Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 2/1 bl. 10-15
  • Verbonde waarby God se ewige voorneme betrokke is

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verbonde waarby God se ewige voorneme betrokke is
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Abrahamitiese verbond—die grondslag van ewige seëninge
  • Die geestelike saad van Abraham
  • Die Wetsverbond word tydelik bygevoeg
  • Die Dawidiese Koninkryksverbond
  • Sal jy baat vind by God se verbonde?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Groter seëninge deur middel van die nuwe verbond
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Jehovah is ’n God van verbonde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • God se verbond met sy “vriend” strek miljoene reeds tot voordeel
    Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 2/1 bl. 10-15

Verbonde waarby God se ewige voorneme betrokke is

“Die HERE . . . dink vir ewig aan sy verbond, aan die woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte.”—PSALM 105:7, 8.

1, 2. Waarom kan ons sê dat die meeste van ons deur ’n verbond geraak is?

HEEL waarskynlik het ’n verbond jou—jou verlede, jou hede en jou toekoms—geraak. ‘Watter verbond?’, wonder jy dalk. In hierdie geval is dit die huwelik, want die meeste van ons is kinders uit ’n huwelik en baie van ons is self getroud. Selfs diegene wat nog nie getroud is nie, oorweeg moontlik die seëninge van ’n gelukkige huwelik in die toekoms.

2 Eeue gelede het die Hebreeuse profeet Maleagi geskryf aangaande “die vrou van jou jeug”, “jou metgesel . . . en die vrou van jou verbond” (Maleagi 2:14-16). Hy kon die huwelik ’n verbond noem, want ’n verbond is ’n kontrak of formele ooreenkoms, ’n reëling tussen partye om gesamentlik iets te doen. Die huweliksooreenkoms is ’n tweesydige verbond waarin twee partye ooreenkom om man en vrou te word, verpligtinge teenoor mekaar aanvaar en na blywende voordele uitsien.

3. Waarom kan ander verbonde ons meer as die huwelik raak?

3 Dit lyk dalk of die huwelik die verbond is wat die grootste persoonlike uitwerking op ons het, en tog bespreek die Bybel verbonde wat veel groter betekenis het. Waar dit Bybelse verbonde met dié van nie-Bybelse godsdienste kontrasteer, sê een ensiklopedie dat dit net in die Bybel is dat “hierdie skikking van die verhouding tussen God en sy volk ’n omvattende stelsel met eindelik universele implikasies word”. Ja, die ewige voorneme van ons liefdevolle Skepper is by hierdie verbonde betrokke. Soos jy sal sien, is daar ’n noue verband tussen hierdie verbonde en tallose seëninge wat jy kan ontvang. ‘Maar hoe?’, kan jy tereg vra.

4. Watter aanvangsverbond wys op God se ewige voorneme?

4 Jy is terdeë bewus van die tragiese resultate toe Adam en Eva God se gesag verwerp het. Ons het onvolmaaktheid van hulle geërf, en dit is die oorsaak van die siektes waaronder ons gebuk gaan en wat tot die dood lei (Genesis 3:1-6, 14-19). Maar ons kan dankbaar wees dat hulle sonde nie God se voorneme kon verydel nie, naamlik dat die aarde gevul word met ware aanbidders wat blywende gesondheid en geluk geniet. In hierdie verband het Jehovah die verbond gesluit wat in Genesis 3:15 opgeteken is: “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.” Die bondigheid en simboliese taal van hierdie verklaring het egter baie onbeantwoorde vrae gelaat. Hoe sou Jehovah hierdie verbondsbelofte vervul?

5, 6. (a) Watter middel het God besluit om te gebruik om sy voorneme te volbring? (b) Waarom moet ons belangstel in hoe God dit doen?

5 God het voorts besluit om ’n spesifieke reeks goddelike verbonde te reël, sodat daar, saam met die verbond in Eden, altesaam sewe verbonde is. Elkeen van ons wat hoop om ewige seëninge te geniet, moet hierdie verbonde verstaan. Dit beteken onder andere dat ons weet wanneer en hoe hulle gesluit is, wie daarby betrokke was, wat die oogmerke of bepalings daarvan was en hoe die verbonde met mekaar verband hou in God se voorneme om gehoorsame mense met ewige lewe te seën. Dit is nou ’n gepaste tyd om hierdie verbonde te hersien, want op 22 Maart 1989 sal Christengemeentes vergader om die Here se Aandmaal, waarby hierdie verbonde regstreeks betrokke is, te herdenk.

6 Vir party mense klink die idee van verbonde natuurlik vervelig, wetties, sonder ’n menslike sy. Maar let op wat die Theological Dictionary of the Old Testament sê: “Die woorde vir ‘verbond’ in die eertydse Nabye Ooste sowel as in die Griekse en Romeinse wêreld . . . het twee betekenisvelde: enersyds eed en verbintenis, andersyds liefde en vriendskap.” Ons kan albei aspekte—eed en vriendskap—as die hoeksteen van Jehovah se verbonde beskou.

Die Abrahamitiese verbond—die grondslag van ewige seëninge

7, 8. Watter soort verbond het Jehovah met Abraham gesluit? (1 Kronieke 16:15, 16).

7 Die aartsvader Abraham, ‘die vader van almal wat glo’, was “’n vriend van God” (Romeine 4:11; Jakobus 2:21-23). God het met ’n eed vir hom gesweer en sodoende ’n verbond uiteengesit op grond waarvan ons ewige seëninge kan ontvang.—Hebreërs 6:13-18.

8 Terwyl Abraham in Ur was, het Jehovah hom beveel om na ’n ander land, naamlik Kanaän, te verhuis. Jehovah het Abraham destyds beloof: “Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak; . . . en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word”a (Genesis 12:1-3). Daarna het God geleidelik besonderhede bygevoeg by wat ons tereg die Abrahamitiese verbond noem: Abraham se saad, of erfgenaam, sou die Beloofde Land beërf; sy saad son tallose nakomelinge hê; konings son uit Abraham en Sara voortkom.—Genesis 13:14-17; 15:4-6; 17:1-8, 16; Psalm 105:8-10.

9. Hoe weet ons dat ons by die Abrahamitiese verbond betrokke kan wees?

9 God het dit “my verbond . . . tussen My en jou [Abraham]” genoem (Genesis 17:2). Maar ons moet beslis voel dat ons lewe daarby betrokke is, want God het die verbond later uitgebrei deur te sê: “Ek [sal] jou ryklik . . . seën en jou nageslag [“saad”, NW] grootliks . . . vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word” (Genesis 22:17, 18). Ons maak ’n deel van daardie nasies uit; ’n potensiële seën lê vir ons voor.

10. Watter insig kry ons uit die verbond met Abraham?

10 Kom ons dink ’n oomblik na oor wat ons uit die Abrahamitiese verbond kan leer. Soos die voorafgaande verbond in Eden wys hierdie verbond been na ’n komende “saad” en dui dit derhalwe daarop dat die saad ’n menslike geslagslyn sou hê (Genesis 3:15). Dit sou van die geslag van Sem, tot by Abraham en deur sy seun Isak wees. Hierdie geslag sou koningskap behels, en dit sou op die een of ander manier ’n seën moontlik maak, nie net vir een gesin nie, maar vir mense van alle lande. Hoe is daardie verbond vervul?

11. Hoe is die Abrahamitiese verbond letterlik vervul?

11 Abraham se afstammelinge deur Jakob, of Israel, het vermeerder en ’n groot nasie geword. As ’n tallose letterlike saad van Abraham was hulle toegewy aan die rein aanbidding van die God van Abraham, Isak en Jakob (Genesis 28:13; Exodus 3:6, 15; 6:3; Handelinge 3:13). Die Israeliete het ware aanbidding dikwels versaak, maar “die HERE was hulle genadig en het Hom oor hulle ontferm . . . ter wille van sy verbond met Abraham, Isak en Jakob; en Hy wou hulle nie vernietig . . . nie” (2 Konings 13:23; Exodus 2:24; Levitikus 26:42-45). Selfs nadat God die Christengemeente as sy volk aangeneem het, het hy die Israeliete nog ’n ruk lank spesiaal begunstig as ’n volk wat die letterlike saad van Abraham was.—Daniël 9:27.

Die geestelike saad van Abraham

12, 13. Hoe was Jesus in die geestelike vervulling van die Abrahamitiese verbond die vernaamste lid van die saad?

12 Die Abrahamitiese verbond het nog ’n vervulling, ’n geestelike, gehad. Hierdie groter vervulling sou nie voor Jesus se tyd duidelik gewees het nie, maar ons kan bly wees dat dit in ons tyd duidelik is. Die vervulling daarvan word in God se Woord aan ons verduidelik. Paulus skryf: “Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus.”—Galasiërs 3:16.

13 Ja, die saad sou deur net een geslag, of afstamming, kom, wat wel met Jesus die geval was, aangesien hy ’n gebore Jood, ’n letterlike afstammeling van Abraham, was (Mattheüs 1:1-16; Lukas 3:23-34). Daarbenewens was hy ’n deel van die gesin van die Groter Abraham in die hemel. Onthou dat die aartsvader Abraham met groot geloof bereid was om sy seun Isak op te offer as God dit verlang het (Genesis 22:1-18; Hebreërs 11:17-19). Jehovah het insgelyks sy eniggebore Seun aarde toe gestuur om ’n losprysoffer vir gelowige mense te word (Romeine 5:8; 8:32). Dit is dus te begrype dat Paulus Jesus Christus ooreenkomstig hierdie verbond as die vernaamste lid van Abraham se saad geïdentifiseer het.

14. Wat is die sekondêre deel van Abraham se saad, en tot watter verdere bespreking lei dit?

14 Paulus het voorts getoon dat God in die geestelike vervulling ‘Abraham se saad sou vermeerder’. Hy het geskryf: “As julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag [“saad”, NW] van Abraham en volgens die belofte erfgename” (Genesis 22:17, vgl. NW; Galasiërs 3:29). Hulle is die 144 000 geesgesalfde Christene wat ’n sekondêre deel van Abraham se saad uitmaak. Hulle opponeer nie die vernaamste lid van die saad nie, maar ‘behoort aan Christus’ (1 Korinthiërs 1:2; 15:23). Ons weet dat baie van hulle nie hul afstamming tot Abraham kan terugvoer nie, want hulle kom uit nie-Joodse nasies. Maar van groter belang in die geestelike vervulling is die feit dat hulle nie van geboorte ’n deel van die Groter Abraham, Jehovah, se gesin uitmaak nie; hulle kom eerder uit die onvolmaakte gesin van sondaar Adam. Ons sal dus uit later verbonde moet sien hoe hulle aan die vereistes kan voldoen om ’n deel van ‘Abraham se saad’ te word.

Die Wetsverbond word tydelik bygevoeg

15-17. (a) Waarom is die Wetsverbond by die Abrahamitiese verbond bygevoeg? (b) Hoe het die Wet hierdie doelwitte bereik?

15 Hoe sou die geslag van die Saad, nadat God die Abrahamitiese verbond gesluit het as ’n fundamentele stap om sy voorneme te volbring, teen besoedeling of uitwissing beskerm word totdat dit tyd was vir hom om te verskyn? Hoe sou ware aanbidders die Saad identifiseer wanneer hy wel gekom het? Paulus beantwoord sulke vrae deur te toon hoe wys God was toe hy die Wetsverbond tydelik bygevoeg het. Die apostel skryf:

16 “Wat beteken die wet dan? Dit is bygevoeg weens die oortredinge, totdat die saad aan wie die belofte gedoen is, sou kom; en dit is deur engele beskik deur tussenkoms van ’n middelaar. . . . Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.”—Galasiërs 3:19, 24.

17 Jehovah het op die berg Sinai ’n unieke volksverbond tussen hom en Israel gesluit—die Wetsverbond, met Moses as die middelaar daarvanb (Galasiërs 4:24, 25). Die volk het ingestem om in hierdie verbond te wees, en dit is met die bloed van bulle en bokke bekragtig (Exodus 24:3-8; Hebreërs 9:19, 20, vgl. NW). Dit het Israel teokratiese wette en ’n skets vir ’n regverdige regering gegee. Die verbond het ondertrouery met heidene of deelname aan onsedelike en valse godsdiensgebruike verbied. Dit het die Israeliete dus beskerm en het gehelp om die geslag van die saad onbesoedel te hou (Exodus 20:4-6; 34:12-16). Maar aangesien geen onvolmaakte Israeliet die Wet ten volle kon onderhou nie, het dit sondes geopenbaar (Galasiërs 3:19). Dit het ook gewys op die behoefte aan ’n volmaakte, permanente priester en aan ’n offer wat nie jaarliks herhaal moet word nie. Die Wet was soos ’n tugmeester wat ’n kind gelei het na die nodige onderrigter, wat die Messias, of Christus, sou wees (Hebreërs 7:26-28; 9:9, 16-22, vgl. NW; 10:1-4, 11). Nadat die Wetsverbond sy doel bereik het, sou dit eindig.—Galasiërs 3:24, 25; Romeine 7:6; kyk “Vrae van lesers”, bladsy 31.

18. Watter verdere vooruitsig was by die Wetsverbond betrokke, maar waarom was dit moeilik om te verstaan?

18 Toe God hierdie tydelike verbond gesluit het, het hy ook hierdie opwindende doelwit gemeld: “As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees . . . en julle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees” (Exodus 19:5, 6). Wat ’n vooruitsig tog! ’n Nasie van koning-priesters. Maar hoe was dit moontlik? Soos die Wet later gespesifiseer het, is die heersende stam (Juda) en die priesterlike stam (Levi) verskillende verantwoordelikhede gegee (Genesis 49:10; Exodus 28:43; Numeri 3:5-13). Niemand kon ’n siviele heerser en ’n priester wees nie. En tog gee God se woorde in Exodus 19:5, 6 ons rede om te glo dat diegene in die Wetsverbond op die een of ander onvermelde manier die geleentheid sou hê om die lede van “’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie” te wees.

Die Dawidiese Koninkryksverbond

19. Hoe het die verbonde op koningskap gewys?

19 Jehovah het later nog ’n verbond bygevoeg wat verder verklaar het hoe hy sy voorneme tot ons ewige seën sou volbring. Ons het reeds gesien dat die Abrahamitiese verbond heengewys het na koningskap onder die letterlike saad van Abraham (Genesis 17:6). Die Wetsverbond het ook gemeld dat daar konings onder God se volk sou wees, want Moses het vir Israel gesê: “As jy kom in die [Beloofde Land] en dan sê: Ek wil ’n koning oor my aanstel soos al die nasies wat rondom my is, dan moet jy sekerlik ’n koning oor jou aanstel wat die HERE jou God sal verkies; . . . jy mag geen uitlander . . . oor jou aanstel nie” (Deuteronomium 17:14, 15). Hoe sou God so ’n koningskap tot stand bring, en hoe sou dit verband hou met die Abrahamitiese verbond?

20. Hoe het Dawid en sy geslag by die saak betrokke geraak?

20 Hoewel Israel se eerste koning Saul uit die stam van Benjamin was, is hy deur die moedige en lojale Dawid van Juda opgevolg (1 Samuel 8:5; 9:1, 2; 10:1; 16:1, 13). ’n Hele ruk nadat Dawid aan die bewind gekom het, het Jehovah besluit om ’n verbond met Dawid te sluit. Hy het eers gesê: “Ek [sal] jou nakomeling [“saad”, NW] wat uit jou liggaam sal voortkom, laat optree en sy koningskap bevestig. Hy sal vir my Naam ’n huis bou, en Ek sal sy koninklike troon bevestig tot in ewigheid” (2 Samuel 7:12, 13). Soos daardie woorde aangedui het, het Dawid se seun Salomo die volgende koning geword, en hy is gebruik om ’n huis, of tempel, vir God in Jerusalem te bou. Maar dit was nie al nie.

21. Waarvoor het die Dawidiese Koninkryksverbond voorsiening gemaak?

21 Jehovah het vervolgens hierdie verbond met Dawid gesluit: “Jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor jou; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid” (2 Samuel 7:16). Dit is duidelik dat God sodoende ’n koninklike dinastie vir Israel in Dawid se geslag opgerig het. Dit sou nie bloot ’n voortdurende opeenvolging van Dawidiese konings wees nie. Uiteindelik sou iemand in Dawid se geslag “vir ewig” regeer “en sy troon [sou] soos die son voor [God] wees”.—Psalm 89:21, 30, 35-37; Jesaja 55:3, 4.

22. Hoe het die verbond met Dawid op die geslag van die Saad betrekking gehad, en met watter resultaat?

22 Dit is dus duidelik dat die Dawidiese verbond die geslag van die Saad verder beperk het. Selfs die eerste-eeuse Jode het besef dat die Messias ’n afstammeling van Dawid sou moes wees (Johannes 7:41, 42). Jesus Christus, die vernaamste lid van die saad van die Abrahamitiese verbond, het aan die vereistes voldoen om die permanente Erfgenaam van hierdie Dawidiese Koninkryk te word, soos ’n engel getuig het (Lukas 1:31-33). Jesus het derhalwe die reg verkry om oor die Beloofde Land, die aardse ryk waaroor Dawid geheers het, te regeer. Dit behoort ons vertroue in Jesus te vergroot; hy regeer, nie deur wederregtelike inbesitneming nie, maar deur ’n gevestigde, wettige reëling, ’n goddelike verbond.

23. Watter vrae en onderwerpe moet nog bespreek word?

23 Ons het maar net vier van die goddelike verbonde ondersoek wat verband hou met God se reëlings vir die uitvoering van sy voorneme, naamlik om ewige seëninge vir die mensdom te bring. Jy kan waarskynlik sien dat die beskrywing nog nie volledig is nie. Daar is nog vrae: Watter priester of offerande kon die feit dat mense onvolmaak gebly het ooit vir goed verander? Hoe sou mense aan die vereistes voldoen om ’n deel van Abraham se saad te word? Is daar rede om te glo dat die reg om te regeer sou uitbrei om meer as ’n bloot aardse gebied in te sluit? Hoe kon Abraham se saad, die vernaamste lid sowel as die sekondêre deel daarvan, vir “al die nasies van die aarde”, met inbegrip van ons almal, ’n seën bring? Kom ons kyk.

[Voetnote]

a Dit is ’n eensydige verbond, aangesien net een party (God) dit op hom geneem het om aan die bepalings daarvan te voldoen.

b “Die verbondsbegrip was ’n besondere aspek van die godsdiens van Israel, die enigste godsdiens wat uitsluitlike lojaliteit vereis het en die moontlikheid van dubbele of veelvuldige lojaliteite, soos dié wat in ander godsdienste toegelaat is, verbied het.”—Theological Dictionary of the Old Testament, Deel II, bladsy 278.

Wat is jou antwoord?

◻ Hoe het die Abrahamitiese verbond die grondslag gelê vir ons om ewige seëninge te ontvang?

◻ Wat was die letterlike, vleeslike saad van Abraham? Wat was die simboliese saad?

◻ Waarom is die Wetsverbond by die Abrahamitiese verbond bygevoeg?

◻ Hoe het die Dawidiese Koninkryksverbond God se voorneme bevorder?

[Diagram op bladsy 13]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Verbond in Eden Genesis 3:15

Abrahamitiese verbond

Primêre saad

Sekondêre saad

Ewige seëninge

[Diagram op bladsy 14]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Verbond in Eden Genesis 3:15

Abrahamitiese verbond

Wetsverbond

Dawidiese Koninkryksverbond

Primêre saad

Sekondêre saad

Ewige seëninge

[Prent op bladsy 10]

God het ’n verbond met getroue Abraham gesluit om sy voorneme ten behoewe van die mensdom uit te voer

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel