Lesse uit die Skrif: Nahum 1:1–3:19
Redding is moontlik wanneer God wraak neem
“NOG ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie” (Psalm 37:10). Die Bybelboeke wat deur Nahum en Habakuk opgeteken is, gee kragtige bevestiging dat hierdie woorde vervul sal word. Hierdie moedige manne het die opskrifstelling van hulle profesieë gedurende die laaste deel van die sewende eeu v.G.J. in die koninkryk van Juda voltooi.
Beskou eerstens God se profesie wat deur Nahum uitgespreek is. Watter lesse bevat dit?
God se wraak is seker
Jehovah vereis uitsluitlike toegewydheid (Exodus 20:5, vgl. NW). Nahum toon in ’n uitspraak teen Assirië se hoofstad, Nineve, dat God se wraak uitgeoefen sal word op vyande wat Hom nie sulke toegewydheid gee nie. Voor hom bewe berge, smelt heuwels en word die aarde opgehef! Wie is bestand teen die gloed van sy toorn?—1:1-6.
Ons kan op Jehovah as ’n toevlug vertrou. Ja, God beskerm diegene wat by hom skuiling soek. Nadat sy vyande uitgewis is, sal die benoudheid nie ’n tweede keer opkom nie. Daar is vir Juda goeie nuus van vrede, want ware aanbidding sal ongehinderd beoefen word.—1:7–2:2.
Onregverdige mense sal nie sukses behaal nie. Dit blyk uit wat met Nineve gebeur het. Sy wrede behandeling van gevangenes het dit “die bloedstad” gemaak. Hierdie sterk vestingstad het veilig gelyk agter sy dik mure, soos die lêplek van leeus. Maar volgens God se raadsbesluit sou Nineve se lot dieselfde wees as dié wat Nineve oor eertydse No-Amon, of Thebe, aan die Nylrivier, gebring het. Weens sy sondes sou Assirië se hoofstad verwoes word. Hierdie profesie is vervul toe die gesamentlike magte van die Babiloniese koning Nabopolassar en Cyaxares die Meder Nineve in 632 v.G.J. verower het.—2:3–3:19.
Lesse uit die Skrif: Habakuk 1:1-3:19
HABAKUK is meegedeel dat Jehovah op Sy vasgestelde tyd teen wrede onderdrukkers sou optree. Maar “die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe” (2:4). Watter lesse kan ons nog uit hierdie profesie leer?
Redding vir dié wat geloof het
Jehovah luister na sy knegte se smekinge. Habakuk vra: “Hoe lank, o HERE, roep ek om hulp, maar U hoor nie”? Ja, daar is geen geregtigheid nie, en die goddeloses omsingel die regverdiges. Maar God hoor wel, en hy ‘wek die Chaldeërs op’ om sy straf te voltrek. Maar hoe kan hy ’n oorlogsugtige moondheid gebruik? Die profeet wag op God se antwoord en verwag ’n teregwysing.—1:1–2:1, vgl. NW.
Net die regverdiges en getroues sal bly lewe. Jehovah verseker Habakuk hiervan. Hoewel dit dalk lyk asof daar versuim word, sal die profetiese gesig op God se vasgestelde tyd ‘alte seker kom en nie versuim nie’. Die verwaande vyand wat nasies plunder, sal nie sy doel bereik nie. Die Chaldeërs sal inderdaad nie ongestraf bly nie.—2:2-5.
Wee die goddeloses!
Vermy onregverdige gewin, geweld en afgodediens. Waarom? Want daar is beslis wee vir die man wat hom verryk met wat nie aan hom behoort nie, vuil gewin maak,’n stad bou deur bloedvergieting, op gewelddadige wyse veroorsaak dat ander die beker van ’n skandelike nederlaag drink en op lewelose afgode vertrou. God sal die werk van sulke persone tot niet maak. Die hele aarde sal moet weet van die heerlikheid van Jehovah, voor wie almal in eerbiedige stilte moet staan.—2:6-20.
Wag geduldig op Jehovah vir redding. In gebed herroep Habakuk geleenthede toe God sy mag getoon het. Jehovah het onder andere oor die aarde uitgetrek en die nasies in toorn gedors. Hy het ook tot die redding van sy volk uitgetrek. Habakuk is hierdeur oorweldig en is vasbeslote om “rustig [te] wag op die dag van benoudheid”. Al moet hy moeilike tye deurmaak, sal hy in Jehovah jubel en juig in die God van sy redding.—3:1-19.
[Venster op bladsy 24]
BYBELTEKSTE ONDERSOEK
o 1:4—Basan, Karmel en Libanon was pragtige, geil en vrugbare streke. As hulle verwelk, sal dit vir hulle afhanklikes ’n tragedie beteken. Dit beklemtoon die felheid waarmee Jehovah sy toorn uitstort.
o 1:10—Nineve het gedink dat hy so ontoeganklik soos saamgevlegte dorings is, en hy was dronk van ambisie. Maar hy sou net so maklik verteer word as wat vuur droë stoppels verteer. Die vyande van God se hedendaagse volk sal eweneens nie teen Jehovah se vurige oordele bestand wees nie.
o 2:6—As gevolg van swaar reën tydens die aanval op Nineve het die Tigrisrivier sy walle oorstroom. Dit het ’n deel van die stad oorstroom en ’n gedeelte van die muur ineen laat stort. Dit was gevolglik vir die veroweraars maklik om die Assiriese hoofstad in te neem.
o 2:11-13—Die Assiriërs het soos wilde diere die nasies geterroriseer en geplunder. Dit lyk ook asof die leeu ’n volksembleem was. Baie beeldhouwerke van leeus is in Nineve se ruïnes gevind.
o 3:3, 4—Nineve het nasies soos ’n prostituut bedrieg deur strelende aanbiedings van vriendskap en beloftes van hulp. Maar nasies wat so verstrik is, het weldra onder sy verdrukkende juk pyn ondervind, soos blyk uit die geval van Judese koning Agas.—2 Kronieke 28:16, 20, 21.
[Venster op bladsy 25]
BYBELTEKSTE ONDERSOEK
o 1:2-4—Habakuk se geloof in Jehovah as ’n God wat boosheid nie duld nie, het hom laat vra waarom goddeloosheid so algemeen is. Hy was bereid om sy denke te laat wysig (2:1, vgl. NW). Wanneer ons wonder waarom sekere dinge geduld word, moet ons vertroue in Jehovah se regverdigheid ons eweneens help om ons ewewig te behou en op hom te wag.—Psalm 42:6, 12.
o 2:5—Die Babiloniërs was ’n samegestelde man wat sy oorlogsmasjien gebruik het om nasies te verower. Soos Sjeool en die dood wat altyd gereed is vir nog slagoffers, wou hy nog militêre oorwinnings behaal. (Vergelyk Spreuke 30:15, 16.) Hy het dronk geword van oorwinning, asof onder die invloed van sterk drank. Maar sy oorwinningsoorloë het geëindig toe Babilon in 539 v.G.J. geval het.
o 3:13—God se uitverkore en gesalfde volk, die nasie Israel, het dikwels God se reddingskrag ondervind (Psalm 28:8, 9). Die nasie het mettertyd die Messias, die “saad” van God se hemelse “vrou”, voortgebring (Genesis 3:15). Jehovah sal ook die oorblywende lede van daardie “saad”, die oorblyfsel van Jesus se geesgesalfde dissipels, red wanneer Satan en die nasies hulle aanval.—Openbaring 12:17, NW.
[Prent op bladsy 24]
Skildery deur argeoloog A. H. Layard wat ’n Assiriese paleis uitbeeld
[Erkenning]
Met vriendelike vergunning van die kurators van die Britse Museum, Londen