinge 20:21, vgl. NW.
20. (a) In watter mate het Jehovah se Getuies in ons tyd die goeie nuus van die Koninkryk verkondig? (b) Hoe beskou sommige dalk die feit dat ons met die predikingswerk moet volhou?
20 Hierdie metode om mense te bereik, moet derhalwe in ons tyd gebruik word wanneer die ‘goeie nuus van die koninkryk verkondig moet word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies’ (Mattheüs 24:14, vgl. NW). Jehovah se Getuies verkondig al meer as 65 jaar lank die goeie nuus van God se opgerigte Koninkryk ywerig in die openbaar en van huis tot huis—nou in 210 lande. ’n Groot getuienis word inderdaad gegee! En dít ondanks die feit dat die meeste mense die boodskap vandag hoor “sonder om daarop ag te slaan”, en sommige dit selfs met ergernis hoor (Mattheüs 13:15, NW). Waarom hou Jehovah se Getuies aan om te getuig op plekke waar mense weier om te luister of hulle selfs teëstaan? Hierdie vraag sal in die volgende artikel bespreek word.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Wat was volgens die Skrif kenmerke van Jesus se bediening?
◻ Watter riglyne het die apostels ten opsigte van hulle bediening ontvang?
◻ Watter werk moet in ons tyd gedoen word, en waarom?
◻ Wie sou Jehovah gebruik om die goeie nuus in ons dag te verkondig?
◻ Waar en hoe moet die predikingswerk gedoen word?