Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 1/15 bl. 15-20
  • Hoe doop ons kan red

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe doop ons kan red
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe doop red
  • Hoe om jou vir doop te bekwaam
  • Doop vir jongmense
  • Die rol van ouers
  • Kyk verder as doop
  • Doop kan ons red
  • Waarom moet jy gedoop word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Doop — ’n Vereiste vir Christene
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Doop en jou verhouding met God
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Stel jou dit ten doel om God vir ewig te dien
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 1/15 bl. 15-20

Hoe doop ons kan red

“Onderdompeling . . . red ons.”—1 PETRUS 3:21, The Emphatic Diaglott.

1, 2. Wat is nodig voordat iemand in water gedoop word?

JEHOVAH het spesifieke vereistes vir diegene wat redding verlang. Hulle moet juiste kennis opdoen, geloof beoefen, berou toon oor hulle sondes, hulle bekeer, hulle aan God toewy en as gelowiges gedoop word (Johannes 3:16; 17:3; Handelinge 3:19, vgl. NW; 18:8). Doopkandidate moet in die openbaar erken dat hulle op grond van Jesus se offer berou getoon het oor hulle sondes en hulle aan Jehovah toegewy het. Hulle moet ook begryp dat toewyding en doop hulle as Jehovah se Getuies identifiseer.

2 Die hele doopreëling, met inbegrip van hierdie openbare belydenis van geloof, is noodsaaklik vir redding (Romeine 10:10). Dit is bevestig toe die apostel Petrus geskryf het: “Onderdompeling . . . red ons” (1 Petrus 3:21, ED). Maar hoe moet ons hierdie woorde verstaan? Wat toon die konteks?

Hoe doop red

3. Hoe sou jy 1 Petrus 3:18-21 in jou eie woorde opsom?

3 Petrus het aangedui dat Jesus as ’n verrese gees ’n oordeelsboodskap verkondig het aan die bose geeste in die gevangenis, demone wat in ewige kettings vir die oordeel van Jehovah se groot dag bewaar word. Hulle was ongehoorsaam deur vleeslike liggame aan te neem en saam met vroue te woon “toe die lankmoedigheid van God eenmaal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele [Noag, sy vrou, sy seuns en hulle vrouens] deur water heen gered is”. Petrus het bygevoeg: “Waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as [bloot die nodige] aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ’n bede tot God om ’n goeie gewete—deur die opstanding van Jesus Christus.”—1 Petrus 3:18-21; Genesis 6:1, 2; 2 Petrus 2:4; 2 Korinthiërs 7:1.

4. Waarvan het Petrus gepraat toe hy gesê het: “Waarvan die teëbeeld”?

4 Wat het Petrus bedoel toe hy gesê het: “Waarvan die teëbeeld”? Hy het bedoel dat doop wat op geloof gegrond is, ooreenstem met die behoud van Noag en sy gesin, wat veilig bewaar is deur die vloedwaters heen wat diegene buite die ark vernietig het. Net soos Noag geloof moes hê om die ark te bou, moet almal wat gedoopte dissipels van Jesus Christus en getuies van Jehovah word geloof hê om die druk wat hierdie ongelowige wêreld en sy god, Satan die Duiwel, op hulle uitoefen te weerstaan.—Hebreërs 11:6, 7; 1 Johannes 5:19.

5. Hoe is redding “deur die opstanding van Jesus Christus”?

5 Dit is nie doop op sigself wat red nie. En hoewel ons ‘die vuilheid van die vlees moet aflê’, word ons nie daardeur alleen gered nie. Redding is eerder “deur die opstanding van Jesus Christus”. Doopkandidate moet geloof hê dat redding moontlik is alleenlik omdat God se Seun ’n offerdood gesterf het en opgewek is. Hulle moet Jesus ook aanvaar as hulle Heer wat gesag het om die lewendes en die dode te oordeel. Petrus het gesê dat Jesus “heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is”.—1 Petrus 3:22.

6. Wat moet ’n doopkandidaat doen om ’n goeie gewete te verkry?

6 Petrus het doop ook in verband gebring met “’n bede tot God om ’n goeie gewete”. ’n Doopkandidaat kan ’n goeie gewete verkry deur berou te toon oor sy sondes, ’n verkeerde weg te laat vaar en hom onvoorwaardelik deur Jesus Christus in gebed aan Jehovah God toe te wy. As ’n gedoopte persoon daardie goeie gewete behou deur hom na God se standaarde te skik, bly hy in ’n geredde toestand wat nie Jehovah se veroordeling sal meebring nie.

Hoe om jou vir doop te bekwaam

7. Wat het die Christendom se sendelinge met betrekking tot doop gedoen?

7 Toe Jesus sy volgelinge opdrag gegee het om dissipels te doop, het hy nie vir hulle gesê dat hulle ongelowiges by duisende moet besprinkel nie. Maar wat het die Christendom se sendelinge gedoen? Jesuïet Franciscus Xaverius het in 1545 aangaande Indië geskryf: “In die ryk van Travancore . . . het ek binne ’n paar maande meer as tienduisend mans, vroue en kinders gedoop. . . . Ek het van dorp tot dorp gegaan en hulle Christene gemaak.” Dit is nie die manier waarop Jesus ‘Christene maak’ nie. Mense moet hulle vir doop bekwaam.

8. Wat het die sogenaamde kanonieke boeke van Paulus gesê aangaande diegene wat gedoop wil word?

8 Selfs sekere verklaarde Christene in die tydperk na die apostels het geglo dat diegene wat gedoop wil word aan streng vereistes moes voldoen. Nie-Bybelse kanonieke boeke, wat verkeerdelik aan die apostel Paulus toegeskryf word, sê aangaande sulke doopkandidate: “Hulle gewoontes en hulle lewe moet ondersoek word . . . As hulle ongetroud is, moet hulle leer om nie te hoereer nie, maar ’n wettige huwelik aan te gaan. . . . As ’n hoer kom, moet sy hoerery laat staan, of anders moet sy verwerp word. As ’n afgodmaker kom, moet hy òf sy werk laat staan òf verwerp word . . . Hy wat skuldig is aan sondes wat nie genoem moet word nie, . . . ’n goëlaar, ’n towenaar, ’n sterrewiggelaar, ’n waarsêer, iemand wat towerspreuke gebruik, . . . iemand wat gelukbringers maak, ’n toorder, ’n voorspeller, ’n toekomsleser, ’n handleser . . . , hulle moet ’n tyd lank getoets word . . . en as hulle hierdie gebruike laat staan, moet hulle ontvang word; maar as hulle dit nie wil doen nie, moet hulle verwerp word.”

9. Waarom het gemeentelike ouere manne besprekings met iemand wat gedoop wil word?

9 Jehovah se Getuies volg nie onskriftuurlike geskrifte, soos dié wat pas aangehaal is, nie, maar ouere manne het wel besprekings met diegene wat gedoop wil word. Waarom? Om te verseker dat hierdie persone gelowiges is wat aan goddelike vereistes voldoen en hulle aan Jehovah toegewy het (Handelinge 4:4; 18:8; 2 Thessalonicense 3:2). ’n Bespreking van vrae in die boek Georganiseer om ons bediening te vervul help om te bepaal of iemand vir doop kwalifiseer. As hy sommige punte nie verstaan nie, of as hy sy lewe nie na goddelike standaarde geskik het nie, verleen die ouere manne graag geestelike hulp.

10. Watter gesindheid moet ons hê as ons gedoop wil word?

10 As ons waardeer hoe liefdevol God ons gehelp het om van sy voornemens te leer, sal ons wees soos mense vir wie Paulus in Antiochië, Klein-Asië, gepreek het. “Toe diegene uit die nasies [nie-Jode] dit hoor [van die geleentheid om deur God aanvaar te word], het hulle hul verheug en die woord van Jehovah verheerlik, en almal wat die regte gesindheid vir die ewige lewe gehad het, het gelowig geword” en dít ondanks Joodse teenstand (Handelinge 13:48, NW). Sulke gelowiges is gedoop.

Doop vir jongmense

11. Is dit gepas om jou as ’n jongmens aan God toe te wy, en waarom antwoord jy so?

11 Diegene ‘wat die regte gesindheid vir die ewige lewe het’, sluit party jongmense in. Let daarop dat hoewel Samuel en Johannes die Doper voor geboorte aan God gewy is, ouers nie namens hulle kinders ’n toewyding kan maak nie (1 Samuel 1:11, 24-28; 2:11, 18, 19; Lukas 1:15, 66). Maar danksy goeie Bybelopleiding bekwaam talle jongmense hulle vir doop. ’n Sendelinge wat as ’n tiener gedoop is, het geskryf: “Dit is asof ek toegewy was om my Skepper te dien vandat ek besef het dat hy bestaan, maar nadat ek juiste kennis van hom en sy voornemens opgedoen het, wou ek as uiterlike getuienis van daardie feit gedoop word. Maar Moeder het getwyfel of ek weet wat ek doen, en sy het aan die hand gedoen dat ek wag totdat iemand anders gereed was om gedoop te word.” ’n Vrou wat gedoop wou word, is gevind, en die suster voeg by: “Daar was destyds geen klasse van spesiale onderrig vir die kandidate nie, hoewel die Diensleier wat deur die Genootskap aangestel is . . . wel vriendelik met my gepraat het oor die erns van die stap wat ek gedoen het. Ek het gretig ingestem om aan al die voorwaardes te voldoen, en ek en [die vrou] is op ’n helder Sondagoggend in Mei 1921 gedoop.”

12. Hoe het broer Russell ’n minderjarige se toewyding beskou?

12 In 1914 het C. T. Russell (die destydse president van die Wagtoringgenootskap) ’n brief ontvang waarin ’n mede-Christen gevra het of hy sy 12-jarige seun moet aanspoor om hom aan God toe te wy. “As ek jy was”, het Russell geantwoord, “sou ek nie daarop aandring dat hy hom toewy nie, maar ek sou dit aan hom voorhou as die enigste gepaste weg vir alle intelligente mense wat kennis van God en sy welwillende voornemens opgedoen het . . . Sonder toewyding sal niemand ooit die ewige lewe verkry nie . . . Jou seun kan nie deur toewyding benadeel word nie, maar kan grootliks gehelp word. . . . Wie kan sê dat ’n tienjarige kind nie in gedagte en woord en daad terdeë en volkome kan verstaan wat algehele toewyding is nie? As ek terugkyk, kan ek sien dat ek my ’n bietjie later—na twaalfjarige ouderdom—toegewy het.”

13. Wat het hierdie tydskrif sowat 94 jaar gelede vir jongmense gesê?

13 Zion’s Watch Tower van 1 Julie 1894 het gesê: “Die WATCH TOWER groet al die liewe kinders en jongmense wat hulle harte aan God gegee het en wat daagliks probeer om Jesus na te volg. Ons ken sommige van die kindertjies wat Jesus liefhet, en wat nie skaam is om Jesus te verdedig tussen ander kinders wat hom nie liefhet of probeer behaag nie; en wat moedig en getrou aan God is, selfs wanneer hulle skoolmaats aan wie hulle die goeie nuus van die koninkryk verkondig hulle uitlag en as vreemd beskou. En ons is verheug dat sommige jongmense, wat die wêreld en sy ambisies en genietinge moedig verwerp het, van die getrouste persone is wat hulle lewe aan die Here [toegewy] het. Sommige van ons kantoorwerkers, asook baie van die suksesvolle kolporteurs, is nog jonk.” Al is jy nog jonk, kan jy toewyding aan Jehovah God gerus met jou ouers bespreek.

Die rol van ouers

14. Watter voordele geniet jongmense wat hulle aan Jehovah toewy?

14 Beskou die voordele wat kinders geniet as hulle ouerlike leiding ontvang wat tot doop lei (Efesiërs 6:4). Die feit dat hulle oor geestelike aangeleenthede nadink, help hulle om wêreldse valstrikke en verstrikkings te vermy (1 Johannes 2:15-17). Hulle pluk nie bitter vrugte omdat hulle ‘in die vlees gesaai het’ nie (Galasiërs 6:7, 8). Aangesien hulle geleer is om ’n godvrugtige lewe te lei, openbaar hulle die vrugte van God se gees (Galasiërs 5:22). Omdat hulle aan God toegewy is, geniet hulle ’n intieme verhouding met hom. En omdat hulle geleer het om ‘op Jehovah te vertrou’, word hulle deur hemelse wysheid gelei en bewandel hulle lieflike en vreedsame weë.—Spreuke 3:5, 6, 13, 17, vgl. NW.

15. Wat kan Christenouers doen om die lewe van hulle kinders te vorm?

15 Aangesien toewyding aan Jehovah so voordelig is vir jongmense, moet Christenouers alles in hulle vermoë doen om die lewe van hulle kinders te vorm. Kinders kan, soos Timotheüs, van kleins af die Skrif geleer word sodat hulle kan ‘bly in wat hulle geleer het en waarvan hulle verseker is’ (2 Timotheüs 3:14, 15). Godvrugtige ouers kan deur hul eie voorbeeldige lewe ’n goeie invloed op hul kinders uitoefen en aan hul kroos die kennis oordra wat hul eie verhouding met God, ervaring en ryp oordeel hul kan gee. Wanneer hierdie pogings reg aangewend word, strek dit die kinders wel tot voordeel.—Spreuke 22:6.

16. Wat moet jou kinders in jou voorbeeld en onderrig sien?

16 Help jou kinders deur voorbeeld en onderrig om te sien hoe duidelik die grens tussen Jehovah se organisasie en dié van Satan getrek word. Wys vir hulle dat ’n mens geen kompromis met hierdie wêreld kan aangaan nie en dat Christene die onderduimsheid, goddelose genietinge, ambisies en omgang daarvan moet verwerp (1 Korinthiërs 15:33; 2 Korinthiërs 4:2). Laat jou kinders deur jou gesindheid, sowel as jou onderrig en voorbeeld, sien hoe leeg wêreldse genietinge is en in watter hoë mate wêreldse mense in vergelyking met Jehovah se Getuies bedrieg word. Verduidelik hoe God jou deur middel van sy heilige gees gelei het, jou daarvan weerhou het om ’n weg in te slaan wat rampspoed sou meebring en jou tydens beproewing en smart versterk het. Moet nooit verkeerdelik dink dat jou kinders gelowiges sal word as hulle toegelaat word om die wêreld se weg van trots, ambisie, ligsinnigheid en dwaasheid te volg nie. Voordat hierdie wêreld jou kinders kan verstrik, moet jy hulle teen die slegte invloede daarvan beskerm en hulle help om Jehovah ten volle lief te hê en te vertrou.

Kyk verder as doop

17. (a) Waarom word sommige gedoopte Christene geestelik swak? (b) Hoe moet ons ons toewyding beskou?

17 ’n Doopkandidaat, hetsy jonk of oud, wil ongetwyfeld aan Jehovah getrou bly. Waarom word sommige gedoopte Christene dan geestelik swak? Hoewel verskeie faktore daartoe kan bydra, is daar skynbaar een grondoorsaak—hulle verstaan nie ten volle wat toewyding behels nie. Ons wy ons nie aan ’n werk toe nie. Dit sou ons besig hou, maar sou ons nie geestelike persone maak nie. Ons moet onthou dat ons nie aan ’n werk toegewy is nie, maar aan ’n Persoon—Jehovah God. Dit help ons om ons toewyding nie verkeerdelik te beskou as ’n terloopse stap wat ons moes doen voordat ons die werk kon aanpak nie. Toewyding moet beskou word as die begin van ’n lewensbelangrike verhouding wat altyd gekoester en behou moet word. In hierdie opsig het ons die voorbeeld van Jesus Christus. Sy hartgrondige gesindheid toe hy hom aan Jehovah aangebied het, word uitgedruk in die profetiese woorde: “Ek kom . . . Ek het lus, o my God, om u welbehae [“wil”, NW] te doen, en a wet is binne-in my ingewande.”—Psalm 40:7-9; Hebreërs 10:5-10.

18. Hoe was God se wet in Jesus se “ingewande”?

18 Hoe was Jehovah se wet in Jesus se “ingewande”? Hy het vir ’n Joodse skrifgeleerde gesê dat Jehovah ons God ’n enige God is en dat daar geen ander is nie, waardeur hy Jehovah se oppermag beklemtoon het. Toe het Jesus getoon dat die wese van God se wet is om Jehovah met ons hele hart, verstand en krag lief te hê, terwyl ons ons naaste soos onsself liefhet (Markus 12:28-34). Dit is die basiese rede waarom Jesus kon sê: ‘Ek het lus om God se wil te doen.’ Hy kon ondanks die grootste beproewings en lyding getrou volhard, nie bloot omdat hy dit as ’n goeie werk beskou het nie, maar omdat hy ’n intieme verhouding met Jehovah God gehad het. As ons eweneens Jehovah se oppermag erken en hom met onverbreekbare gehegtheid liefhet, sal ons ons toewyding en doop naleef.

19. Watter verband is daar tussen ons verhouding met Jehovah en die werk wat ons doen?

19 Daar is natuurlik ’n verband tussen ons verhouding met God en die werk wat ons doen. Ons openbaar liefde vir Jehovah deur die Koninkrykspredikingswerk te doen. Wyle Grant Suiter, ’n voormalige lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, het eenkeer hieroor geskryf: “Terwyl ek geluister het hoe [’n sekere reisende opsiener] praat van die voorregte van diens aan Jehovah en die verantwoordelikheid daarvan het ek besef wat ek behoort te doen en wat ek wou doen. Ek het my derhalwe aan Jehovah toegewy, en die ander lede van my gesin het dit ongeveer dieselfde tyd gedoen. Op 10 Oktober 1926, in San Jose, Kalifornië, het ons almal saam ons toewyding aan Jehovah God gesimboliseer deur in water gedoop te word. . . . Na die doop . . . het my vader vir die ouere man wat oor die doop toesig gehou het, gesê: ‘Julle gaan mos met die lektuur uit, nie waar nie? Ons wil ook nou daardie werk doen.’ Ons gesin het dus aan die veldbediening begin deelneem.” Vandag begin mense wat aan die vereistes voldoen ’n betekenisvolle aandeel in velddiens hê selfs voordat hulle gedoop word.

Doop kan ons red

20, 21. (a) In watter opsig het slawe van Jehovah ’n “teken”? (b) Wat is hierdie “teken”, en wat beteken die besit daarvan?

20 Ons kan deur ons werke toon dat ons ‘aan Jehovah behoort’. Trouens, redding hang af van getroue werk as sy toegewyde slawe! (Romeine 6:20-23; 14:7, 8, vgl. NW) In die ou tyd het slawe dikwels ’n teken op die voorkop gekry. Die teenbeeldige ‘man wat met linne bekleed is’—die oorblyfsel van Jesus se gesalfde volgelinge—maak vandag deur middel van die predikingswerk ’n “teken” op diegene wat die einde van hierdie stelsel sal oorleef. Die gesalfdes word in hierdie werk deur hulle metgeselle, die “ander skape”, bygestaan (Esegiël 9:1-7; Johannes 10:16). En wat is die “teken”? Dit is die getuienis dat ons aan Jehovah toegewy is en Jesus se gedoopte dissipels is wat ’n Christelike persoonlikheid het.

21 Dit is veral nou noodsaaklik dat ons die “teken” het en dit behou, want ons bevind ons diep in “die tyd van die einde” (Daniël 12:4). Ons moet “volhard tot die einde” van ons huidige lewe of van hierdie stelsel om gered te word (Mattheüs 24:13). Alleenlik as ons op hierdie manier as getuies van Jehovah getrou bly, sal doop ons red.

Vrae ter hersiening

◻ Wat moet ons doen om gered te word?

◻ Waarom het ouere manne besprekings met diegene wat gedoop wil word?

◻ Wat kan ouers doen om hulle kinders geestelike leiding te gee wat tot doop lei?

◻ Wy ons ons aan ’n werk toe?

◻ Hoe kan doop ons red?

[Prent op bladsy 16]

Weet jy hoe doop ooreenstem met die behoud van Noag en sy gesin in die ark?

[Prent op bladsy 18]

Toewyding en doop is voordelig vir jongmense. Weet jy hoe?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel