Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 12/1 bl. 10-14
  • Toe Jehovah heersers lesse geleer het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Toe Jehovah heersers lesse geleer het
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Nebukadnesar leer wie die ware God is
  • Die droom oor ’n boom
  • Belsasar sien die skrif teen die muur
  • Darius leer Jehovah se reddingsmag ken
  • Glanspunte uit die boek Daniël
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Bybelboek nommer 27—Daniël
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Wat sê die Bybel oor Daniël?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Gee ag op God se profetiese woord vir ons dag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 12/1 bl. 10-14

Toe Jehovah heersers lesse geleer het

“Al sy werke is waarheid en sy paaie is reg, en Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel.”—DANIËL 4:37.

1. Op watter karaktertrek van Jehovah vestig Elihu die aandag?

“KYK, God handel verhewe in sy krag; wie is ’n leermeester soos Hy?” Daardie woorde van Elihu wat tot lydende Job gerig is, vestig die aandag op een van die Skepper, Jehovah God, se unieke karaktertrekke. As onderrigter, of leraar, is niemand sy gelyke nie.—Job 36:22.

2, 3. (a) Wat is een van die lesse wat Jehovah dit nodig gevind het om mense te leer? (b) Vir watter heerser in Moses se tyd moes Jehovah hierdie les leer, en deur middel waarvan? (c) Hoe dikwels meld God sy voorneme om mense hierdie les te leer in sy Woord?

2 Een van die dinge wat God mense en nasies moes leer, is wat hulle regte verhouding tot hom is. Dit kom na vore in die woorde van die psalmis Dawid in Psalm 9:20, 21 (NAV): “Gryp tog in, Here, sodat die mens hom nie verhef nie. Laat die nasies voor U teregstaan. Vervul hulle so met vrees, Here, dat hulle erken dat hulle net mense is.”

3 Die Farao van Moses se tyd was een van die aarde se heersers vir wie Jehovah God dit nodig gevind het om hierdie les te leer. God het dit gedoen deur middel van die plae wat hy oor die Egiptenaars gebring het. Bowendien het Jehovah vir daardie hoogmoedige Farao gesê: “Juis hierom het Ek jou nog laat bestaan, dat Ek jou my krag kan toon, en dat hulle my Naam op die hele aarde kan verkondig” (Exodus 9:16). Boonop sê Jehovah meer as 70 keer in sy Woord, van Exodus 6:7 tot Joël 3:17, dat hy soortgelyke magtige werke sal doen sodat heersers, volke en nasies sal weet dat hy Jehovah is, die Allerhoogste oor die ganse aarde.

4. Watter drie heersers is in die tyd van Daniël deur Jehovah geleer, en deur middel waarvan?

4 ’n Aantal treffende voorbeelde van hoe Jehovah heersers geleer het, is in die boek Daniël opgeteken. Hierdie heersers was Nebukadnesar, Belsasar en Darius. Wanneer het hy hulle geleer? Heel waarskynlik tussen 617 v.G.J. en 535 v.G.J. En hoe? Deur middel van drome en die uitlegging daarvan, en deur vertonings van sy mag. Jehovah het hierdie menseheersers geleer dat hy die Oppersoewerein van die heelal is en dat hulle bloot niksbeduidende mense is—lesse wat hedendaagse wêreldheersers ook sal moet leer.

5. Met watter getuienis kan die bewerings van diegene wat die egtheid van die boek Daniël in twyfel trek, weerlê word?

5 Maar word die egtheid van die boek Daniël nie deur talle hedendaagse kritici in twyfel getrek nie? Een Bybelgeleerde het hierdie kritici beantwoord deur gepas te sê: “Dit impliseer dat die wonderwerke, dit getuig dat die profesieë, opgeteken is deur Daniël wat in dieselfde tydperk gelewe het. Ons het dan òf ware wonderwerke en ware profesieë, òf ons het niks anders as onwaarheid nie” (Daniel the Prophet, deur E. B. Pusey, bladsy 75). Die skrywer van die boek identifiseer homself immers etlike kere met uitdrukkings soos: “Ek, Daniël”! (Daniël 8:15; 9:2; 10:2). Was dit alles ’n vervalsing? Dit is ’n feit dat nie Jode of Christene die outeurskap van die boek Daniël voor die begin van die 18de eeu in twyfel getrek het nie. Maar die Skriftuurlike getuienis aangaande die boek Daniël dra baie meer gewig as die opinie van enige hedendaagse Bybelgeleerde. Daniël word byvoorbeeld drie keer in die boek Esegiël gemeld (Esegiël 14:14, 20; 28:3). Die oortuigendste getuienis is die woorde van Jesus, die Seun van God, in Mattheüs 24:15, 16: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom—laat hy wat lees, oplet—dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug.”a

Nebukadnesar leer wie die ware God is

6. Wat het moontlik die koning van Babilon se trots gevoed, en wat het hy in sy geskrifte van homself gesê?

6 Soos die profeet Jesaja toon, was die konings van Babilon uiters trotse manne (Jesaja 14:4-23). Nebukadnesar was ook ’n baie godsdienstige man. In sy geskrifte het hy gepraat van “sy bouprojekte en sy aandag aan die gode van Babilonië”. Die feit dat hy Jerusalem en die hele Judea kon verower nadat Sanherib se poging om dit te doen so jammerlik misluk het, het hom ongetwyfeld verwaand gemaak.

7. Uit watter ervaring wat in Daniël hoofstuk 1 opgeteken is, behoort Nebukadnesar te geleer het om die God van die Hebreërs te respekteer?

7 Nadat Daniël en sy drie Hebreeuse metgeselle voor Nebukadnesar verskyn het, het hy beslis rede gehad om hulle God te respekteer, want “in enige saak van wyse insig waarin die koning hulle ondervra het, het hy bevind dat hulle al die geleerdes en besweerders in sy hele koninkryk tien maal oortref het”. Ja, die wyse manne wie se God Jehovah was, het almal wat ander gode aanbid het verreweg oortref. Nebukadnesar kon nie anders as om van daardie feit kennis te neem nie.—Daniël 1:20.

8. Hoe het Jehovah onthul dat die wyse manne van Babilon geen spesiale kennis het nie?

8 Jehovah het koning Nebukadnesar nog nie klaar geleer nie. Die volgende les is in Daniël hoofstuk 2 opgeteken. God het die koning ’n skrikwekkende droom laat droom en hom dit toe laat vergeet. Hierdie droom het Babilon se heerser grootliks verontrus, en hy het al sy wyse manne ontbied om hom die droom en die uitlegging daarvan te vertel. Hulle kon natuurlik nie sê wat die droom was nie, wat nog te sê die uitlegging daarvan gee, en het sodoende stilswyend erken dat hulle geen spesiale kennis het nie. Dit het die koning so kwaad gemaak dat hy beveel het dat hulle almal tereggestel moet word. Toe Daniël en sy metgeselle van die koning se bevel gehoor het, het Daniël tyd gevra, wat hom vergun is. Toe het hy en sy drie metgeselle dit ’n saak van ernstige gebed gemaak, en Jehovah het die droom en die betekenis daarvan aan Daniël geopenbaar.—Daniël 2:16-20.

9. (a) Wie alleen kon Nebukadnesar se droom uitlê, en watter uitlegging daarvan het Hy gegee? (b) Tot watter slotsom het die koning gevolglik gekom?

9 Toe Daniël voor die koning ingebring is, het Nebukadnesar hom gevra: “Is jy in staat om aan my die droom wat ek gesien het, en sy uitlegging bekend te maak?” Nadat Daniël die trotse heerser daaraan herinner het dat sy wyse manne hom nie die geheim van sy droom en die uitlegging daarvan kon vertel nie, het hy gesê: “Maar daar is ’n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning Nebukadnesar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur.” Toe het Daniël vir die koning vertel van die reusebeeld waarvan hy gedroom het en wat dit beteken. Die koning was so beïndruk dat hy gesê het: “Waarlik, julle God is die God van die gode en die Here van die konings en die Openbaarder van geheimenisse, daarom was jy in staat om hierdie geheim te openbaar.” Jehovah het koning Nebukadnesar sodoende geleer dat Hy die enigste ware God is.—Daniël 2:26, 28, 47.

10, 11. (a) Wat het koning Nebukadnesar weens sy groot trots laat maak, en watter bevel het hy vervolgens gegee? (b) Watter geskil het die drie Hebreërs laat ontstaan toe hulle geweier het om die koning se bevel te gehoorsaam, en met watter resultaat?

10 Hoewel koning Nebukadnesar ongetwyfeld beïndruk was deur die kennis en wysheid van die God van die Hebreërs, moes hy nog baie leer. Uit trots het hy ’n groot beeld van goud in die dal Dura laat oprig. Die beeld was 60 el hoog en 6 el breed, wat ons herinner aan die getal 666 wat die teken is van Satan se “wilde dier” wat in Openbaring 13:18 genoem word. (Aangesien ’n el byna 0,5 meter is, was die beeld ongeveer 27 meter hoog en ongeveer 2,7 meter breed.) Die koning het al die amptenare van sy ryk beveel om te “kom na die inwyding van die beeld” en het opdrag gegee dat wanneer ’n orkes begin speel almal moes neerval en die beeld moes aanbid. ’n Paar afgunstige Chaldeeuse amptenare wat opgemerk het dat die drie Hebreërs wat toe teenwoordig was nie aan die seremonie deelneem nie, het hulle by die koning aangekla.—Daniël 3:1, 2.

11 Dit was vir Nebukadnesar ’n baie ernstige saak, want hy het eenkeer gespog dat hy “die een [was] wat eerbied vir die groot gode in die mond van die volk gegee het”. Dit was dus ’n growwe belediging vir Nebukadnesar se vorstelike majesteit sowel as sy godsdiensywer. Die hoogmoedige heerser was woedend en het die drie Hebreërs nog ’n kans gegee, maar met hierdie ultimatum: “As julle nie aanbid nie, sal julle oombliklik binne-in die brandende vuuroond gegooi word, en wie is die God wat julle uit my hand kan verlos?” Nebukadnesar moes uitvind dat hulle God inderdaad Sy knegte uit ’n niksbeduidende heerser se hand kon verlos en dat daar nie nog ’n God bestaan wat soos die God van die Hebreërs kan verlos nie.—Daniël 3:15.

Die droom oor ’n boom

12, 13. (a) Hoe het Daniël Nebukadnesar se droom oor die boom uitgelê? (b) Hoe het Nebukadnesar getoon dat die uitlegging van die droom hom nie tot nadenke gestem het nie?

12 Hoe sou daardie lesse jou geraak het? Blykbaar was hierdie drie lesse nie genoeg om koning Nebukadnesar sy plek te laat ken nie. Jehovah moes hom dus nog ’n les leer. Dit het weer ’n droom behels, en weer kon nie een van die wyse manne van Babilon dit uitlê nie. Daniël is uiteindelik ontbied, en hy kon die koning die betekenis van die droom meedeel, naamlik, dat hy sewe jaar lank soos “die diere van die veld” sou lewe en dat hy dan sy geestesgesondheid sou herwin.—Daniël 4:1-37.

13 Dit blyk uit die daaropvolgende gebeure dat die droom Nebukadnesar nie tot nadenke gestem het nie. Toe die koning sowat ’n jaar later in sy koninklike paleis gewandel het, het hy gevolglik trots gespog: “Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot ’n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie?” Hoe verwaand tog! Op daardie selfde oomblik het die hoogmoedige heerser ’n stem uit die hemel gehoor wat vir hom gesê het dat sy koninkryk van hom weggeneem sou word en dat hy sewe tye saam met die diere van die veld sou woon, “totdat jy erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens”.—Daniël 4:30-32.

14. Hoe is die droom oor die boom vervul, en watter uitwerking het dit op Nebukadnesar gehad?

14 Nadat Nebukadnesar daardie sewe tye, of sewe jaar lank, soos ’n dier gelewe het, het Jehovah sy verstand herstel en was hy verplig om te erken dat ‘niemand die hand van die Allerhoogste kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie?’ Bowendien het die Babiloniese heerser getoon dat hy wel sy les geleer het deur te sê: “Nou prys ek, Nebukadnesar, en ek roem en eer die Koning van die hemel: al sy werke is waarheid en sy paaie is reg, en Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel”—soos dit die geval met die koning was. Is al hierdie bewyse aangaande die manier waarop Jehovah herhaaldelik die geskil ten opsigte van soewereiniteit besleg het nie op sigself afdoende omstandigheidsgetuienis dat hierdie verslae nie iemand se hersenskim is nie, maar wel die werk is van ’n skrywer wat deur God geïnspireer is om ware geskiedenis op te teken nie?—Daniël 4:35, 37.

Belsasar sien die skrif teen die muur

15. Hoe het Belsasar die ware God, Jehovah, geminag?

15 Jehovah het rede gehad om ook Belsasar te leer. Hy was die seun en mederegent van koning Nabonidus, wat self ’n opvolger van Nebukadnesar was. Tydens ’n groot feesmaal het Belsasar die vermetelheid gehad om te beveel dat die goue voorwerpe wat sy grootvader uit Jehovah se tempel in Jerusalem geneem het, ingebring moes word sodat hy, sy maghebbers, sy vroue en sy byvroue daaruit kon drink. “Hulle het wyn gedrink en die gode van goud en silwer, koper, yster, hout en klip geprys.”—Daniël 5:3, 4.

16, 17. (a) Hoe het Jehovah vrees by Belsasar ingeboesem? (b) Hoe het Daniël die skrif teen die muur uitgelê, en hoe is dit waar bewys?

16 God se tyd het aangebreek om Babilon se heerskappy te beëindig. Hy het derhalwe vreemde skrif teen die muur laat verskyn. Hierdie wonderwerk het die koning so erg ontsenu dat hy onmiddellik al sy wyse manne ontbied het om dit uit te lê. Nie een van hulle kon nie. Toe het sy moeder hom daaraan herinner dat Daniël, wat drome vir Nebukadnesar uitgelê het, die skrif sou kon uitlê (Daniël 5:10-12). Toe Daniël ontbied is en gevra is of hy dit kan doen, het hy die heerser herinner aan hoe God sy trotse grootvader verneder het sodat hy sou weet dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens.—Daniël 5:20, 21.

17 Daniël het voorts vir Belsasar gesê: “Die God in wie se hand u asem en voor wie al u paaie is, Hom het u nie vereer nie” (Daniël 5:23). Die skrif het die Babiloniese heerser dus in kennis gestel dat die dae van sy koningskap geëindig het, dat hy geweeg en te lig bevind is en dat sy koninkryk aan die Meders en Perse gegee sou word. En daardie selfde nag, nadat Jehovah daardie hoogmoedige heerser hierdie verdiende les geleer het, is Belsasar, die Chaldeeuse koning, doodgemaak.—Daniël 5:30.

18. Waardeur sal Jehovah die hedendaagse wêreldheersers soortgelyke lesse aangaande sy soewereiniteit en reddingsmag leer?

18 Net soos Jehovah die trotse heersers Nebukadnesar en Belsasar lesse aangaande sy soewereiniteit en reddingsmag geleer het, sal God al die heersers van die aarde by Armageddon laat besef dat hy die Opperheerser is, die almagtige Universele Soewerein. Jou lewe sal geraak word. Hoe? Want dan sal Jehovah ook sy getroue knegte verlos, net soos hy die drie Hebreërs uit die vuuroond verlos het.—Daniël 3:26-30.

Darius leer Jehovah se reddingsmag ken

19, 20. Uit watter gebeurtenis in die lewe van Daniël het Darius van Jehovah se reddingsmag geleer?

19 Daniël hoofstuk 6 vertel van ’n ander geval toe Jehovah ’n heerser, Darius, ’n les geleer het—’n les aangaande God se reddingsmag. ’n Sameswering het tot gevolg gehad dat die koning Daniël baie teësinnig in ’n leeukuil laat gooi het. Daardie koning was nie iemand wat hom trots teen die ware God verhef het nie. Dit is opmerklik dat hoewel Darius Daniël verseker het dat sy God hom sou verlos, hy dit blykbaar nie volkome geglo het nie. Waarom sou hy anders ’n slaaplose nag deurgebring, hom tot dagbreek bekommer en hom toe na die leeukuil gehaas het? Hy het uitgeroep: “Daniël, kneg van die lewende God, was jou God wat jy gedurigdeur vereer, in staat om jou van die leeus te verlos?”—Daniël 6:19-21.

20 Ja, God was in staat om Daniël te beskerm. Koning Darius was so verheug dat hy hierdie bevel uitgereik het: “Hulle [moet] in die hele magsgebied van my koninkryk . . . bewe en sidder voor die God van Daniël, want Hy is die lewende God en Hy bestaan in ewigheid en sy koninkryk is een wat nie vernietig kan word nie . . . Hy verlos en red en doen tekens en wonders in die hemel en op die aarde, Hy wat Daniël uit die mag van die leeus verlos het.”—Daniël 6:27, 28.

21. (a) Waarvan gee die eerste ses hoofstukke van die boek Daniël treffende voorbeelde? (b) Watter uitwerking moet hierdie verslag op ons hê?

21 Die eerste ses hoofstukke van die boek Daniël verskaf waarlik treffende voorbeelde van hoe Jehovah, wat ywerig vir—ja, jaloers op—sy naam is, magtige heersers van hierdie wêreld geleer het dat hy inderdaad die Algebieder is, die Universele Soewerein, wat trotse heersers kan verneder terwyl hy sy lojale knegte verlos. Hierdie verslae moet ’n heilsame vrees vir God en respek vir Jehovah se almag en soewereiniteit by ons inboesem. Terselfdertyd is hierdie geïnspireerde verslag uiters geloofversterkend, want dit bevat voortreflike voorbeelde van knegte van Jehovah God wat groot geloof en moed aan die dag gelê het, soos die volgende artikel duidelik sal toon.

[Voetnoot]

a Kyk Die Wagtoring, 1 Oktober 1986, bladsye 3-7.

Hoe sou jy antwoord?

◻ Watter les moes Jehovah wêreldheersers leer?

◻ Wat kan omtrent die egtheid van die boek Daniël gesê word?

◻ Wat was die les wat koning Nebukadnesar verder verneder het?

◻ Watter uitwerking moet die feit dat Jehovah heersers lesse leer op ons hê?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel