Die vooruitsig op ’n paradys is ondanks die mens se ongehoorsaamheid geldig
1. Waar en in watter omgewing sien ’n mens die eerste man en vrou na verloop van tyd?
TYD het verloop. Die eerste man en vrou is nie meer onskuldig naak nie. Hulle is geklee—in lang kledingstukke van dierevel. Hulle is net buite die ingang tot die volmaakte tuin van Eden. Hulle staan met hulle rûe na die tuin. Hulle kyk na die toneel voor hulle. Hulle sien net onbewerkte grond. Dit is baie duidelik dat dit nie God se seën het nie. Hulle sien dorings en distels voor hulle. Is dit nie die aarde wat hulle beveel is om te onderwerp nie? Ja, maar die eerste man en vrou is nie nou daarbuite om die tuin van Eden na sulke onbewerkte grond uit te brei nie.
2. Waarom probeer die man en die vrou nie om weer die Paradys binne te gaan nie?
2 Waarom draai hulle nie om en gaan weer die Paradystuin binne wanneer hulle so ’n teenstellende gesig sien nie? Dit is maklik om dit aan die hand te doen, maar kyk wat is agter hulle by die ingang van die tuin. Skepsele wat hulle, selfs in die tuin, nog nooit gesien het nie, gerubs, en die vlammende lem van ’n swaard wat voortdurend draai. Die man en die vrou kan nooit lewend daar verbykom en die tuin binnegaan nie!—Genesis 3:24, vgl. NW.
3. Wat het gebeur dat die eerste egpaar se omstandighede so ingrypend verander het?
3 Wat het gebeur? Dit is nie ’n geheim wat so ingewikkeld is dat dit die wetenskap duisende jare lank dronkgeslaan het nie. Dit het ’n eenvoudige verklaring. Die eerste man en vrou kon die wonderlike vooruitsigte ervaar wat met God se bevel op hulle huweliksdag gepaard gegaan het, maar op voorwaarde dat hulle hul hemelse Vader selfs in kleinighede gehoorsaam. Hulle volmaakte gehoorsaamheid sou getoets word deur één voedselverbod: Hulle moet nie die vrug van “die boom van die kennis van goed en kwaad” eet nie (Genesis 2:16, 17). As hulle God se bevele veronagsaam het, sou hulle sekerlik sterwe. Dit is wat Adam, as God se profeet, vir sy vrou, die jonger menseskepsel, gesê het. Maar verbasend genoeg het daardie na·chasjʹ, die slang, die waaragtigheid van God se waarskuwing aan Adam om nie van die verbode “boom van die kennis van goed en kwaad” te eet nie, weerspreek. Die slang het die vrou bedrieg en haar wysgemaak dat sy soos God sou word en onafhanklik van God sou kon bepaal wat goed en wat sleg is as sy God se wet verbreek en die verbode vrug eet.—Genesis 3:1-5.
Nie ’n mite nie
4, 5. Hoe toon die apostel Paulus dat die verslag oor hoe die slang die eerste vrou bedrieg het nie ’n mite was nie?
4 Ongelooflik? Klink dit te veel soos ’n mite, ’n legende wat nie op feite gebaseer is nie en gevolglik nie vir hedendaagse, ingeligte volwasse verstande aanvaarbaar is nie? Nee, dit was nie die beskouing van ’n veelgelese skrywer, ’n betroubare skrywer, ’n spesiaal verkose apostel, wat geweet het dat wat hy skryf juis is nie. Hierdie apostel, Paulus, het aan die gemeente van volwasse Christene in die wêreldwyse stad Korinthe geskryf: “Ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien verdorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus.”—2 Korinthiërs 11:3.
5 Paulus sou nouliks van ’n mite, ’n fabel, praat en iets so denkbeeldigs gebruik om sy punt te stel vir daardie Korinthiërs, wat die mites van die heidense Griekse godsdiens goed geken het. Die apostel Paulus het uit die geïnspireerde Hebreeuse Skrifte, wat hy as “die woord van God” bestempel het, aangehaal en bevestig dat “die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het” (1 Thessalonicense 2:13). En toe die apostel Paulus geskryf het aan ’n Christenopsiener wie se plig dit was om “die patroon van gesonde woorde” aan ander te leer, het hy gesê: “Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva. En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom.”—2 Timotheüs 1:13, NW; 1 Timotheüs 2:13, 14.
6. (a) Hoe het Adam se oortreding teen God verskil van dié van die vrou? (b) Waarom kan ons seker wees dat die vrou nie ’n storie oor die slang versin het nie?
6 Dit is ’n feit dat die vrou deur die slang bedrieg is, nie ’n mite nie, net so seker as wat die gevolge van haar ongehoorsaamheid deur van die verbode vrug te eet vasstaande geskiedenisfeite is. Nadat sy sodoende teen God oortree het, het sy haar man oorreed om saam met haar te eet, maar hy het nie geëet omdat hy ook deeglik bedrieg is nie (Genesis 3:6). Die verslag oor hoe hulle daarna rekenskap aan God gedoen het, sê: “En die mens antwoord: Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee, en ek het geëet. Daarop sê die HERE God aan die vrou: Wat het jy nou gedoen? En die vrou antwoord: Die slang het my bedrieg, en ek het geëet” (Genesis 3:12, 13). Die vrou het nie ’n storie oor daardie na·chasjʹ, daardie slang, versin nie, en Jehovah God het haar verduideliking nie as ’n versinsel, ’n mite, beskou nie. Hy het daardie slang behandel as ’n instrument wat gebruik is om die vrou te mislei sodat sy teen Hom, haar God en Skepper, oortree het. Dit sou benede God se waardigheid wees om iets met ’n bloot mitologiese slang te doen te hê.
7. (a) Hoe beskryf die Bybelverslag God se geregtelike optrede teen die slang? (b) Hoe kan die slang wat die eerste vrou bedrieg het ons ook bedrieg? (Sluit kommentaar oor die voetnoot in.)
7 Die verslag beskryf God se geregtelike optrede teen daardie slang in die tuin van Eden soos volg: “Toe sê die HERE God aan die slang: Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die vee en al die diere van die veld. Op jou buik moet jy seil, en stof moet jy eet al die dae van jou lewe. En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt” (Genesis 3:14, 15). Enige regverdige hof oorweeg feite en ondersoek ware getuienis, nie legendes nie. Jehovah God het hom nie belaglik of bespotlik gemaak deur sy geregtelike vonnis oor ’n mitiese slang uit te spreek nie, maar het oordeel gevel oor ’n werklike, lewende skepsel wat toerekenbaar was. Dit sou nie belaglik nie, maar pateties wees as daardie einste slang ons sou bedrieg en sou wysmaak dat hy nooit bestaan het nie, dat hy ’n blote mite is, dat hy nie vir enige probleme op aarde aanspreeklik is nie.a
8. Watter oordeel het God oor die vrou gevel, en watter gevolge het dit vir haar dogters en kleindogters gehad?
8 Die verslag oor die mens se vrou praat van die vrou se verklaring in verband met die slang as ’n feit en sê: “Aan die vrou het Hy gesê: Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar; en na jou man sal jou begeerte wees, en hý sal oor jou heers” (Genesis 3:16). Toe God sy seën tydens haar huwelik met Adam uitgespreek het, het dit niks van hierdie aard behels nie, want God het vir hulle gesê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde” (Genesis 1:28). Daardie geseënde opdrag aan die volmaakte mensepaar het getoon dat die vrou dikwels swanger sou wees, maar nie dat sy onnodige barensweë en uitermatige geboortepyne sou ondervind en dat haar man oor haar sou heers nie. Hierdie oordeel wat uitgespreek is oor die vrou wat gesondig het, sou haar dogters en kleindogters geslag na geslag raak.
Die oordeel oor Adam verheerlik God se wet
9, 10. (a) Waarteen het God Adam direk gewaarsku, en wat sou die gevolge wees as God so ’n vonnis voltrek het? (b) Watter oordeel het God oor Adam gevel?
9 Maar watter veranderde omstandighede sou die vrou deel met die man wat sy oorreed het om saam met haar te oortree? God het direk vir hierdie man gesê: “Maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Genesis 2:17). Sou God, die Regter, so ’n finale oordeel voltrek omdat Adam bloot ’n stukkie van die vrug geëet het? Dink wat die voltrekking van so ’n vonnis sou beteken! Dit sou die opwindende vooruitsig verydel wat Adam en Eva op hulle huweliksdag gehad het, naamlik die vooruitsig om die hele aarde met hulle nageslag te vul, en dat ’n volmaakte mensdom wat vir ewig jonk sou wees ’n paradysaarde vir ewig vreedsaam sou bewoon, in vrede met hulle God en hemelse Vader! God sou tog seker nie sy wonderlike voorneme met die mensdom en met die mens se aardse tuiste verydel deur die doodsvonnis streng aan die eerste mense-ouers van die hele mensdom te voltrek nie! Maar luister na die goddelike besluit wat onomwonde in die Bybelverslag opgeteken is:
10 “En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie—vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”—Genesis 3:17-19.
11. Watter feite aangaande gehoorsaamheid toon dat Adam God se oordeel oor hom verdien het?
11 Daardie oordeel het beteken dat die doodsvonnis aan die mens voltrek sou word ondanks die uitwerking daarvan op God se voorneme dat daar ’n paradysaarde moet wees vol volmaakte manne en vroue wat liefdevol en vreedsaam saamwoon en die aardomvattende Paradystuin vir ewig bewerk en versorg. Die mens het na sy vrou se stem geluister eerder as na God se stem wat hom beveel het om nie van die verbode “boom van die kennis van goed en kwaad” te eet nie. En sou hy sy kinders konsekwent leer om die stem van sy God en Skepper te gehoorsaam as hy dit self nie gedoen het nie? Sou sy eie voorbeeld ter sprake kom as hy hulle leer om Jehovah God te gehoorsaam?—Vergelyk 1 Samuel 15:22.
12, 13. (a) Hoe sou Adam se sonde sy kinders raak? (b) Waarom het Adam nie verdien om vir ewig in die Paradys of hoegenaamd op die aarde te lewe nie?
12 Sou Adam se kinders God se wet volmaak kon onderhou, soos hy vroeër in sy menslike volmaaktheid kon doen? Sou hy nie, deur die werking van die erflikheidswette, sy swakheid en neiging om God se stem te veronagsaam en na ’n ander stem te luister aan sy kinders oordra nie? Die feitelike geskiedenis verskaf die antwoorde op hierdie vrae.—Romeine 5:12.
13 Het so ’n man wat hom, bloot ter wille van ’n menseskepsel, afgekeer het van volmaakte gehoorsaamheid aan God, wat ’n blyk van volmaakte liefde vir God is, verdien om vir ewig in die Paradys of hoegenaamd op aarde te lewe? Sou dit selfs veilig wees om hom vir ewig op die aarde te laat lewe? Sou dit God se wet verheerlik en Sy absolute geregtigheid weerspieël as die mens ten spyte van sy oortreding toegelaat word om vir ewig op die aarde te lewe of sou dit minagting vir God se wet bevorder en impliseer dat God se woord onbetroubaar is?
Uit die tuin van Eden uitgedryf
14. Hoe beskryf die Bybelverslag God se optrede teen Adam en sy vrou?
14 Die Bybelverslag deel ons mee hoe God hierdie sake beslis het: “En die HERE God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek. Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie! Toe stuur die HERE God hom weg uit die tuin van Eden om die grond te bewerk waaruit hy geneem is. So het Hy dan die mens weggedrywe en gerubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.”—Genesis 3:21-24.
15. (a) Hoe het God in ag geneem dat Adam en sy vrou skaam gevoel het oor hulle naaktheid? (b) Hoe is die eerste egpaar uit die tuin van Eden uitgedryf? (c) Met watter veranderde omstandighede het Adam en sy vrou buite die tuin van Eden te kampe gehad?
15 Die goddelike Regter het in ag geneem dat die sondaars, Adam en sy vrou, nou skaam gevoel het oor hulle naaktheid. Op ’n onvermelde manier het hy hulle lang kledingstukke van vel gegee om die skorte te vervang wat hulle vir hulself gemaak het deur vyeblare aanmekaar te werk (Genesis 3:7). Die velklere sou langer hou en hulle beter beskerm teen die dorings en die distels en ander skadelike goed buite die tuin van Eden. Omdat hulle ná hulle sonde ’n skuldige gewete gehad het, het hulle probeer om tussen die bome van die tuin van Eden vir God weg te kruip (Genesis 3:8, NAV). Nou, nadat hulle gevonnis is, het hulle ’n vorm van goddelike druk ondervind deurdat God hulle uit die tuin uitgedryf het. Hulle is na die ooste gedryf en was weldra buite die tuin, vir ewig daaruit verban. Hulle sou nie meer werk om daardie tuin te vergroot en die Paradystoestande daarvan na die uithoeke van die aarde uit te brei nie. Hulle sou voortaan brood eet wat van die plante van die veld gemaak is, maar dit sou hulle menselewe nie vir ewig onderhou nie. Hulle was van “die boom van die lewe” afgesny. Na ’n tydperk—hoe lank?—moes hulle sterf!
Jehovah se oorspronklike voorneme onverydelbaar
16. Wat was God nie van voorneme om te doen nie, en waarom nie?
16 Het God nou besluit om die aarde, asook die maan en die son en die sterre, in ’n universele verwoestende brand te vernietig omdat hierdie twee stoflike skepsele teen hom gesondig het? Sou sodanige optrede deur hom nie beteken dat sy wonderlike voorneme verydel is deur iets wat ’n na·chasjʹ begin het nie? Kon ’n blote slang God se hele voorneme verydel? Hy het sy voorneme op Adam en Eva se huweliksdag aan hulle uiteengesit toe hy hulle geseën en vir hulle gesê het wat sy wil vir hulle was: dat die hele aarde met ’n volmaakte mensdom gevul word, dat die hele aarde tot die volmaaktheid van die tuin van Eden onderwerp word en dat die hele mensdom vreedsaam oor al die laer skepsele op die aarde en in die aarde se waters heers. ’n Indrukwekkende gesig van God se verwesenlikte voorneme, waarvoor hy tydens ses skeppingsdae oor ’n tydperk van duisende jare die voorbereidsels getref het! Sou hierdie prysenswaardige voorneme nou onvervuld bly bloot weens ’n slang en die verdorwenheid van die eerste mensepaar? Nouliks!—Vergelyk Jesaja 46:9-11.
17. Wat is God se voorneme ten opsigte van die sewende dag, en hoe sal hierdie dag dus uiteindelik wees?
17 Dit was steeds Jehovah God se rusdag, die sewende dag. Hy het hom voorgeneem om daardie dag te seën en het dit geheilig. Hy sou nie toelaat dat enigiets dit ’n vervloekte dag maak nie, en enige vloek wat iemand op sy rusdag wou bring, sou hy teenwerk en in ’n seën verander, sodat die dag uiteindelik geseënd sal wees. Dit sou meebring dat die hele aarde ’n heilige plek is, dat volmaakte mense God se wil hier op die aarde doen soos dit in die hemel gedoen word.—Vergelyk Mattheüs 6:10.
18, 19. (a) Waarom kan lydende nakomelinge van die sondige, eerste mensepaar moed skep? (b) Wat sal in latere artikels van Die Wagtoring bespreek word?
18 God was nie gefrustreerd nie. Hy het nie sy voorneme laat vaar nie. Hy het besluit om homself te heilig as die volkome betroubare Een wat hom voorneem en sy voornemens ten volle vervul, sodat alle eer hom toekom (Jesaja 45:18). Die onvolmaakte, lydende nakomelinge van die sondige eerste mensepaar kan moed skep en daarna uitsien dat God sy oorspronklike voorneme getrou tot hulle ewige voordeel sal uitvoer. Millenniums van sy rusdag het reeds verloop, en die laaste deel van die dag wat sy spesiale seën sal geniet, moet naby wees. Die “aand” van sy rusdag gaan verby, en die “oggend” moet aanbreek, soos met al ses die vorige skeppingsdae die geval was. Wanneer hierdie “oggend” volmaaktheid bereik en die heerlike vervulling van God se onveranderlike voorneme vir alle toeskouers sigbaar word, sal daar opgeteken kan word: ‘En dit was aand en dit was môre, die sewende dag.’ Inderdaad ’n verbasende vooruitsig!
19 Hoe opwindend is dit tog om hieroor na te dink! En meer inligting oor die verruklike vooruitsig op die Paradys wat voorlê vir gehoorsame mense, liefhebbers van God se wet, sal in latere artikels van Die Wagtoring verskyn.
[Voetnoot]
a In Openbaring 12:9 word Satan die Duiwel as “die ou slang” geïdentifiseer; en in Johannes 8:44 praat Jesus Christus van hom as ‘die vader van die leuen’.
Wat sou jy sê?
◻ Hoe het die eerste mensepaar hulle Paradystuiste verbeur?
◻ Waarom weet ons dat Eva werklik deur ’n slang bedrieg is en dat dit nie ’n mite is nie?
◻ Watter vonnis het God oor die vrou gevel?
◻ Watter vonnis het God oor Adam gevel, en waarom het dit God se wet verheerlik?
◻ Waarom was God nie gefrustreerd met betrekking tot sy voorneme dat die aarde met volmaakte mense in die Paradys gevul moet wees nie?