Jesus se lewe en bediening
Wanneer die Seun van die mens geopenbaar word
TERWYL Jesus nog in die noorde (in Samaria of in Galilea) is, vra die Fariseërs hom oor die Koninkryk se koms. Hulle glo dat dit met groot prag en praal sal kom, maar Jesus sê: “Die koms van die koninkryk van God kan nie uit voortekens bereken word nie. Hulle sal nie kan sê: ‘Hier is dit!’ of ‘Daar is dit!’ nie, want die koninkryk van God is hier by julle.”—NAV.
Jesus se woorde “hier by julle” is al by tye met “binne-in julle” vertaal. Sommige het dus gedink dat Jesus bedoel het dat die Koninkryk van God in die harte van God se knegte regeer. Maar die Koninkryk van God is natuurlik nie binne-in die harte van daardie ongelowige Fariseërs met wie Jesus praat nie. En tog is dit by hulle, aangesien die aangewese Koning van God se Koninkryk, Jesus Christus, daar by hulle is.
Dit is waarskynlik nadat die Fariseërs vertrek het dat Jesus verder met sy dissipels oor die koms van die Koninkryk praat. Hy het veral sy toekomstige teenwoordigheid in Koninkryksmag in gedagte wanneer hy waarsku: “En hulle sal vir julle sê: Kyk hier! of: Kyk daar! Moenie gaan nie en moenie [agter hierdie valse Messiasse aanloop] nie. Want soos die weerlig wat van die een kant van die hemel blits en tot by die ander kant onder die hemel skyn, so sal die Seun van die mens ook in sy dag wees.” Jesus toon dus dat, net soos weerlig oor ’n groot gebied gesien word, die bewys van sy teenwoordigheid in Koninkryksmag duidelik sigbaar sal wees vir almal wat dit wil sien.
Jesus tref dan vergelykings met eertydse gebeure om te toon wat die gesindhede van mense gedurende sy toekomstige teenwoordigheid sal wees. Hy verduidelik: “En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens . . . Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou. Maar op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die hemel af gereën en almal vernietig. Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word.”
Jesus sê nie dat mense in Noag en in Lot se dag vernietig is bloot omdat hulle voortgegaan het met die normale bedrywighede, naamlik, eet, drink, koop, verkoop, plant en bou nie. Selfs Noag en Lot en hulle gesinne het hierdie dinge gedoen. Maar die ander mense het hulle met hierdie daaglikse bedrywighede besig gehou sonder om ag te slaan op God se wil, en dit is om hierdie rede dat hulle vernietig is. Mense sal om dieselfde rede vernietig word wanneer Christus geopenbaar word gedurende die groot verdrukking van hierdie stelsel van dinge.
Jesus beklemtoon hoe belangrik dit is dat ’n mens gou reageer op die bewys van sy toekomstige teenwoordigheid in Koninkryksmag en voeg by: “In daardie dag moet hy wat op die dak sal wees, terwyl sy huisraad in die huis is, nie afkom om dit weg te neem nie; en so ook moet hy wat op die land sal wees, nie omdraai na wat agter is nie. Dink aan die vrou van Lot!”
Wanneer die bewys van Christus se teenwoordigheid verskyn, moet mense nie toelaat dat verknogtheid aan hulle materiële besittings hulle verhinder om dadelik op te tree nie. Terwyl sy uit Sodom gevlug het, het Lot se vrou waarskynlik met verlange omgekyk na die dinge wat sy agtergelaat het, en sy het ’n soutpilaar geword.
Jesus sit sy beskrywing van die situasie gedurende sy toekomstige teenwoordigheid voort en sê vir sy dissipels: “In daardie nag sal daar twee op een bed wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee vroue sal saam maal; die een sal aangeneem en die ander verlaat word.”
Om aangeneem te word kom ooreen met die feit dat Noag saam met sy gesin die ark binnegegaan het en dat die engele Lot en sy gesin uit Sodom geneem het. Dit beteken redding. Aan die ander kant beteken om verlaat te word vernietiging.
Die dissipels vra nou: “Waar, Here?”
Jesus antwoord: “Waar die liggaam lê, daar sal die aasvoëls [arende, NW] saamkom.” Diegene wat “aangeneem” word vir redding is soos versiende arende omdat hulle by “die liggaam” versamel. Die liggaam het betrekking op die ware Christus met sy onsigbare teenwoordigheid in Koninkryksmag en op die geestelike fees wat Jehovah voorsien. Lukas 17:20-37; Genesis 19:26.
◆ Hoe was die Koninkryk by die Fariseërs?
◆ In watter opsig is Christus se teenwoordigheid soos weerlig?
◆ Waarom sal mense gedurende Christus se teenwoordigheid vernietig word?
◆ Wat beteken dit om aangeneem te word, en om verlaat te word?