Vrae van lesers
▪ Het die Wetsverbond geëindig toe Jesus aan die paal gesterf het, en wanneer is dit deur die nuwe verbond vervang?
Talle het hierdie vrae gestel, met die oog op drie gebeure: Jesus het op die middag van 14 Nisan 33 G.J. aan die folterpaal gesterf, hy het die waarde van sy lewensbloed in die hemel aangebied en hy het die heilige gees op Pinksterdag 33 G.J. uitgestort. Volgens die Skrif het die Wetsverbond op Pinkster geëindig en is dit deur die nuwe verbond vervang. Kom ons kyk waarom dit die geval is.
Jehovah het voorspel dat hy die Wetsverbond na verloop van tyd deur “’n nuwe verbond” sou vervang wat die volkome vergifnis van sonde moontlik sou maak, iets wat kragtens die Wet onmoontlik was (Jeremia 31:31-34). Wanneer sou daardie vervanging plaasvind?
Die ouer verbond, die Wetsverbond, moes eers uit die weg geruim word aangesien dit sy doel bereik het (Galasiërs 3:19, 24, 25). Die apostel Paulus het geskryf: “[God het] julle al die misdade vergeef . . . , en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim . . . deur dit aan die kruis vas te nael” (Kolossense 2:13, 14). Beteken dit dat die Wetsverbond deur die nuwe verbond vervang is op die oomblik toe Jesus gesterf het?
Nee, want die nuwe verbond moes met die bloed van die gepaste offer en met ’n nuwe nasie, geestelike Israel, in werking tree (Hebreërs 8:5, 6; 9:15-22, vgl. NW). Jesus is op 16 Nisan opgewek, en hy het 40 dae later na die hemel opgevaar (Handelinge 1:3-9). Tien dae na sy hemelvaart, of op Pinksterdag, het Jesus “die belofte van die Heilige Gees” wat hy van sy Vader ontvang het op sy dissipels uitgestort, en geestelike Israel het ontstaan (Handelinge 2:33). God sluit die nuwe verbond met geestelike Israel deur middel van die Middelaar, Jesus Christus.
Op watter tydstip is die Wetsverbond met die oog op hierdie onderling verbonde dinge deur die nuwe verbond vervang?
’n Mens kan nie sê dat die Wet met Jesus se dood geëindig het nie. Gedurende die 40 dae nadat Jesus na geeslewe opgewek is, maar steeds op die aarde was, het sy dissipels nog die Wet onderhou. Bowendien was ’n belangrike aspek van die Wet die feit dat die hoëpriester eenkeer elke jaar in die Allerheiligste ingegaan het. Dit het Jesus se opstanding na die hemele afgebeeld. Daar, in God se teenwoordigheid, kon hy, as Middelaar van die nuwe verbond, die waarde van sy losprysoffer aanbied (Hebreërs 9:23, 24). Dit het die weg gebaan vir die inwerkingstelling van ’n nuwe verbond ter vervulling van Jeremia 31:31-34.
Die nuwe verbond het van krag geword toe Jehovah volgens sy aanvaarding van die losprysoffer gehandel het. Hy het sy heilige gees op Jesus se getroue dissipels uitgestort om ’n nuwe nasie, geestelike Israel, wat uit diegene in die verbond vir die Koninkryk bestaan, in aansyn te roep (Lukas 22:29, vgl. NW; Handelinge 2:1-4). Dit het getoon dat God die Wetsverbond uitgedelg het deur dit figuurlik vas te nael aan die paal waaraan Jesus gesterf het. Die Wetsverbond het dus geëindig toe die nuwe verbond op Pinkster 33 G.J. by die geboorte van die nuwe nasie, geestelike Israel, geldig geword het, of in werking gestel is.—Hebreërs 7:12; 8:1, 2.
Buiten daardie eerste antwoord op die vraag, kan ons daarop let dat God natuurlike Israel nie geheel en al die rug toegekeer het toe die Wetsverbond geëindig en die nuwe verbond klaarblyklik op Pinkster 33 G.J. in werking getree het nie. In ooreenstemming met die Abrahamitiese verbond het Jehovah Jode, proseliete en Samaritane byvoorbeeld gedurende die 70ste “week” wat in 36 G.J. geëindig het, in die besonder begunstig (Genesis 12:1-3; 15:18; 22:18; Daniël 9:27; Handelinge 10:9-28, 44-48). Dit het lank geduur voordat selfs sommige gesalfde Joodse Christene gewoond geraak het aan die feit dat dit na 33 G.J. nie nodig was om die Wet te onderhou nie; dit blyk uit die vraag wat in 49 G.J. aan die bestuursliggaam voorgelê is (Handelinge 15:1, 2). Die algehele beëindiging van die Wet is onteenseglik in 70 G.J. bewys, toe die Romeine die tempel en geslagslyste wat met die Wet verband gehou het, vernietig het.—Mattheüs 23:38.
[Foto-erkenning op bladsy 31]
Prenteargief (Nabye Oosterse geskiedenis)