’n Huwelik wat miljoene wat nou leef tot voordeel strek
“Die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar. Laat ons . . . aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.”—OPENBARING 19:6, 7.
1. Wanneer sal daar begin word om die profetiese lied in Openbaring 19:6-8 te sing, en waarom?
HIERDIE opwindende woorde maak deel uit van ’n profetiese oorwinningslied. Wanneer sal daar begin word om dit te sing? Na die vernietiging van die eeue-oue vyand van Jehovah se aanbidding—“Babilon die Grote”, die simboliese “groot hoer” wat alle vorme van valse godsdiens voorstel. Oordeel moet aan haar voltrek word weens die verkeerde manier waarop sy God voorgestel het. Hoe het sy die mensdom tog nie mislei deur haar betrokkenheid by die politiek, haar materialistiese hebsug en haar moorddadige haat vir Jehovah se ware aanbidders nie!—Openbaring 17:1-6, vgl. NW; 18:23, 24; 19:1, 2; Jakobus 4:4.
2. (a) Hoe sal Jehovah die vernietiging van Babilon die Grote teweegbring? (b) Wat sal die vernietigers van valse godsdiens doen pleks van Jehovah te prys?
2 Jehovah God sal dit binnekort in die harte van die wêreld se politieke heersers gee om haar te vernietig (Openbaring 17:12, 16, 17). Maar die vernietigers van valse godsdiens sal nie by diegene aansluit wat die luisterryke oorwinningslied sing nie. Hulle sal eerder, onder die invloed van Satan, alias Gog, die beoefenaars van ware aanbidding aanval, wat in vrede leef en hulself afgeskeie hou van die verdorwenheid van hierdie wêreld.—Jesaja 2:2-4; Esegiël 38:2, 8-12; Johannes 17:14; Jakobus 1:27.
3. Om watter redes sal Jehovah se aardse knegte ook die hemelse lied begin sing?
3 Hierdie godtartende aanval deur die politieke heersers sal uitloop op die slag van Armageddon, wat ’n algehele einde aan die antigodsdienstige nasies sal maak. Daarna sal die bose invloed van Satan en sy demone van die aarde verwyder word (Openbaring 16:14, 16; 19:11-21; 20:1, 2). Met harte vol dankbaarheid sal al die aardse oorlewendes saam met die hemelse koor inval: “Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar” (Openbaring 19:6). Sulke wêreldskuddende gebeure sal inderdaad die begin van ’n nuwe tydvak aandui. Jehovah sal sy soewereiniteit geregverdig het en almal wat sy heerskappy betwis van die aarde uitgedelg het. Uiteindelik sal die tyd vir die hemelse huwelik aangebreek het. Soos die profetiese lied voorts lui: “Laat ons bly wees en ons verheug en aan [Jehovah] die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.”—Openbaring 19:7, 8, vgl. NW.
4. (a) Wie word deur die Lam en sy “vrou” afgebeeld? (b) Watter vrae word hier geopper, en hoe kan ons die antwoorde kry?
4 Die Lam is niemand anders as die verheerlikte Jesus Christus nie, en sy “vrou” is al 144 000 van sy getroue gesalfde volgelinge wat nou met hom in die hemel verenig is. Saam maak hierdie hemelse huweliksmaats die volledige ledetal van God se Koninkryk uit, wat die mensdom, met inbegrip van die verrese dode, tot menslike volmaaktheid sal verhef (Openbaring 5:8-10, vgl. NW; 14:1-4; 20:4, 12, 13; 21:3-5, 9, 10; 22:1-3). Sal die gebeure wat daardie geseënde huwelik voorafgaan suksesvol wees? Hoe kan jy baat vind by daardie huwelik? Kom ons ondersoek gebeure in verband met Isak se huwelik, soos opgeteken in Genesis hoofstuk 24, om die antwoorde op hierdie vrae te vind.
’n Goddelik gekose bruid vir Isak
5, 6. Waarom het Abraham daarop aangedring dat Isak nie met ’n Kanaäniet trou nie, en vir wie is dit vandag ’n goeie riglyn? (1 Korinthiërs 7:39).
5 Die verslag begin waar Abraham instruksies gee aan die bestuurder van sy huishouding, klaarblyklik Eliëser (Genesis 15:2; 24:2). “Ek [moet] jou . . . laat sweer by die HERE”, het Abraham gesê, “dat jy vir my seun geen vrou sal neem uit die dogters van die Kanaäniete onder wie ek woon nie; maar dat jy na my land en my familie sal gaan om vir my seun Isak ’n vrou te neem.”—Genesis 24:3, 4.
6 Waarom het Abraham so daarop aangedring dat sy seun nie met ’n Kanaäniet moet trou nie? Omdat die Kanaäniete afstammelinge was van Kanaän, wat deur Noag vervloek is (Genesis 9:25). Daarbenewens was die Kanaäniete bekend vir hulle verdorwe gebruike en was die belangrikste oorweging dat hulle nie Jehovah aanbid het nie (Genesis 13:13; Levitikus 18:3, 17-28). Dit is te verstane dat Abraham wou hê dat sy seun moes trou met iemand uit sy eie familie, afstammelinge van Sem, wat Noag se geïnspireerde seën ontvang het (Genesis 9:26). Watter goeie riglyn is dit tog vir Christene wat vandag wil trou!—Deuteronomium 7:3, 4.
7. Hoe het Abraham Eliëser vir sy sending voorberei?
7 Eliëser het gevolglik ’n reis van meer as 800 kilometer na Mesopotamië aangepak. Hy het goed voorberei gegaan, met tien kamele wat met geskenke belaai was (Genesis 24:10). Daarbenewens kon hy peins oor hierdie geloofversterkende woorde van sy meester: “Die HERE, die God van die hemel, . . . sal sy engel voor jou uit stuur, en jy moet vir my seun daar ’n vrou gaan haal.”—Genesis 24:7.
8, 9. (a) Wat het gebeur toe Eliëser die stad Nahor bereik het? (b) Deur watter toets sou ’n geskikte bruid gekies word?
8 Uiteindelik het hy die stad Nahor in Noord-Mesopotamië bereik. Eliëser het die moeë kamele laat neerkniel by ’n put buitekant die stad om ’n bietjie te rus. Dit was die tyd wanneer die vroue water kom haal het—inderdaad ’n uitstekende geleentheid vir Eliëser om ’n potensiële bruid te soek! Maar watter soort vrou moes sy wees? Die mooiste? Nee. Eliëser het hoofsaaklik belanggestel in ’n vrou met ’n godvrugtige persoonlikheid. Dit het geblyk uit die nederige gebed wat hy vervolgens in geloof gedoen het: “HERE, God van Abraham, my heer, laat ek haar tog vandag ontmoet, en bewys guns aan Abraham, my heer. Hier staan ek by die fontein, terwyl die dogters van die manne van die stad uitkom om water te skep. Laat dít nou tog gebeur: as die dogter aan wie ek sal sê: Hou tog jou kruik, dat ek kan drink, antwoord: Drink, en ek sal ook u kamele laat drink—dan is sy dit wat U bestem het vir u kneg Isak, en daaraan sal ek weet dat U guns aan my heer bewys het.”—Genesis 24:11-14.
9 Dit was inderdaad ’n goeie toets. Volgens The New Encyclopædia Britannica kan ’n besonder dors kameel ‘95 liter water in 10 minute’ drink. Dalk was Abraham se kamele nie so dors nie, maar die vroue van daardie tyd het ongetwyfeld geweet hoeveel water hierdie dier kan drink. Dit sou beslis ’n baie goedhartige, onselfsugtige, vlytige vrou wees wat sou aanbied om water vir tien moeë kamele van ’n vreemdeling te gaan haal.
10, 11. (a) Op watter merkwaardige manier is Eliëser se gebed verhoor? (b) Hoe het Rebekka goeie eienskappe aan die dag gelê? (c) Hoe het Eliëser gereageer?
10 Nog voor Eliëser sy gebed voltooi het, is dit verhoor, soos die verslag sê: “Daar kom Rebekka uit . . . En die dogter was baie mooi van aansien, ’n jongmeisie, en geen man het haar beken nie. En sy het afgedaal na die fontein en haar kruik volgemaak en weer opgekom. Toe loop die dienaar haar tegemoet en sê: Laat my tog ’n bietjie water uit jou kruik drink. En sy antwoord: Drink, my heer! Daarop laat sy gou haar kruik op haar hand afsak en laat hom drink. Nadat sy hom genoeg laat drink het, sê sy: Ek sal vir u kamele ook skep totdat hulle genoeg gedrink het. Dadelik het sy toe haar kruik in die drinkbak leeggemaak en weer na die put geloop [“telkens weer na die put gehardloop”, NW] om te skep en vir al sy kamele geskep.”—Genesis 24:15-20.
11 Eliëser het haar ‘vol verbasing aangestaar’ toe hy hierdie wonderdadige verhoring van sy gebed gesien het. Toe die prysenswaardige maagd klaar was, het hy haar met ’n goue neusring en twee goue armbande beloon en gevra: “Wie se dogter is jy?” Toe hy hoor dat sy die dogter van Abraham se broerskind is, het Eliëser hom in eerbiedige aanbidding voor Jehovah neergebuig en gesê: “Geloofd sy die HERE, die God van Abraham, my heer, wat sy goedertierenheid en sy trou aan my heer nie onttrek het nie. Wat my aangaan, die HERE het my op die weg gelei na die huis van die broers van my heer.”—Genesis 24:21-27, vgl. NW.
12. Hoe is die saak by Rebekka se huis geskik?
12 Rebekka het opgewonde huis toe gehardloop om haar gesin te vertel. Later, toe Rebekka se pa en broer by Eliëser self gehoor het wat die doel van sy reis was en hoe Jehovah sy gebed verhoor het, het hulle sonder aarseling ingestem dat Rebekka Isak se vrou kon word. “Toe die dienaar van Abraham hulle woorde hoor, het hy hom voor die HERE neergebuig na die aarde toe. Daarna het die dienaar silwer- en goue goed en klere uitgehaal en dit aan Rebekka gegee; ook aan haar broer en haar moeder het hy kosbare geskenke gegee.”—Genesis 24:52, 53.
Die reaksie van die bruid en haar diensmeisies
13. Watter bevestiging was daar dat Jehovah se keuse die regte een was?
13 Hoe het Rebekka die voorreg beskou om deur God as bruid vir Isak gekies te word? Die volgende dag het iets gebeur wat haar ware innerlike gevoelens aan die lig laat kom het. Aangesien hy die doel van sy reis bereik het, wou Eliëser onmiddellik na sy heer terugkeer. Maar Rebekka se gesin wou hê dat die bruid ten minste tien dae by hulle bly. Daarom is Rebekka gevra om te besluit of sy bereid was om dadelik te vertrek. “Ja”, het sy gesê. Die feit dat sy ingestem het om haar gesin dadelik te verlaat en na ’n ver land te reis om met ’n man te trou wat sy nog nooit gesien het nie, was ’n besondere blyk van geloof in Jehovah se leiding. Dit het bevestig dat sy die regte keuse was.—Genesis 24:54-58.
14. (a) Deur wie is Rebekka vergesel? (b) Watter soort reis het voor hulle gelê?
14 Rebekka het metgeselle op haar reis gehad. Soos die verslag verduidelik: “Toe het Rebekka en haar diensmeisies hulle klaargemaak en op die kamele weggery” (Genesis 24:61). So het dit gekom dat die karavaan kamele ’n gevaarlike reis van oor die 800 kilometer deur vreemde gebied aangepak het. “Die gemiddelde snelheid van ’n gelaaide kameel”, sê die boek The Living World of Animals, “is ongeveer [4 kilometer per uur].” As Abraham se kamele elke dag agt uur lank teen daardie snelheid geloop het, sou dit meer as 25 dae geduur het om hulle bestemming in die Negeb te bereik.
15. (a) Watter goeie voorbeeld sien ons in Eliëser, Rebekka en haar diensmeisies? (b) Wat word deur die verslag afgeskadu?
15 Eliëser, Rebekka en haar diensmeisies het hul volle vertroue in Jehovah se leiding gestel—’n goeie voorbeeld vir hedendaagse Christene! (Spreuke 3:5, 6). Die verslag is ook ’n geloofversterkende profetiese drama. Soos ons gesien het, dien Abraham as tipe van Jehovah God, wat sy geliefde Seun, die Grotere Isak, opgeoffer het sodat sondige mense die ewige lewe kan verkry (Johannes 3:16). Die voorbereiding vir Isak se huwelik het eers ’n ruk nadat hy die dood op die offeraltaar gespaar is, plaasgevind. Dit was profeties van die voorbereiding vir die hemelse huwelik, en hierdie voorbereiding het in erns na Jesus se opstanding begin.
Die huwelik van die Grotere Isak
16. (a) Hoe beeld Abraham se dienskneg gepas God se heilige gees af? (b) Watter vraag kan met betrekking tot die gees en die bruid gevra word?
16 Eliëser se naam beteken “My God is Helper”. In naam en daad beeld hy gepas die heilige gees van die Grotere Abraham, Jehovah God, af, wat Hy na hierdie ver land, ons aarde, gestuur het om ’n geskikte bruid vir die Grotere Isak, Jesus Christus, te kies (Johannes 14:26, NW; 15:26, NW). Die bruidsklas is “die gemeente”, wat bestaan uit dissipels van Jesus wat deur heilige gees verwek is as geestelike seuns van God (Efesiërs 5:25-27; Romeine 8:15-17). Net soos Rebekka duur geskenke ontvang het, het die eerste lede van die Christengemeente op Pinksterdag van 33 G.J. wonderdadige gawes as bewys van hulle goddelike roeping ontvang (Handelinge 2:1-4). Soos Rebekka het hulle gewillig alle wêreldlike en vleeslike verhoudings prysgegee om uiteindelik met hulle hemelse Bruidegom verenig te wees. Individuele lede van die bruidsklas moet van die tyd dat hulle geroep word tot hulle dood toe hulle geestelike maagdelikheid bewaar terwyl hulle deur Satan se gevaarlike, verleidelike wêreld reis (Johannes 15:18, 19; 2 Korinthiërs 11:3, NAV; Jakobus 4:4). Die bruidsklas is gevul met heilige gees en nooi ander getrou om Jehovah se voorsienings vir redding aan te gryp (Openbaring 22:17). Volg jy haar voorbeeld deur ook die gees se leiding te volg?
17. (a) Wat beeld die tien kamele af? (b) Watter gesindheid behoort ons teenoor die Bybel en Bybelse publikasies te openbaar wat deur die bruidsklas saamgestel word? (Handelinge 17:11).
17 Die bruidsklas heg groot waarde aan wat deur die tien kamele afgebeeld word. In die Bybel word die getal tien gebruik om volmaaktheid of volledigheid met betrekking tot dinge op die aarde aan te dui. Die tien kamele kan vergelyk word met die volledige en volmaakte Woord van God, waardeur die bruidsklas geestelike voedsel en geestelike gawes ontvang (Johannes 17:17; Efesiërs 1:13, 14; 1 Johannes 2:5). Waar dit kommentaar gelewer het oor die feit dat Rebekka die kamele water gegee het, het Die Wagtoring van 1 Februarie 1949 die volgende toepassing op die bruidsklas gemaak: “Hulle oorweeg liefderyk die Woord van God wat baie van sy gees na hulle toe dra. Hulle stel belang in sy geskrewe Woord, dien dit, en verlewendig dit deur daarop ag te gee en ’n opregte besorgdheid vir die boodskap en doel daarvan te betoon, en [streef daarna] om dit te glo.” ’n Voorbeeld hiervan is die verkwikkende, moderne New World Translation of the Holy Scriptures wat die oorblyfsel van die bruidsklas liefdevol aan miljoene beskikbaar gestel het. Toon jy, hetsy hierdie puik vertaling in jou taal beskikbaar is of nie, waardering deur die Bybel gereeld tesame met studiehulpe wat deur die bruidsklas voorsien word te ondersoek?—2 Timotheüs 3:16.
Die Lam se huwelik kom nader
18. Waarom beeld Rebekka se diensmeisies gepas hedendaagse metgeselle van die bruid af?
18 In hierdie laaste dae van Satan se wêreld het “’n groot menigte”, wat met Rebekka se “diensmeisies” vergelyk kan word, hulle by die oorblyfsel van die bruidsklas geskaar. Soos in die geval van Rebekka is hulle baie meer as die voltallige bruidsklas van 144 000. Hulle is die “groot menigte” van Jesus Christus se “ander skape” (Openbaring 7:4, 9; Johannes 10:16). As lojale helpers van die bruid moet hulle hul ook nie deur Satan se goddelose wêreld laat besmet nie. Hulle moet ook die leiding van Jehovah se gees en sy Woord volg soos dit deur die bruidsklas aan hulle verduidelik word. Maar hulle beloning is anders. As hulle volhard om Christus se bruid lojaal te ondersteun, sal hulle die einde van Satan se wêreld oorleef en die wonderlike geleentheid hê om vir ewig in ’n aardse paradys te lewe.—Openbaring 21:3, 4.
19. Wat het gebeur toe Rebekka en haar diensmeisies aan die einde van hul reis gekom het?
19 Het Rebekka en haar “diensmeisies” hulle doel suksesvol bereik? Ja. Soos die Bybel ons meedeel: “En Isak het teen die aand uitgegaan om te peins in die veld. En toe hy sy oë opslaan, sien hy meteens kamele aankom. Rebekka het ook haar oë opgeslaan en Isak gesien. Toe het sy van die kameel afgegly.” Nadat Eliëser sy suksesvolle sending beskryf het, het Isak Rebekka as sy vrou aanvaar en “haar liefgekry”.—Genesis 24:63-67, vgl. NW.
20. Watter vreugdevolle geleentheid word deur Isak se huwelik afgeskadu?
20 Jehovah se voorneme aangaande die bruid van Christus kan insgelyks nie faal nie (Jesaja 55:11). Binnekort, nadat Babilon die Grote geoordeel en vernietig is, sal die laaste lede van die bruidsoorblyfsel hulle reis voltooi. Die tyd sal vir hulle aangebreek het om van hulle metgesel-helpers geskei te word en in die huwelik met die Grotere Isak in die hemel verenig te word. Wat ’n grootse geleentheid van universele blydskap sal dit tog nie wees nie!—Openbaring 19:6-8.
21. Wat moet ons almal doen terwyl die klimaks van die hemelse huwelik al nader kom?
21 Intussen seën miljoene hulself deur gehoor te gee aan die bediening van die slinkende bruidsoorblyfsel. Voordat hulle almal hulle aardse loopbaan in die dood voltooi, sal die vernietiging van die hoeragtige wêreldryk van valse godsdiens die begin van ‘groot verdrukking soos daar van die begin van die wêreld af nie gewees het nie’, aandui. Daar is baie min tyd oor. As jy behoue wil bly, is dit noodsaaklik dat jy help om die goddelike opdragte uit te voer! (Mattheüs 24:14, 21; Markus 13:10; Lukas 21:15; Johannes 13:34). Sulke opdragte is veral in ons kritieke tye van toepassing. Hetsy jy van die bruidsoorblyfsel of van haar “groot menigte” helpers is, moet jy dus voortgaan om Jehovah tot sy heerlikheid en jou ewige geluk te gehoorsaam. Hoe wonderlik sal dit tog vir die groot menigte wees, wat reeds as vriende van God gereken word, om aan te hou leef terwyl Jehovah ‘alles nuut maak’ en blywende voordele na miljoene op ’n paradysaarde vloei!—Openbaring 21:5; 22:1, 2, 17.
Onthou jy?
◻ Watter opwindende gebeure moet binnekort plaasvind?
◻ Waardeur word die algehele sukses van die hemelse huwelik gewaarborg?
◻ Waarmee kan Eliëser en die tien kamele vergelyk word?
◻ Wie kom vandag met Rebekka en haar diensmeisies ooreen?
◻ Wat leer ons uit die gebeure wat Isak se huwelik voorafgegaan het?