Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 2/15 bl. 4-10
  • Op wie kan ons vertrou vir ware geregtigheid?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Op wie kan ons vertrou vir ware geregtigheid?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Uitdagende gehoor
  • Is God onkenbaar?
  • Uit een mens—almal
  • ‘Soek God en vind hom werklik’
    ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
  • Athene—“Stad van baie gode”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • ‘Gaan voort om jou toe te lê op onderrigting’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Geregtigheid vir almal deur God se aangestelde regter
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 2/15 bl. 4-10

Op wie kan ons vertrou vir ware geregtigheid?

“Sal die regter van die hele aarde dan nie reg laat geskied nie?”—GENESIS 18:25, NAV.

1, 2. Hoe reageer baie mense op heersende onreg?

JY IS waarskynlik jammerlik bewus daarvan dat onreg gedy. Hoe reageer jy op die heersende gebrek aan ware geregtigheid?

2 Sommige mense reageer daarop deur die bestaan van ’n regverdige God te bevraagteken. Hulle beweer dalk selfs dat hulle agnostici is. Jy het bes moontlik al daardie woord gehoor. Dit het betrekking op iemand wat meen “dat enige finale werklikheid (soos God) onbekend en waarskynlik onkenbaar is”. Bioloog Thomas H. Huxley, ’n negentiende-eeuse voorstander van Darwiniese evolusie, het die woord “agnosties” die eerste maal so gebruik.a

3, 4. Wat is die agtergrond van die woord “agnosties”?

3 Maar waar het Huxley die woord “agnosties” vandaan gekry? Hy het dit in werklikheid ontleen aan ’n uitdrukking wat in ’n ander sin deur ’n eerste-eeuse regsgeleerde, die apostel Paulus, gebruik is. Dit het voorgekom in een van die beroemdste toesprake wat nog gehou is. Hierdie toespraak is vandag ter sake, want dit bied aan ons ’n vaste grondslag om te weet hoe en wanneer daar geregtigheid vir almal sal wees en, meer nog, hoe ons persoonlik daarby baat kan vind.

4 Die woord “agnosties” (“onbekend”) is ontleen aan Paulus se vermelding van ’n altaar waarop geskrywe was: “Aan ’n onbekende God”. Daardie kort toespraak is deur die geneesheer Lukas in die 17de hoofstuk van die historiese boek Handelinge van die Apostels opgeteken. Die hoofstuk vertel eers hoe Paulus in Athene gekom het. Jy kan Lukas se inleidende inligting en die teks van die hele toespraak in die bygaande venstertjie (bladsy 6) lees.

5. Teen watter agtergrond het Paulus die Atheners toegespreek? (Lees Handelinge 17:16-31.)

5 Paulus se toespraak is inderdaad kragtig en verdien ons sorgvuldige oorweging. Ons wat deur growwe onreg omring word, kan baie daaruit leer. Let eers op die agtergrond wat jy in Handelinge 17:16-21 kan lees. Die Atheners was trots daarop om in ’n beroemde sentrum van geleerdheid te woon waar Sokrates, Plato en Aristoteles onderrig het. Athene was ook ’n baie godsdienstige stad. Oral om hom heen het Paulus afgode gesien—van die oorlogsgod Ares, of Mars; van Zeus; van Asklepios, die god van die medisyne; van die gewelddadige seegod, Poseidon; van Dionysus, Athena, Eros en ander.

6. Hoe vergelyk jou omgewing met wat Paulus in Athene gevind het?

6 Maar gestel Paulus het jou dorp of omgewing ondersoek? Hy sal dalk baie afgode of godsdiensstandbeelde sien, selfs in die lande van die Christendom. Elders sal hy meer sien. Een reisgids sê: “Indiese gode is, anders as hulle wispelturige Griekse ‘broers’, monogaam, en sommige van die indrukwekkendste kragte is aan hulle vroulike metgeselle toegeskryf . . . Daar is, sonder oordrywing, miljoene gode wat alle vorme van die lewe en die natuur verteenwoordig.”

7. Wat was die aard van die eertydse Griekse gode?

7 Baie Griekse Gode is as kleinlik en uiters onsedelik uitgebeeld. Hulle gedrag sou skandelik wees vir mense, ja, vandag krimineel in die meeste lande. Jy het dus goeie rede om te wonder watter soort geregtigheid die Grieke destyds van sulke gode sou kon verwag. Paulus het nietemin gesien dat die Atheners besonder geheg was aan hulle. Vol regverdige oortuiginge het hy begin om die verhewe waarhede van die ware Christelike godsdiens aan hulle te verduidelik.

’n Uitdagende gehoor

8. (a) Watter opvattinge en beskouings het die Epikuriërs gekenmerk? (b) Wat het die Stoïsyne geglo?

8 Sommige Jode en Grieke het met belangstelling geluister, maar hoe sou die invloedryke Epikureïese en Stoïsynse filosowe reageer? Soos jy sal sien, kom hulle idees in baie opsigte ooreen met algemene opvattings wat mense vandag huldig en selfs met die wat op skool vir jongmense geleer word. Die Epikuriërs het mense aangespoor om soveel genot moontlik uit die lewe te put, veral verstandelike genot. Hulle filosofie van ‘eet en drink, want môre sterf ons’ is gekenmerk deur die afwesigheid van beginsels en deugde (1 Korinthiërs 15:32). Hulle het nie geglo dat gode die heelal geskep het nie; hulle het eerder aangevoer dat lewe per ongeluk in ’n meganiese heelal ontstaan het. Bowendien het die gode nie in mense belanggestel nie. Wat van die Stoïsyne? Hulle het die logika beklemtoon en het geglo dat materie en krag fundamentele beginsels in die heelal is. Die Stoïsyne het nie aan God as ’n Persoon geglo nie, maar hulle eerder ’n onpersoonlike godheid voorgestel. Hulle het ook gemeen dat die noodlot menseaangeleenthede beheer.

9. Waarom was dit vir Paulus ’n uitdaging om in daardie situasie te preek?

9 Hoe het hierdie filosowe op Paulus se openbare onderrigting gereageer? Omdat nuuskierigheid gepaard met hoogmoed destyds ’n Atheense karaktertrek was, het hierdie filosowe met Paulus begin argumenteer. Uiteindelik het hulle hom na die Areopagus geneem. Bokant Athene se mark, maar onder die hoë Akropolis, was daar ’n rotsheuwel vernoem na die oorlogsgod Mars, of Ares, vandaar Marsheuwel, of die Areopagus. In vervloë tye het ’n hof of raad daar vergader. Paulus is heel moontlik na ’n geregshof geneem, ’n hof wat moontlik vergader het binne sig van die imposante Akropolis met sy beroemde Parthenon sowel as ander tempels en standbeelde. Sommige dink dat die apostel in gevaar verkeer het omdat die Romeinse reg die bekendstelling van nuwe gode verbied het. Maar al is Paulus bloot na die Areopagus geneem om sy oortuiginge te verduidelik of te bewys dat hy ’n bekwame onderrigter is, hy het voor ’n imponerende gehoor gestaan. Kon hy sy lewensbelangrike boodskap oordra sonder om hulle te vervreem?

10. Hoe het Paulus in sy inleiding takt gebruik?

10 Kyk in Handelinge 17:22, 23 met watter takt en wysheid Paulus begin het. Toe hy erken het hoe godsdienstig die Atheners is en hoe baie afgode hulle het, kon sommige van sy luisteraars dit as ’n kompliment beskou het. Paulus het nie hulle politeïsme aangeval nie, maar het eerder hulle aandag gevestig op ’n altaar wat hy gesien het, een wat toegewy was “Aan ’n onbekende God”. Historiese bewyse toon dat sulke altare wel bestaan het, wat ons vertroue in Lukas se verslag behoort te versterk. Paulus het hierdie altaar as uitgangspunt gebruik. Die Atheners het groot waarde geheg aan kennis en logika. Hulle het nietemin erken dat daar ’n god is wat vir hulle “onbekend” (Grieks, aʹgno·stos) is. Dit was dus heel logies dat hulle Paulus sou toelaat om Hom aan hulle te verduidelik. Daardie redenasie was bo verdenking, nie waar nie?

Is God onkenbaar?

11. Hoe het Paulus die aandag op die ware God gevestig?

11 Wel, wat was die aard van hierdie “onbekende God”? “Die God” het die wêreld gemaak en alles wat daarin is. Niemand sal ontken dat die heelal bestaan nie, dat die plante en diere bestaan nie, dat ons mense bestaan nie. Die krag en intelligensie, ja, wysheid, wat in al hierdie dinge weerspieël word, dui daarop dat dit die handewerk van ’n wyse en magtige Skepper is, nie die produk van toeval nie. Paulus se redenasie is in werklikheid vandag selfs geldiger.—Openbaring 4:11; 10:6.

12, 13. Watter hedendaagse getuienis staaf die punt wat Paulus gestel het?

12 Britse sterrekundige sir Bernard Lovell het onlangs in die boek In the Centre of Immensities oor die uitermatige ingewikkeldheid van die eenvoudigste lewensvorme op aarde geskryf. Hy het ook die waarskynlikheid dat sulke lewe per toeval kon ontstaan het, bespreek. Sy gevolgtrekking: “Die moontlikheid dat . . . ’n toevallige gebeurtenis tot die ontstaan van een van die kleinste proteienmolekules gelei het, is ondenkbaar klein. Binne die grenstoestande van tyd en ruimte wat ons oorweeg, is dit in werklikheid nul.”

13 Of beskou die ander uiterste—ons heelal. Sterrekundiges het elektroniese toestelle gebruik om die oorsprong daarvan te bestudeer. Wat het hulle gevind? In God and the Astronomers het Robert Jastrow geskryf: “Nou sien ons hoe die astronomiese getuienis op ’n Bybelse beskouing van die oorsprong van die wêreld dui.” “Vir die wetenskaplike wat gelewe het volgens sy geloof in die krag van die rede eindig die verhaal soos ’n slegte droom. Hy het die berge van onkunde uitgeklim; hy staan op die punt om die hoogste piek te verower; wanneer hy hom teen die laaste rots optrek, word hy begroet deur ’n spul teoloë [voorstanders van die skepping] wat al eeue daar sit.”—Vergelyk Psalm 19:2.

14. Watter logika het Paulus se verklaring gestaaf dat God nie in mensgemaakte tempels woon nie?

14 Ons kan dus sien hoe akkuraat Paulus se kommentaar in Handelinge 17:24 was, en dit lei ons tot sy volgende gedagte in vers 25. Die magtige God wat “die wêreld gemaak het en alles wat daarin is”, is tog sekerlik groter as die stoflike heelal (Hebreërs 3:4). Dit sou dus nie redelik wees om te dink dat hy in tempels woon wat met hande gemaak is nie, veral nie dié wat gebou is deur mense wat in die openbaar erken dat hy vir hulle “onbekend” is nie. Watter kragtige argument stel hy aan daardie Atheense filosowe wat miskien juis op daardie oomblik opgekyk het na die baie tempels bokant hulle!—1 Konings 8:27; Jesaja 66:1.

15. (a) Waarom sou Paulus se gehoor aan Athena gedink het? (b) Tot watter gevolgtrekking behoort die feit dat God die Gewer is, te lei?

15 Paulus se luisteraars het bes moontlik een van die standbeelde van hulle beskermgodin, Athena, op die Akropolis vereer. Die geëerde Athena in die Parthenon was van ivoor en goud. ’n Ander standbeeld van Athena was 20 meter hoog en was sigbaar vir skepe op die see. En daar is gesê dat die afgod wat Athena Polias genoem is uit die hemel geval het; mense het gereeld ’n nuwe handgemaakte kleed daarvoor gebring. Maar as die God wat nie aan daardie manne bekend was nie die Allerhoogste was en die heelal geskep het, waarom sou hy dan gedien hoef te word met die dinge wat mense kan bring? Hy gee wat ons nodig het: ons “lewe”, die “asem” wat ons nodig het om dit te onderhou, en “alles”, soos die son, die reën en die vrugbare grond waarin ons voedsel groei (Handelinge 14:15-17; Mattheüs 5:45). Hy is die Gewer, mense is die ontvangers. Die Gewer is tog seker nie afhanklik van die ontvangers nie.

Uit een mens—almal

16. Wat het Paulus aangaande die mens se oorsprong beweer?

16 Vervolgens, in Handelinge 17:26, het Paulus ’n waarheid gestel waaroor baie mense behoort te dink, veral met soveel rasseonreg vandag. Hy het gesê dat die Skepper “uit een bloed [“mens”, NW] al die nasies van die mensdom gemaak [het] om oor die hele aarde te woon”. Die gedagte dat die mensdom ’n eenheid of broederskap is (en die implikasies wat dit ten opsigte van geregtigheid inhou), was iets waaraan daardie manne moes dink, want die Atheners het beweer dat hulle ’n spesiale oorsprong het wat hulle anders as die res van die mensdom gemaak het. Paulus het egter die Genesisverslag aanvaar naamlik, dat ’n eerste man, Adam, die voorvader van ons almal geword het (Romeine 5:12; 1 Korinthiërs 15:45-49). Maar dalk wonder jy: ‘Kan so ’n opvatting in ons moderne wetenskaplike eeu gestaaf word?’

17. (a) Hoe dui hedendaagse getuienis op dieselfde gevolgtrekking as wat Paulus gemaak het? (b) Hoe hou dit verband met geregtigheid?

17 Die evolusieteorie gee te kenne dat die mens in verskillende plekke en in verskillende vorme geëvolueer het. Maar Newsweek het vroeg verlede jaar sy wetenskapgedeelte gewy aan “Die soeke na Adam en Eva”. Dit het onlangse ontwikkelinge op die gebied van die genetika ondersoek. Hoewel nie alle wetenskaplikes saamstem nie, soos ons kon verwag, dui die prentjie wat na vore kom daarop dat alle mense ’n gemeenskaplike genetiese voorvader het. Moet daar dan nie vir almal geregtigheid wees aangesien ons almal, soos die Bybel lank gelede gesê het, broers is nie? Moet ons nie almal die reg hê op onpartydige behandeling ongeag ons velkleur, haartipe of ander uiterlike kenmerke nie? (Genesis 11:1; Handelinge 10:34, 35). Maar ons moet nietemin weet hoe en wanneer geregtigheid vir die mensdom sal kom.

18. Watter grondslag was daar vir Paulus se woorde oor God se handelinge met mense?

18 Wel, in vers 26 het Paulus getoon dat die Skepper logieserwys ’n wil, of regverdige voorneme, met die mensdom het. Die apostel het geweet dat toe God met die nasie Israel gehandel het, Hy bepaal het waar hulle moes woon en hoe ander nasies hulle kon behandel (Exodus 23:31, 32; Numeri 34:1-12; Deuteronomium 32:49-52). Dit is natuurlik moontlik dat Paulus se gehoor sy kommentare vanweë hulle trots hoofsaaklik op hulleself toegepas het. Trouens, of hulle dit geweet het of nie, Jehovah God het profeties sy wil uitgespreek aangaande die tyd, of tydstip in die geskiedenis, wanneer Griekeland die vyfde groot wêreldmoondheid sou wees (Daniël 7:6; 8:5-8, 21; 11:2, 3). Is dit dan nie redelik dat ons behoort te wil leer van hierdie God wat selfs nasies kan manipuleer nie?

19. Waarom is Paulus se punt in Handelinge 17:27 redelik?

19 Dit is nie asof God ons in onkunde gelaat het oor hom sodat ons blindelings moet rondtas nie. Hy het vir die Atheners en vir ons ’n grondslag gegee om van hom te leer. In Romeine 1:20 (vgl. NW) het Paulus later geskryf: “[God se] onsigbare [eienskappe] kan van die skepping van die wêreld of in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid.” God is dus nie werklik ver van ons as ons hom wil vind en van hom wil leer nie.—Handelinge 17:27.

20. Hoe is dit waar dat ons in God ‘lewe, beweeg en is’?

20 Waardering behoort ons te beweeg om dit te doen, soos Handelinge 17:28 aan die hand doen. God het ons die lewe gegee. Trouens, ons het meer as eenvoudige lewe in die sin dat ’n boom lewe het. Ons, en die meeste diere, besit die hoër lewensvermoë om te kan rondbeweeg. Is ons nie bly daaroor nie? Maar Paulus voer die saak verder. Ons bestaan as intelligente wesens met persoonlikhede. Ons godgegewe brein stel ons in staat om te dink, om abstrakte beginsels (soos ware geregtigheid) te verstaan en om te hoop—ja, om uit te sien na die toekomstige ontvouing van God se wil. Soos jy kan begryp, moes Paulus besef het dat dit vir die Epikureïese en Stoïsynse filosowe moeilik sou wees om te aanvaar. Om hulle te help, het hy Griekse digters aangehaal wat hulle geken en gerespekteer het. Hierdie digters het eweneens gesê: “Want ons is ook sy geslag.”

21. Op watter manier behoort die feit dat ons God se geslag is ons te raak?

21 As mense begryp dat ons die geslag, of produk, van God die Allerhoogste is, is dit mos gepas dat hulle hulle tot hom sou wend vir riglyne oor hoe om te lewe. Jy kan nie anders nie as om Paulus se vrymoedigheid te bewonder terwyl hy daar byna in die skadu van die Akropolis gestaan het. Hy het moedig aangevoer dat ons Skepper beslis groter is as enige mensgemaakte standbeeld, selfs die een van goud en ivoor in die Parthenon. Ons almal wat Paulus se woorde aanvaar, moet eweneens saamstem dat God nie soos enige van die afgode is wat vandag deur mense aanbid word nie.—Jesaja 40:18-26.

22. Hoe is bekering betrokke by die feit dat ons geregtigheid ontvang?

22 Dit is nie bloot ’n tegniese puntjie wat iemand verstandelik moet erken terwyl hy aanhou lewe soos voorheen nie. Paulus het dit in vers 30 duidelik gestel: “God het dan die tye van onkunde oorgesien [waarin mense hulle verbeel het dat God soos ’n geringe afgod is of dat hy aanbidding deur middel van so ’n afgod sou aanvaar] en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer.” Terwyl hy dus die grondslag gelê het vir sy kragtige slot het Paulus ’n verrassende punt gestel—bekering! As ons ons dus tot God wend vir ware geregtigheid beteken dit dat ons ons sal moet bekeer. Wat vereis dit van ons? En hoe gaan God geregtigheid vir almal voorsien?

[Voetnoot]

a Huxley het, soos baie vandag, die Christendom se onregte opgemerk. Hy het in ’n verhandeling oor agnostisisme geskryf: “As ons maar net . . . die stortvloed van geveinsdheid en wreedheid, die leuens, die slagting, die skendings van elke verpligting van die mensdom kon sien wat vanuit hierdie bron deur die geskiedenis van Christennasies heen gevloei het, sal ons ergste denkbeelde van die Hel nie met die gesig vergelyk nie.”

Kan jy antwoord?

◻ Watter godsdienssituasie het Paulus in Athene aangetref, en hoe bestaan ’n soortgelyke situasie vandag?

◻ In watter opsigte is God groter as al die valse gode wat in die Athene van Paulus se dag aanbid is?

◻ Watter fundamentele feit oor die manier waarop God die mensdom geskep het, beteken dat daar geregtigheid vir almal behoort te wees?

◻ Hoe behoort mense op kennis van God se grootheid te reageer?

[Venster op bladsy 6]

Geregtigheid vir almal—Handelinge, hoofstuk 17

“16 En terwyl Paulus in Athene vir hulle wag, het sy gees in hom opstandig geword toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde was. 17 Hy het toe in die sinagoge met die Jode gespreek en met die godsdienstige mense, en elke dag op die mark met die wat hom teëkom. 18 En sommige van die Epikureïese en die Stoïsynse wysgere het met hom gestry, en sommige het gesê: Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil se? Ander weer: Dit lyk of hy ’n verkondiger is van vreemde gode—omdat hy aan hulle die evangelie van Jesus en die opstanding verkondig het. 19 En hulle het hom geneem en op die Areopagus gebring en gesê: Kan ons verneem wat hierdie nuwe leer is wat deur u verkondig word? 20 Want u bring sekere vreemde dinge in ons ore. Ons wil dan weet wat dit tog kan wees. 21 Nou het al die Atheners en die uitlanders wat by hulle gewoon het, vir niks anders tyd gehad as om iets nuuts te sê en te hoor nie. 22 Paulus gaan toe in die middel van die Areopagus staan en sê:

“Atheners, ek sien dat julle in elke opsig baie godsdienstig is. 23 Want terwyl ek rondgegaan en julle heiligdomme aanskou het, het ek ook ’n altaar gevind waarop geskrywe is: Aan ’n onbekende God. Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle. 24 Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie. 25 Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee. 26 En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, 27 sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; 28 want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag.

29 “As ons dan die geslag van God is, moet ons nie dink dat die godheid aan goud of silwer of stem, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie. 30 God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, 31 omdat Hy ’n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ’n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.”

[Venster op bladsy 7]

Die heelal is geskep

In 1980 het dr. John A. O’Keefe van NASA (die VSA se Nasionale Lugvaart- en Ruimteadministrasie) geskryf: “Ek onderskryf Jastrow se beskouing dat die moderne sterrekunde betroubare bewyse gevind het dat die Heelal sowat vyftien tot twintig miljard jaar gelede geskep is.” “Ek vind dit baie roerend om te sien hoe die bewyse van die Skepping . . . so duidelik gestempel is op alles rondom ons: die rotse, die lug, die radiogolwe en op die mees fundamentele natuurwette.”

[Venster op bladsy 9]

“Die soeke na Adam en Eva”

’n Artikel met daardie titel in Newsweek het onder meer gesê: “Die veteraanopgrawer Richard Leakey het in 1977 gesê: ‘Daar is geen enkele sentrum waar die hedendaagse mens gebore is nie.’ Maar genetici is nou geneig om anders te glo, . . . ‘As dit korrek is, en ek sal daarop wed, is hierdie idee uiters belangrik’, sê Stephen Jay Gould, die paleontoloog en essayis van Harvard. ‘Dit laat ons besef dat alle menslike wesens, ongeag verskille in hulle uiterlike, in werklikheid lede van ’n enkele entiteit is wat ’n baie onlangse bestaan op een plek gehad het. Daar is ’n soort biologiese broederskap wat baie dieper lê as wat ons ooit besef het.’”—11 Januarie 1988.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel