“Vrede vir julle”
“Jesus [het] gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle!”—JOHANNES 20:19.
1. Waarom is die mens se pogings om wêreldvrede te bewerkstellig tot mislukking gedoem?
“DIE hele wêreld [lê] in die mag van die Bose” (1 Johannes 5:19). Dit was in Johannes se dag die geval, en dit is vandag selfs duideliker, met die verskriklike toename van persoonsgeweld, terrorisme, oorloë en korrupsie. Johannes se geïnspireerde verklaring sluit ook enige hoop uit dat wêreldvrede deur mensestrewes bereik sal word, ondanks die pogings van die pous, van volksleiers en van die VV. Waarom? “Geen vrede, sê my God, vir die goddelose nie!”—Jesaja 57:21.
2. Wat impliseer die woord “vrede”, veral in Hebreeus en Grieks?
2 Maar die woord “vrede” kan iets anders as bloot die afwesigheid van oorlog beteken. Vrede kan ook “’n verstandelike of geestelike toestand vry van verontrustende of hinderlike gedagtes of emosies: kalmte van verstand en hart” wees. En tog het die Hebreeuse woord vir “vrede” (sja·loomʹ) en die Griekse woord (ei·rèʹnè) ’n selfs breër betekenis. Hulle gee ook welvaart te kenne, soos in die afskeidswoorde: “Gaan in vrede” (1 Samuel 1:17; 29:7; Lukas 7:50; 8:48). Dit help ons om Jesus se liefdevolle besorgdheid oor sy dissipels gedurende die traumatiese tydperk voor en na sy dood te waardeer.
3. Hoe het Jesus na sy opstanding diep besorgdheid oor sy dissipels getoon, en met watter uitwerking?
3 Jesus het op Vrydag, 14 Nisan, in die jaar 33 G.J., gesterf. Hy is op Sondag, 16 Nisan, opgewek. Omdat hy, soos altyd, diep besorg was oor sy dissipels se welsyn het hy hulle toe opgesoek. Waar het hy hulle gevind? Hulle was agter geslote deure “uit vrees vir die Jode”. Hulle was begryplikerwys beangs en bang. Maar Jesus het gesê: “Vrede vir julle!” (Johannes 20:19-21, 26). Later het hulle, versterk deur die heilige gees, goed gevaar. Hulle het hulle predikingstoewysing met vrymoedigheid aangepak en talle gehelp om goddelike vrede te verkry.
Goddelike vrede vandag
4. Hoe kan Jehovah se volk in hierdie swaar tye vrede van die verstand en hart behou?
4 Ons lewe in die tyd van die einde, in “swaar tye” (2 Timotheüs 3:1). Die perderuiters wat in Openbaring voorspel is, ry deur die aarde—soos jy aan die oorloë, voedselskaarste en dood weens siekte kan sien (Openbaring 6:3-8). Jehovah se volk word ook deur die toestande om hulle geraak. Hoe kan jy dan goddelike vrede van die verstand en hart behou? Deur na aan die groot Bron van vertroosting en vrede te bly. Soos die vorige artikel getoon het, verg dit herhaalde gebed en smeking. Sodoende sal ‘die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, julle harte en julle denkvermoëns bewaar deur Christus Jesus’.—Filippense 4:6, 7, vgl. NW.
5. Waarom was Paulus seker dat “die vrede van God” ons hart kan bewaar?
5 Die apostel Paulus, wat daardie woorde geskryf het, het self gevare en moeilikhede deurgemaak. Hy is deur Jode en Romeine gevange geneem en geslaan. Hy is gestenig en vir dood agtergelaat. Reise was destyds gevaarlik; Paulus het drie keer skipbreuk gely, en hy was dikwels in gevaar van struikrowers. Hy het talle slapelose nagte deurgebring, het baiemaal koud gekry en was dikwels honger en dors. Buiten dit alles was hy elke dag ‘besorg oor al die gemeentes’ (2 Korinthiërs 11:24-28, vgl. NAV). Paulus het dus uit ruime ondervinding geweet hoe belangrik “die vrede van God” is wat ons hart kan bewaar.
6. Waarom is dit lewensbelangrik om ’n innige, intieme band met ons Skepper te verkry en te behou?
6 “Die vrede van God” kan verduidelik word as ’n gevoel van kalmte en onverstoordheid, wat ’n goeie verhouding met God weerspieël. Dit is baie belangrik vir Christene, veral wanneer hulle voor verdrukking of beproewing te staan kom. Waarom? Wel, ons almal is onvolmaak; gevolglik kan ons maklik bang word wanneer ons deur probleme, spanning, teëstand of verskeie terugslae geteister word. Dit kan veroorsaak dat ons nie ons onkreukbaarheid handhaaf nie. Dit kan God se naam tot oneer strek en veroorsaak dat ons Jehovah se guns en die ewige lewe verbeur. Dit is dus inderdaad van lewensbelang dat ons daarna strewe om “die vrede van God” te verkry wat ons sal help om sulke uitdagings met welslae die hoof te bied. Daardie vrede is beslis een van die ‘goeie gawes en volmaakte geskenke’ wat ons hemelse Vader voorsien.—Jakobus 1:17, NAV.
7, 8. (a) Waarop is “die vrede van God” gegrond, en hoe ‘gaan dit alle verstand te bowe’? (b) Hoe het die geval van ’n Swart broer sulke vrede toegelig?
7 Jy het dalk opgemerk dat sommige mense kalm en vol vertroue deur die lewe gaan. Dit is dikwels aan natuurlike vermoë, gesinsinvloed, rykdom, opvoeding of ander sulke faktore te danke. “Die vrede van God” is baie anders. Dit is nie gegrond op gunstige omstandighede nie en spruit nie uit mensevermoë of -denke voort nie. Dit is van God afkomstig en ‘gaan alle verstand te bowe’. J. B. Phillips se vertaling van Filippense 4:7 sê dat “die vrede van God . . . menslike begrip oortref”. Wêreldse mense staan dikwels verstom oor die manier waarop Christene ernstige probleme, liggaamlike skade of selfs die dood onder die oë sien.
8 ’n Hedendaagse voorbeeld hiervan was een van Jehovah se Getuies wat ’n Christenvergadering gehou het in ’n Afrikaland waar die Getuies, hoofsaaklik op aanstigting van plaaslike Katolieke, daarvan beskuldig is dat hulle terroriste is. Skielik het militêre polisie met gevelde bajonette verskyn. Hulle het die vroue en kinders huis toe gestuur, maar het die mans begin slaan. Die Getuie sê: “Ek het nie woorde om te beskryf hoe ons behandel is nie. Die bevelvoerende korporaal het openlik gesê dat ons doodgeslaan sou word. Ek is so erg met ’n houtknuppel geslaan dat ek daarna 90 dae lank bloed opgebring het. Maar ek was bekommerd oor die lewe van my metgeselle. Ek het Jehovah in gebed gevra om na hulle, sy skape, se lewe om te sien”, en hulle almal het dit oorleef. Dit is voorwaar ’n voorbeeld van hoe iemand onder verskriklike beproewing kalm gebly en ander liefdevol in ag geneem het! Ja, ons liefdevolle hemelse Vader verhoor wel die versoeke van sy getroue knegte en gee hulle sy vrede. Een van die verbysterde soldate wat by daardie voorval betrokke was, het gesê dat die God van die Getuies “die ware een moet wees”.
9. Watter uitwerking kan dit hê as ons die Bybel lees en daaroor peins?
9 In hierdie moeilike tye het baie Christene probleme wat hulle gefrustreerd en mismoedig laat voel. ’n Goeie manier om gemoedsrus te behou, is om die Bybel te lees en daaroor te peins. Dit kan ’n mens besiel met die krag en vasbeslotenheid om deur te druk en standvastig te bly. “Die woord van God is lewend en kragtig.”—Hebreërs 4:12.
10. Hoe kan dit ’n seën wees as ons tekste kan onthou?
10 Maar sê nou teëspoed oorval ons wanneer die Bybel nie beskikbaar is nie. Wat dan? ’n Christen kan byvoorbeeld skielik in hegtenis geneem en sonder ’n Bybel in die tronk gegooi word. Dan sal dit waarlik ’n seën wees om tekste soos Filippense 4:6, 7; Spreuke 3:5, 6; 1 Petrus 5:6, 7 en Psalm 23 te kan onthou. Sou jy dit nie hoog op prys stel as jy sulke gedeeltes kan onthou en daaroor kan nadink nie? Teen die sombere agtergrond van ’n gevangenis sou dit wees asof Jehovah self met jou praat. God se Woord kan gekwetste verstande genees, benoude harte versterk en sielsangs deur vrede vervang. (Kyk Psalm 119:165.) Ja, dit is baie belangrik om nou, terwyl ons nog die geleentheid het om dit te doen, tekste in ons verstand in te prent.
11. Hoe het ’n broer in Nederland getoon dat hy ’n behoefte aan geestelike voedsel het?
11 Arthur Winkler was iemand wat ’n diep waardering vir die Bybel gehad het, veral gedurende die Nazibesetting van Nederland, toe die Getuies hulle Christenbedrywigheid ondergronds moes voortsit. Die Gestapo het na broer Winkler gesoek. Toe hulle hom uiteindelik gevange geneem het, het hulle probeer om hom ’n kompromis te laat aangaan, maar hulle het gefaal. Toe het hulle hom bewusteloos geslaan. Met sy tande uitgeslaan, sy onderkaak uit lit en sy liggaam pimpel en pers geslaan, is hy in ’n donker sel gesit. Maar sy wag was simpatiek en vriendelik. Broer Winkler het Jehovah in gebed om leiding gevra. Hy het ook ’n groot behoefte aan geestelike voedsel gehad en het die wag om hulp gevra. Die seldeur is later oopgemaak en ’n Bybel is ingegooi. “Watter vreugde was dit tog”, sê broer Winkler, “om daagliks die aangename woorde van waarheid te geniet . . . Ek het gevoel hoe ek geestelik sterker word.”a
Goddelike vrede sal jou beskerm
12. Waarom is dit veral nodig dat ons ons hart en denkvermoëns bewaar?
12 Jehovah beloof dat sy vrede ‘julle harte en julle denkvermoëns sal bewaar’ (Filippense 4:7, vgl. NW). Dit is so noodsaaklik! Die hart is die setel van die beweegrede en emosies. In hierdie laaste dae kan ons hart maklik deur vrees of angs verswak word of ons in die versoeking bring om te sondig. Die algemene lewenspatroon gaan vinnig agteruit. Ons moet voortdurend op ons hoede wees. Benewens die feit dat ons ’n sterk hart nodig het, moet ons ook dat God ons “denkvermoëns” deur middel van sy Woord en sy gemeente versterk en rig.
13. Watter voordele kan dit hê as ons denkvermoëns bewaar word?
13 Volgens W. E. Vine dra die Griekse woord noʹe·ma (wat as “denkvermoëns” weergegee word) die gedagte van “voorneme” of “oogmerk” (An Expository Dictionary of New Testament Words). God se vrede kan dus ons Christelike voorneme versterk en ons beskerm teen enige neiging om te verswak of sonder goeie rede van plan te verander. Ontmoediging of probleme sal ons dus nie maklik van stryk bring nie. As ons ons byvoorbeeld voorgeneem het om Jehovah in die een of ander spesiale hoedanigheid te dien, soos deur ’n voltydse pionierbedienaar te wees of te verhuis na waar bedienaars uiters nodig is, sal “die vrede van God” ons baie help om daardie doel met volharding na te jaag (Vergelyk Lukas 1:3, NW; Handelinge 15:36; 19:21; Romeine 15:22-24, 28; 1 Thessalonicense 2:1, 18.) Jy moet genoeg tyd aan ’n studie van God se Woord en aan Christelike omgang wy om jou denkvermoëns verder te versterk. Op hierdie manier voed jy jou verstand en hart met rein, opbouende gedagtes. Wy jy genoeg tyd daaraan om God se geïnspireerde “woorde” jou eie te maak? Behoort jy meer aandag daaraan te skenk?
14. Op watter geïnspireerde raad moet ons noulettend ag slaan, en waarom?
14 Jy kan sien dat die hart sowel as die verstand, of denkvermoëns, ’n rol speel as ons “die vrede van God” wil verkry en daarby wil baat vind. Dit word deur die goddelike raad bevestig: “My seun, luister na wat ek sê, neig jou oor tot my woorde, laat hulle nie wyk uit jou oë nie, bewaar hulle binne-in jou hart. Want hulle is die lewe vir die wat hulle vind, en ’n genesing vir hulle hele liggaam. Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.”—Spreuke 4:20-23.
15. Watter rol speel Jesus daarin dat ons “die vrede van God” het?
15 “Die vrede van God” wat uit ’n innige, intieme band met Jehovah voortspruit, bewaar ons hart en denkvermoëns “deur Christus Jesus” (Filippense 4:7, NW). Watter rol speel Jesus hierin? Paulus verduidelik: “Genade vir julle en vrede van God die Vader en onse Here Jesus Christus, wat Homself gegee het vir ons sondes, sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld, volgens die wil van onse God en Vader” (Galasiërs 1:3, 4). Ja, Jesus het liefdevol sy lewe afgelê om ons vry te koop (Mattheüs 20:28). Dit is derhalwe “deur Christus Jesus” dat ons vir Jehovah aanneemlik kan wees as sy toegewyde knegte en daardie goddelike vrede kan geniet wat ons kan beskerm.
Gevare wat goddelike vrede bedreig
16. Watter raad het Paulus gegee wat ons kan help om “die vrede van God” te behou?
16 Nadat ons vrede van God ontvang en geniet het, moet ons sorg dat ons dit behou. Talle faktore kan Christene van vrede beroof. Van die algemeenste, en beslis die gevaarlikste, is jeugdige begeertes. In Paulus se tweede brief aan Timotheüs, wat toe waarskynlik in sy vroeë dertigerjare was, het hy onder meer hierdie raad gegee: “Vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit ’n rein hart aanroep.”—2 Timotheüs 2:22.
17. Wat het dikwels met betrekking tot Jehovah se voorsiening van seks gebeur?
17 Daardie begeertes sluit die geslagsdrang in, wat ’n eerbare plek in die huwelik het. Maar hierdie drang is deur die geskiedenis heen op ’n verkeerde wyse in voorhuwelikse of buite-egtelike geslagsomgang bevredig, wat albei deur ons wyse Skepper afgekeur word (Hebreërs 13:4; Genesis 34:1-3). Die gevaar om voor geslagsonsedelikheid te swig, bedreig Christene vandag, jongmense sowel as oueres. In hierdie laaste dae van ’n verdorwe wêreld beteken seks vir baie mense bloot sinlike hartstog, dikwels met gebruike wat algemeen onder homoseksuele, manne en vroue, voorkom.—Romeine 1:24-27.
18. Waarom is party se hart nog nie standvastig nie, en waartoe kan dit lei?
18 Die feit dat ons onder sulke omstandighede lewe, beklemtoon hoe noodsaaklik dit is dat ons ’n sterk, standvastige hart het wat aan Jehovah toegewy is. Sommige wat die Koninkryksboodskap aanvaar het, die basiese Bybelwaarhede glo en gereeld met Jehovah se volk omgaan, kweek nie diep waardering vir Jehovah, sy Woord en sy wêreldwye gemeente nie. Hulle hart is nog nie standvastig nie. Hulle kan maklik deur “die begeerlikhede van die jonkheid” verlei word. Sommige van hulle weerstaan dalk versoekings om hulle aan hoerery of egbreuk skuldig te maak, maar hulle word, soos Paulus gewaarsku het, “meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” (2 Timotheüs 3:4). Hulle wy baie meer tyd daaraan om TV te kyk, romans te lees of na wilde musiek te luister as aan persoonlike studie, Christelike vergaderinge of Koninkryksdiens. Dit lei maklik tot geestelike swakheid en, uiteindelik, ernstige sonde.
19. Wat moet ons doen om te voorkom dat ons wegdryf?
19 Sulke mense dryf, soos ’n boot sonder anker, in ’n stroom wat na rampspoed vloei. Wat moet hulle doen? Paulus vermaan: “Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie” (Hebreërs 2:1). Diegene wat in gevaar verkeer, moet dus “des te meer ag gee” op ’n studie van God se Woord, voorbereiding vir Christelike vergaderinge en die verkondiging van Koninkrykswaarhede aan ander. Dit sou natuurlik maklik wees om te dink: ‘Dit is goeie raad, maar ek verkeer nie in daardie toestand nie, en dit is dus nie op my van toepassing nie.’ Hoeveel verstandiger sou dit tog vir elkeen van ons wees om ernstig na te dink oor hoe ons ons hart, diepste gedagtes en begeertes verder kan reinig en ‘geregtigheid, geloof, liefde en vrede kan najaag, saam met die wat die Here uit ’n rein hart aanroep’ (2 Timotheüs 2:22). Bowenal moet ons God om leiding en die versterkende hulp van sy gees vra.
20. Wat moet enigiemand doen wat hom aan growwe sonde skuldig maak?
20 As enigiemand hom aan growwe sonde skuldig maak, maar dit geheim hou, sal hulle uiteraard Jehovah se goedkeuring en “die vrede van God” wat hulle gehad het, verbeur. Hulle sal ook hulle eie gemoedsrus verloor. (Vergelyk 2 Samuel 24:10; Mattheüs 6:22, 23.) Jy kan dus sien waarom dit noodsaaklik is dat enige Christen wat hom aan ernstige sonde skuldig maak dit bely aan Jehovah en aan liefdevolle ouere manne, wat geestelike genesing kan bevorder (Jesaja 1:18, 19; 32:1, 2; Jakobus 5:14, 15). Wanneer iemand wat sy geestelike ewewig op die glibberige pad van die sonde verloor het ryp broers om hulp nader, sal hy nie meer ’n gekwelde gewete hê of sonder goddelike vrede wees nie.
21. Om watter rede kan ons Jehovah vandag diep dankbaar wees, en wat moet ons vaste voorneme wees?
21 Dit is voorwaar ’n voorreg om vandag een van Jehovah se toegewyde Getuies te wees! Oral om ons verbrokkel hierdie Sataniese wêreld en word dit ’n warboel. Dit sal eerlank verbygaan. Baie mense se harte “beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom”. Maar ons kan ons hoofde ophef omdat ons weet dat ons “verlossing naby is” (Lukas 21:25-28). Laat ons, as blyk van ons dankbaarheid teenoor Jehovah vir sy “vrede . . . wat alle verstand te bowe gaan”, ons uiterste bes doen om “die God wat vrede gee” getrou te dien.—Romeine 15:33, NW; 1 Korinthiërs 15:58.
[Voetnoot]
a Kyk die 1986 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 154-157.
Hersieningsvrae
◻ Hoe help “die vrede van God” ons vandag, en hoe ‘gaan dit alle verstand te bowe’?
◻ Watter faktore stel ons in staat om gemoedsrus te behou?
◻ Watter subtiele gevaar bedreig baie Christene vandag, en waartoe kan dit lei?
◻ Wat moet ’n Christen doen as hy hom aan ’n ernstige sonde skuldig maak?
[Venster/Prent op bladsy 18]
Sy het uitgevind dat dit waar is
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die Nazi’s Elsa Abt se man weens sy Christelike predikingswerk na die Sachsenhausen-konsentrasiekamp gestuur. Toe, in Mei 1942, het die Gestapo na haar huis gekom, haar dogtertjie weggeneem en Elsa gestuur om in verskeie kampe te werk en te ly. Sy gee hierdie persoonlike getuienis:
“My jare in Duitse konsentrasiekampe het my ’n besondere les geleer. Dit is in watter mate Jehovah se gees jou kan versterk wanneer jy groot beproewings verduur! Voordat ek in hegtenis geneem is, het ek ’n suster se brief gelees waarin sy gesê het dat Jehovah se gees jou kalm laat word wanneer jy ’n groot beproewing verduur. Ek het gedink dat sy seker ’n bietjie oordryf. Maar toe ek self beproewings verduur, het ek geweet dat sy die waarheid gepraat het. Dit gebeur werklik. Dit is moeilik vir ’n mens om jou dit voor te stel as jy dit nog nie beleef het nie. Maar dit het werklik met my gebeur. Jehovah help.”
[Prent op bladsy 16]
Paulus het uit ondervinding geweet dat God se vrede ons hart kan bewaar
[Prent op bladsy 19]
Verkeer jy in gevaar om geestelik weg te dryf?