Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 4/1 bl. 24-25
  • Die ryk man en Lasarus ondergaan ’n verandering

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die ryk man en Lasarus ondergaan ’n verandering
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Soortgelyke materiaal
  • Die ryk man en Lasarus
    Die grootste mens wat nog geleef het
  • Die ryk man en Lasarus—Wat is die les?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • ’n Verandering vir die ryk man en vir Lasarus
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Wie was die ryk man en wie was Lasarus?
    Antwoorde op Bybelvrae
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 4/1 bl. 24-25

Jesus se lewe en bediening

Die ryk man en Lasarus ondergaan ’n verandering

JESUS vertel ’n gelykenis van ’n ryk man en ’n arm bedelaar met die naam van Lasarus. Die ryk man stel die godsdiensleiers voor wat met geestelike voorregte en geleenthede begunstig is, en Lasarus beeld die gewone mense af wat honger na geestelike voeding. Jesus sit sy vertelling voort en beskryf ’n dramatiese verandering in hierdie mans se omstandighede.

“En toe die bedelaar sterf”, sê Jesus, “is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham. En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem.”

Aangesien die ryk man en Lasarus nie letterlike persone is nie, maar klasse mense simboliseer, is hulle dood logieserwys ook simbolies. Wat simboliseer, of stel hulle dood voor?

Jesus het so pas op ’n verandering in omstandighede gewys deur te sê dat ‘die wet en die profete tot op Johannes was, maar dat die koninkryk van God van toe af verkondig word’. Dit is dus met die prediking van Johannes en Jesus Christus dat beide die ryk man en Lasarus sterf wat hulle vorige omstandighede, of toestand, betref.

Diegene van die nederige, berouvolle Lasarus-klas sterf wat hulle vorige geestelik beroofde toestand betref en kom in ’n posisie van goddelike guns. Waar hulle voorheen op die godsdiensleiers staatgemaak het vir die bietjie wat van die geestelike tafel geval het, voorsien die Skriftuurlike waarhede wat Jesus gee nou in hulle behoeftes. Hulle word dus in die boesem-, of begunstigde posisie, van die Groter Abraham, Jehovah God, gebring.

Aan die ander kant kom diegene wat die rykmanklas uitmaak in goddelike onguns omdat hulle aanhou om die Koninkryksboodskap wat Jesus leer te verwerp. Hulle sterf derhalwe wat hulle vorige posisie van oënskynlike guns betref. Trouens, daar word gesê dat hulle figuurlike pyniging ondergaan. Luister terwyl die ryk man praat:

“Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.” God se vurige oordeelsboodskappe wat deur Jesus se dissipels verkondig word, pynig individue van die rykmanklas. Hulle wil hê dat die dissipels moet ophou om hierdie boodskap te verkondig en sodoende hulle pyniging in ’n mate verlig.

“Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte. En by dit alles is daar tussen ons en julle ’n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie.”

Hoe regverdig en gepas dat so ’n dramatiese ommekeer tussen die Lasarus-klas en die rykmanklas plaasvind! Die verandering in toestand vind ’n paar maande later op Pinkster 33 G.J. plaas wanneer die ou Wetsverbond deur die nuwe verbond vervang word. Dit word dan onmiskenbaar duidelik dat die dissipels, nie die Fariseërs en ander godsdiensleiers nie, God se guns wegdra. Die “groot kloof” wat die simboliese ryk man van Jesus se dissipels skei, stel derhalwe God se onveranderlike, regverdige oordeel voor.

Die ryk man versoek “vader Abraham” vervolgens om Lasarus “na my vader se huis te stuur—want ek het vyf broers”. Die ryk man erken dus dat hy ’n intiemer verhouding met ’n ander vader het, wat werklikheid Satan die Duiwel is. Die ryk man versoek dat Lasarus God se oordeelsboodskappe afwater sodat sy “vyf broers”, sy godsdiensbondgenote, nie in “hierdie plek van pyniging” kom nie.

“Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister.” Ja, as die “vyf broers” pyniging wil vryspring, kan hulle net ag slaan op die geskrifte van Moses en die Profete wat Jesus as die Messias identifiseer en dan sy dissipels word. Maar die ryk man maak beswaar: “Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer. Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.” God sal nie spesiale tekens of wonderwerke voorsien om hulle te oortuig nie. Mense moet die Skrif lees en toepas as hulle in sy guns wil kom. Lukas 16:16, 22-31; Johannes 8:44.

◆ Waarom moet die dood van die ryk man en Lasarus simbolies wees, en wat word deur hulle dood afgebeeld?

◆ Wat is die pyniging wat die ryk man ondergaan, en waardeur wil hy verligting kry?

◆ Wat stel die “groot kloof” voor?

◆ Wie is die ryk man se ware vader, en wie is sy vyf broers?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel