Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 9/15 bl. 15-20
  • Ouere manne—Behandel God se kudde met teerheid!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ouere manne—Behandel God se kudde met teerheid!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Nie as heersers oor die kudde nie
  • Bronne van verligting en verkwikking
  • Met reg en geregtigheid
  • Hou aan om tere besorgdheid te toon
  • “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle sorg is”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Ouere manne, oordeel in regverdigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Herders, volg die grootste Herders na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Wees gehoorsaam aan diegene wat die leiding neem
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 9/15 bl. 15-20

Ouere manne—Behandel God se kudde met teerheid!

“Ons was vriendelik onder julle soos [wanneer ’n sogende moeder] haar kinders koester.”—1 THESSALONICENSE 2:7, vgl. “NW”.

1. Waarom kan elke lojale Getuie van Jehovah veilig voel?

JEHOVAH is die Groot Herder. Hy voorsien oorvloedig vir sy knegte, sy skape, en lei hulle “in die spore van geregtigheid” ter wille van sy heilige naam. Daarom hoef diegene wat sy wil doen geen onheil te vrees nie en kan hulle op hulle medelydende God staatmaak vir vertroosting. Elke lojale Getuie van Jehovah het inderdaad goeie rede om veilig te voel in God se liefdevolle sorg.—Psalm 23:1-4.

2. Watter eienskappe openbaar Jesus as die afskynsel van God se heerlikheid?

2 Jesus Christus is “die afskynsel . . . van [God se] heerlikheid en die afdruksel van sy wese” (Hebreërs 1:1-4). Daarom toon Jesus, die Goeie Herder, ook liefde en medelye (Johannes 10:14, 15). Eenkeer het hy byvoorbeeld “’n groot menigte [gesien], en Hy het vir hulle innig jammer gevoel, omdat hulle soos skape sonder herder was; en Hy het hulle baie dinge begin leer”.—Markus 6:34.

3. (a) Watter eienskappe moet Christenonderherders ter navolging van Jehovah God en Jesus Christus openbaar? (b) Watter raad en waarskuwing het die apostel Paulus opsieners gegee?

3 Alle Christene moet ‘navolgers van God wees en aanhou wandel in liefde net soos Christus hulle liefgehad het’ (Efesiërs 5:1, 2). Hulle moet dus liefdevol en medelydend wees. Dit geld veral vir onderherders van God se kudde. Die apostel Paulus het gesê: “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde [onder wie] die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur [die bloed van sy eie Seun] verkry het. Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie [met teerheid sal behandel] nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan.”—Handelinge 20:28-30, vgl. NW.

4. (a) Wat het met verloop van tyd ter vervulling van Paulus se waarskuwing in Handelinge 20:29, 30 gebeur? (b) Watter vrae moet nou bespreek word?

4 Met verloop van tyd het afvallige “wrede wolwe” verskyn en ‘die kudde nie met teerheid behandel nie’. Maar hoe bly is ons tog dat ouere manne onder Jehovah se Getuies nie so tiranniek optree nie! Watter soort behandeling kan medegelowiges egter van hierdie geesaangestelde opsieners verwag? En hoe kan sulke aangestelde opsieners tere besorgdheid teenoor Jehovah se skape toon?

Nie as heersers oor die kudde nie

5. (a) Hoe behandel wêreldlike leiers hulle onderdane dikwels? (b) Hoe het Jesus getoon dat tirannie geen plek onder sy volgelinge het nie?

5 Ons kan met reg verwag dat Christen- ouere manne ons met medelye behandel. Hulle is anders as wêreldlike heersers, wat dikwels baasspeel oor hulle onderdane. Volgens verslae het die Frankiese koning Karel die Grote (wat van 768-814 G.J. geheers het) byvoorbeeld “die Saksers op straf van die dood verplig om gedoop te word, diegene wat die Vastyd geskend het die kwaaiste strawwe opgelê en oral oorreding deur geweld vervang” (The History of the Christian Church, deur William Jones). Daar is geen plek vir tirannie onder Jesus se volgelinge nie, want hy het gesê: “Julle weet dat die heersers van die heidene oor hulle baasspeel, en dat hulle groot manne hulle tiranniseer. Dit moenie so onder julle wees nie, maar wie ook al onder julle groot wil wees, moet julle dienskneg wees, en wie ook al die eerste plek onder julle wil beklee, moet julle slaaf wees, net soos die Seun van die Mens gekom het nie om bedien te word nie, maar om ander mense te bedien en om sy lewe te gee om baie ander los te koop.”—Mattheüs 20:25-28, An American Translation.

6. (a) Watter basiese faktore ten opsigte van ouere manne is opmerklik? (b) Wat kan die gemeente met reg van ouere manne verwag, en hoe moet hierdie manne hulleself beskou?

6 ’n Christenman wat ‘daarna streef om ’n opsienersamp te verkry, begeer ’n voortreflike werk’ (1 Timotheüs 3:1). Wanneer ons hieroor sowel as oor Jesus se pas aangehaalde raad nadink, is die volgende basiese faktore opmerklik: (1) Christen- ouere manne moet ander nie tiranniseer nie; (2) diegene onder Jesus se volgelinge wat verantwoordelikheid op hulle neem, moet die ander se slawe wees, nie hulle meesters nie; en (3) manne wat daarna streef om ’n opsienersamp te verkry, moet dit as “’n voortreflike werk” beskou, nie as ’n verhewe posisie nie (Spreuke 25:27, NW; 1 Korinthiërs 1:31). Die term “ouere man” verhef geen man bo ander aanbidders van Jehovah nie. Die gemeente het eerder rede om te verwag dat alle ouere manne geestelik ryp, ervare en nederige manne moet wees wat die leiding gee in heilige diens. Ouere manne moet hulleself inderdaad as nederige slawe van Jehovah God, Jesus Christus en mede-Christene beskou.—Romeine 12:11, NW; Galasiërs 5:13, NW, Kolossense 3:24, NW.

7. (a) Hoe moet ouere manne 2 Korinthiërs 1:24 in hulle handelinge met ander toepas? (b) Wat moet ouere manne doen met instruksies wat hulle van die Bestuursliggaam ontvang het?

7 As ’n ouere man nederig soos ’n slaaf ten behoewe van ander dien, verhinder dit hom natuurlik om oor hulle te probeer “baasspeel”. En hoe goed is dit tog dat ons opsieners se gesindheid soortgelyk aan dié van Paulus is! Hy het vir Christene in Korinthe gesê: ‘Ons is nie meesters oor julle geloof nie, maar ons is medewerkers aan julle blydskap’ (2 Korinthiërs 1:24, vgl. NW). Gevolglik sal diegene wat liefdevol toesig hou hul medegelowiges nie met onnodige mensgemaakte reëls belas nie. Die opsieners onder Jehovah se Getuies word eerder deur Skriftuurlike beginsels gelei en lewer vriendelike, nuttige diens. Hulle toon ook diep besorgdheid teenoor God se kudde deur instruksies wat hulle van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies ontvang het sonder versuim uit te voer.—Handelinge, hoofstuk 15.

8. Watter gesindheid het Paulus teenoor medegelowiges gehad, en watter uitwerking moet dit op 20ste-eeuse ouere manne hê?

8 Omdat Paulus tere besorgdheid teenoor God se kudde getoon het, kon hy vir Christene in Thessalonika sê: “Ons was vriendelik onder julle soos [wanneer ’n sogende moeder] haar kinders koester. Terwyl ons [tere geneentheid vir julle gehad] het, was dit ons aangenaam om aan julle nie alleen die evangelie van God mee te deel nie, maar ook ons eie lewe, omdat julle vir ons dierbaar geword het” (1 Thessalonicense 2:7, 8, vgl. NW). Paulus het opgetree soos ’n sogende moeder, wat haar kinders so innig lief het dat sy hulle belange bo haar eie stel en tere besorgdheid teenoor hulle toon. Hoe behoort dit 20ste-eeuse ouere manne tog aan te spoor om God se kudde met teerheid te behandel!

Bronne van verligting en verkwikking

9. Watter toestand van Jehovah se hedendaagse volk is in Jesaja 32:1, 2 voorspel?

9 Die profeet Jesaja het aangaande hierdie dag van Koninkryksheerskappy deur Jesus Christus voorspel dat ’n koning sou “regeer in geregtigheid” en “vorste” sou “heers volgens reg”. Ouere manne in die hedendaagse teokratiese organisasie behartig dus die belange van die opgerigte hemelse Koninkryk—inderdaad vorstelike diens! Jesaja se verdere profetiese woorde is op hierdie verantwoordelike manne van toepassing: “Elkeen sal wees soos ’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in ’n dor streek, soos die skaduwee van ’n swaar rots in ’n land wat versmag.”—Jesaja 32:1, 2.

10. Waarvan moet elke ouere man onder Jehovah se Getuies ’n bron wees?

10 Anders as die Christendom se verdrukkende godsdiensleiers is ouere manne onder Jehovah se Getuies bronne van verligting en verkwikking. As liggame van ouere manne bevorder hulle vrede, rus en veiligheid onder Jehovah se volk. Elke ouere man kan individueel hierdie goeie toestand bevorder deur God se kudde met teerheid te behandel.

Met reg en geregtigheid

11. (a) Watter algemene toestand wat onder eerste-eeuse Christene bestaan het, heers vandag in die meeste gemeentes van Jehovah se Getuies? (b) Watter verantwoordelikheid het opsieners teenoor die gemeente, en waarom?

11 Hoewel daar probleme in party eerste-eeuse Christengemeentes ontstaan het, was daar oor die algemeen ’n toestand van vrede, eenheid en vreugde in die gemeentes (1 Korinthiërs 1:10-12; 3:5-9; Efesiërs 1:2; Jakobus 2:1-9; 3:2-12; 4:11, 12; 1 Johannes 1:3, 4). Danksy God se seën, Christus se leiding en die getroue werk van aangestelde opsieners heers daar vandag eweneens ’n goeie geestelike toestand in die meeste gemeentes van Jehovah se Getuies. Om gemeentelike vrede, eenheid en vreugde te verseker, wend hierdie opsieners hulle tot God vir hulp en beywer hulle hul om God se organisasie sedelik en geestelik rein te hou (Jesaja 52:11). ’n Onrein organisasie kan nooit vreedsaam en vreugdevol wees nie, en dit sal beslis nie God se goedkeuring en seën geniet nie. Hy is “te rein . . . van oë om die kwaad aan te sien” dit wil sê, om oortredinge te duld (Habakuk 1:13). Daar word dus onder meer van ouere manne verwag om op ’n regskape, skriftuurlike wyse na regterlike aangeleenthede om te sien. Maar wat is party faktore wat hulle in gedagte moet hou wanneer hulle sulke sake hanteer?

12. Wat moet in die lig van Galasiërs 6:1 gedoen word, hoewel ouere manne nie verplig is om persoonlike aangeleenthede wat geen Bybelwette of -beginsels skend te ondersoek nie?

12 Eerstens, in gevalle waar persoonlike onenighede ter sprake is, sal dit dalk vir individue moontlik wees om die probleme privaat op te los (Mattheüs 18:15-17). Aangesien ouere manne nie ‘meesters oor ons geloof’ is nie, word daar nie van hulle verwag om suiwer persoonlike aangeleenthede te ondersoek waarby geen ernstige skending van Bybelwette of -beginsels betrokke is nie. As daar bewyse is dat iemand ‘een of ander misstap gedoen het voordat hy daarvan bewus is’, moet diegene met geestelike kwalifikasies natuurlik probeer om ‘so een in ’n gees van sagmoedigheid reg te help’.—Galasiërs 6:1, vgl. NW.

13. Hoe toon die Skrif dat ouere manne slegs moet optree as hulle bewyse van oortreding het en nie op grond van blote hoorsê nie?

13 Ouere manne moet “volgens reg” dien deur altyd onpartydig te wees. Daarom moet hulle slegs optree as hulle bewyse van oortreding het, nie op grond van blote hoorsê nie. Paulus het gemaan: “Moenie ’n beskuldiging teen ’n ouderling aanneem nie, behalwe op die getuienis van twee of drie” (1 Timotheüs 5:19). Volgens Jehovah se standaard moes ’n persoon in eertydse Israel wat van ’n doodsonde beskuldig is, doodgemaak word ‘op die verklaring van twee of drie getuies, nie een nie’. Boonop is die beskuldigde blykbaar die geleentheid gebied om hom voor sy beskuldigers te verdedig, en as daar genoeg bewyse was, moes ‘die hand van die getuies eerste teen hom wees om hom dood te maak’.—Deuteronomium 17:6, 7.

14. (a) Wat het Diotrefes verkeerdelik probeer doen? (b) Wat verwag God van ouere manne wanneer hulle regterlike aangeleenthede hanteer?

14 Daar moet ’n vaste skriftuurlike grondslag vir regterlike optrede wees. Hoe bly is ons tog dat gemeentelike opsieners nie soos die trotse Diotrefes van die eerste eeu G.J. is nie! Hy het verkeerdelik probeer om diegene wat reisende broers gasvry wou ontvang ‘uit die gemeente te werp’. Die apostel Johannes het dit en ander oortredings glad nie lig opgeneem nie, maar gewaarsku: “As ek kom, sal ek hom herinner aan die werke wat hy doen” (3 Johannes 9, 10). Daarom moet ’n hedendaagse regterlike komitee seker wees dat enige besluit om iemand uit te sit ’n Bybelse grondslag het.a God verwag natuurlik dat Christen- ouere manne regverdig moet wees in hulle handelinge met ander. Diegene wat die aangeleenthede van Jehovah se aardse organisasie behartig, moet inderdaad “bekwame manne [wees] wat God vrees, betroubare manne”.—Exodus 18:21.

15. Watter rol moet gebed tydens regterlike verhore speel?

15 Elke Christelike regterlike komitee moet Jehovah in hartgrondige gebed om hulp vra. ’n Sitting met ’n broer of ’n suster wat van ernstige oortreding beskuldig is, moet met gebed geopen word. Trouens, dit sal gepas wees om te eniger tyd gedurende die bespreking wanneer ’n besondere behoefte aan God se hulp ontstaan, te bid.—Jakobus 5:13-18.

16. Hoe moet ouere manne regterlike verhore hou, en waarom?

16 Ouere manne weet dat ’n medegelowige wat van oortreding beskuldig is ’n ‘skaap’ in God se kudde is en met teerheid behandel moet word. (Vergelyk Esegiël 34:7-14.) Letterlike skape het tere versorging nodig, want hulle is sku diere wat van hulle herder afhanklik is vir beskerming. Wat dan van die figuurlike skape in die plaaslike gemeente? Hulle voel ongetwyfeld veilig in die sorg van die Groot Herder, Jehovah God, en die Goeie Herder, Jesus Christus. Maar onderherders van die kudde moet só optree dat dit die innerlike vrede en gevoel van veiligheid van Jehovah se knegte, sy skape, bevorder. As jy dus ’n Christenonderherder is, voel jou broers en susters veilig en kalm in jou sorg? Ouere manne moet Bybelwette en -beginsels weliswaar ferm handhaaf. Maar hulle word deur die Skrif verplig om die skape liefdevol te behandel en om regterlike verhore op ’n kalm, ordelike, vriendelike en bedagsame manier te hou.

17. Watter skriftuurlike riglyne moet ouere manne, veral gedurende regterlike verhore, in gedagte hou?

17 Omdat ons onvolmaak is, ‘struikel ons almal dikwels’ in wat ons sê (Jakobus 3:2). Elkeen van ons het God se genade en Christus se “soenoffer” nodig (1 Johannes 1:8–2:2, vgl. NW; Psalm 130:3). Daarom moet ’n Christenonderherder ’n nederige beskouing van homself hê. Hy moet ook Jesus se woorde onthou: “Soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen” (Lukas 6:31). Hierdie raad moet veral tydens regterlike verhore toegepas word. Geestelik bekwame manne moet ’n Christen wat oortree het in ’n “gees van sagmoedigheid” probeer reghelp, ‘terwyl hulle op hulself let, dat hulle ook nie versoek word nie’.—Galasiërs 6:1; 1 Korinthiërs 10:12.

18. (a) Wat kan gebeur as ouere manne ander ongevoelig behandel tydens regterlike verhore? (b) Waarteen moet ouere manne en ander Christene, met die oog op Markus 9:42, waak?

18 As ouere manne ander ongevoelig behandel tydens regterlike verhore kan dit nadelig vir sulke individue wees. Maar selfs al het dit geen emosionele of fisiese skade veroorsaak nie, kan dit ernstige geestelike skade tot gevolg hê en kan die kwalifikasies van die opsieners ook in twyfel getrek word. (Vergelyk Jakobus 2:13.) Daarom moet ouere manne gedurende regterlike verhore sowel as te alle ander tye liefdevol wees en daarteen waak dat hulle ander laat struikel. Alle Christene moet natuurlik op hul hoede wees in hierdie verband, want Jesus het gesê: “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is beter vir hom as ’n meulsteen [soos wat deur ’n esel gedraai word] om sy nek gehang en hy in die see gegooi word” (Markus 9:42, vgl. NW). ’n Boonste meulsteen kon so groot wees dat ’n dier se krag gewoonlik nodig was om dit te draai, en niemand wat met so ’n gewig om sy nek in die see gegooi is, kon bly lewe nie. ’n Ouere man moet dus beslis sorg dat hy nie struikeling veroorsaak wat hom en enigeen wat hy laat struikel het blywende geestelike skade kan berokken nie.—Filippense 1:9-11.

Hou aan om tere besorgdheid te toon

19. Watter raad het Petrus mede- ouere manne gegee, en hoe hou behoorlike toepassing daarvan verband met hulle vooruitsigte?

19 Die apostel Petrus het getoon hoe mede-opsieners oor die kudde toesig moes hou toe hy geskryf het: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde. En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang” (1 Petrus 5:2-4). Slegs as hulle sulke raad toepas en tere besorgdheid teenoor God se kudde toon, kan gesalfde opsieners hulle hemelse beloning as onsterflike geesskepsele verkry en kan ouere manne met ’n aardse hoop die ewige lewe in die komende aardwye Paradys ontvang.

20. (a) Hoe moet Christenonderherders hulle medegelowiges behandel? (b) Hoe voel jy oor die voorbeeldige diens en tere sorg van liefdevolle ouere manne?

20 Beide Jehovah God en Jesus Christus is liefdevolle, medelydende Herders. Terwyl Christenonderherders goddelike standaarde ferm handhaaf, moet hulle dus terselfdertyd liefde en medelye toon in hulle handelinge met hul medegelowiges, God se skape. Alle lojale Getuies van Jehovah het ongetwyfeld innige waardering vir die voorbeeldige diens van sulke selfopofferende ouere manne wat hulle pand bewaar en God se kudde met teerheid behandel. Daardie waardering, asook behoorlike respek, kan getoon word deur gehoorsaam te wees aan diegene wat onder ons die leiding neem.

[Voetnoot]

a ’n Persoon kan appèl aanteken teen ’n besluit om hom uit te sit as hy meen dat ’n ernstige oordeelsfout begaan is.

Wat is jou mening?

◻ Hoe het Jesus Christus getoon dat tirannie geen plek onder sy volgelinge het nie?

◻ Wat moet ouere manne doen wanneer hulle instruksies van die Bestuursliggaam ontvang?

◻ Waarvan moet ouere manne, volgens Jesaja 32:1, 2, bronne wees?

◻ Hoe toon die Skrif dat ouere manne nie op grond van blote hoorsê moet optree nie?

◻ Hoe moet Christenonderherders die kudde behandel?

[Prent op bladsy 18]

Innige gebed is onontbeerlik wanneer ’n regterlike komitee met ’n medegelowige byeenkom

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel