Vrae van lesers
◻ Is Jesus die Middelaar net vir geesgesalfde Christene of vir die hele mensdom, aangesien 1 Timotheüs 2:5, 6 van hom praat as die “Middelaar” wat “Homself gegee het as ’n losprys vir almal”?
Die Bybel bevat basiese leerstellinge sowel as diep waarhede, wat vaste spys vir studie is. Jesus Christus se rol as Middelaar is so ’n studie . Die apostel Paulus het geskryf: “Daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ’n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd.”—1 Timotheüs 2:5, 6.
Om te verstaan wat Paulus sê, moet ons eers besef dat die Bybel twee bestemmings vir getroue mense voorhou: (1) volmaakte lewe op ’n herstelde aardse paradys en (2) hemelse lewe vir Christus se “klein kuddetjie”, wat uit 144 000 bestaan (Lukas 12:32; Openbaring 5:10, NAV; 14:1-3). Die Christendom leer dat alle goeie mense hemel toe gaan. Hierdie onskriftuurlike standpunt het die algemene beskouing beïnvloed, sodat Jesus as ’n tussenganger vir al sulke mense beskou word. Maar wat leer die Bybel?
Die Griekse woord me·siʹtes, wat vir “middelaar” gebruik word, beteken ‘iemand wat hom tussen twee mense of partye bevind’. Dit was ’n ‘veelsydige tegniese term van die Hellenistiese regstaal’. Professor Albrecht Oepke (Theological Dictionary of the New Testament) sê dat me·siʹtes “een van die veelseggendste tegniese terme in die woordeskat van die Hellenistiese reg was”.
Maar waarom gebruik die Bybel ’n regsterm vir Jesus se rol as middelaar? Beskou, as agtergrond, wat Paulus geskryf het oor God se Wet wat aan Israel gegee is toe hulle voor die berg Sinai vergader het: “Dit is deur engele beskik deur tussenkoms van ’n middelaar” (Galasiërs 3:19, 20). Daardie middelaar was Moses. Hy was die tussenpersoon tussen Jehovah en die vleeslike nasie Israel. Met watter doel? Met die doel om ’n verbond, of wetlike ooreenkoms, tussen God en die nasie op te rig.a
Beteken dit dat daar ’n spesifieke regsbegrip by Jesus se rol as Middelaar betrokke is? Ja. Let op Paulus se kommentaar in Hebreërs 8:6. Nadat hy van die tabernakel en ander tipiese voorstellings van die Wetsverbond gepraat het, skryf hy: “Nou het Hy [Jesus] ’n voortrefliker bediening verkry vir sover Hy ook Middelaar is van ’n beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is.” Die “beter verbond” was die nuwe verbond, wat die verbond vervang het waarvan Moses die middelaar was (Hebreërs 8:7-13). Die nuwe verbond was “wettelik gegrond”. Dit het die grondslag gelê vir sommige van Christus se volgelinge, waarvan die apostels die eerstes was, om “in die heiligdom in te gaan”, in die hemel self.—Hebreërs 9:24; 10:16-19.
Daar is ook ander aanduidings van die wetlike aard van Jesus se rol as Middelaar van die “nuwe verbond”. Paulus het soos volg kommentaar gelewer oor God se belofte in Psalm 110:4: “In sover het Jesus van ’n beter verbond borg [enʹgy·os] geword” (Hebreërs 7:22). Dit is die enigste plek waar die Bybel die woord enʹgy·os gebruik. The New International Dictionary of New Testament Theology sê: “Die engyos het gewaarborg dat ’n regsverpligting nagekom sal word.” As Middelaar van die nuwe verbond dien Jesus dus as ’n wetlike waarborg dat “’n beter hoop” verwesenlik sal word.—Hebreërs 7:19.
Elders gebruik Paulus nog ’n ander woord met ’n wetlike betekenis, naamlik ar·ra·bonʹ, wat met “onderpand” vertaal word. Dieselfde woordeboek sê: “Die Griekse woord arrabōn . . . is ’n regsbegrip uit die sake- en handelstaal.” Let op hoe het Paulus hierdie regsterm gebruik: “Hy wat . . . ons gesalf het, is God, wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het” (2 Korinthiërs 1:21, 22). Die ander twee keer wat ar·ra·bonʹ voorkom, het ook te doen met God se salwing van Christene met die gees, wat aan hulle ’n ‘ewige beloning of erfdeel in die hemel’ as geesseuns van God gee.—2 Korinthiërs 5:1, 5; Efesiërs 1:13, 14; kyk Kingdom Interlinear Translation of the Greek Scriptures.
Dit is dus duidelik dat die nuwe verbond nie ’n algemene reëling is waarin die hele mensdom deel nie. Dit is ’n sorgvuldig gereëlde wetlike ooreenkoms tussen God en gesalfde Christene.
Dít behoort ons te help om 1 Timotheüs 2:5, 6 te verstaan. Hierdie vermelding van “Middelaar” kom voor nadat die woord reeds vyf keer in vorige briewe gebruik is. Gevolglik sou Timotheüs begryp het dat Jesus se middelaarskap op Sy wetlike rol in verband met die nuwe verbond betrekking het. The Pastoral Epistles, deur Dibelius en Conzelmann, erken dat, in 1 Timotheüs 2:5, ‘die term “Middelaar” ’n wetlike betekenis het’, en “alhoewel die [verbond] in hierdie gedeelte, anders as in Hebr 8:6, nie genoem word nie, ’n mens nietemin die betekenis ‘middelaar van die verbond’ moet veronderstel, soos die verband toon”. Professor Oepke merk op dat 1 Timotheüs 2:5 Jesus as “die prokureur en onderhandelaar” voorstel.
’n Hedendaagse illustrasie kan help om dit te verduidelik, veral as jy nie ’n geesgesalfde Christen is nie. Dink aan ’n regsaak waarmee ’n prokureur gemoeid is. Sy rol is dalk nie soseer dié van ’n regsverteenwoordiger wat om geregtigheid pleit as dié van een wat ’n wetlike ooreenkoms bemiddel of beding wat vir beide partye aanvaarbaar en voordelig is nie. Aangesien jy nie by daardie regsaak betrokke is nie, tree hy nie in daardie sin as jou prokureur op nie. Maar hy is dalk ’n baie goeie vriend van jou wat op ander maniere aan jou waardevolle hulp verleen.
Somtyds kan ’n prokureur se werk resultate lewer wat baie ander tot voordeel strek. Dit geld ook vir Jesus se regsprestasies as Middelaar van die nuwe verbond. Dit bewerkstellig wat die Wetsverbond nie kon nie, ’n hemelse “koninkryk van priesters” (Exodus 19:6; 1 Petrus 2:9). Daarna sal gesalfde Christene in die Koninkryk vanuit die hemel met Jesus saamwerk om “al die nasies van die aarde” te seën.—Genesis 22:18.
Die mense van alle nasies wat hoop om vir ewig op aarde te lewe trek selfs nou voordeel uit Jesus se dienste. Alhoewel hy nie hulle wetlike Middelaar is nie, omdat hulle nie in die nuwe verbond is nie, maak hy dit vir hulle moontlik om Jehovah te nader. Christus het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Johannes 14:6). Almal wat lewe op aarde gaan beërwe, moet hulle gebede deur Jesus tot Jehovah rig (Johannes 14:13, 23, 24). Jesus dien ook as ’n medelydende Hoëpriester wat die voordele van sy offer ten behoewe van hulle kan aanwend en dit vir hulle moontlik maak om vergifnis en uiteindelik redding te ontvang.—Handelinge 4:12; Hebreërs 4:15.
Gevolglik gebruik 1 Timotheüs 2:5, 6 nie “Middelaar” in die algemene sin van die woord soos dit in baie tale voorkom nie. Dit sê nie dat Jesus ’n middelaar tussen God en die hele mensdom is nie. Dit het eerder betrekking op Christus as die wetlike Middelaar (of “prokureur”) van die nuwe verbond, aangesien dit die beperkte manier is waarop die Bybel die term gebruik. Jesus is ook ’n ooreenstemmende losprys vir almal in daardie verbond, Jode sowel as nie-Jode, wat onsterflike lewe in die hemel sal ontvang. Die apostel Johannes het in 1 Johannes 2:2 van hulle gepraat. Maar hy het getoon dat ander ook die voordeel van Christus se offerande sal ontvang: “Hy is ’n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.”
“Die hele wêreld” is almal wat die ewige lewe in ’n herstelde aardse paradys sal ontvang. Miljoene goedgekeurde knegte van God het nou daardie aardse hoop. Hulle beskou Jesus as hulle Hoëpriester en Koning deur wie hulle daagliks toegang tot Jehovah verkry. Hulle vertrou op Jesus se losprys, wat vir hulle beskikbaar is, net soos dit vir manne soos Abraham, Dawid en Johannes die Doper sal wees wanneer hulle opgewek word (Mattheüs 20:28). Christus se offerande sal dus vir die hele gehoorsame mensdom tot die ewige lewe lei.
[Voetnoot]
a ’n Bespreking van verbonde verskyn in Die Wagtoring van 1 Februarie 1989, bladsye 10-20.
[Prent op bladsy 31]
Hier by die berg Sinai het Moses as middelaar van die Wetsverbond opgetree
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.