Word jy deur God se goedheid aangetrek?
HET jy ’n intieme vriend? Indien wel, het jy al ooit nagedink oor wat jou tot daardie persoon aangetrek het? Was dit sy (of haar) voorkoms? Was dit die feit dat julle in dieselfde dinge belanggestel het? Of was dit dieper eienskappe soos goedhartigheid of wysheid? As goedheid die eienskap was wat julle vriendskap verstewig het, het julle waarlik ’n ryk verhouding. Opregte goedheid word vandag selde gevind, aangesien die meeste mense “sonder liefde vir die goeie” is.—2 Timotheüs 3:3.
Die belangrikste verhouding in ’n Christen se lewe is nie dié met ’n ander mens nie, maar met God. Het jy dus al ooit, wanneer jy oor hierdie verhouding nadink, gewonder: ‘Watter eienskap van God trek my die meeste na God toe aan?’
God se hoofeienskappe
Die Bybel beskryf trouens baie van God se uitsonderlike eienskappe. Die vier wat gewoonlik sterk na vore kom, is sy liefde, sy geregtigheid, sy wysheid en sy almagtige krag (Deuteronomium 32:4; Job 12:13; Psalm 147:5; 1 Johannes 4:8). Indien ons tussen hierdie vier uitsonderlike eienskappe moes kies, sou ons moontlik sê dat God se liefde ons die meeste aantrek. Sy uitmuntende goedheid is egter nou verwant aan sy liefde. Bybelskrywers het baie hieroor geskryf, en sulke goedheid kan mense aantrek om ’n gesonde, aangename verhouding met hulle Skepper te hê.
Laat in die sesde eeu v.G.J. het die profeet Sagaria byvoorbeeld van Jehovah uitgeroep: “Want hoe groot is sy goedheid, en hoe groot is sy skoonheid!” (Sagaria 9:17, NW). Baie jare voor Sagaria het Jesaja God eweneens geloof toe hy geskryf het: “Ek sal die goedertierenhede van die HERE prys, . . . en die veelvuldige goedheid jeens die huis van Israel wat Hy aan hulle bewys het.”—Jesaja 63:7.
Koning Dawid het drie eeue vroeër op treffende wyse oor God se goedheid geskryf. Dawid het uit ondervinding geskryf, aangesien hy hierdie goedheid dwarsdeur sy lewe geniet het. God was uitermate goed teenoor Dawid, veral ná sy baie ernstige sondes in verband met Batseba en haar man Uria, toe God hom genade bewys het (2 Samuel 12:9, 13). Dawid het sy waardering in Psalm 31:20 uitgespreek: “Hoe groot is u goedheid wat U weggelê het vir die wat U vrees!”
Waardeer jy God se goedheid net soveel soos daardie eertydse aanbidders? Indien wel, sal jy die ware “vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan”, ervaar en beweeg word om God se wil deurentyd te doen (Filippense 4:7). Kom ons beskou nou vir ’n paar oomblikke wat God se goedheid insluit asook die verbasende omvang daarvan. Dit sal beslis ons waardering vir ons liefdevolle hemelse Vader vergroot.