Doen alles ter wille van die goeie nuus
“Ek doen alles ter wille van die goeie nuus, sodat ek ’n deelgenoot daarvan met ander kan word.”—1 KORINTHIËRS 9:23, “NW”.
1. Watter eienskap het ons almal gemeen, maar waarvoor het God die grondslag voorsien?
HOEWEL ons op verskeie maniere van mekaar verskil, is daar ’n eienskap wat ons almal gemeen het. As nakomelinge van Adam is ons almal as sondaars gebore wat van die allerhoogste God, Jehovah, vervreemd was (Romeine 5:12; Kolossense 1:21). Soos die Christenapostel Paulus geskryf het: “Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23). Daarom moet mense van elke rasgroep en nasie met God versoen raak om gered te kan word. En hoe dankbaar kan ons tog wees dat Jehovah met weergalose liefde en barmhartigheid die grondslag vir versoening met hom voorsien het!
2. (a) Watter bediening is aan gesalfde Christene toevertrou? (b) Uit wie se voorbeeld kan ons leer, en waarom? (1 Korinthiërs 11:1).
2 Negentien eeue gelede is “die bediening van die versoening” aan gesalfde getuies van Jehovah toevertrou. Paulus het gesê: “Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen” (2 Korinthiërs 5:18-20). Met watter gesindheid het die apostel hierdie bediening vervul? “Alhoewel ek van almal vry was”, het hy gesê, “het ek my aan almal diensbaar [of, “tot slaaf”, NW] gemaak om soveel van hulle as moontlik te win” (1 Korinthiërs 9:19). Paulus het ongetwyfeld moeite gedoen om sy boodskap op ’n doeltreffende wyse aan te bied, want hy het ook gesê: “Ek doen alles ter wille van die goeie nuus, sodat ek ’n deelgenoot daarvan met ander kan word” (1 Korinthiërs 9:23, NW). Wat kan ons dus uit Paulus se voorbeeld leer?
Hulp aan nederige Jode
3. Hoe is Paulus se gewilligheid om alles ter wille van die goeie nuus te doen in verband met Timotheüs en die Jode getoon?
3 Paulus se Joodse agtergrond en sy gewilligheid om alles ter wille van die goeie nuus te doen, het hom toegerus om nederige Jode te help om Jesus as die Messias te aanvaar. Beskou byvoorbeeld wat die apostel gedoen het toe hy Timotheüs as sy reisgenoot gekies het. Anders as Joodse seuns was Timotheüs, wie se vader Grieks was, nie besny nie (Levitikus 12:2, 3). Paulus het geweet dat dit Jode kon laat struikel as ’n onbesnede jong man hulle probeer help het om met God versoen te raak. Wat het Paulus dus gedoen om te voorkom dat Jode met opregte harte Jesus verwerp? “Hy het [Timotheüs] geneem en besny ter wille van die Jode.” Dit is gedoen selfs al was die besnydenis nie ’n Christelike vereiste nie.—Handelinge 16:1-3.
4. Wat was volgens 1 Korinthiërs 9:20 Paulus se doel?
4 Paulus het dinge dus ter wille van die goeie nuus gedoen toe hy liefdevolle besorgdheid teenoor mede-Jode getoon het. Hy het geskryf: “Vir die Jode het ek soos ’n Jood geword om die Jode te win; vir die wat onder die wet is, soos een wat onder die wet is, om die wat onder die wet is, te win” (1 Korinthiërs 9:20). Ja, soos die geval van Timotheüs getoon het, het Paulus alles in sy vermoë gedoen om Jode te win en hulle te help om Christene te word. Maar het hy nie-Jode op soortgelyke wyse behandel?
Sy pogings om nie-Jode te win
5. Vir wie het Paulus in Korinthe gepreek, en met watter gevolg?
5 Nadat Paulus om en by die noordelike herfs van 50 G.J. in die stad Korinthe aangekom het, het hy weeklikse toesprake in die sinagoge gehou vir ’n gehoor wat uit Jode en Griekse bekeerlinge tot die Joodse geloof bestaan het. Maar sy ywerige predikingswerk het soveel teenkanting uitgelok dat hy vir sy teenstanders gesê het: “Julle bloed is op julle hoof. Ek is rein. Van nou af sal ek na die heidene gaan.” Jehovah het hierdie stap geseën, want “baie van die Korinthiërs het, toe hulle hom hoor, gelowig geword en is gedoop” as Christene. Trouens, in ’n gesig het die Heer Paulus aangespoor om in daardie toewysing te volhard en vir hom gesê: “Ek het baie mense in hierdie stad.”—Handelinge 18:1-10.
6. Wat het Paulus beweeg om belangstelling te toon in diegene wie se agtergrond anders as syne was?
6 Paulus se opregte begeerte om nie-Jode tot die Christelike godsdiens te bekeer, het hom beweeg om ook belangstelling te toon in mense wie se agtergrond baie anders as sy eie was. “Vir die [nie-Jode] wat sonder die wet is, [het ek geword] soos een sonder wet—al is ek nie sonder die wet van God nie, maar onder die wet van Christus—om die wat sonder die wet is, te win” (1 Korinthiërs 9:21, vgl. NW). Hoe het die apostel nie-Jode probeer win?
7. Waarom was Titus se situasie anders as dié van Timotheüs wat die besnydenis betref?
7 Toe Paulus omstreeks 49 G.J. na Jerusalem gegaan het om die belangrike vergadering van die Christengemeente se bestuursliggaam by te woon, is hy deur die Griekse dissipel Titus vergesel. Paulus het aan die broers wat byeengekom het verslag gedoen oor sy predikingswerk onder die heidene, en hy het later geskryf: “Selfs is Titus, wat by my was, nie gedwing om besny te word nie, alhoewel hy ’n Griek is” (Galasiërs 2:1-3). Anders as Timotheüs was Titus se bediening hoofsaaklik op onbesnede heidene gerig. Gevolglik het die besnydenisgeskil nie in sy geval ontstaan nie.—2 Korinthiërs 8:6, 16-18, 23; 12:18; Titus 1:3-5.
8. Hoe het Paulus ’n getuienis in Athene gegee?
8 Toe Paulus ’n getuienis in Athene gegee het, het hy weer eens getoon dat hy alles ter wille van die goeie nuus gedoen het. Hy het die denkwyse van die inwoners van daardie Griekse hoofstad in ag geneem en vir hulle vertel van die God wat vir hulle onbekend was en hulle digters Aratos en Kleanthes aangehaal, wat gesê het: “Want ons is ook sy geslag.” Die apostel het sy gehoor sodoende probeer help om te verstaan dat hulle nie moes “dink dat die godheid aan . . . die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie”. Paulus het verder geredeneer: “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer.” Hy het op doeltreffende wyse die aandag gevestig op die “Here van hemel en aarde”, Jehovah. En die gevolg? “Sommige manne het by hom aangesluit en gelowig geword” (Handelinge 17:22-34). Ja, Paulus se metodes was suksesvol!
9. Hoe het Paulus ‘vir die swakkes soos ’n swakke’ geword, en waarom?
9 “Vir die swakkes het ek soos ’n swakke geword om die swakkes te win”, het Paulus gesê (1 Korinthiërs 9:22a). Hoewel sy spraak kragtig was, het die apostel die swak gewete van sekere Jode en nie-Jode in die gemeente in aanmerking geneem. Hy het Christene in Rome aangespoor: “Neem hom aan wat swak is in die geloof, nie om oor sy gevoelens te oordeel nie.” Pleks van te oordeel, het Paulus gesê: “Laat ons dan najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien” (Romeine 14:1, 13, 19). Hy het gemaan: “Op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie” (Romeine 15:1). Hy was bewus van sy verpligting om sy spraak en optrede só aan te pas dat hy ander kon help en het geskryf: “Vir almal het ek alles geword.”—1 Korinthiërs 9:22b; Galasiërs 3:28.
Verbeter jou vaardigheid as prediker
10. Hoe kan ons Paulus vandag navolg?
10 Vandag moet Jehovah se Getuies Paulus navolg soos hy Christus nagevolg het (1 Korinthiërs 11:1). Die apostel was ’n bekwame prediker wat die sendinggees gehad het. Dieselfde kan waar wees in ons geval, selfs al laat ons omstandighede ons nie toe om in ’n buitelandse veld te dien nie. Soos Paulus moet ons ‘alles ter wille van die goeie nuus doen sodat ons dit aan ander kan meedeel’ (1 Korinthiërs 9:23, NW). Maar wat kan ons vaardigheid as Koninkrykspredikers en dissipelmakers verbeter?—Mattheüs 28:19.
11. Waarom moet jy as ’n bedienaar jou waarnemingsvermoë ontwikkel?
11 Lê jou daarop toe om jou waarnemingsvermoë te ontwikkel. Deur oplettend te wees, sal jy baie dinge opmerk wat jou sal help om jou aanbieding van die goeie nuus by individuele huisbewoners aan te pas. As jy vir stadsmense getuig, kan jy byvoorbeeld let op die slotte aan die deur, die godsdiensversiersels en die slagspreuke op ruitplakkers. Hierdie dinge kan jou help om ’n getuienis te gee wat die hart van die mense wat in sulke huise woon, kan raak. Paulus was beslis oplettend. In Athene het hy ’n altaar “Aan ’n onbekende God” gebruik as een van die onderwerpe van sy puik getuienis aangaande “die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is” (Handelinge 17:22-25). Jy kan soortgelyke dinge in jou bediening doen.
12. Watter rol speel onderskeidingsvermoë in ons bediening?
12 Gebruik onderskeidingsvermoë in die bediening. Moenie ontmoedig word as ’n persoon aanvanklik huiwerig is om die deur oop te maak en met jou te praat nie. Pleks van toe te laat dat ’n stroewe gesig jou in jou spore laat omdraai, moet jy vriendelik wees en onderskeidingsvermoë gebruik. Probeer om jou getuienis by die omstandighede aan te pas. Selfs met kort, biddende nadenke kan jy dalk iets sê wat ’n ontvanklike snaar in die persoon se hart sal aanroer.—Vergelyk Nehemia 2:4-6.
13. Hoe kan ons bedagsaamheid toon teenoor diegene vir wie ons getuig?
13 Wees bedagsaam. In hierdie verband kan verskeie dinge ter wille van die goeie nuus gedoen word. As jy bedagsaam is, sal jy byvoorbeeld nie bejaarde of siek mense baie lank by die deur laat staan nie. Jy kan voorstel dat jy in die huis met hulle praat, waar dit dalk vir hulle gemakliker sal wees. Of jy sal moontlik besluit dat dit in dié omstandighede beter sal wees om jou besoek kort te hou. Hoe dit ook al sy, wees bedagsaam. Wys dat jy omgee!—Mattheüs 9:35, 36.
14. Hoe kan ons luisteraars gerusstel wanneer ons vir hulle getuig?
14 Praat op ’n manier wat jou luisteraars gerusstel. Begin jou getuienis met ’n vriendelike groet wat in jou gebied aanvaarbaar is (Mattheüs 10:12). Neem moontlike vrese en vooroordele in aanmerking. Praat beleef en met opregte vriendelikheid. Dit sal help om huisbewoners te verseker dat jy daar is om te help en nie bedekte beweegredes het nie.
15. Waarom moet jy genoeg informasie oor jouself en die rede vir jou besoek by ’n huis verskaf?
15 Huisbewoners moet weet wie hulle besoek en waarom. Verstrek dus genoeg informasie oor jouself. In party gebiede, veral in Afrika en Asië, stel mense so belang in besoekers dat hulle gretig is om antwoorde te kry op vrae soos: Wie is jy? Waar woon jy? Is jy getroud? Het jy ’n gesin? Om die geleentheid aangenaam te maak, is dit die gebruik dat jy hierdie vrae beantwoord voordat jy die doel van jou besoek verduidelik. Jy moet sulke groetery nie as onnodig beskou nie, maar die tyd gebruik om die persoon dop te hou en eerbiedige oogkontak met hom te bewerkstellig.
16. Hoe kan goeie vrae nuttig wees om kommunikasie met ’n huisbewoner te behou?
16 Gebruik goeie vrae om kommunikasie met die huisbewoner te behou. Hoewel ’n persoon se gesig iets kan wys, moet sy gedagtes en gevoelens verstaan word. Te dien einde kan jy vrae doeltreffend gebruik om die huisbewoner aan te moedig om sy sienings en gevoelens uit te spreek. Ter toeligting: Een kinderlose dame wat baie aandag aan diere gegee het, het die volgende oor die besoek van ’n Getuie gesê: “Wat ek van haar glimlaggende gesig onthou, is die vrede. Ek was gefassineerd. Hierdie dame het my gevra wat my die meeste oor die toestande op die aarde bekommer. Ek het gesê dat ek bekommerd is oor die manier waarop mense diere behandel, en sy het my Jesaja 11:6-9 gewys oor diere wat in ware vrede lewe. Ek wou meer weet.”
17. Waarom moet ons aandagtig luister of die huisbewoner dalk enigiets oor sy of haar omstandighede sê?
17 Luister aandagtig of die huisbewoner dalk enigiets oor sy of haar omstandighede sê, veral in gebied wat dikwels gedek word. Sodoende sal jy waarskynlik selfs gedurende ’n kort gesprek iets belangriks oor die persoon te wete kom. Nadat jy weg is by die deur, moet jy sulke informasie kortliks op die huis-tot-huisverslag neerskryf. Maar sê nou die huisbewoner opper ’n vraag wat jy nie kan beantwoord nie? Doen dan navorsing in die Wagtoringgenootskap se publikasies om vas te stel wat die beste manier sal wees om met jou volgende besoek die goeie nuus aan die persoon te verduidelik.
’n Voorbeeld vir sendelinge
18. Wat kan sendelinge en ander uit Paulus se voorbeeld leer?
18 Sendelinge wat aan die Wagtoring-Bybelskool Gilead opgelei is, tel onder diegene wat alles ter wille van die goeie nuus doen. Hulle kan leer uit die voorbeeld van Paulus, wat ’n puik sendinggees gehad het. Hy wou byvoorbeeld nie verantwoordelik wees vir struikelblokke wat Jode en nie-Jode kon verhinder om die waarheid te aanvaar nie. Daarom het die apostel gelet op wat hy geëet het en het hy Korinthiese Christene gemaan om op te pas dat die uitoefening van hulle reg om sekere kosse te eet ander nie laat struikel nie (1 Korinthiërs 8:8, 9, vgl. NW). In die New Century Bible het professor F. F. Bruce gesê: “In alle keusesituasies (soos die voedsel waarom dit in [1 Korinthiërs] hoofstuk 8 gegaan het), skik [Paulus] hom na die gewoontes van diegene saam met wie hy op daardie tydstip is, sodat hy hulle geen struikelblok in die weg sou lê om vir die evangelie ‘gewin’ te word nie.” (Sien Romeine 14:21.) Sendelinge van Jehovah se Getuies probeer eweneens nie om die gewoontes van mense in hulle sendingveld te verander nie, hoewel nuwelinge geestelike hulp gegee word om die nodige aanpassings te maak om God te behaag.—Romeine 12:1, 2.
19. Watter aanpassings sal dalk in die dissipelmaakwerk nodig wees vir (a) diegene wat sendingwerk doen? (b) alle Koninkryksverkondigers?
19 Diegene wat in ’n sendingtoewysing begin, moet leer wat die mense se leefwyse en gewoontes is. Dit is ’n verrykende ondervinding en kan sendelinge help om doeltreffender in hulle predikingswerk te wees. Trouens, hulle sal dalk aanpassings moet maak ten opsigte van dinge soos hulle kleredrag en persoonsversorging sodat hulle ander nie laat struikel nie. Byvoorbeeld: Toe een sendelingsuster die eerste keer in Wes-Afrika aangekom het, het sy gevind dat die manier waarop sy grimeersel gebruik het haar maklik met sedelose vroue in daardie streek kon identifiseer. Daarom het sy gou haar grimering verander sodat ander nie haar beweegredes sou bevraagteken nie. Alle Getuies van Jehovah moet natuurlik goeie oordeel aan die dag lê wat kleredrag en persoonsversorging betref sodat hulle ander geestelik kan help. Christene, wat gemaan word om ‘’n broer nie ’n struikelblok in die weg te lê nie’ en om dinge na te jaag wat mekaar opbou, wil beslis niemand laat struikel nie.—Romeine 14:13, 19.
20. (a) Hoe sal jy die dinge wat ons sal help om ‘alles ter wille van die goeie nuus te doen’ opsom? (b) Watter vrae moet nog beantwoord word?
20 Sukses as Koninkryksverkondigers hang hoofsaaklik van Jehovah se seën af (1 Korinthiërs 3:6, 7). Maar ons moet ons ook inspan. Wees dus oplettend, soos Paulus in sy bediening was. Gebruik onderskeidingsvermoë, wees bedagsaam, stel huisbewoners gerus en gebruik goeie vrae om kommunikasie met hulle te behou. Pas jou aan by gewoontes wat moontlik vreemd lyk maar nie onskriftuurlik is nie. Ja, laat ons ‘alles doen ter wille van die goeie nuus, sodat ons deelgenote daarvan met ander kan word’ (1 Korinthiërs 9:23, NW). Maar wat gebeur wanneer party reeds lede van ons Christenbroederskap is? Hoe behandel ons hulle?
Hoe sou jy antwoord?
□ Wat het Paulus gedoen om Jode te help om Christene te word?
□ Hoe het Paulus nie-Jode probeer win?
□ Wat is party maniere waarop ons ons vaardigheid as predikers kan verbeter?
□ Watter voorbeeld het Paulus vir sendelinge en ander Koninkryksverkondigers gestel?