Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 4/1 bl. 26-29
  • ’n Wonderlike loopbaan

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Wonderlike loopbaan
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat ons lewe beïnvloed het
  • Pionierdiens per fiets in Frankryk
  • Die uitdaging van Spanje
  • Ons word van Fascisme beskuldig
  • Ons word in Ierland kommuniste genoem
  • Die Tweede Wêreldoorlog en Gilead
  • Sendingdiens in Afrika
  • Twee persoonlike aanpassings
  • Ons bediening in Suid-Afrika
  • Seëninge van sendingdiens
  • Deel 2—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • ‘Gelukkig is almal wat op Jehovah bly wag’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Deel 4—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • ’N Nuwe toewysing op 80
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 4/1 bl. 26-29

’n Wonderlike loopbaan

57 jaar van sendinglewe

Soos vertel deur Eric Cooke

EK HET in die dowwe môrelig op die reling van die kanaalboot geleun en na die kol op die horison getuur. Ek en my broer het die vorige aand uit Southampton, Engeland, vertrek en was op pad na Saint-Malo, Frankryk. Toeriste? Nee, ons was van plan om die boodskap van God se Koninkryk na Frankryk te neem. Toe ons by Saint-Malo aankom, het ons ons fietse gaan afhaal en suidwaarts gery.

So het ek en my jonger broer John meer as 57 jaar gelede met die buitelandse sendingwerk begin. Wat het daartoe gelei dat ons die voltydse diens betree het? Wat het ons beweeg om ’n bestendige lewe in ’n gerieflike Engelse tuiste te verlaat?

Wat ons lewe beïnvloed het

In 1922 het my moeder die openbare toespraak “Waar is die afgestorwenes?” bygewoon. Sy was diep geraak daardeur en het spoedig ’n toegewyde kneg van Jehovah geword. Maar Vader was nie bly nie. Hy was ’n lid van die Anglikaanse Kerk, en hy het ons jare lank Sondagoggende kerk toe geneem terwyl Moeder ons in die middag uit die Bybel geleer het.

In 1927 het John 14 geword en begin om vergaderinge saam met Moeder by te woon en aan die getuieniswerk van huis tot huis deel te neem. Maar ek was tevrede met myself, omdat ek ’n goeie werk by Barclay’s Bank gehad het. Ek het nietemin uit eerbied vir Moeder uiteindelik die Bybel met behulp van die Wagtoringgenootskap se publikasies begin bestudeer. Daarna het ek vinnig geestelike vooruitgang gemaak en is ek in 1930 gedoop.

Toe John in 1931 die skool verlaat het, het hy die voltydse bediening as ’n pionier betree. Toe hy voorstel dat ek saam met hom in die pionierdiens tree, het ek my bankloopbaan laat vaar en my by hom aangesluit. Ons vaste voorneme is versterk deur ons nuwe naam, Jehovah se Getuies, wat ons pas tevore ontvang het. Ons eerste toewysing was die dorp La Rochelle en die omliggende gebied aan die weskus van Frankryk.

Pionierdiens per fiets in Frankryk

Terwyl ons van Saint-Malo of suidwaarts gery het, het ons dit geniet om die appelboorde van Normandië te sien en die ryp geure van die sidermeule te ruik. Min het ons besef dat die nabygeleë strande van Normandië 13 jaar later, gedurende die Tweede Wêreldoorlog, deur van die bloedigste gevegte in die geskiedenis verwoes sou word; ons het ook nie besef dat ons so lank in die voltydse bediening sou wees nie. Ek het skertsend vir John gesê: “Ek dink ons kan vyf jaar lank as pioniers regkom. Armageddon kan nie te ver weg wees nie!

Na drie dae se fietsry het ons by La Rochelle aangekom. Ons albei was ’n bietjie Frans magtig en dit was dus nie moeilik om ’n beskeie, gemeubileerde kamer te vind nie. Ons het al die dorpies binne ’n omtrek van ongeveer 20 kilometer op ons fietse gedek en Bybellektuur versprei. Toe het ons na ’n ander stad gegaan en die prosedure herhaal. Daar was geen ander Getuies in daardie deel van Frankryk nie.

In Julie 1932 is John, wat op skool Spaans geleer het, deur die Genootskap gestuur om in Spanje te dien. Ek het in Suid-Frankryk gebly en het twee jaar lank verskillende maats uit Engeland gehad. Omdat daar geen ander omgang met Getuies was nie, was gereelde gebed en Bybelstudie noodsaaklik om geestelik sterk te bly. Ons het ook een keer per jaar na Engeland teruggekeer vir jaarlikse byeenkomste.

In 1934 is ons uit Frankryk verban. Die Rooms-Katolieke Kerk, wat toe baie invloedryk was, was hiervoor verantwoordelik. Pleks van na Engeland terug te keer, het ek my by twee ander Engelse pioniers aangesluit, en ons het na Spanje gegaan—op ons fietse soos gewoonlik. Ons het een aand onder bosse, ’n ander aand op ’n hooimied en nog ’n ander aand op die strand geslaap. Ons het uiteindelik in Barcelona in noordoostelike Spanje aangekom en ons by John aangesluit, wat ons verwelkom het.

Die uitdaging van Spanje

Daar was destyds geen gemeentes van Jehovah se Getuies in Spanje nie. Nadat ons ’n paar maande in Barcelona gewerk het, het ons na Tarragona gegaan. Dit is daar waar ons vir die eerste keer ’n draagbare grammofoon en plate met kort Bybeltoesprake in Spaans begin gebruik het. Dit was baie doeltreffend, veral in vol koffiehuise en kroeë.

In Lérida, in die noordweste, het ’n afgesonderde Getuie, Salvador Sirera, hom by ons aangesluit. Hy is deur ons verblyf in die gebied bemoedig en het ’n tyd lank as ’n pionier gedien. In Huesca het Nemesio Orus ons geesdriftig verwelkom in sy huisie bokant sy horlosiemakerswinkel. Ons het ons eerste tuisbybelstudie met hom gehou deur een van die vroeë boekies van die Genootskap te gebruik. Ons het dit elke dag ’n paar uur lank gehou, en hy het spoedig saam met ons as ’n pionier gedien.

In die volgende stad waarin ons gewerk het, Zaragoza, het ons die vreugde gesmaak om Antonio Gargallo en José Romanos te help, twee jeugdiges in hulle laat tienderjare. Hulle het elke aand na ons kamertjie gekom vir ’n Bybelstudie wat ons in die boek Government gehou het. Mettertyd het hulle albei saam met ons aan die pionierdiens deelgeneem.

Ons word van Fascisme beskuldig

Intussen het daar moeilikheid gebroei. Die Spaanse Burgeroorlog was op die punt om uit te breek, ’n stryd waarin honderdduisende uiteindelik sou sterf. In een dorpie naby Zaragoza het ek en Antonio probleme ondervind. ’n Vrou wat ons boekies aanvaar het, het hulle verkeerdelik vir Katolieke propaganda aangesien en het ons daarvan beskuldig dat ons Fasciste is. Ons is in hegtenis geneem en na die polisiekantoor geneem. “Wat doen julle in hierdie dorpie?” het die sersant gevra. “Die mense hier is kommuniste en hou nie van Fascistiese propaganda nie!”

Nadat ons ons werk verduidelik het, was hy tevrede. Hy het ons vriendelik middagete gegee en ons aangeraai om die dorpie ongesiens gedurende die siëstatyd te verlaat. Maar toe ons vertrek, het ’n skare ons ingewag. Hulle het al ons lektuur gegryp. Dit was ’n lelike situasie. Ons was egter dankbaar dat die sersant opgedaag het en taktvol met die skare gepraat het. Hy het hulle tevrede gestel toe hy aangebied het om ons na Zaragoza te neem om die owerhede te sien. Daar het hy ten behoewe van ons met ’n stadsamptenaar gepraat, en ons is vrygestel.

In Julie 1936, toe die burgeroorlog begin het, het Antonio geweier om in Franco se leërs te veg en is hy tereggestel. Wat ’n vreugde sal dit vir my en John wees om hom in die opstanding te verwelkom en sy vriendelike glimlag weer te sien!

Ons word in Ierland kommuniste genoem

Kort voor die burgeroorlog uitgebreek het, het ek en John vir ons gewone jaarlikse verlof na Engeland teruggekeer. Die oorlog het dit toe onmoontlik gemaak om na Spanje terug te keer en ons het dus etlike weke in Kent, naby ons huis in Broadstairs, as pioniers gedien. Toe het ons volgende toewysing gekom—Ierland. Die Genootskap se president, Joseph F. Rutherford, het gereël dat ons daarheen gaan en ’n spesiale traktaat versprei met die titel You Have Been Warned (Julle is gewaarsku). Daar was geen gemeentes in Suid-Ierland nee, net ’n paar afgesonderde Getuies.

Hierdie keer is ons, op aanstigting van die Katolieke geestelikes, daarvan beskuldig dat ons kommuniste is—presies die teenoorgestelde van die aanklag teen ons in Spanje! Een keer het ’n woedende bende Katolieke ingestorm in die huis waar ons gewoon het, ons kartonne lektuur geneem en dit verbrand. Ons het ’n paar soortgelyke ondervindinge gehad voordat ons in die noordelike somer van 1937 na Engeland teruggekeer het.

Die Tweede Wêreldoorlog en Gilead

Toe die Tweede Wêreldoorlog in September 1939 verklaar is, het John in Bordeaux, Frankryk, gedien, en ek was die gemeenteopsiener in Derby, Engeland. Sommige pioniers, waaronder John, wat hom weer by my aangesluit het, is van diensplig vrygestel, maar ander, soos ek, is vrystelling geweier. Ek was dus gedurende die oorlog in en uit die tronk. Volharding was nodig om toestande in daardie oorlogstronke te verduur, maar ons het geweet dat ons broers in Europa baie meer moes verduur.

Na die oorlog het die nuwe president van die Wagtoringgenootskap, Nathan H. Knorr, Engeland besoek en gereël dat sommige pioniers die Wagtoring-Bybelskool Gilead in die binneland van die staat New York bywoon vir sendingopleiding. Ek en John het dus in 1946 die Atlantiese Oseaan oorgesteek op ’n vryheidskip wat in oorlogstyd gebou is.

Die agtste klas van Gilead was die eerste waarlik internasionale klas. Wat ’n sielverkwikkende ondervinding was dit om gedurende die kursus van vyf maande saam met veteraanpioniers te studeer en met hulle om te gaan! Gradueringsdag het uiteindelik aangebreek, en ons het oplaas ons toewysings ontvang. Ek is na Suid-Rhodesië gestuur, nou bekend as Zimbabwe, en John is na Portugal en Spanje gestuur.

Sendingdiens in Afrika

Ek het in November 1947 in Kaapstad aangekom. ’n Ander boot het klasmaats Ian Fergusson en Harry Arnott gebring. Broer Knorr het ons spoedig besoek, en ons het ’n byeenkoms in Johannesburg bygewoon. Toe het ons noordwaarts na ons toewysings gegaan—Ian na Njassaland (nou Malawi), Harry na Noord-Rhodesië (nou Zambië) en ek na Suid-Rhodesië (Zimbabwe). Die Genootskap het mettertyd ’n tak gestig, en ek is as takopsiener aangestel. Daar was 117 gemeentes en ongeveer 3 500 verkondigers in die land.

Vier nuwe sendelinge het weldra gekom. Hulle het modderhutte, leeus wat snags brul, slange onder die bed en primitiewe toestande verwag. Na aanleiding van die blombome wat in rye langs Bulawayo se lane gestaan het, moderne geriewe en mense wat bereid was om na die Koninkryksboodskap te luister, het hulle dit egter ’n pioniersparadys genoem.

Twee persoonlike aanpassings

Toe ek in 1930 gedoop is, was daar nie ’n goeie begrip van diegene wat ewige lewe op aarde sou hê. Ek en John het dus albei, soos almal destyds, van die embleme tydens Gedenkmaaltye geneem. Selfs in 1935, toe die “groot menigte” van Openbaring hoofstuk 7 as ’n aardse klas van “skape” geïdentifiseer is, het dit nie ons denke verander nie (Openbaring 7:9; Johannes 10:16). Toe het Die Wagtoring in 1952 op bladsy 111 ’n verduideliking van die verskil tussen die aardse hoop en die hemelse hoop gegee. Ons het tot die besef gekom dat ons nie die hoop op hemelse lewe het nie, maar dat ons hoop lewe op ’n paradysaarde was.—Jesaja 11:6-9; Mattheüs 5:5; Openbaring 21:3, 4.

Die ander aanpassing? Ek het al hoe meer van Myrtle Taylor begin hou, wat drie jaar lank reeds saam met ons gewerk het. Toe dit duidelik word dat sy net so oor my voel en dat ons albei sendingdiens innig waardeer, het ons verloof geraak en is ons in Julie 1955 getroud. Myrtle het my nog altyd baie ondersteun.

Ons bediening in Suid-Afrika

In 1959 het Broer Knorr Suid-Rhodesië besoek, en ek en Myrtle het ’n nuwe toewysing na Suid-Afrika gekry. Ons het eerlank begin reis in my toewysing in die kringwerk. Dit was goue dae. Maar ek het ouer geword, en Myrtle se gesondheid het ons ’n bietjie bekommerd gemaak. Ons kon naderhand nie meer die pas van die kringwerk volhou nie, en ons het dus ’n sendinghuis in Kaapstad gestig en ’n paar jaar daar gedien. Later het ons ’n nuwe toewysing na Durban, in Natal, ontvang.

Ons toewysing daar was Chatsworth, ’n groot Indiërgemeenskap. Dit was ’n buitelandse toewysing in ’n buitelandse toewysing—’n ware uitdaging vir ons as bejaarde sendelinge. Toe ons in Februarie 1978 daar gekom het, was daar ’n gemeente van 96 Getuies, hoofsaaklik Indiërs. Ons moes die godsdiensdenke van die Hindoes bestudeer en hulle gebruike verstaan. Die benadering wat die apostel Paulus gebruik het toe hy in Athene getuig het, was vir ons ’n goeie voorbeeld.—Handelinge 17:16-34.

Seëninge van sendingdiens

Ek is nou 78 jaar oud, met 57 jaar van sendingdiens agter die rug. Hoe bemoedigend is dit tog om die verstommende vermeerdering te sien in die lande waar ek gedien het! Frankryk het nou 100 000 Koninkryksverkondigers, Spanje het meer as 70 000 en Suid-Afrika het van 15 000, toe ons daar aangekom het, na meer as 43 000 vermeerder.

Jongmense, laat julle omstandighede julle toe om die voltydse bediening te betree? Indien wel, kan ek julle verseker dat dit die beste loopbaan is. Dit is nie net ’n beskerming teen die probleme en versoekings waardeur jongmense vandag omring is nie, maar dit kan julle persoonlikheid vorm sodat julle jul na Jehovah se regverdige beginsels skik. Wat ’n voordeel en ’n voorreg is dit vir jonk sowel as oud om Jehovah nou te dien!

[Prent op bladsy 29]

’n Besoeker kom na Myrtle Cooke se kampkombuis

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel