Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 3/1 bl. 10-17
  • My lewe in Jehovah se geesgerigte organisasie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • My lewe in Jehovah se geesgerigte organisasie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Dankbaarheid teenoor my ouma
  • Herinneringe aan my studentedae
  • Diens in Brooklyn-Bethel
  • Opwindende nuwe lig
  • ’n Nuwe toewysing
  • Ontvangs in Engeland
  • ’n Besoek van broer Rutherford
  • Die jare van die Tweede Wêreldoorlog
  • Persona non grata
  • Vredestydperk word merkwaardig voorspel
  • Wagtoring-Bybelskool Gilead
  • Die getroude lewe
  • Die skool vir ouere manne
  • Verdere diens aan die Koning
  • Adverteer die Koning en die Koninkryk! (1919-1941)
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Verkondig die goeie nuus sonder ophou (1942-1975)
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • ’n Ryk lewe in Jehovah se diens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • ‘Jehovah het aan my goed gedoen’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 3/1 bl. 10-17

My lewe in Jehovah se geesgerigte organisasie

Soos vertel deur Albert D. Schroeder

OP DIE eerste Sondag in Junie 1934 het ek en Alex Jones in die stad Jersey, Nieu-Jersey, van deur tot deur getuig. Polisiebeamptes het skielik by die deelhuis waarin ons was, ingestorm, ons gearresteer, hardhandig in ’n motor ingestamp en tronk toe geneem!

Drie dae later het ’n regter ons skuldig bevind aan smousery sonder ’n lisensie en ons tot tien dae tronkstraf gevonnis. Ons is na die Hudson-distriksgevangenis geneem waar ons aangesê is om ons te ontklee, ’n ontsmettingsbad te neem en gevangenisklere aan te trek. Toe is ons na ’n sel gelei.

Hier het ek tyd gehad om na te dink. Ek was slegs 23 en gelukkig met my lewe as voltydse bedienaar in die Brooklyn-Bethel. Kom ek deel ’n paar van daardie herinneringe met jou.

Dankbaarheid teenoor my ouma

Ek het veral met liefde aan my ouma van moederskant, Elizabeth Darger, teruggedink. Haar ouers het die gesin die een of ander tyd voor 1870 uit Duitsland na Michigan gebring. Sy het onderwys in Duits en Engels in die openbare skole gegee en het saam met ons in my Lutherse ouers se huis in my geboortestad Saginaw, Michigan, gewoon. Sy en haar susters, ook onderwyseresse, het tydens die Eerste Wêreldoorlog met die Internasionale Bybelstudente begin omgaan, wat vandag as Jehovah se Getuies bekendstaan.

Hoewel my ouers daarop aangedring het dat ek die Lutherse Sondagskool bywoon, is my ouma toegelaat om met my oor haar opwindende Bybeloortuigings te praat. Sy kon die Bybel in Latyn en Grieks lees, en sy het ’n begeerte by my gewek om die Bybel in sy oorspronklike tale te bestudeer. Ek het met innigheid teruggedink aan die opwindende Bybelbesprekings wat ek en my groottantes oor God se Koninkryksregering gehad het wat volgens Daniël 2:44 binnekort die aarde gaan oorneem.

In 1923 het Ouma met my uit die Wagtoringgenootskap se boek Die harp van God begin studeer, en ek het ook die Saginaw-gemeente se vergaderinge saam met haar bygewoon. Terwyl ek in my sel was, het ek teruggedink aan daardie vergaderinge, aan die kere toe ek na die Wagtoring-radioprogramme geluister het wat uit verafgeleë Brooklyn, New York, oor WBBR uitgesaai is en aan ander soortgelyke ondervindinge wat my lewe gevorm het.

Ek het byvoorbeeld onthou hoe ek oor die radio na regter Joseph F. Rutherford, die president van die Wagtoringgenootskap, geluister het toe hy in 1927 die gehoor by die Bybelstudente se byeenkoms in Toronto, Kanada, toegespreek het. In 1928 het ek in Detroit, Michigan, my eerste byeenkoms bygewoon. Daar het ek broer Rutherford regstreeks hoor praat. By daardie byeenkoms het ek verheug “Ja!” uitgeroep in antwoord op die resolusie “Deklarasie teen Satan en vir Jehovah”. Die nuwe boek Government wat getoon het dat God se Koninkryk ’n teokratiese en nie ’n demokratiese regering is nie, is daar uitgereik.

Herinneringe aan my studentedae

Ek het ook aan my studentedae teruggedink. Op aandrang van my ouers, wat nie wou hê dat ek ’n voltydse bedienaar moes word nie, het ek ’n universiteitsbeurs aanvaar. Daarom het ek in September 1929 taalkunde, ekonomie en ingenieurswese aan die Universiteit van Michigan in Ann Arbor begin studeer.

Mev. Judson, die eienares van die gebou waarin ek gewoon het, was in aanraking met die Ann Arbor-gemeente van die Bybelstudente. Toe ek in die noordelike herfs van 1930 na die universiteit terugkeer, het sy my meegedeel dat ’n gawe jong man van Alabama pas tevore in die kamer oorkant myne ingetrek het en dat sy van mening was dat hy ontvanklik vir “ons Bybelboodskap” sou wees. En hy was ook! Ek en William Addison Elrod het gou goeie vriende geword toe hy Bybelwaarhede aanvaar het; en ons is tot vandag toe vriende.

Gedurende die somer van 1931 het ek en Bill Elrod ’n kursus in landmeetkunde gevolg en kon ons dus nie die 1931-byeenkoms in Columbus, Ohio, bywoon nie. Maar op Sondag, 26 Julie, het ons wel oor die radio na die openbare toespraak geluister en was ons onder die onsigbare toehoorders wat die pragtige nuwe naam “Jehovah se Getuies” entoesiasties aangeneem het.

Sosialistiese, Fascistiese en kommunistiese regeringsvorme is destyds breedvoerig op die kampus bespreek. In Oktober 1931 het Winston Churchill 3 000 studente toegespreek en die demokrasie as steeds die beste regeringsvorm voorgestaan. Later, in Desember 1931, het lord Bertrand Russell, die beroemde Britse wiskundige en filosoof, oor pasifisme gepraat. Nog later het dr. Hjalmar Schacht, die president van die Ryksbank in Berlyn, Duitsland, die behoefte aan staatsbeheerde ekonomieë bespreek; met ander woorde, hy het nasionaal-sosialisme of Nazisme voorgestaan. Twee jaar later was hy minister van finansies in Hitler se regering.

Nadat ek die oproepe van hierdie wêreldstaatsmanne gehoor het, was ek vaster oortuig as ooit tevore dat net die Messias se koningskap ’n bevredigende wêreldregering kan wees. Ek en Bill Elrod het ons derhalwe voorgeneem om op 15 Junie 1932 met universiteit klaar te maak en dan saam die voltydse predikingswerk, wat nou pionierdiens genoem word, te betree.

Omdat dit destyds nie duidelik was of diegene met die aardse hoop gedoop moes word al dan nie, het ons die pionierdiens betree nog voor ons gedoop is. Nadat ek op 24 Julie 1932 in Vandercook Lake, Michigan, gedoop is, het dit egter duidelik geword dat my hoop na dié van ’n gesalfde verander het, wat deur die ‘getuienis van die gees’ bevestig is.—Romeine 8:16, NW.

Diens in Brooklyn-Bethel

Op 9 September, terwyl ons pionierdiens in Howell, Michigan, gedoen het, het Bill op ’n drafstap uit die poskantoor gekom en met ’n geel telegram gewuif. Toe ons dit oopmaak, het ons ’n uitnodiging van broer Rutherford gelees om so gou moontlik vir Betheldiens aan te meld. In net 72 uur het ons ons pioniersake afgehandel en die 1 100 kilometer na Brooklyn in ons model T-Ford afgelê. Uiteindelik het ons die Brooklyn-brug oorgesteek en op 13 September 1932 by Bethel aangekom. Die Bethelgesin het destyds uit net 200 lede bestaan, waarvan die meeste die Koning se gesalfde broers was.

Nadat ek ’n paar weke in ’n fabriekstoewysing gedien het, het ek ’n ander toewysing na die Diensafdeling ontvang. ’n Vriendelike Ierse broer, Thomas J. Sullivan, was die opsiener. Hy het ons jongeres altyd herinner: ‘Wanneer probleme voorgelê word, moet julle sorg dat julle jul van al die feite vergewis voordat julle ’n oplossing aan die hand doen’ (Spreuke 18:13). Dan het hy met ’n vonkeling in sy oë bygevoeg: “Waarom is julle so haastig? Gee Jehovah ’n kans. Kyk wat sy gees daaromtrent doen.”

Terwyl ek in die gevangenis oor hierdie vorige ondervindinge nagedink het, het ek my verheug oor die voorreg om, net soos Jesus Christus en die apostels, ter wille van geregtigheid te ly (Johannes 15:20; 1 Petrus 4:16). As ek terugdink, besef ek dat sulke ondervindinge my vir toekomstige voorregte voorberei het.

Opwindende nuwe lig

Ek kan onthou hoe ons vroeg in 1935, sowat ses maande nadat ek uit die gevangenis vrygelaat is en na Bethel teruggekeer het, etlike besprekings oor die identiteit van die “groot menigte” aan die Betheltafel gehad het (Openbaring 7:9, 13). Party het die beskouing gesteun dat hierdie ’n sekondere hemelse klas is, soos broer Russell, die eerste president van die Wagtoringgenootskap, geleer het. Ander het egter geredeneer dat die “groot menigte” uit diegene bestaan wat ’n aardse hoop het. Broer Rutherford het nie ’n definitiewe standpunt tydens hierdie besprekings ingeneem nie.

Ons Betheliete was almal opgewonde toe ons met ’n spesiale trein na Washington, D.C., gereis het waar die byeenkoms van 30 Mei tot 3 Junie 1935 gehou sou word. Op die tweede dag van die byeenkoms het broer Rutherford die opwindende nuus bekend gemaak dat die “groot menigte” inderdaad ’n aardse klas is. Toe hy die hoogtepunt bereik, het hy gevra: “Sal almal wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe asseblief staan?” Ongeveer die helfte van die 20 000 byeenkomsgangers het opgestaan. Toe het broer Rutherford uitgeroep: “Kyk! Die groot menigte!” Daar was ’n kort stilte. Toe het ons almal vreugdevol begin juig, en die toejuiging was hard en lank. Die volgende dag is 840 gedoop, waarvan die meeste van die aardse klas was.

Hierdie nuwe lig in 1935 aangaande die “groot menigte” het, ter voorbereiding vir die verwagte instroming van lede van hierdie klas, tot herorganisasie in 1936 gelei. Tot op daardie tydstip was daar byvoorbeeld net een groot Engelse gemeente in die hele stad New York, maar nou is nuwe gemeentes gestig, en ons jonger gesalfdes is as opsieners aangestel. Vandag is daar 336 gemeentes in die stad New York!

’n Nuwe toewysing

Donderdag, 11 November 1937, was vir my ’n baie belangrike tag. Ek is in kennis gestel dat ek daardie middag om 3:00 nm. na broer Rutherford se kantoor moes gaan. Ek was betyds, maar was bekommerd dat ek dalk berispe gaan word. Maar nadat ons ’n paar vriendelike woorde gewissel het, het broer Rutherford my gevra of ek gewillig sou wees om ’n ander toewysing te aanvaar.

“Ek is gewillig om te dien waar ek ook al nodig is”, het ek geantwoord.

Toe het broer Rutherford my heeltemal uit die veld geslaan deur te vra: “Sal jy daarvan hou om as takkneg in die Londense Bethel te dien?”

“Mensig, dit is ’n groot toewysing!” het ek geantwoord.

“Boonop beteken dit ’n eenrigtingkaartjie—dat jy bereid is om tot na Armageddon daar te bly. Ek gee jou dus drie dae om te besluit”, het hy vervolg.

“Wel, broer Rutherford, ek het nie drie dae nodig nie. As dit Jehovah se wil is dat ek gaan, is my antwoord ja!”

“Ek het gedink dat dit jou antwoord sou wees”, het hy geantwoord. “Broer Knorr het reeds jou kaartjie vir die lynskip Queen Mary wat volgende Woensdag na Engeland vertrek.”

My kop het begin draai. “Jy sal gedurende die volgende paar dae opleiding ontvang”, het broer Rutherford ten slotte gesê.

Toe ek by die Diensafdeling wat in die fabriek geleë was, terugkom, het my oorstelpende verbasing broer Knorr van die lag laat uitbars. Hy het geweet wat pas gebeur het. Nathan Knorr was die fabrieksopsiener en het vroeër saam met broer Rutherford na Engeland gereis. Hy het my dadelik in die toesighouding oor ’n tak se funksies begin oplei. Ek het ’n paar dae later vir verdere voorbereiding na broer Rutherford teruggegaan.

Broer Rutherford se advies, gebaseer op Miga 6:8, was: ‘Wees regverdig, bly standvastig by die organisatoriese beleid, handhaaf Bybelstandaarde, toon onverwylde gehoorsaamheid en moenie sloer nie. Behandel die broers vriendelik, neem gereeld aan die velddiens deel en wandel ootmoedig met God.’ Hy het gesê dat die produktiwiteit in die Britse veld afgeneem het omdat die vorige takopsieners die veldbediening nie ten volle ondersteun het nie. Ten slotte het hy met nadruk gesê: “Spoor die broers aan om meer velddiens te doen. Brittanje het sommer dadelik 1 000 pioniers nodig, nie net 200 soos hulle op die oomblik het nie.”

Ontvangs in Engeland

Toe die Queen Mary in Southampton aankom, het ek per trein na Londen gereis en toe ’n taxi na die Genootskap se takkantoor geneem wat 26 jaar lank by Craventerras 34, Lancaster Gate, geleë was. Die International Bible Students Association se vise-president het my vriendelik ontvang. Ek het broer Rutherford se brief aan hom oorhandig wat hom gemagtig het om die takkneg te ontslaan en die Bethelgesin in kennis te stel dat ek sy plek sou neem. Dit is met middagete gedoen, en die 30 Bethellede het my hartlik verwelkom.

Ek het mettertyd baie van die takknegte en -verteenwoordigers in Europa leer ken. Hulle was gesalfdes wat ondanks die hindernisse in Hitler se tyd kompromisloos die leiding in die predikingswerk geneem het—manne soos Martin Harbeck van Switserland, Charles Knecht van Frankryk, Fritz Hartstang van die Nederlande, Johan Eneroth van Swede, William Dey van Denemarke en moedige Robert Winkler van die Genootskap se ondergrondse organisasie in Duitsland. Hierdie onverskrokke geloofsmanne het die wrede Nazi-vervolgings op elke Skriftuurlike manier die hoof gebied.

’n Besoek van broer Rutherford

In 1938, die jaar voor die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, het die Britte oorsese radiofoonuitsending ontwikkel. Hulle ingenieurs het ingewillig om vier vastelande te verbind vir ’n spesiale byeenkoms wat van 9 tot 11 September in Londen gehou sou word. Die Royal Albert-saal, die grootste geskikte plek in Londen, is vir die byeenkoms gehuur. Broer Rutherford se groep, met inbegrip van Nathan Knorr, het drie weke voor die tyd gearriveer om met die voorbereidings te help.

Reklamebordoptogte is gereël om die openbare toespraak te adverteer. Voor die eerste inligtingsoptog moes plaasvind, het broer Rutherford gevra dat ek hom moes kom spreek. Terwyl ons byeenkomsaangeleenthede bespreek het, het hy met sy pen gekrabbel, soos wat hy soms gedoen het wanneer hy met iemand gepraat het. Hy het die vel papier waarop hy geskryf het van die skryfblok afgeskeur en aan my gegee. “Wat dink jy daarvan?” het hy gevra.

“GODSDIENS IS ’N STRIK EN ’N BEDROGSPUL”, het dit gelees.

“Dit lyk gloeiend warm”, het ek geantwoord.

“Ek wou hê dat dit kragtig moet wees”, het hy gesê. Hy het toe opdrag gegee dat plakkate met hierdie bewoording betyds vir ons byeenkoms se eerste inligtingsoptog Woensdagaand gemaak moes word. Die volgende aand het ek en Nathan Knorr die optog van ongeveer duisend broers 10 kilometer ver deur die middestad van Londen gelei.

Die volgende oggend het broer Rutherford my na sy kantoor ontbied en om ’n verslag gevra. “Talle het ons kommuniste en ateïste genoem en ander vyandige aanmerkings gemaak”, het ek gesê. Toe het hy ’n paar minute gedink en eindelik ’n vel papier met die voorgestelde slagspreuk “DIEN GOD EN CHRISTUS DIE KONING” afgeskeur. Hy was van mening dat dit die uitjoureaksie sou neutraliseer as party plakkate hierdie woorde vertoon, en dit was ook so. Hierdie 1938-byeenkoms het goed afgeloop. Die hoofsessies op Saterdag en Sondag en die hooftoespraak “Hou rekening met die feite” is met welslae na 49 byeenkomste oorgesend wat tegelykertyd dwarsdeur die Engelssprekende wêreld gehou is.

’n Opleidingsessie is na afloop van die byeenkoms met die takknegte van Europese lande gehou. Tydens die sessie het broer Rutherford my kwaai berispe omdat die saalwagters nie behoorlik opgelei was nie. Die dissipline het my trane in my oë laat kry. Later, toe ek alleen was, het William Dey van Denemarke my getroos deur te sê dat broer Rutherford my gebruik het om hulle almal indirek te onderrig. En dit was ook so! Broer Rutherford, wat daarvan gehou het om ’n voorskoot om te sit en te kook, het ons almal die volgende dag na ’n spesiale ete genooi wat hy voorberei het. Almal het heerlike omgang geniet.

Die jare van die Tweede Wêreldoorlog

Op 1 September 1939 het Hitler Pole binnegeval. Op Sondag, 3 September, het Brittanje teen Duitsland oorlog verklaar. Duisende van ons wat in Brittanje was, het daardie oggend aan die veldbediening deelgeneem en gepas die nuwe boek Redding versprei. By elke deur was die mense geskok; sommige vroue het gehuil. Al ons Bybellektuur het opgeraak terwyl ons Skriftuurlike vertroosting aan die mense gebied het.

Die volgende maand het ons ’n vroeë kopie van die artikel met die opskrif “Neutraliteit” ontvang, wat in die Wagtoring van 1 November 1939 sou verskyn. Dit het presies op die regte tyd die Skriftuurlike standpunt van ware Christene tydens wêreldse konflikte uiteengesit (Johannes 17:16). Kort voor lank is honderde van ons Britse broers en susters gearresteer en opgesluit.

Die luggevegte oor Brittanje, wat die slag om Brittanje genoem is, het teen die einde van 1940 al hoe hewiger geword en tot in 1941 voortgeduur. Dié van ons wat in Londen was, het 57 opeenvolgende nagte van 14 uur lange bombarderings deurgemaak. Die lug is met skril geluide gevul. Verwoestende brande het oral gewoed. Nege-en-twintig bomme het binne 460 meter van Bethel geval. Brandbomme het ons groot Koninkryksaal langsaan Bethel aan die brand gesteek, maar ons opgeleide Bethelbroers het die brand gou geblus.

Daar was velerlei oorlogstydse beperkings, onder meer voedselrantsoenering en reisbeperkings. Ons het nietemin met ons prediking van huis tot huis volgehou en selfs ’n groter aandeel daarin gehad. In 1937 was daar 4 375 verkondigers in Brittanje, maar teen 1942 het die getal tot 12 436 gestyg. Die 201 pioniers wat daar in 1937 in Engeland was toe ek daar aangekom het, het teen 1942 tot 1 488 vermeerder! Jehovah het hierdie vroeë predikers se saaiwerk in die veld beslis ryklik geseën. Daar is nou, meer as 50 jaar later, oor die 109 000 Koninkryksverkondigers in Brittanje, waarvan meer as 6 000 gewone pioniers is.

Van 3 tot 7 September 1941 het ons, met die hulp van Jehovah se gees, reggekry wat staatsamptenare “onmoontlik” genoem het. Ons het die grootste byeenkoms van Jehovah se Getuies gehou wat Brittanje tot op daardie tydstip gesien het. Meer as 12 000 het, te midde van die oorlog, in Leicester se De Montfort-saal en sy omliggende gronde byeengekom. Dit is dieselfde saal wat gebruik is toe die Genootskap se jaarlikse korporasievergadering vir 1983 in Leicester gehou is. By daardie geleentheid het meer as drieduisend van ons oor die byeenkomsondervindinge in die oorlogsjaar 1941 gesels.

Tydens die oorlog het die Londense kantoor ’n vlugtelingsentrum geword. Die telefoon het aanhoudend gelui. ’n Noodlenigingsfonds is gestig sodat broers wat hulle wonings in bomaanvalle verloor het onmiddellik hulp kon ontvang. Broers wat vlugtelinge uit Pole, Duitsland, Noorweë, Frankryk, België, Nederland en ander plekke was, het eweneens na Londen gekom waar hulle hulp ontvang het. Baie van hulle het die pionierdiens in Brittanje betree.

Persona non grata

Toe die Verenigde State op 8 Desember 1941 tot die oorlog toegetree het, het ek onmiddellik die vrystelling van verpligte Britse militere diens verloor wat ek as Amerikaanse burger geniet het. Weens my standpunt ten opsigte van Christelike neutraliteit kon ek nie die Britse regering se verskillende bevele in verband met militere diens gehoorsaam nie. Uiteindelik het die Britse regering my op 6 Mei 1942 in kennis gestel dat ek persona non grata is en het hulle my derhalwe aangesê om na die Verenigde State terug te keer. Op 1 Augustus het my foto saam met die artikel “Hulle het vir hom gesê: ‘Gaan huis toe’” op die voorblad van Londen se Daily Herald verskyn.

Op Maandagoggend, 24 Augustus 1942, het twee speurders van Scotland Yard my gearresteer om my te deporteer. Hulle het my per trein na Glasgow, Skotland, geneem waar ek oornag in die Middeleeuse Barlinnie-gevangenis aangehou is. Die volgende dag het ’n wag my aan boord van die Britse kruiser S.S. Hilary geneem, waar ek onder bewaking gebly het. Dit het 13 dae geduur voor ons konvooi van 52 skepe, wat sigsagsgewys gevaar het om Duitse duikbote te ontwyk, die Atlantiese Oseaan oorgesteek het. Ons het hulle torpedo’s vrygespring en veilig in Halifax, Kanada, aangekom! Ek is toe vrygelaat en het die volgende dag per trein na New York gereis, waar ek op 10 September gearriveer het.

Vredestydperk word merkwaardig voorspel

Dit was vir my ’n groot vreugde om na die talle hartlike broers by die Brooklyn-Bethel terug te keer. Ek was betyds om van 18-20 September 1942 die geskiedkundige byeenkoms in Cleveland, Ohio, by te woon. Daar het broer N. H. Knorr, die Genootskap se nuwe president, die toespraak “Vrede—Kan dit voortduur?” gehou. Dit het nuwe lig op Openbaring 17:8 gewerp. Daar is getoon dat die Geallieerdes sou seëvier en dat ’n nuwe internasionale “vredesdier” sou verrys. Dit het wel plaasgevind toe die Verenigde Volke na afloop van die oorlog in 1945 georganiseer is!

Wagtoring-Bybelskool Gilead

Na die Wagtoringgenootskap se jaarlikse korporasievergadering op 1 Oktober 1942 het broer Knorr, as president, vir my, Maxwell G. Friend en Eduardo F. Keller na sy kantoor laat roep. Hy het ons meegedeel dat ’n besluit daardie oggend geneem is om ’n sendingbybelskool op Kingdom Farm, South Lansing, New York, te stig. Hy het gesê dat ek die skoolregistrateur sou wees en as voorsitter moes dien van die komitee wat die skool moes organiseer. Ons het saam met broer F. W. Franz gewerk om die puik Bybelkursusse op te stel. Sedert daardie begin werk ek al lank en gelukkig saam met hom om Bybelonderrig te bevorder.

Op Maandagoggend, 1 Februarie 1943, het broer Knorr die amptelike toewyding behartig van wat nou bekend is as die Wagtoring-Bybelskool Gilead, wat op Kingdom Farm naby South Lansing, New York, geleë was. Na die toewydingsprogram het die skoolsessies in die vier klaskamers begin, met 25 studente in elk. Die kursus in gevorderde Christenonderrig het 20 weke geduur, en die Bybel was die vernaamste studieboek.

Gelukkige maande, toe gelukkige jare van grondiger Bybelstudie was die seën wat my te beurt geval het. Saam met ander toegewyde instrukteurs was ek Jehovah dankbaar vir hierdie voorreg om sulke toegewyde studente wat Jehovah en sy werk liefhet te onderrig en hulle harte te beweeg! Tot en met 1960 het 3 700 studente uit 70 lande gekom om ons skoolklasse te verryk.

Die getroude lewe

Terwyl ek in 1955 die “Triomfantlike Koninkryk”-streekbyeenkomste in Europa bygewoon het, het ek weer dierbare Charlotte Bowin ontmoet wat in 1943 een van my studente in die eerste Gileadklas was. Sy het 12 jaar lank as ’n getroue sendeling in Spaanse gebied, met inbegrip van Mexiko en El Salvador, gedien. Nou het sy saam met haar maat, Julia Clogston, hierdie Europese byeenkomste bygewoon. Terloops, Charlotte se ouers was reeds in broer Russell se tyd lede van die Bethelgesin in Brooklyn, toe hulle albei ongetroud was. Toe hulle daarna getroud is, het Martin Bowin as reisende opsiener gedien totdat Charlotte in 1920 gebore is.

In Januarie 1956 het Charlotte die Betheldiens betree en is sy na Kingdom Farm oorgeplaas. Ons is in Augustus 1956 getroud. Toe Charlotte swanger raak, was ons terneergedruk en het ons gedink dat dit ons voltydse diens sou beëindig. Broer Franz het ons egter moed ingepraat en gesê: “Julie het nie gesondig deur die baarmoeder vrugbaar te maak nie. Skep moed! Dalk reël Jehovah dat julle op die een of ander manier in die voltydse diens kan voortgaan.”

Dit was ook so. Ek kon as instrukteur by Gileadskool aanbly. Ons het eers in ’n huurwoonstelletjie gewoon, en toe het ons in 1962 in ’n pasgeboude huis ingetrek wat omtrent 1,6 kilometer van die skool af was. Ons seun Judah Ben, wat in Februarie 1958 gebore is, het sy jeugjare daar in South Lansing, New York, deurgebring.

Judah Ben se opvoeding het ons groot vreugde verskaf, omdat ons altyd probeer het om Bybelbeginsels toe te pas (Efesiërs 6:1-4). Hy is aangespoor om Miga 6:8 na te leef, net soos ek gestrewe het om daardie teks in my lewe toe te pas. Judah het later ’n derdegeslag-Betheliet geword en het 12 jaar lank in Bethel gedien. In Junie 1986 is hy met ’n lieflike pioniersuster, Amber Baker, getroud. Hulle doen nou pionierdiens in Michigan.

Die skool vir ouere manne

Tydens die 1958-byeenkoms in die Yankee-stadion het broer Knorr die opening van ’n nuwe skool vir ouere manne aangekondig wat as die Koninkryksbedieningskool bekend sou staan. Op 9 Maart 1959 het die eerste klas wat uit 25 studente bestaan het sy vier week lange kursus op Kingdom Farm begin, waar die Gileadskool reeds gefunksioneer het. Toe Gileadskool in September 1960 na Brooklyn verskuif is, het die Koninkryksbedieningskool op Kingdom Farm agtergebly, waar ons maandeliks honderd ouere manne kon oplei. Die feit dat ek ’n vader was, het my gehelp om die gesinshoofde wat die nuwe skool bygewoon het op te lei.

Hierdie skool is in 1967 na Bethel in Brooklyn verskuif. Daarna is dit in 1968 na Pittsburgh verskuif waar duisende bekwame ouere manne tot in 1974 opleiding ontvang het. Die skool is sedert 1974 in verskillende Koninkryksale dwarsdeur die land gehou. My vrou en seun het my vergesel wanneer ek na hierdie verskillende plekke gereis het. Hulle het pionierdiens gedoen terwyl ek as ’n skoolinstrukteur gedien het.

Verdere diens aan die Koning

Terwyl ek in November 1974 ’n instrukteur was van die Koninkryksbedieningskool in my tuisstad Saginaw, Michigan, het ek ’n onvergeetlike brief van die Bestuursliggaam ontvang. Dit het my genooi om ’n lid van daardie liggaam te word en ook my vrou en seun genooi om as lede van die Bethelgesin in Brooklyn te dien. Op 18 Desember 1974 het ons dus by Bethel ingetrek en het ek my nuwe diensvoorregte aangepak.

Die Bestuursliggaam werk eensgesind saam om die wêreldwye bedrywighede van Jehovah se Getuies te rig, die geestelike voedsel vir ons progressiewe voorligting te publiseer en om regterlike beslissings te neem. Die Bestuursliggaam vergader elke Woensdag en open die vergadering met gebed waarin hulle om die leiding van Jehovah se gees vra. Hulle span hul in om te sorg dat elke saak wat behandel en elke besluit wat geneem word met God se Woord die Bybel strook.

As lid van die Bestuursliggaam is ek uitgestuur om verskillende takke as ’n soneopsiener te besoek. Dit het my hart warm laat klop om persoonlik die eenheid van Jehovah se volk in soveel lande te ondervind. Dit verskaf my ook groot vreugde om weer die talle Gileadsendelinge te ontmoet wat steeds getrou in hulle buitelandse toewysings dien. Jehovah se volk is inderdaad in elke land die beste en die gelukkigste mense!

Deur middel van Die Wagtoring en ander Bybelpublikasies voed Jehovah sy volk gelyktydig met geestelike voedsel. Al hierdie dinge bewys dat Christus Jesus sedert 1914 ons heersende Koning is en dat hy ons met welslae deur die “groot verdrukking” wat net voor die deur lê, sal lei. Ten slotte wil ek aan julle almal wat jonk is, sê: Wees verstandig en bou nóú ’n loopbaan van voltydse, heilige diens! Opwindende voorregte sal eweneens op julle wag (Miga 7:7). Ek verheug my in Jehovah se wonderlike sorg deur die afgelope dekades. Sy seëninge het my waarlik ryk gemaak (Spreuke 10:22). Ek is Jehovah elke dag dankbaar vir die voorregte wat ek geniet terwyl ek hom in sy geesgerigte organisasie dien.—Openbaring 7:14.

[Prent op bladsy 12]

Met my maat Bill Elrod

[Prent op bladsy 15]

Ek word per trein na die Barlinnie-gevangenis geneem

[Prent op bladsy 17]

Met my vrou Charlotte

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel