Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 4/15 bl. 26-31
  • Dissipline wat ’n vredevolle vrug kan lewer

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Dissipline wat ’n vredevolle vrug kan lewer
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom hierdie ferm standpunt?
  • Moet hy heeltemal afgesny word?
  • Wat van familielede?
  • Die hof se beslissing
  • Dissipline—Talle vind daarby baat
  • Toon Christelike lojaliteit wanneer ’n familielid uitgesit is
    Ons Koninkryksbediening—2002
  • Hoe om ’n uitgesette persoon te behandel
    ‘Hou julle in God se liefde’
  • Waarom uitsetting ’n liefdevolle voorsiening is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Wanneer ’n geliefde Jehovah verlaat
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 4/15 bl. 26-31

Dissipline wat ’n vredevolle vrug kan lewer

“Nou lyk elke [dissipline] of dit op die oomblik nie ’n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ’n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.”—HEBREËRS 12:11, vgl. NW.

1, 2. (a) Wat voorsien God liefdevol volgens Hebreërs 12:9-11? b) Wat is een voorbeeld van dissipline, en waartoe kan dit lei?

DINK terug aan jou kinderdae. Kan jy onthou dat jou ouers jou gedissiplineer het? Die meeste van ons kan. Die apostel Paulus het dit as ’n voorbeeld gebruik toe hy in Hebreërs 12:9-11 kommentaar gelewer het oor dissipline van God af.

2 God se vaderlike dissipline wat ons geestelike lewe kan raak, kan baie vorms aanneem. Een daarvan is sy reëling om ’n persoon wat nie meer God se standaarde wil naleef nie of wat weier om dit te doen uit die Christengemeente uit te sluit. ’n Persoon wat aldus streng getugtig of gedissiplineer word, sal dalk berou toon en hom bekeer. Die gemeente van lojale knegte word terselfdertyd ook gedissiplineer in die opsig dat hulle leer hoe belangrik dit is om aan God se hoë standaarde te voldoen.—1 Timotheüs 1:20.

3. Hoe reageer sommige op die gedagte van uitsetting?

3 ‘Maar’, vra iemand dalk, ‘is dit nie hardvogtig om die persoon uit te sit en dan te weier om met hom te praat nie?’ Hierdie beskouing het opgeduik in ’n onlangse hofsaak waarby ’n vrou betrokke was wat grootgemaak is deur ouers wat Jehovah se Getuies was. Haar ouers is uitgesit. Sy is nie, maar sy het haarself uit vrye wil gedissosieer deur ’n brief te skryf waarin sy haar aan die gemeente onttrek. Die gemeente is dus bloot ingelig dat sy nie meer een van Jehovah se Getuies is nie. Sy het verhuis, maar het jare later teruggekeer en gevind dat plaaslike Getuies nie met haar wou praat nie. Sy het derhalwe die saak hof toe geneem. Wat was die uitslag, en hoe kan dit jou raak? Kom ons kyk wat sê die Bybel omtrent die verwante onderwerp, naamlik uitsetting, ten einde die saak behoorlik te verstaan.

Waarom hierdie ferm standpunt?

4. Wat gebeur af en toe met party in die gemeente? (Galasiërs 6:1; Judas 23)

4 Die meeste ware Christene ondersteun God en sy regverdige wette lojaal (1 Thessalonicense 1:2-7; Hebreërs 6:10). Maar af en toe wyk iemand van die weg van die waarheid af. Hy oortree dalk God se wette ondanks hulp van Christen- ouere manne en is onberouvol. Of hy verwerp moontlik die geloof deur valse leerstellings te verkondig of deur homself van die gemeente te dissosieer. Wat moet dan gedoen word? Sulke dinge het plaasgevind selfs terwyl die apostels gelewe het; laat ons dus kyk wat hulle hieromtrent geskryf het.

5, 6. (a) Watter wyse raad het ons oor hoe om diegene te behandel wat ernstige sondes begaan en onberouvol is? (Mattheüs 18:17). (b) Voor watter vrae kom ons te staan?

5 Toe ’n man in Korinthe hom aan onsedelikheid skuldig gemaak het en onberouvol was, het Paulus vir die gemeente gesê: “[Moenie omgaan] met iemand wat, al staan hy as ’n broeder bekend, ’n hoereerder is of ’n gierigaard of ’n afgodedienaar of ’n kwaadspreker of ’n dronkaard of ’n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie” (1 Korinthiërs 5:11-13). Dieselfde moes vir afvalliges, soos Himeneüs, geld: “Aan ’n man wat partyskap verwek [“’n sekte bevorder”, NW], moet jy jou onttrek ná die eerste en tweede vermaning, wetende dat so iemand op ’n verkeerde pad is en sonde doen” (Titus 3:10, 11; 1 Timotheüs 1:19, 20). Hierdie vermyding sou ook gepas wees vir enigiemand wat die gemeente verwerp: “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.”—1 Johannes 2:18, 19.

6 Hopelik sal so iemand berou toon sodat hy weer aanvaar kan word (Handelinge 3:19, vgl. NW). Maar mag Christene intussen beperkte omgang met hom hê of is dit nodig om hom heeltemal te vermy? En, indien wel, waarom?

Moet hy heeltemal afgesny word?

7. Hoe sal ons gedrag ten opsigte van twee klasse sondaars verskil?

7 Christene hou hulle nie afsydig van mense nie. Ons het normale kontak met bure, medewerkers, skoolmaats en ander, en getuig vir hulle al is sommige ‘hoereerders, gierigaards, rowers of afgodedienaars’. Paulus het geskryf dat ons hulle nie heeltemal kan vermy nie, ‘want dan sou ons uit die wêreld moes uitgaan’. Maar hy het gewys dat dit anders moes wees met “’n broeder” wat so gelewe het: “[Moenie omgaan] met iemand wat, al staan by as ’n broeder bekend, [weer sulke dinge doen] nie; met so iemand moet julle selfs nie scam eet nie.”—1 Korinthiërs 5:9-11; Markus 2:13-17.

8. Watter raad het die apostel Johannes oor vermyding gegee?

8 In die apostel Johannes se geskrifte vind ons soortgelyke raad wat beklemtoon hoe volkome Christene sulke persone moet vermy: “Elkeen wat ’n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. . . . As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet [Grieks, khaiʹro], het gemeenskap aan sy bose werke.”a—2 Johannes 9-11.

9, 10. (a) Wat het met onberouvolle wetsoortreders in Israel gebeur, en waarom? (b) Hoe moet ons voel oor die hedendaagse reëling vir optrede teenoor persone wat weens onberouvolle sonde uitgesit word? (2 Petrus 2:20-22)

9 Waarom is so ’n onversetlike standpunt selfs vandag gepas? Wel, dink terug aan die streng afsnyding wat God se Wet aan Israel vereis het. In verskeie ernstige sake is moedswillige oortreders tereggestel (Levitikus 20:10; Numeri 15:30, 31). Wanneer dit gebeur het, kon ander, selfs familielede, nie meer met die dooie wetsoortreder praat nie (Levitikus 19:1-4; Deuteronomium 13:1-5; 17:1-7). Hoewel lojale Israeliete destyds normale mense was met emosies soos ons s’n, het hulle geweet dat God regverdig en liefdevol is en dat sy Wet hulle sedelike en geestelike reinheid beskerm het. Hulle kon dus aanvaar dat sy reëling om oortreders af te sny in wese goed en reg was.—Job 34:10-12.

10 Ons kan net so seker wees dat God se reëling dat Christene weier om met iemand om te gaan wat weens onberouvolle sonde uitgesit is ’n wyse beskerming is: “Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ’n nuwe deeg kan wees—soos julle inderdaad ongesuurd is” (1 Korinthiërs 5:7). Deur ook persone te vermy wat hulleself met voorbedagte rade gedissosieer het, word Christene teen moontlike kritiese, ondankbare of selfs afvallige beskouings beskerm.—Hebreërs 12:15, 16.

Wat van familielede?

11, 12. (a) Watter uitwerking het dit op Israelitiese familielede gehad wanneer ’n oortreder afgesny is? (b) Lig die voordele van gehoorsaamheid toe.

11 God besef beslis dat gehoorsaamheid aan sy regverdige wette oor die afsnyding van oortreders dikwels familielede insluit en raak. Soos hierbo gemeld, was familie-omgang nie meer moontlik wanneer ’n Israelitiese oortreder tereggestel is nie. Trouens, as ’n seun ’n dronkaard en ’n vraat was, moes sy ouers hom voor die regters bring, en as hy onberouvol was, moes hulle aan sy regverdige teregstelling deelneem, ‘om die kwaad uit Israel se midde uit te roei’ (Deuteronomium 21:18-21). Jy kan besef dat dit nie vir hulle maklik kon gewees het nie. Stel jou ook voor hoe die oortreder se broers, susters of grootouers gevoel het. Tog kon dit hulle lewe gered het as hulle lojaliteit teenoor hulle regverdige God bo liefde vir die familie gestel het.

12 Dink terug aan die geval van Korag, wat ’n leier was in ’n opstand teen God se leiding deur Moses. Jehovah het in sy volmaakte regverdigheid gesien dat Korag moes sterf. Maar alle lojale persone is aangeraai: “Verwyder julle tog van die tente van hierdie goddelose manne en raak nie aan iets wat aan hulle behoort nie, dat julle nie weens al hulle sondes omkom nie.” Familielede wat nie op God se waarskuwing ag geslaan het nie, het saam met die rebelle gesterf. Maar sommige van Korag se familielede het wyslik gekies om lojaal teenoor Jehovah te wees, en dit het tot die behoud van hulle lewens en tot toekomstige seëninge gelei.—Numeri 16:16-33; 26:9-11; 2 Kronieke 20:19.

13. Hoe sal lojale Christene reageer wanneer ’n naverwant uitgesit word of homself dissosieer?

13 Afsnyding van die Christengemeente beteken nie onmiddellike dood nie, en familiebande duur dus voort. ’n Man wat uitgesit word of homself dissosieer, kan derhalwe steeds by die huis saam met sy Christenvrou en getroue kinders woon. Respek vir God se oordele en die gemeente se optrede sal die vrou en kinders laat besef dat hy deur sy handelwyse die geestelike band wat tussen hulle bestaan het, verbreek het. Maar aangesien sy uitsetting nie hulle bloedverwantskap of huweliksband verbreek het nie, kan hulle normale gesinsliefde en -omgang voortduur.

14. Watter goddelike raad moet ons kontak met ’n uitgesette of gedissosieerde familielid wat nie in die huis woon nie, beïnvloed?

14 Die situasie is anders wanneer die uitgesette of gedissosieerde persoon ’n familielid is wat buite die gesinskring of huis woon. Dit sal dalk moontlik wees om feitlik geen kontak met die familielid te hê nie. Selfs al is daar sommige familiesake wat kontak vereis, moet dit beslis tot ’n minimum beperk word, ooreenkomstig die goddelike beginsel: “[Moenie omgaan] met [enigiemand] wat, al staan hy as ’n broeder bekend, ’n hoereerder is of ’n gierigaard [of aan ’n ander growwe sonde skuldig is] . . . nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie.”—1 Korinthiërs 5:11, vgl. NW.

15. Hoe kan familielede in sulke gevalle die invloed van emosies beheers? (Psalm 15:1-5; Markus 10:29, 30)

15 Dit kan begryplikerwys moeilik wees as gevolg van emosies en familiebande, soos grootouers se liefde vir hulle kleinkinders. Tog is dit ’n toets van lojaliteit teenoor God, soos die suster wat op bladsy 26 aangehaal is, gesê het. Enigiemand wat die hartseer en pyn ondervind wat die uitgesette familielid aldus veroorsaak het, kan vertroosting en bemoediging put uit die voorbeeld wat sommige van Korag se familielede gestel het.—Psalm 84:11-13.b

Die hof se beslissing

16-18. Watter uitspraak is in die voormelde hofsaak gelewer, en watter bykomende mening het die hof uitgespreek?

16 Jy wil dalk weet wat die uitslag was van die hofsaak in verband met ’n vrou wat ontsteld was omdat voormalige kennisse nie met haar wou praat nadat sy die geloof verwerp het deur haarself van die gemeente te dissosieer nie.

17 Voordat die saak voorgekom het, het ’n federale streekhof summier ’n uitspraak teen haar gelewer. Daardie uitspraak is gebaseer op die begrip dat howe nie by die dissiplinêre sake van kerke betrokke raak nie. Sy het toe appèl aangeteken. Die eenparige beslissing van die federale appèlhofc is gebaseer op wyer gronde kragtens die regte wat in die Eerste Amendement (van die Amerikaanse grondwet) vervat word: “Omdat die vermydingsgebruik deel van die geloof van die Jehovahsgetuie uitmaak, bevind ons dat die voorsiening van ‘vrye beoefening’ wat in die grondwet van die Verenigde State vervat is, . . . verhinder dat [sy] seëvier. Die verweerders het ’n voorreg wat deur die grondwet beskerm word, naamlik om die vermydingsgebruik te beoefen. Gevolglik bekragtig ons” die vroeëre uitspraak van die streekhof.

18 Die hof se mening was voorts: “Vermyding is ’n gebruik wat Jehovahsgetuies beoefen ingevolge hulle interpretasie van die kanonieke teks, en ons kan daardie teks nie hervertolk nie . . . Die verweerders is geregtig op die vrye beoefening van hulle godsdiensoortuiginge . . . Howe ondersoek gewoonlik nie die verhouding tussen lidmate (of gewese lidmate) van ’n kerk noukeurig nie. Kerke word groot speling gegee wanneer hulle lidmate of gewese lidmate aan dissipline onderwerp. Ons is dit eens met die beskouing van regter Jackson [’n voormalige regter van die Amerikaanse Hooggeregshof] dat ‘godsdiensbedrywighede waarby slegs lidmate van die geloof betrokke is, vry is en behoort te wees—so na aan volkome vry as wat enigiets kan wees’ . . . Die lidmate van die Kerk wat [sy] besluit het om te verlaat, het besluit dat hulle nie meer met haar wil omgaan nie. Ons beslis dat hulle vry is om daardie keuse te doen.”

19, 20. Waarom is ’n persoon wat van die gemeente afgesny is nie by magte om in die hof skadevergoeding te eis nie?

19 Die appèlhof het erken dat selfs al was die vrou ontsteld omdat voormalige kennisse nie met haar wil praat nie dit “die Jehovahsgetuies se vrye beoefening van godsdiens ongrondwetlik sou beperk as sy toegelaat sou word om skadevergoeding vir ontasbare of emosionele skade te eis . . . Die grondwetlike waarborg van die vrye beoefening van godsdiens vereis dat die gemeenskap die soort skade wat [sy] gely het, duld as ’n prys wat ons gerus kan betaal om die reg op godsdiensverskil te beveilig, ’n reg wat alle burgers geniet.” Hierdie uitspraak is in sekere sin selfs verder bekragtig sedert dit gelewer is. Hoe? Die vrou het later die hoogste hof in die land versoek om die saak te verhoor en moontlik die uitspraak teen haar ter syde te stel. Maar in November 1987 het die Amerikaanse Hooggeregshof geweier om dit te doen.

20 Hierdie belangrike hofsaak het derhalwe bepaal dat ’n uitgesette of gedissosieerde persoon nie in ’n geregshof skadevergoeding van Jehovah se Getuies kan eis omdat hy vermy word nie.d Aangesien die gemeente op die volmaakte riglyne wat ons almal in God se Woord kan lees, ag geslaan en dit toegepas het, ervaar die persoon ’n verlies wat deur sy of haar eie handelwyse veroorsaak is.

Dissipline—Talle vind daarby baat

21. Waarom is ’n gebalanseerde beskouing van uitsetting nodig?

21 Sommige buitestaanders wat van uitsetting hoor, is geneig om te simpatiseer met ’n oortreder wat nie meer met lede van die Christengemeente kan praat nie. Maar is sulke simpatie nie misplaas nie? Kyk hoe die oortreder en ander daarby kan baat vind.

22, 23. Lig toe hoe belangrik en waardevol dit is om God in ons beskouing van uitgesette persone te gehoorsaam.

22 Ons het byvoorbeeld op bladsy 26 Lynette se kommentaar gemeld oor haar besluit ‘om haarself heeltemal af te sny van enige omgang’ met haar uitgesette suster Margaret. Sy en haar Christenfamilielede ‘het geglo dat Jehovah se manier die beste is’. En dit is!

23 Lynette se suster het later vir haar gesê: ‘Ek weet dat as julle die uitsetting lig opgeneem het, ek nie so gou stappe sou gedoen het om herstel te word nie. Die feit dat ek geheel en al van geliefdes en van noue kontak met die gemeente afgesny was, het ’n sterk begeerte by my gewek om berou te toon. Ek het besef hoe verkeerd my handelwyse was en hoe ernstig dit was om Jehovah die rug toe te keer.’

24. Hoe het ’n suster se reaksie op uitsetting haar en ander geraak?

24 In ’n ander geval is Laurie se ouers uitgesit. Maar sy sê: ‘My omgang met hulle het nooit opgehou nie maar toegeneem. Met verloop van tyd het ek al hoe onbedrywiger geword. Ek het die punt bereik waar ek nie eers vergaderinge bygewoon het nie.’ Toe het sy inligting in Die Wagtoring van 15 November en 1 Desember 1981 gelees wat die raad in 1 Korinthiërs 5:11-13 en 2 Johannes 9-11 beklemtoon het. “Dit was asof ’n lig vir my opgegaan het”, skryf sy. ‘Ek het geweet dat ek veranderinge sou moes aanbring. Ek verstaan die betekenis van Mattheüs 10:34-36 nou beter. Dit was nie vir my familie maklik om my besluit te aanvaar nie, want my vyfjarige seuntjie is die enigste seun, en hulle het hom baie lief.’ Die verlies van hierdie omgang sal hopelik die ouers se hart raak, soos dit Margaret se hart geraak het. Hierdie dissipline het Laurie nietemin gehelp: ‘Ek neem weer aan die veldbediening deel. My huwelik en gesin is sterker danksy my verandering, en ek is ook sterker.’

25. Hoe het ’n herstelde persoon God se dissipline beskou?

25 Of beskou die gevoelens van iemand wat uitgesit en later herstel is. Sandi het geskryf: ‘Ek wil julle bedank vir die uiters nuttige en leersame artikels [soos hierbo gemeld] oor teregwysing en uitsetting. Ek is bly dat Jehovah sy volk lief genoeg het om toe te sien dat sy organisasie rein gehou word. Wat vir buitestaanders hardvogtig lyk, is nodig asook werklik liefdevol. Ek is dankbaar dat ons hemelse Vader ’n liefdevolle en vergewensgesinde God is.’

26. Watter regverdige vrug kan dit lewer as ’n mens dissipline aanvaar? (Psalm 94:10, 12)

26 Ons God wat vereis dat ’n onberouvolle oortreder uit die gemeente gesit word, toon dus ook op liefdevolle wyse dat ’n sondaar in die gemeente herstel kan word as hy berouvol is en tot inkeer kom. (’n Gedissosieerde persoon kan eweneens vra om weer ’n lid van die gemeente te word.) Daarna kan hy vertroos word deur Christene wat hom van hulle liefde sal verseker (2 Korinthiërs 2:5-11; 7:8-13, NW). Dit is waarlik net soos Paulus geskryf het: “Nou lyk elke [dissipline] of dit op die oomblik nie ’n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ’n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.”—Hebreërs 12:11, vgl. NW.

[Voetnote]

a Johannes het khaiʹro hier gebruik, wat ’n groet soos “goeiedag” of “hallo” was (Handelinge 15:23 Mattheüs 28:9). Hy het nie a·spaʹzo·mai (soos in vers 13) gebruik nie, wat beteken “om te omvou in die arms, derhalwe om te groet, om te verwelkom”, en moontlik ’n baie hartlike groet, selfs met ’n omhelsing, geïmpliseer het (Lukas 10:4; 11:43; Handelinge 20:1, 37; 1 Thessalonicense 5:26). Die voorskrif in 2 Johannes 11 kan dus heel moontlik beteken dat ’n mens nie eers vir sulke persone “hallo” moet sê nie.—Kyk Die Wagtoring van 15 Julie 1985, bladsy 31.

b Kyk Die Wagtoring van 1 Desember 1981, bladsye 23-28, vir ’n bespreking van die uitsetting van ’n familielid.

c 819 F.2d 875 (9th Cir. 1987).

d Hoewel verskeie persone ’n geding aanhangig gemaak het, het geen hof ’n uitspraak teen Jehovah se Getuies gelewer weens hulle Bybelse vermydingsgebruik nie.

Gedagtes om te onthou

◻ Op watter maniere kan uitsetting ’n vorm van dissipline wees?

◻ Waarom verskil ’n Christen se optrede teenoor uitgesette persone van sy optrede teenoor sondaars in die wêreld?

◻ Watter Skriftuurlike riglyne moet in gedagte gehou word selfs wanneer ’n familielid uitgesit word?

◻ Tot watter gevolgtrekking het ’n appèlhof gekom in ’n saak wat deur ’n gedissosieerde persoon aanhangig gemaak is?

◻ Wat kan ons uit sommige persoonlike kommentare oor uitsetting leer?

[Venster op bladsy 26]

“Ons lojaliteit teenoor Jehovah se instelling is op die proef gestel toe ons alle omgang met [my uitgesette suster] Margaret moes verbreek. Dit het ons familie die geleentheid gebied om te wys dat ons werklik glo dat Jehovah se manier die beste is.”—Lynette.

[Venster op bladsy 30]

Watter uitwerking het ekskommunikasie?

Engelse geskiedkundige Edward Gibbon het die volgende oor die gepastheid en uitwerking van uitsetting kort na die tyd van die apostels geskryf:

“Dit is die onbetwisbare reg van elke gemeenskap om enige lede daarvan wat die reëls, wat met eenstemmigheid vasgestel is, verwerp of oortree uit te sluit uit omgang met en die voordele van [die gemeenskap]. . . . Die gevolge van ekskommunikasie was van ’n wêreldlike [aardse] sowel as ’n geestelike aard. Die Christen teen wie hierdie uitspraak gelewer is, is enige aandeel in die offer van die getroues ontsê. Die bande van godsdienstige sowel as private vriendskap is verbreek.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel