Lesse uit die Skrif: Sefanja 1:1–3:20
Soek Jehovah en dien hom heelhartig
SOWAT 50 jaar voor die Babiloniërs afvallige Juda verwoes het, het Jehovah by monde van sy profeet Sefanja verklaar: “Ek gaan ’n einde maak aan alles op aarde” (1:1, 2, NAV). Maar God het ook vir sy volk die weg na veiligheid aangetoon (2:3; 3:9). In hierdie verband bevat die boek Sefanja waardevolle lesse vir almal wat nou voor “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” staan.—Openbaring 16:14.
Jehovah se dag is naby
Aangesien Jehovah se dag so naby is, moet enigeen wat die rug vir God gedraai het spoedig na hom terugkeer. “Dié wat die rug vir die Here draai”, is onder die aan wie God “n einde sal maak’. Hulle het weggedraai, en God se wil is nie meer vir hulle ’n saak van erns nie. Wat ’n gevaarlike situasie! Dit moet onmiddellik reggestel word.—Sefanja 1:3-11, NAV.
Materiële rykdom kan nie veiligheid bied op Jehovah se dag nie. Sommige wat beweer dat hulle Jehovah dien, hou hulle besig met die najaging van materiële dinge en skop vir hulleself ’n gerieflike nessie. Maar watter selfbedrog! Hulle materiële dinge sal geen veiligheid bied op “dié dag” nie.—Sefanja 1:12-18.
Redding is moontlik
Meer as oppervlakkige kennis van die Skrif is nodig as ons op Jehovah se dag verborge wil bly. “Ootmoediges . . . wat sy ordening onderhou”, word aangeraai om ‘die HERE te soek, geregtigheid te soek en ootmoedigheid te soek’. Net die wat “volhard [het] tot die einde toe” sal gered word.—Sefanja 2:1-3; Mattheüs 24:13.
Nasies wat Jehovah se volk vandag onderdruk, sal vernietig word. Hulle sal dieselfde ondervinding as Moab, Ammon, Assur (Assirië) en ander nasies om Juda hê. Vernietiging wag ook op Babilon die Grote (Openbaring 18:4-8). Hoe spoor dit ons tog nie aan om voort te gaan om Jehovah se oordeel bekend te maak nie!—Sefanja 2:4-15.
’n Herstelde volk
Jehovah berei sy volk nou vir redding voor. Het jy afstand gedoen van Babiloniese opvattings en begin om die “suiwer taal” van kosbare Bybelwaarheid te spreek? Het jy ‘die naam van Jehovah aangeroep’ deur jou aan hom toe te wy? ‘Bring jy ’n geskenk’, dit wil sê, “die vrug van die lippe wat sy Naam bely”? Vir redding moet jy “skouer aan skouer” met Jehovah se toegewyde volk dien.—Sefanja 3:1-10, NW; Romeine 10:13-15; Hebreërs 13:15.
Vir redding moet ons Jehovah soek en sy heilige naam hooghou. Daar is geen plek vir hoogmoed, onregverdigheid en leuens onder sy volk nie (Efesiërs 4:25-32). Net die wat “nederig en ootmoedig” is, sal gered word wanneer hy sy naam verheerlik.—Sefanja 3:11-20.
Lesse uit die Skrif: Haggai 1:1–2:23
DIE boek Haggai voer ons terug na 520 v.G.J., 17 jaar nadat ’n Joodse oorblyfsel na Jerusalem teruggekeer het om Jehovah se tempel te herbou (Haggai 1:1). Dit was ’n tyd waarin elkeen hom van ganser harte op God se werk moes toespits. En tog het Jehovah dit nodig gevind om die profeet Haggai te stuur om Sy volk aan hulle verpligting te herinner. Is daar lesse hierin vir ons?
Stel Jehovah se werk eerste
Moet nooit materiële belange voor geestelike pligte stel nie. Jode wat na hulle tuisland teruggekeer het, het rede gehad om hulle te bekommer oor ekonomiese onsekerhede, vyandige bure, ensovoorts. Maar met die oog op hulle weelderige lewensomstandighede was dit nie die redes vir hulle versuim nie. Hulle het eers aan die tempel begin werk nadat Haggai hulle aangespoor het. Ons moet eweneens vandag ‘ter harte neem wat met ons gebeur’ en seker wees dat ons God se werk soveel moontlik ondersteun.—Haggai 1:2-15.
Jehovah seën die pogings van die wat sy werk heelhartig doen. God se seën sou rus op die werk van Serubbabel en ander Jode om die tempel te voltooi, en die heerlikheid daarvan sou die van die vorige huis oortref. Aangesien “’n groot menigte” vandag op die Koninkryksboodskap reageer, kom “die skatte van al die nasies” na Jehovah se geestelike tempel en ‘vervul hy sy huis met heerlikheid’.—Haggai 2:1-9; Openbaring 7:9.
Heelhartige diens is nodig
Ons aanbidding is slegs van waarde as ons rein is, as ons beweegredes suiwer is en as ons Jehovah met ’n volkome hart dien. Verwaarlosing van God se huis het die Jode onrein gemaak, maar hy sou hulle seën sodra werk aan die tempel begin. As ons Jehovah se seën wil geniet, moet ons dus enigiets regstel wat aandag nodig het en ons van ganser harte op sy werk toespits. (Vergelyk Numeri 19:11-13.) Laat ons die teenbeeldige Serubbabel, Jesus Christus, navolg en heelhartig aan Jehovah se werk deelneem terwyl ons op God wag om die hemel en die aarde te skud en koninkryke tot’n val te bring.—Haggai 2:10-23.
[Venster op bladsy 30]
BYBELTEKSTE ONDERSOEK
o Sefanja 1:5—Milkom, moontlik dieselfde as Malkam, Molek, of Molog, was die vernaamste valse god van die Ammoniete (1 Konings 11:5, 7). Die aanbidding van Molog het walglike kinderofferandes ingesluit en is deur die Wet verbied.—Levitikus 20:2-5; Handelinge 7:42, 43.
o Sefanja 2:14—Soos voorspel is, het verwoeste Nineve se omgevalde pilare en hulle kapitele plekke vir voëls en diere geword. Voëls en waarskynlik die wind het in die verlate vensters ‘gesing’. Ingange en selfs die binnekante van paleise is verwoes.
o Sefanja 3:9—’n Gemeenskaplike mensetaal verseker nie eenheid nie, soos die oorloë tussen volke wat dieselfde taal praat, toon. Die “suiwer taal” is skriftuurlike waarheid, “die voorbeeld van gesonde woorde” (2 Timotheüs 1:13). Dit styg uit bo trots, verheerlik God en verenig almal wat dit praat.
o Haggai 1:6—Omdat die Jode Jehovah se tempel verwaarloos het, het hulle nie sy seën gehad nie. Hulle het derhalwe baie gesaai, maar min oeste ingebring en het nie genoeg voedsel en drank gehad om in hulle behoeftes te voorsien nie. Hulle klere was ontoereikend in kwantiteit of kwaliteit om hulle warm te hou, en dit was asof loontrekkers geld in ’n geldsak vol gate sit. Anders as daardie Jode moet ons nooit goddelike belange afskeep nie.—Spreuke 10:22; Nehemia 10:39.
o Haggai 2:9, NW—Die “vroeëre” tempel, wat deur Salomo gebou is, het 420 jaar lank gestaan, terwyl die “laaste huis” 584 jaar (515 v.G.J.-70 G.J.) gebruik is. Die tweede tempel het dus langer bestaan. Meer aanbidders het daarheen gestroom, soos op Pinkster 33 G.J., toe Jode en proseliete, selfs die van buite Judea, daar vergader het. Boonop het die Messias, Jesus Christus, in die “laaste huis” onderrig. Hierdie faktore het groter godsdienstige heerlikheid daaraan verleen.