Lei ’n gebalanseerde, eenvoudige lewe
“Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse . . . omdat die dae boos is.”—EFESIËRS 5:15, 16.
1, 2. Wat is vandag ’n ware uitdaging, en waarmee kan dit vergelyk word?
DIT is ’n uitdaging om ’n mens se prioriteite in orde te kry, al jou verantwoordelikhede na te kom en om jou tyd en energie op ’n redelike wyse aan die belangrike aspekte van die lewe te wy. Dit is ook ’n uitdaging om uiterstes te vermy en om verstandelike en emosionele stabiliteit te handhaaf.—Efesiërs 5:17; 1 Timotheüs 4:8, NAV; 1 Petrus 1:13.
2 Hierdie uitdaging kan vergelyk word met dié waarvoor ’n koordloper te staan kom wanneer hy op ’n dun, gespanne koord probeer loop. Dit sal vir hom ’n ramp wees as hy sy balans verloor. Dit sal insgelyks vir ons rampspoedig wees as ons ons geestelike balans verloor. ’n Koordloper belas homself beslis nie met ’n klomp goed nie. Hy neem net die nodige saam met hom. As ons dus ons geestelike balans wil behou, moet ons ’n eenvoudige, lasvrye lewe lei.—Hebreërs 12:1, 2.
3. Wat moet ons doen om ’n eenvoudige lewe te lei?
3 ’n Eenvoudige lewe vereis dat ons net by dié dinge betrokke raak wat nodig is om ’n redelike bestaan te handhaaf. In teenstelling met die dinge wat sy dissipels moet soek—God se Koninkryk en Sy geregtigheid—het Jesus Christus gepraat van ‘die dinge wat die heidene vurig nastreef’ (Mattheüs 6:32, 33, vgl. NW). Jesus het ons gevolglik gemaan om nie baie van hierdie dinge bymekaar te maak nie. Waarom? Omdat hulle ons lewe kan kompliseer en ons kan laat afdwaal (Lukas 12:16-21; 18:25). Dit is goeie raad, al is ons ryk of arm, geleerd of nie.
Waarom dit nou so belangrik is
4. Waarom is dit nou so belangrik om ’n gebalanseerde, eenvoudige lewe te lei?
4 Dit is nou besonder belangrik om ’n gebalanseerde, eenvoudige lewe te lei, omdat Satan en sy demone tot die aarde beperk is en daarop uit is om ons met laste te belaai en ons aandag van God se diens af te lei (Openbaring 12:7-12, 17). Daarom was die volgende Bybelse opdrag nog nooit tevore so gepas nie: “Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit, omdat die dae boos is” (Efesiërs 5:15, 16). Ja, ons lewe in Satan se bose wêreld, nie in God se nuwe wêreld nie. Daarom kan ons dit nie bekostig om oorgerus te word nie.—2 Korinthiërs 4:4; 2 Petrus 3:7, 13.
5. Hoe het eertydse knegte van God vir ons ’n goeie voorbeeld gestel?
5 Knegte van God wat in die ou tyd in hierdie wêreld geleef het waarvan die Duiwel die regeerder is, het vir ons ’n goeie voorbeeld gestel. Hulle “het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was”. Daarom het hulle “’n beter [plek], dit is ’n hemelse”, gesoek (Hebreërs 11:13-16). Hulle trou het aan God se hemelse Koninkryk behoort, net soos dit met ons s’n die geval moet wees. Dit is waarom die apostel Petrus Christene “bywoners en vreemdelinge” genoem het (1 Petrus 2:11; Filippense 3:20). Trouens, Jesus het gesê dat sy ware volgelinge “nie van die wêreld” is nie. Dit beteken, soos die apostel Paulus gesê het, dat Christene ‘die wêreld nie ten volle moet gebruik nie’.—Johannes 17:16; 1 Korinthiërs 7:31.
6. (a) Wat moet ons onthou, en waarmee kan ons situasie vergelyk word? (b) Op watter waarskuwende voorbeeld moet ons almal ag slaan?
6 Ons moet dus altyd onthou dat hierdie wêreld wat aan Satan behoort ’n gevaargebied is om in te lewe. ’n Misstap kan rampspoedig wees (1 Johannes 5:19; 1 Petrus 5:8). Ons situasie kan vergelyk word met dié van iemand wat deur ’n mynveld loop. Die apostel Paulus het die Israeliete wat gereed was om die Beloofde Land binne te gaan as ’n waarskuwende voorbeeld aan Christene voorgehou. Talle Israeliete het hulle geestelike balans verloor, hul aan onsedelikheid skuldig gemaak en is deur God gedood. “Daarom”, het Paulus geskryf, “wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie [sy geestelike balans verloor en] val nie.”—1 Korinthiërs 10:12.
Waarom dit ’n beskerming is
7. Watter selfondersoek moet ons wyslik doen?
7 ’n Gebalanseerde, eenvoudige lewe sal jou beskerm, omdat dit sal meebring dat jy meer tyd en energie vir geestelike dinge het. Vra jou dus wyslik af: Vereenvoudig ek my lewe, of kompliseer ek dit? Watter dinge kom werklik eerste in my lewe? Party sê dat hulle min tyd het om die Bybel te bestudeer of om aan die veldbediening deel te neem. Maar wat is die rede daarvoor? Waarskynlik is dit dat hulle nie ’n gebalanseerde, eenvoudige lewe lei nie. Vergelyk gerus die tyd wat jy aan ontspanning bestee, soos om televisie te kyk, met die tyd wat jy daaraan bestee om Jehovah op die een of ander terrein van Christelike bedrywigheid te dien. Benut jy jou tyd op ’n gebalanseerde wyse? As jy jou lewe vereenvoudig, sal jy meer tyd hê vir die belangriker dinge, wat ’n groter deelname aan die uiters belangrike geestelike oes insluit.—Filippense 1:9, 10, vgl. NW; Mattheüs 9:37.
8. Hoe gee ’n mens gehoor aan Jesus se vermaning om eers die Koninkryk te soek, en wat illustreer die belangrikheid van voorwaartse momentum?
8 Jou geestelike bedrywigheid is in werklikheid ’n maatstaf wat toon of jy ’n gebalanseerde, eenvoudige lewe lei. Christene wat gehoor gee aan Jesus se vermaning om eers God se Koninkryk te soek, beweeg teen ’n goeie tempo vooruit wat gereelde Bybelstudie, vergaderingbywoning en die veldbediening betref. Sulke voorwaartse beweging is ’n ware beskerming wat voorkom dat jy val. Dit kan met fietsry vergelyk word. Diegene wat hulle al op ’n fiets probeer balanseer het wat feitlik tot stilstand gekom het, weet hoe belangrike voorwaartse momentum is. Solank jy teen ’n goeie tempo in ’n roetine van geestelike bedrywigheid vooruitbeweeg, word jy insgelyks beskerm sodat jy nie jou balans verloor en val nie.—Filippense 3:16, vgl. NW.
9. (a) Wat is ’n goeie herinnering vir ons almal? (b) Watter vrae kan ons ons afvra wanneer ons dit oorweeg om ’n projek aan te pak?
9 Dit is egter belangrik dat ons waaksaam bly en onthou dat ons meer tyd kan hê vir studie, vir vergaderingbywoning en om ander te help as ons onnodige laste afskud. “Elke keer as ek in die versoeking kom om iets te koop wat ek nie nodig het nie, of om werk te aanvaar wat ek nie nodig het nie”, het een Christensakeman gesê, “sê ek vir myself om eenvoud voor oë te hou. Soms moet ek myself kortvat.” Is dit nie ’n goeie herinnering vir ons almal nie? Wanneer jy dit oorweeg om die een of ander projek aan te pak, dalk is dit om aan jou huis aan te bou of iets anders, kan jy jou gerus afvra: Gaan dit my en my gesin se geestelikheid bevorder, of belemmer? Het ek werklik al die dinge nodig wat wêreldlinge vurig nastreef, of kan ek daarsonder klaarkom?
10. Hoe verskil die beskouings van ’n “fisiese mens” met dié van ’n “geestelike mens”?
10 Maar iemand maak dalk die volgende beswaar: ‘Is sulke selfopoffering werklik nodig? Is dit ’n vereiste dat ons ’n gebalanseerde, eenvoudige lewe lei?’ Wel, Paulus het gepraat van “die dinge van ’n mens” en “die dinge van God” en gesê: “’n Fisiese mens aanvaar nie die dinge van die gees van God nie, want hulle is vir hom dwaasheid; en hy kan hulle nie te wete kom nie, omdat hulle geestelik ondersoek word. Die geestelike mens ondersoek egter wel alle dinge” (1 Korinthiërs 2:11, 14, 15, NW). Jy kan maklik ’n “fisiese mens” word deur onnodige dinge van materiële aard na te jaag en aan te skaf. In so ’n geval lyk selfopoffering buitensporig, selfs belaglik. Maar dit is die beskouing van ’n “fisiese mens”, nie die beskouing van ’n “geestelike mens” nie.
11. Wat sou vir Noag ’n ongebalanseerde weg gewees het, en hoe lei ons vandag ’n gebalanseerde lewe?
11 ’n Geestelike mens is iemand wat sake deur die oë van geloof beskou. Hy sien dinge vanuit God se oogpunt. Beskou Noag. Sou hy gebalanseerd gewees het as hy, nadat hy van God se voorneme gehoor het om die wêreld deur ’n vloed te vernietig, sy tyd daaraan bestee het om ’n groter en beter huis te bou en meer materiële besittings bymekaar te maak? Natuurlik nie! Die ark was sy ware sekuriteit. Vir Noag het ’n gebalanseerde, eenvoudige lewe onder meer behels dat hy sy volle aandag aan die bou van die ark wy en ondanks die gespot van ongelowige ‘fisiese mense’ as “prediker van geregtigheid” dien (2 Petrus 2:5; Mattheüs 24:37-39). Aangesien ons ingelig is oor die nabyheid van die wêreld se einde is die enigste gebalanseerde lewenswyse vir ons eweneens om ons toe te spits op die uitvoering van God se wil en die verkondiging van die goeie nuus, selfs al behels dit dalk wat talle as die opoffering van ’n sogenaamd normale lewenswyse beskou.—1 Johannes 2:17.
Jesus het ons geleer hoe
12. (a) Wat het Jesus gesê moet ons ophou doen, en wat moet ons eerder doen? (b) Waarom is dit nodig om van doel te verander?
12 In sy Bergpredikasie het Jesus goeie raad gegee oor hoe ’n mens ’n gebalanseerde, eenvoudige lewe kan lei. Hy het gesê: “Hou op om vir julle skatte op die aarde te vergaar, waar mot en roes hulle verteer, en waar diewe inbreek en steel” (NW). Jesus het die woorde “hou op” gebruik omdat mense gewoonlik aanhou om materiële dinge vir hulself te “vergaar”. Maar iemand wat Jesus se dissipel word, kan nie meer hiermee aanhou nie. Sy lewe moet ’n ander doel hê, soos Jesus se daaropvolgende opdrag toon: “Maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie.” Jesus het die rede gegee waarom ’n mens se doel moet verander en gesê: “Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”—Mattheüs 6:19-21.
13. Waarvan moet jy oortuig wees as jy skatte in die hemel wil vergaar?
13 Jou skat is dit wat jy as waarlik belangrik beskou. Is materiële besittings jou skat? Of is dit die heiliging van Jehovah God se naam en sy beloofde beloning? As jy jou lewe wil gebruik om skatte in die hemel pleks van op aarde te vergaar, moet jy heeltemal oortuig wees van die realiteit van die Koninkryk. Die nuwe wêreld moet vir jou so werklik wees dat jy jou dit voor jou geestesoog kan roep en jy jouself daar kan sien, besig om te help om Jehovah se voornemens met die aarde uit te voer. Soos Moses moet jy “die Onsienlike sien” en vas oortuig wees dat ‘Hy die sal beloon wat Hom soek’.—Hebreërs 11:6, 27.
14. Wat sal die gevolge wees as ons hart na materiële dinge hunker?
14 Maar sê nou jou hart, wat jou begeertes en voorliefdes insluit, hunker na materiële skatte? Die Bybel sê: “Geldgierigheid [“die liefde vir geld”, NW] is ’n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.” Die najaging van materiële dinge wat met geld gekoop kan word, verskaf eenvoudig nie ware en blywende bevrediging nie (1 Timotheüs 6:10; Prediker 5:9). Maar die tragiesste is dat liefde vir geld en materiële dinge skadelik sal wees vir jou verhouding met God, wat verwag dat ons hom met “’n volkome hart” dien.—1 Kronieke 28:9.
15. (a) Watter gelykenis het Jesus aangaande die oog vertel? (b) Hoe behou ’n mens in fisiese sowel as geestelike sin ’n eenvoudige oog? (c) Hoe sal ons geestelike sig soos dié van drie van Jesus se apostels wees as ons oog eenvoudig is?
15 Jesus het twee gelykenisse vertel om ons te help om die strik van materialisme te vermy. Eerstens het hy gesê: “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg [“eenvoudig”, NW] is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees” (Mattheüs 6:22, 23). Fisies is ’n oog wat “reg” oftewel “eenvoudig” is een wat in fokus is en duidelike beelde na die brein oordra. ’n Oog wat nie in fokus is nie, dra verwarde en onduidelike beelde oor. Net so dra ’n geestelike oog wat “eenvoudig” is, of in fokus is, ’n helder beeld van God se Koninkryk oor, nie ’n onduidelike, wasige beeld wat die nuwe wêreld soos die een of ander sprokiesverhaal of mite laat lyk nie. As jou geestelike oog in fokus is, sal God se beloofde nuwe wêreld vir jou net so werklik wees as wat die Koninkryk vir die drie apostels was wat die voorreg gehad het om ’n voorskou daarvan te sien in die wonderdadige visioen van Jesus se transfigurasie.—Mattheüs 16:28–17:9; Johannes 1:14; 2 Petrus 1:16-19.
16. Hoe het Jesus in ’n tweede gelykenis getoon hoe belangrik dit is om net een doel voor oë te hê?
16 Jesus het ’n tweede gelykenis vertel. “Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag.” Hy het die gedagte laat inslaan deur weer te beklemtoon hoe belangrik dit is om net een doel voor oë te hê toe hy gesê het: “Julle kan nie God én Mammon dien nie!” (Mattheüs 6:24). Dit is eenvoudig onmoontlik. Daarom het Jesus voortgegaan: “Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe—wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam—wat julle sal aantrek nie. . . . Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.”—Mattheüs 6:25-32.
17. (a) Watter punt het Jesus met sy instruksies aangaande materiële dinge gestel? (b) Wat het Jesus hier beklemtoon, en wat behels ’n gebalanseerde, eenvoudige lewe?
17 Jesus het nie bedoel dat sy volgelinge die voorsiening van materiële middele aan die toeval moet oorlaat of dat hulle lui moet wees en moet weier om te werk om vir hulself en hulle gesinne te voorsien nie (1 Timotheüs 5:8). Nee, die punt is eerder dat hierdie materiële dinge wat vurig deur die nasies nagestreef word nie die voorkeur moet geniet nie. Jesus het trouens gemaan: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheüs 6:33). Hier het Jesus dus van lewensdoelwitte gepraat en beklemtoon hoe vergeefs dit is om materiële dinge na te jaag. ’n Gebalanseerde, eenvoudige lewe behels dat ons ons oë alleenlik op Koninkryksbelange fokus en alles anders ondergeskik daaraan stel.
Die voorbeeld van Jesus en ander
18. Hoe het Jesus die regte voorbeeld vir ons gestel?
18 Toe Paulus Christene aangespoor het om ‘elke las af te lê en die sonde [naamlik gebrek aan of verlies van geloof] wat ons so maklik omring’, het hy gemaan: “Laat ons . . . met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” (Hebreërs 12:1, 2). Jesus was so heelhartig aan Koninkryksbelange toegewy dat hy sy situasie as volg kon beskryf: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie” (Mattheüs 8:20). Tog was Jesus nie ’n askeet nie. Die Skrif toon dat hy goeie kos en klere geniet het, maar sy vernaamste doel in die lewe was om sy bediening te vervul. Sodoende het Jesus ’n gebalanseerde, eenvoudige lewe gelei.—Lukas 5:29; Johannes 19:23, 24.
19, 20. (a) Watter voorbeeld het Paulus met betrekking tot materiële dinge gestel? (b) Watter les het talle vandag geleer, en hoe voel hulle oor hulle lewensweg?
19 Die apostel Paulus het ook sy prioriteite reg gehad. Hy het verduidelik: “Ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie” (Handelinge 20:24). Ja, ten einde die uiters belangrike bediening te vervul, was Paulus tevrede met die allernodigste, maar hy was nogtans bly om partymaal ’n oorvloed te geniet. Hy het geskryf: “In alles en in alle omstandighede het ek van beide die geheim geleer: om versadig te wees en honger te ly, om oorvloed te hê en gebrek te ly.”—Filippense 4:12, NW.
20 Vandag het letterlik tienduisende mense dieselfde les geleer. Baie van hulle is voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies, onder andere sendelinge, pioniers, reisende opsieners en diegene wat by die organisasie se internasionale hoofkwartier en takkantore dien. Na jare van voltydse diens sê die meeste: “As ek weer kon kies, sou ek dit nie anders gedoen het nie.”
Seëninge wat jy kan geniet
21, 22. (a) Watter belonings geniet ons reeds nou as ons ’n gebalanseerde, eenvoudige lewe lei? (b) Watter toekomstige seëninge kan jy geniet?
21 Hoewel ’n gebalanseerde, eenvoudige lewe opoffering verg, is die seëninge en vreugde ongeëwenaard. Dit sal jou meer tyd gee om Koninkryksbelange te bevorder, asook ’n groter geleentheid om belangstellendes te vind en hulle aangaande God se voornemens te leer. Jy sal ware bevrediging en vergenoegdheid smaak, met inbegrip van gemoedsrus en die versekering dat jy Jehovah God behaag. Dit is ’n beloning wat jy selfs nou kan geniet.—Filippense 4:6, 7.
22 Maar die toekomstige seëninge sal baie groter wees en enige opofferinge wat jy dalk tans doen ver oortref. Jehovah se seëninge sluit “die lewe tot in ewigheid” in. Ja, jy kan daardie seën ontvang—die ewige lewe in geluk in Jehovah se regverdige nuwe wêreld. Lei ’n gebalanseerde, eenvoudige lewe, en moet nooit toelaat dat dinge van hierdie wêreld jou jou balans laat verloor nie. Onthou dat God jou die begeertes van jou hart sal gee.—Psalm 21:4, 5; 37:4; 133:3.
Vrae ter hersiening
◻ Watter voorbeelde en illustrasies wat jou kan help om ’n gebalanseerde, eenvoudige lewe te lei, het jou opgeval?
◻ Hoe sal ’n gebalanseerde, eenvoudige lewe ons beskerm?
◻ Wat sal dit vir ons beteken as ons geestelike oog eenvoudig is?
◻ Hoe het Jesus ons geleer om ’n eenvoudige lewe te lei?
◻ Watter seëninge hou ’n gebalanseerde, eenvoudige lewe in?