Die slang word ontmasker
“Op ’n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die HERE te stel, het die Satan ook onder hulle gekom.”—JOB 1:6.
1. (a) Wat is die oorsprong en die betekenis van die naam Satan? (b) Hoeveel keer kom “Satan” in die Skrif voor, en watter vrae ontstaan?
WAT is die oorsprong van die naam Satan? Wat beteken dit? In die Bybelse verband word dit uit die drie Hebreeuse karakters ש (Sin), ט (Tet) en נ (Noen) gevorm. Met hulle vokaaltekens vorm hierdie letters die woord “Satan”, wat volgens vakkundige Edward Langton “afgelei word van ’n grondwoord wat beteken ‘om teë te staan’ of ‘om ’n teëstander te wees of as sodanig op te tree’”. (Vergelyk 1 Petrus 5:8.) Hoewel die naam Satan meer as 50 keer in die Bybel voorkom, kom dit net 18 keer in die Hebreeuse Skrifte voor, en dit slegs in die boeke 1 Kronieke, Job en Sagaria. Die vrae ontstaan dus: Wanneer het die mens bewus geword van Satan se opstand en bedrywighede? Wanneer word Satan vir die eerste keer duidelik in die Hebreeuse Skrifte geopenbaar?
2. Watter vraag is nie dadelik na die opstand van Adam en Eva beantwoord nie?
2 Die Bybel verduidelik in eenvoudige maar indringende terme hoe sonde en opstand op die aarde ontstaan het in wat ’n paradystuin in die Midde-Ooste was. (Kyk Genesis, hoofstukke 2 en 3.) Hoewel die aanstigter van Adam en Eva se ongehoorsaamheid as ’n slang geïdentifiseer word, word geen onmiddellike leidraad gegee oor wie die werklike mag en intelligensie agter die stem was wat deur die slang geuiter is nie. Adam het nietemin baie tyd gehad om na te dink oor die gebeure in Eden wat tot sy uitsetting uit die paradyspark gelei het.—Genesis 3:17, 18, 23; 5:5.
3. Hoe het Adam gesondig hoewel hy nie bedrieg is nie, en wat was die gevolg vir die mensdom?
3 Adam het klaarblyklik geweet dat diere nie met menslike intelligensie praat nie. Hy het ook geweet dat God nie deur enige dier met hom gepraat het voor Eva versoek is nie. Wie het dus vir sy vrou gesê om aan God ongehoorsaam te wees? Paulus sê dat Adam nie bedrieg is nie hoewel die vrou terdeë bedrieg is (Genesis 3:11-13, 17; 1 Timotheüs 2:14). Adam het moontlik besef dat die een of ander onsigbare wese ’n alternatief vir gehoorsaamheid aan God gebied het. Hoewel hý nie deur die slang genader is nie, het hy nietemin gekies om saam met sy vrou ongehoorsaam te wees. Adam se doelbewuste en opsetlike daad van ongehoorsaamheid het die gietvorm van volmaaktheid gebreek, die gebrek sonde ingebring en tot die voorspelde doodsvonnis gelei. En so het die Satan, deur die slang as werktuig te gebruik, die eerste mensemoordenaar geword.—Johannes 8:44; Romeine 5:12, 14.
4, 5. (a) Watter profetiese oordeel is teen die slang uitgespreek? (b) Watter raaisels is deur daardie profesie omvat?
4 Die opstand in Eden het tot ’n profetiese oordeel van God gelei. Daardie oordeel het ’n “verborgenheid” ingesluit wat eers duisende jare later heeltemal openbaar gemaak sou word. God het vir die slang gesê: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.”—Efesiërs 5:32; Genesis 3:15.
5 Hierdie uiters belangrike profesie omvat etlike raaisels. Wie is werklik met “die vrou” bedoel? Was dit Eva of was dit ’n simboliese vrou van groter belang as Eva? En wat is met ‘die saad van die vrou’ en ‘die saad van die slang’ bedoel? En wie presies was die slang wie se saad in vyandskap met die vrou se saad sou verkeer in werklikheid? Soos ons weldra sal bespreek, het Jehovah blykbaar besluit dat hierdie vrae ’n vollediger antwoord op Sy bestemde tyd sou kry.—Vergelyk Daniël 12:4 en Kolossense 1:25, 26.
Verdere bewys van opstand in die hemele
6. Watter geval van opstand was daar kort voor die Vloed in die hemele?
6 Namate Bybelgeskiedenis hom ontvou, word nog ’n geval van opstand by ’n hoër lewensvorm as die mens onthul. Dit was kort voor die Vloed, sowat 1 500 jaar na die mens se sondeval. Die Bybelverslag vertel ons dat ‘die seuns van die ware God gesien het dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het’. Die basternageslag van hierdie onnatuurlike verbintenisse het bekend gestaan as “Nefilim”, “die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam”. (Genesis 6:1-4, vgl. NW; vergelyk Job 1:6 vir die identiteit van “die seuns van God”.) Ongeveer 2 400 jaar later het Judas kortliks oor hierdie gebeurtenis kommentaar gelewer toe hy geskryf het: “En die engele wat . . . hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar.”—Judas 6; 2 Petrus 2:4, 5.
7. Watter interessante verswyging is daar in baie van die geskiedkundige boeke van die Bybel ondanks die mens se boosheid?
7 Op hierdie tydstip voor die Vloed was “die boosheid van die mens op die aarde groot . . . en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg”. Satan is nogtans nie spesifiek in die geïnspireerde boek Genesis as die kragtige invloed agter die engele se opstand en die mens se goddeloosheid geïdentifiseer nie (Genesis 6:5). Dwarsdeur die geskiedenis van die nasies van Israel en Juda, waartydens hulle voortdurend in afgodediens en valse aanbidding verval het, word Satan inderdaad nooit in die geïnspireerde Bybelboeke Rigters, Samuel en Konings gemeld as die onsigbare invloed agter hierdie gebeure nie—dit ondanks Satan se eie erkenning dat by op “’n swerftog oor die aarde” was.—Job 1:7; 2:2.
8. Was Job aanvanklik bewus van die rol wat Satan by sy lyding gespeel het? Hoe weet ons?
8 Selfs wanneer ons die betekenisvolle verslag van Job en sy beproewinge beskou, sien ons dat Job nooit sy toetse aan die teëstander, Satan, toegeskryf het nie. Hy was blykbaar op daardie tydstip onbewus van die geskil wat deur die afloop van sy gedrag beïnvloed sou word (Job 1:6-12). Hy het nie besef dat Satan die krisis ontketen het deur Job se onkreukbaarheid voor Jehovah in twyfel te trek nie. Toe Job se vrou hom dus bestraf het met die woorde: “Bly jy nog steeds vroom? Vervloek God en sterf!” het hy eenvoudig geantwoord: “As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?” Omdat hy nie geweet het wat die werklike bron van sy beproewinge was nie, het hy blykbaar gemeen dat dit van God kom en derhalwe iets is wat aanvaar moet word. Dit het derhalwe ’n baie strawwe toets van Job se onkreukbaarheid geword.—Job 1:21; 2:9, 10, NAV.
9. Watter redelike vraag kan ten opsigte van Moses geopper word?
9 Nou ontstaan ’n vraag. Waarom het Moses, as hy, soos ons glo, die boek Job geskryf en derhalwe geweet het dat Satan oor die aarde rondgeswerf het, Satan nie in een van die boeke van die Pentateug, wat hy ook geskryf het, by name genoem nie? Ja, waarom word Satan so selde in die Hebreeuse Skrifte vermeld?a
Satan weinig vermeld
10. Hoe het Satan net weinige vermelding in die Hebreeuse Skrifte ontvang?
10 Hoewel Jehovah demongeïnspireerde bedrywighede veroordeel, het hy in sy wysheid blykbaar goeie redes gehad om te sorg dat sy Teëstander, Satan, weinig in die Hebreeuse Skrifte vermeld word (Levitikus 17:7; Deuteronomium 18:10-13; 32:16, 17; 2 Kronieke 11:15). Ofskoon die Hebreeuse skrywers iets van Satan en sy opstandige rol in die hemele moes geweet het, is hulle geïnspireer om slegs die sondes van God se volk en die nasies om hulle te omskrywe en bloot te lê en waarskuwings oor hulle goddeloosheid te gee (Exodus 20:1-17; Deuteronomium 18:9-13). Satan se naam is selde genoem.
11, 12. Hoe weet ons dat die Hebreeuse Bybelskrywers nie onbekend was met Satan en sy invloed nie?
11 Met die oog op die gebeure in Eden, die verlaging van “die seuns van God” en die verslag in die boek Job, was die geïnspireerde Hebreeuse Bybelskrywers nie onbekend met die bose, bonatuurlike invloed van Satan nie. Die profeet Sagaria, wat in die laat sesde eeu v.G.J. geskryf het, het ’n gesig gehad van die hoëpriester Josua waar “Satan aan sy regterhand staan om hom aan te klae. Toe sê [die engel van] die HERE aan die Satan: Mag die HERE jou bestraf o Satan! Ja, mag die HERE . . . jou bestraf!” (Sagaria 3:1, 2, vgl. NW). Die skrywer Esra, wat die geskiedenis van Israel en Juda in die vyfde eeu v.G.J. geskryf het, het insgelyks gesê dat “Satan teen Israel opgetree en Dawid aangehits [het] om Israel te tel”.—1 Kronieke 21:1.
12 Teen Sagaria se tyd het die heilige gees derhalwe Satan se rol in die Skrif duideliker laat word. Maar nog vyf eeue sou verstryk voor hierdie bose wese heeltemal in die Woord van God aan die kaak gestel sou word. Watter rede lei ons aan die hand van die Bybel af vir hierdie tydsbepaling vir die volle onthulling van Satan?
Die sleutel tot die raaisel
13-15. (a) Watter fundamentele waarhede is die sleutel om te verstaan waarom Satan selde in die Hebreeuse Skrifte vermeld word? (b) Hoe het die koms van Jesus Satan op die voorgrond laat tree?
13 Vir die Christen met geloof in God se Woord word die basiese sleutel tot hierdie en vorige vrae wat ons geopper het nie in hoer kritiek gevind, asof die Bybel bloot ’n literêre meesterstuk, uitsluitlik die produk van menslike vernuf, is nie. Die sleutel word in twee fundamentele Bybelwaarhede geopenbaar. Eerstens, soos koning Salomo geskryf het: “Die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe.” (Spreuke 4:18; vergelyk Daniël 12:4; 2 Petrus 1:19-21.) Die waarheid word geleidelik in God se Woord op God se tyd geopenbaar, ooreenkomstig wat nodig is en sy knegte se vermoë om sulke waarheid in te neem.—Johannes 16:12, 13; vergelyk 6:48-69.
14 Die tweede fundamentele waarheid is vervat in wat die apostel Paulus aan die Christendissipel Timotheüs geskryf het: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering . . . sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Timotheüs 3:16, 17). God se Seun, Jesus, sou Satan aan die kaak stel, en dit sou in die Skrif opgeteken word, sodat die Christengemeente toegerus kan wees om vas te staan teen Satan ter ondersteuning van Jehovah se soewereiniteit.—Johannes 12:28-31; 14:30.
15 Op hierdie gronde is die raaisels van Genesis 3:15 geleidelik geopenbaar. Onder die leiding van God se heilige gees, of werkende krag, het die Hebreeuse Skrifte straaltjies lig op die toekomstige Messias, of Saad, gewerp (Jesaja 9:5, 6; 53:1-12). Terselfdertyd het dit flitse oor die rol van Satan as die Teëstander van God en die vyand van die mensdom bevat. Maar die koms van Jesus het Satan heeltemal op die voorgrond laat tree toe hy openlik en regstreeks teen die beloofde Saad, Jesus Christus, opgetree het. Namate gebeure in daardie eerste eeu van die Christelike era ontwikkel het, is die rolle van “die vrou”, Jehovah se hemelse geesorganisasie, en van die Saad, Jesus Christus, in die Christelike Griekse Skrifte opgeklaar. Terselfdertyd is meer lig op die rol van Satan, “die ou slang”, gewerp.—Openbaring 12:1-9; Mattheüs 4:1-11; Galasiërs 3:16; 4:26.
Die verborgenheid geopenbaar
16, 17. Wat het “die verborgenheid van Christus” behels?
16 Die apostel Paulus het baie oor “die verborgenheid van Christus” geskryf (Efesiërs 3:2-4; Romeine 11:25; 16:25). Hierdie verborgenheid het te doen gehad met die ware “saad” wat uiteindelik die ou slang, Satan die Duiwel, sal vermorsel (Openbaring 20:1-3, 10). Die verborgenheid het die feit ingesluit dat Jesus die eerste en vernaamste lid van daardie “saad” was, maar dat ander, “mede-erfgename”, eers uit die Jode en dan uit die Samaritane en die nie-Jode, by hom sou aansluit om daardie “saad” voltallig te maak.—Romeine 8:17; Galasiërs 3:16, 19, 26-29; Openbaring 7:4; 14:1.
17 Paulus verduidelik: “Die verborgenheid . . . wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit nou aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is deur die Gees.” En wat was daardie verborgenheid? “Naamlik dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote van sy belofte in Christus deur die evangelie.”—Efesiërs 3:4-6; Kolossense 1:25-27.
18. (a) Hoe toon Paulus dat tyd nodig was om die betekenis van “die verborgenheid” te openbaar? (b) Hoe sou hierdie openbaring begrip ten opsigte van “die ou slang” raak?
18 Dit het Paulus beïndruk dat hy van alle mense gebruik is om “die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig, en vir almal aan die lig te bring wat die gemeenskap is van die verborgenheid wat van alle eeue af verborge was in God wat alles geskape het”. Of soos hy dit aan die Kolossense gestel het: “Die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges.” As die verborgenheid omtrent die “saad” uiteindelik geopenbaar is, sou dit logieserwys ook die algehele ontmaskering van die groot Teëstander, “die ou slang”, insluit. Jehovah het blykbaar verkies om nie die kollig op die geskil met Satan te werp tot die koms van die Messias nie. En wie beter was daar om Satan te ontmasker as die Saad, Christus Jesus self?—Efesiërs 3:8, 9; Kolossense 1:26.
Jesus stel die Teëstander aan die kaak
19. Hoe het Jesus die Teëstander aan die kaak gestel?
19 Vroeg in sy bediening het Jesus die Versoeker ronduit verwerp met die woorde: “Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien” (Mattheüs 4:3, 10). By ’n ander geleentheid het Jesus sy lasterlike godsdiensvyande wat moorddadige bedoelinge teenoor hom gehad het, ontmasker deur hulle aanstigter te veroordeel en hom aan die kaak te stel as die mag agter die slang in Eden deur te sê: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ’n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar is en die vader daarvan.”—Johannes 8:44.
20. Op grond waarvan kon Jesus Satan ontmasker?
20 Hoe kon Jesus so seker in sy veroordeling van Satan wees? Hoe kon hy hom so goed ken? Omdat hy saam met Satan in die hemele was! Selfs voor daardie een uit trots teen die Soewereine Heer Jehovah in opstand gekom het, het Jesus, as die Woord, hom geken (Johannes 1:1-3; Kolossense 1:15, 16). Hy het sy listige dade deur middel van die slang in Eden aanskou. Hy het sy subtiele invloed op die broedermoordenaar Kain gesien (Genesis 4:3-8; 1 Johannes 3:12). Later was Jesus in Jehovah se hemelse hof teenwoordig “toe die seuns van God kom om hulle voor die HERE te stel, [en] die Satan ook onder hulle gekom [het]” (Job 1:6; 2:1). O, ja, Jesus het hom deur en deur geken en was gereed om hom te ontmasker vir wat hy was—’n leuenaar, ’n moordenaar, ’n lasteraar en ’n teëstander van God!—Spreuke 8:22-31; Johannes 8:58.
21. Watter vrae moet nog beantwoord word?
21 Met so ’n magtige vyand wat die mensdom en sy geskiedenis beïnvloed, is die vrae nou: In watter mate word Satan verder in die Christelike Griekse Skrifte ontmasker? En hoe kan ons sy geslepe planne weerstaan en ons Christelike onkreukbaarheid handhaaf?—Efesiërs 6:11, vgl. Kingdom Interlinear.
[Voetnote]
a Professor Russell sê in sy boek The Devil—Perceptions of Evil From Antiquity to Primitive Christianity: “Die feit dat die Duiwel nie ten volle in die Ou Testament ontwikkel word nie, is nie ’n rede om sy bestaan in hedendaagse Joodse en Christelike teologie te verwerp nie. Dit sou die genetiese dwaalbegrip wees: die idee dat die waarheid van ’n woord—of ’n begrip—in sy vroegste vorm gevind word. Geskiedkundige waarheid is eerder geleidelike ontwikkeling.”—Bladsy 174.
Onthou jy?
◻ Watter raaisels in verband met Genesis 3:15 moes verklaar word?
◻ Watter bewys van opstand in die hemele is daar in die Hebreeuse Skrifte?
◻ Watter twee waarhede help ons om te verstaan waarom Satan selde in die Hebreeuse Skrifte vermeld word?
◻ Wat het “die verborgenheid van Christus” met die openbaring van Satan en sy rol te doen?
[Prente op bladsy 9]
Satan se invloed kon duidelik onder die mense in die antediluviaanse wêreld gesien word
[Prent op bladsy 10]
Dit was Satan—’n werklike persoon—wat God uitgedaag het oor Job se onkreukbaarheid