Die oorlog om ’n einde aan orloë te maak
’N GROOT Duitse zeppelin het deur die naghemel gedreun. Dit was op pad huis toe na ’n aanval op Londen, en terwyl dit oor ’n dorpie in Essex gevlieg het, het dit bomme daarop gegooi. Een daarvan het ’n verpleegster gedood wat uit Frankryk gekom het om haar krygsverlof daar deur te bring.
Hierdie was ’n klein episode van die Eerste Wêreldoorlog, maar dit het groot implikasies ingehou. Dit was ’n voorbeeld van hoe die 20ste eeu, pleks van ’n tyd in te lui wanneer die mens nie ‘meer sal leer om oorlog te voer nie’, ’n geweldige toename in oorlogswapens sowel as die oorlogsarenas gesien het (Jesaja 2:2-4). Duisende fare lank is oorloë op land en op die see-oppervlak gevoer. Maar in die Eerste Wêreldoorlog het die oorlogvoering uitgebrei tot bo in die atmosfeer en diep onder die oppervlak van die see. Gevolglik is burgerlikes wat honderde kilometers van die slagvelde was deur bomme gedood, en talle skepe is deur onsigbare duikbote gekelder.
Trouens, gedurende daardie eerste verskriklike wêreldoorlog het 8 miljoen soldate in die gevegte gesneuwel en nagenoeg 12 miljoen burgerlikes het gesterf aan oorsake wat verhongering en ontbering ingesluit het. Volgens geskiedskrywer H. A. L. Fisher, was “die tragedie van die Groot Oorlog [Eerste Wêreldoorlog]”, “die felt dat dit tussen die mees beskaafde mense in Europa gevoer is oor ’n geskil wat ’n paar verstandige manne maklik kon besleg het”. Die afgryslike slagting is geregverdig deur dit te bestempel as die “oorlog om ’n einde aan oorloë te maak”. Maar daardie uitdrukking het spoedig baie hol begin klink.
’n Vredesorganisasie
Toe daar in 1918 vrede verklaar is, het ’n verbitterde geslag geëis dat stappe gedoen word om te verseker dat daar nooit weer so ’n oorlog sal wees nie. Die Volkebond is dus in 1919 gestig. Maar die Bond was ’n groot teleurstelling. In 1939 is die wêreld weer in ’n wêreldoorlog gedompel—’n oorlog wat selfs dodeliker as die eerste was.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog is talle stede in puin gelê, wat die burgerlike lewe in ’n nagmerrie verander het. Toe is atoombomme in 1945 op Hirosjima en Nagasaki gegooi, wat die mens die kerneeu laat betree het. Die afskuwelike paddastoelwolke wat oor daardie twee Japannese stede verrys het, was voorlopers van ’n bedreiging wat sedertdien oor die mensdom hang.
Maar selfs voor daardie bomme geval het, is voorbereidsels getref om ’n organisasie soos die ontbinde Volkebond te stig. Die resultaat was die Verenigde Volke-Organisasie, wat wesenlik dieselfde doelwit as sy voorganger gehad het—om wêreldvrede te handhaaf. Wat het dit bereik? Wel, daar was sedert 1945 geen wêreldoorlog nie, maar daar was talryke kleiner oorloë waarin miljoene mense gesterf het.
Beteken dit dat die mensdom nooit die vervulling van God se belofte deur Jesaja sal sien nie, naamlik dat mense ‘nie meer sal leer om oorlog te voer nie’? Nee. Dit beteken bloot dat dit nie deur die mens teweeggebring sal word nie. Die Bybel, wat ‘’n lig vir ons pad’ genoem word, is die boek wat daardie geïnspireerde belofte bevat. En dit is die Bybel wat toon dat niemand anders as God self uiteindelik alle oorloë sal laat ophou nie.—Psalm 119:105.
’n Einde aan alle oorloë
Soos die voorafgaande artikel gemeld het, was daar in die eerste eeu ’n groep wat ’n internasionale broederskap tot stand gebring het waarin dit ondenkbaar sou wees dat een lid teen sy broer of suster oorlog voer. Dit was die Christengemeente, wie se lede in ’n baie letterlike sin ‘van hulle swaarde pikke gesmee’ het. Vandag, terwyl die mensdom in sy geheel geen vordering kan maak om oorlog af te skaf nie, is daar weer ’n groep mense wat hierdie einste merkwaardige doelwit bereik het. Wie is hulle?
In die jare voor 1914 het hierdie groepie vertroue in die Bybel gehad. Hulle het gevolglik geweet dat mensepogings om oorlog af te skaf nie sou slaag nie. Uit hulle studie van die Bybel het hulle geleer dat die jaar 1914 ’n keerpunt in die mensegeskiedenis sou wees, en hulle het 40 jaar lank ’n waarskuwing hieroor gegee. Getrou aan Bybelprofesie was 1914 die begin van ’n tydperk wat deur hongersnode, pessiektes en aardbewings, asook oorlog, gekenmerk is (Mattheüs 24:3, 7, 8; Lukas 21:10, 11). Geskiedskrywer James Cameron het aangaande die Eerste Wêreldoorlog geskryf: “In 1914 het die wêreld, soos dit toe bekend was en aanvaar is, tot ’n einde gekom.”
Voordat daardie oorlog geëindig het, het ’n verskriklike griepepidemie op ’n wêreldskaal toegeslaan en 20 miljoen mense gedood—meer as twee keer die getal soldate wat in die oorlog self gesterf het. Sedertdien het siektes soos kanker en, meer onlangs, Vigs die mensdom verskrik.
Let nou op ’n ander Bybelprofesie: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Mattheüs 24:12). Word dit vervul? Gewis! Die media openbaar daagliks wêreldwye wetteloosheid: moorde, straatrowe en algemene oproer. Boonop het ’n politieke voorspelling aangaande die Tweede Wêreldoorlog gesê dat dit “vryheid van vrees” sou bring. Die Bybel het egter akkuraat voorspel dat mense “se harte [sal] beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom” (Lukas 21:26). Mensevoorspellings was weer eens verkeerd en God se profetiese woorde waar.
Die grootste oorlogstoker
’n Oorlogstoker is iemand wat oorlog aanblaas. Politici, geestelikes en selfs sakemanne het hierdie rol gespeel. Maar die grootste oorlogstoker is niemand anders as Satan die Duiwel nie, wat in die Skrif “die god van hierdie wêreld” genoem word.—2 Korinthiërs 4:4.
Satan het duisende jare gelede teen Jehovah God in opstand gekom en het later ’n menigte engele verlei om by hom aan te sluit. Maar in 1914 was sy tyd om. Die Bybel deel ons mee: “Daar het oorlog in die hemel gekom: Migael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.”—Openbaring 12:7-9.
Dit verklaar waarom die aarde sedert 1914 so ’n gevaarlike plek is. Die Bybel het die gevolge van Satan se val voorspel: “Wee die bewoners van die aarde . . . want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:12). Hoe min tyd? Jesus het gesê: “Hierdie geslag [die een wat die gebeure gesien het wat in 1914 begin het] sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie” (Mattheüs 24:34). Watter dinge? AI die rampe en beroeringe wat Jesus vir ons dag voorspel het.
Die Bybel toon egter dat die nasies ondanks die volslae mislukking van die Volkebond en die hedendaagse onvermoë van die Verenigde Volke-Organisasie nie hulle pogings om vrede te bewerkstellig sal laat vaar nie. Trouens, die tyd sal kom wanneer hulle sal dink dat hulle daarin geslaag het. Daar sal ’n groot uitroep van “vrede en veiligheid” wees, maar dit sal gevolg word deur die “skielike verderf” van hierdie korrupte wêreld. Omdat mense in die duisternis is, sal hierdie wending van gebeure, wat “soos ’n dief in die nag” sal kom, hulle onverhoeds oorval.—1 Thessalonicense 5:2, 3.
Waartoe sal dit lei? Tot die oorlog wat werklik ’n ‘oorlog is om ’n einde aan oorloë te maak’: die oorlog van Armageddon, wat in die Bybel “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” genoem word. Dit sal die vernietiging van alle bose elemente en hulle ondersteuners beteken. “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word” (Openbaring 16:14-16; Psalm 37:9). Satan, die groot oorlogstoker, sal uiteindelik in ’n plek ingeperk wees waar hy geen verdere invloed op mense kan uitoefen nie. Ook hy sal uiteindelik vernietig word.—Openbaring 20:1-3, 7-10.
Let egter op dat dit nie ’n oorlog van willekeurige vernietiging sal wees waarin ’n sinlose slagting van onskuldiges sowel as skuldiges plaasvind nie. Daar sal oorlewendes wees, en hulle sal persone wees wat ‘God dag en nag dien’. Ja, diegene wat selfs nou nie meer leer om oorlog te voer nie en wat die vreedsame leefwyse van ’n ware Christen volg, sal hierdie laaste, groot oorlog oorlewe. Sal hulle baie wees? Die Bybel noem hulle “’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale”.—Openbaring 7:9, 14, 15.
Na die storm
Hoe verlig sal hulle tog nie wees nie! Pleks van talle nasionalistiese regerings sal daar net een regering wees: die Koninkryk van God (Daniël 2:44; Mattheüs 6:9, 10). Die sagmoediges, in plaas van die hoogmoediges en eersugtiges, sal die aarde beërwe en “hulle verlustig oor groot vrede” (Psalm 37:10, 11). “God self . . . sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie” (Openbaring 21:3, 4). Jehovah sal “die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde”. Van swaarde sal pikke gesmee word en van spiese snoeimesse, en “hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie”.—Psalm 46:9, 10; Jesaja 2:4.
Sal jy nie daarvan hou om in so ’n wêreld te lewe nie? Natuurlik sal jy! Wel, die moontlikheid is daar. Die eerste stap is om God se Woord, die Bybel, te bestudeer en jou daarvan te vergewis dat hierdie hoop waar is en ’n vaste grondslag het. Vind dan aan die hand van die Bybel uit wat God se wil vir jou is, en tree dienooreenkomstig op. Studie beteken weliswaar inspanning, maar dit is die moeite werd. Jesus het gesê dat die kennis wat jy verkry “ewige lewe” sal beteken as jy dit reg gebruik (Johannes 17:3). Is daar enigiets belangrikers as dit?