Jehovah is my helper
‘Hou goeie moed en sê: “Jehovah is my helper; ek sal nie bevrees wees nie. Wat kan ’n mens aan my doen?”’—HEBREËRS 13:6, “NW”.
1, 2. (a) Watter vertroue in Jehovah het die psalmis sowel as die apostel Paulus uitgespreek? (b) Watter vrae ontstaan?
JEHOVAH GOD is ’n onfeilbare bron van hulp. Die psalmis het dit uit ondervinding geweet en kon sê: “[Jehovah] is vír my; ek sal nie vrees nie: wat kan ’n mens my doen?” (Psalm 118:6, vgl. NW). Die apostel Paulus het ’n soortgelyke mening uitgespreek toe hy sy goddelik geïnspireerde brief aan die Hebreeuse Christene geskryf het.
2 Blykbaar het Paulus die psalmis se woorde uit die Griekse Septuaginta aangehaal en vir Hebreeuse mede-aanbidders gesê: ‘Hou goeie moed en sê: “Jehovah is my helper; ek sal nie bevrees wees nie. Wat kan ’n mens aan my doen?”’ (Hebreërs 13:6, NW). Waarom het die apostel so geskryf? En wat kan ons uit die konteks leer?
’n Behoefte aan Jehovah se hulp
3. (a) In watter omstandighede was Jehovah Paulus se Helper? (b) Waarom het Hebreeuse Christene Jehovah besonder nodig gehad as hulle Helper?
3 Paulus was ’n selfopofferende getuie wat bewys gehad het dat Jehovah sy Helper was. God het die apostel deur baie beproewinge heen gehelp. Paulus is in die gevangenis gegooi, geslaan en gestenig. Tydens sy reise as ’n Christenbedienaar het hy skipbreuk gely en baie ander gevare deurgemaak. Hy was welbekend met moeite, slapelose nagte, honger, dors, selfs naaktheid. “Behalwe dit alles”, het hy gesê, “my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes” (2 Korinthiërs 11:24-29). Paulus het sulke besorgdheid oor Hebreeuse Christene gehad. Jerusalem se dae was getel, en die apostel se Joodse broers en susters in Judea sou voor groot toetse van hulle geloof te staan kom (Daniël 9:24-27; Lukas 21:5-24). Daarom sou hulle Jehovah as hulle Helper nodig hê.
4. Watter basiese vermaning word dwarsdeur die brief aan die Hebreërs gegee?
4 In die inleiding van sy brief aan Hebreeuse Christene het Paulus getoon dat hulle alleenlik goddelike hulp sou ontvang as hulle na God se Seun, Jesus Christus, sou luister (Hebreërs 1:1, 2). Hierdie gedagte is in die brief ontwikkel. Om gewig aan sy raad te verleen, het die apostel sy lesers byvoorbeeld daaraan herinner dat die Israeliete gestraf is vir ongehoorsaamheid in die wildernis. Hoeveel minder sou Hebreeuse Christene straf vryspring as hulle die dinge verwerp het wat God deur Jesus vir hulle gesê het en afvalliges geword het wat die Mosaïese Wet aangehang het wat deur Christus se offerande tot niet gemaak is!—Hebreërs 12:24-27.
Broederliefde in aksie
5. (a) Watter ander raad word voorsien deur die brief aan die Hebreërs? (b) Wat het Paulus oor liefde gesê?
5 Die brief aan die Hebreërs het toekomstige erfgename van die hemelse Koninkryk raad gegee oor hoe om hulle Voorbeeld, Jesus Christus, na te volg, ‘heilige diens met godvrugtige vrees en ontsag te verrig’ en Jehovah as hulle Helper te hê (Hebreërs 12:1-4, 28, 29, vgl. NW). Paulus het medegelowiges aangemoedig om gereeld te vergader en ‘mekaar tot liefde en goeie werke aan te spoor’ (Hebreërs 10:24, 25). Nou het hy hulle gemaan: “Laat julle broederliefde voortduur.”—Hebreërs 13:1, NW.
6. In watter sin het Jesus sy dissipels “’n nuwe gebod” aangaande liefde gegee?
6 Jesus het sulke liefde van sy volgelinge vereis, want hy het gesê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:34, 35). Dit was “’n nuwe gebod” in die sin dat dit ’n stap verder gegaan het as die Mosaïese Wet, wat gesê het: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Levitikus 19:18). Die “nuwe gebod” het meer vereis as dat ’n persoon sy naaste soos homself moet liefhê. Dit het vereis dat ’n mens sulke selfopofferende liefde toon dat jy selfs jou lewe vir ’n ander sal gee. Jesus se lewe en dood was ’n voorbeeld van daardie soort liefde. Tertullianus het na hierdie kenmerk verwys toe hy wêreldse mense se opmerkings oor Christene aangehaal en gesê het: “‘Kyk’, sê hulle, ‘hoe lief het hulle mekaar . . . en hoe gewillig is hulle om vir mekaar te sterf.’”—Apologeticum (Apologie), hoofstuk XXXIX, 7.
7. Hoe het broederliefde na Pinkster 33 G.J. geblyk?
7 Na Pinkster 33 G.J. kon broederliefde duidelik onder Jesus se dissipels gesien word. “Almal wat gelowig geword het, was bymekaar, en het alles gemeenskaplik besit. En hulle eiendomme en besittings het hulle verkoop en die opbrings onder almal verdeel, volgens wat elkeen nodig gehad het”, sodat talle pas gedoopte gelowiges van verafgeleë plekke langer in Jerusalem kon bly en meer oor God se voorsiening vir redding deur Christus kon leer.—Handelinge 2:43-47; 4:32-37.
8. Watter bewys is daar dat broederliefde vandag onder Jehovah se Getuies heers?
8 In ons tyd heers daar sulke broederliefde onder Jehovah se Getuies. Na die Tweede Wêreldoorlog het sulke liefde God se volk byvoorbeeld beweeg om ’n noodlenigingskampanje van twee en ’n half jaar te onderneem. Getuies in Kanada, Swede, Switserland, die Verenigde State en ander lande het klere en geld vir kos geskenk aan medegelowiges in België, Bulgarye, China, Denemarke, Duitsland, Engeland, die Filippyne, Finland, Frankryk, Griekeland, Hongarye, Italië, Nederland, Noorweë, Oostenryk, Pole, Romenië en Tsjeggo-Slowakye, wat so swaar deur die oorlog getref is. Dit is net een voorbeeld, want God se knegte het korter gelede sulke liefde getoon teenoor Christenslagoffers van aardbewings in Peru en Mexiko, stormwinde in Jamaika en soortgelyke rampe elders. Op hierdie en baie ander maniere laat Jehovah se volk ‘hulle broederliefde voortduur’.
Wees gasvry
9. (a) Watter godvrugtige eienskap word in Hebreërs 13:2 gemeld? (b) Hoe het party onwetend ‘engele gasvry onthaal’?
9 Paulus het vervolgens ’n ander eienskap gemeld wat geopenbaar word deur diegene wat Jesus volg, ‘heilige diens met godvrugtige vrees en ontsag verrig’ en Jehovah as hulle Helper het. Hy het gemaan: “Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg [of, “gasvry onthaal”, NW]” (Hebreërs 13:2). Wie het onwetend ‘engele gasvry onthaal’? Wel, die aartsvader Abraham was die gasheer van drie engele (Genesis 18:1-22). Twee van hulle het vertrek, en sy broerskind Lot het hierdie einste vreemdelinge in sy huis in Sodom ingenooi. Maar voordat hulle kon gaan slaap, het ’n oproerige groep, “jonk en oud”, Lot se huis omsingel. Hulle het daarop aangedring dat Lot sy gaste vir onsedelike doeleindes na hulle uitstuur, maar hy het onversetlik geweier. Hoewel Lot dit aanvanklik nie geweet het nie, het hy engele onthaal, wat hom en sy dogters toe gehelp het om die dood vry te spring toe ‘Jehovah uit die hemel swawel en vuur oor Sodom en Gomorra laat reën het’.—Genesis 19:1-26.
10. Watter seëninge geniet gasvrye Christene?
10 Gasvrye Christene geniet baie seëninge. Hulle hoor die verrykende ondervindinge wat hulle gaste vertel en vind baat by hulle geestelik lonende omgang. Gajus is geprys omdat hy medegelowiges, wat boonop “vreemdelinge” was, gasvry ontvang het, net soos baie lede van Jehovah se volk vandag reisende opsieners onthaal (3 Johannes 1, 5-8). Gasvryheid is ’n aanstellingsvereiste vir ’n ouere man (1 Timotheüs 3:2; Titus 1:7, 8). Dit is ook noemenswaardig dat Jesus Koninkrykseëninge beloof het aan skaapgeaarde individue wat op gasvrye wyse goed gedoen het aan sy gesalfde “broeders”.—Mattheüs 25:34-40.
Onthou dié wat vervolg word
11. Waarom was die raad in Hebreërs 13:3 van pas?
11 Diegene wat Jehovah se hulp wil hê en ‘met godvrugtige vrees en ontsag heilige diens aan hom wil verrig’, moet nie medegelowiges vergeet wat ly nie. Paulus het die beproewinge verstaan wat mishandelde Christene verduur het. ’n Ruk tevore is dissipels deur vervolging verstrooi, en sy medewerker Timotheüs is pas tevore uit die tronk vrygelaat (Hebreërs 13:23; Handelinge 11:19-21). Christensendelinge het ook rondgereis en nuwe gemeentes gestig of reeds bestaande gemeentes geestelik opgebou. Aangesien baie van die destyds reisende broers en susters nie-Jode was, was party Hebreeuse Christene dalk nie besorg genoeg oor hulle nie. Daarom was hierdie vermaning gepas: “Dink aan die gevangenes asof julle medegevangenes is, en aan die wat mishandel word, as mense wat self ook ’n liggaam het.”—Hebreërs 13:3.
12. Hoe kan ons die raad om aan mishandelde medegelowiges te dink toepas?
12 Die Hebreërs “het met die gevangenes meegevoel gehad” maar moes sulke getroue mede-aanbidders, hetsy hulle Jode of nie-Jode was, nie vergeet nie (Hebreërs 10:34, NAV). Maar wat van ons? Hoe kan ons toon dat ons aan mishandelde Christene dink? In party gevalle sal dit gepas wees om per brief ’n beroep op regeringsinstansies te doen in ’n poging om medegelowiges te help wat weens hulle geloof opgesluit is in lande waar die Koninkrykspredikingswerk verbied is. Ons moet hulle veral in gedagte hou in ons gebede en, indien moontlik, party selfs by name noem. Hulle vervolging tref ons diep, en Jehovah hoor ons ernstige smeekbedes ten behoewe van hulle (Psalm 65:3; Efesiërs 6:17-20). Hoewel ons nie in dieselfde tronksel is nie, is dit asof ons saam met hulle geboei is en hulp en bemoediging kan gee. Geesgesalfde Christene het beslis medelye met mishandelde gesalfdes. (Vergelyk 1 Korinthiërs 12:19-26.) Hulle is insgelyks besorg oor hulle vervolgde metgeselle met ’n aardse hoop, wat ook op talle maniere deur vervolgers mishandel word. Sulke meegevoel is gepas, aangesien ons almal ’n menseliggaam het en as aanbidders van Jehovah maklik slagoffers van lyding en vervolging kan word.—1 Petrus 5:6-11.
Die huwelik moet eerbaar wees
13. Wat is die kern van Paulus se woorde in Hebreërs 13:4?
13 Die feit dat ons Christus se voorbeeld volg en ‘met godvrugtige vrees en ontsag heilige diens aan Jehovah verrig’, behoort ons besorgdheid oor ander op baie maniere te beïnvloed. Nadat Paulus gesê het dat ons “self ook ’n liggaam het”, het hy melding gemaak van ’n verhouding met ’n liggaamlike, of fisiese, aspek wat ’n mens die geleentheid bied om behoorlike agting vir ander te toon (Hebreërs 13:3). Hy het Hebreeuse Christene hierdie vermaning gegee: “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel” (Hebreërs 13:4). Hoe gepas was hierdie raad tog, aangesien geslagsonsedelikheid so algemeen in die Romeinse Ryk was! Vanweë die wêreld se lae sedestandaarde en die feit dat duisende elke jaar weens geslagsonsedelikheid uit die gemeente uitgesit word, moet hedendaagse Christene ook op hierdie woorde ag slaan.
14. Waarom sou jy sê is die huwelik eerbaar?
14 Die Essene van Paulus se dag het onder diegene getel wat nie die nodige respek vir die huwelik gehad het nie. Hulle was gewoonlik ongetroud, soos party in geestelikekringe van vandag wat verkeerdelik meen dat die selibaat heiliger as die huwelikstaat is. Deur sy voormelde woorde aan Hebreeuse Christene het Paulus egter duidelik getoon dat die huwelik eerbaar is. Groot respek daarvoor het geblyk uit Naomi se wens vir haar weduwee-skoondogters, Rut en Orpa: “Mag die HERE gee dat julle ’n rusplek vind, elkeen in die huis van haar man” (Rut 1:9). Paulus self het elders daarop gewys dat daar ‘in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sou word en sou verbied om te trou’.—1 Timotheüs 4:1-5.
15. Wie is in Hebreërs 13:4 as hoereerders en egbrekers uitgewys, en hoe sou God hulle oordeel?
15 Hebreërs wat voorheen onder die Wet was maar in die nuwe verbond ingeneem is, was vertroud met die gebod: “Jy mag nie egbreek nie” (Exodus 20:14). Maar hulle was in ’n onsedelike wêreld en het die waarskuwing nodig gehad: “Laat . . . die [huweliks]bed onbesmet [wees]; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.” Ongetroudes wat geslagsomgang het, tel onder die hoereerders. Egbrekers is meer in die besonder getroude mense wat met ander saamlewe wat nie hulle huweliksmaat is nie en sodoende hulle eie huweliksbed besmet. Aangesien onberouvolle hoereerders en egbrekers ’n ongunstige oordeel deur God verdien, sal hulle nie in die hemelse Nuwe Jerusalem toegelaat word of ewige lewe op aarde onder die Koninkryksheerskappy geniet nie (Openbaring 21:1, 2, 8; 1 Korinthiërs 6:9, 10). Hoewel behoorlike geslagsgemeenskap binne die huwelik geensins onrein is nie, moet hierdie waarskuwing om die huweliksbed nie te besmet nie getroude Christene ook beweeg om besmetlike geslagsomgang met hulle huweliksmaat te vermy.—Sien Die Wagtoring, 1 Junie 1983, bladsye 25-9.
Tevrede met wat ’n mens het
16, 17. Wat is in Hebreërs 13:5 gesê, en waarom het die Hebreërs hierdie raad nodig gehad?
16 Ons sal tevredenheid geniet as ons ons Voorbeeld navolg en, vol vertroue dat Jehovah ons Helper is, ‘heilige diens met godvrugtige vrees en ontsag verrig’. Dit kan ’n groot versoeking wees om diep betrokke te raak by materialistiese strewes. Maar Christene moet nie daarvoor swig nie. Die Hebreërs is aangespoor: “Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Hebreërs 13:5). Waarom het die Hebreërs hierdie raad nodig gehad?
17 Dalk was die Hebreërs te besorg oor geld omdat hulle nog die “groot hongersnood” gedurende die heerskappy van keiser Claudius (41-54 G.J.) onthou het. Daardie hongersnood was so erg dat Christene in ander gebiede noodlenigingsvoorrade aan hulle broers in Judea gestuur het (Handelinge 11:28, 29). Volgens die Joodse geskiedskrywer Josephus het die hongersnood drie jaar of langer geduur en nypende armoede in Judea en Jerusalem veroorsaak.—Antiquities of the Jews, XX, 2, 5; 5, 2.
18. Watter les hou die raad in Hebreërs 13:5 vir ons in?
18 Kan ons ’n les hieruit leer? Ja, want al is ons ook hoe arm, ons moenie geld liefhê of te besorg daaroor wees nie. Pleks van ons oor materiële sekuriteit te kwel, en moontlik selfs gierig te word, moet ons ‘tevrede wees met wat ons het’. Jesus het gesê: “Soek eers die koninkryk van God en [God se] geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheüs 6:25-34). Hy het ook getoon dat ons ons daarop moet toelê om ‘ryk te wees in God’ omdat ‘ons lewe nie voortspruit uit ons besittings nie’ (Lukas 12:13-21, vgl. NW). As geldgierigheid ons geestelikheid bedreig, moet ons dus ag slaan op Paulus se raad aan die Hebreërs en ook onthou dat “godvrugtige toegewydheid gepaard met vergenoegdheid” “’n middel tot groot gewin” is.—1 Timotheüs 6:6-8, NW.
Vertrou op Jehovah
19. Watter versekering het God Josua gegee, en watter uitwerking moet dit op ons hê?
19 As Jesus se volgelinge wat ‘heilige diens met godvrugtige vrees en ontsag probeer verrig’, moet ons nie ons vertroue in geld stel nie, maar in ons hemelse Vader, wie se hulp onmisbaar is. Al kom ons ook voor watter probleme te staan, moet ons sy versekering onthou: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Hebreërs 13:5). Paulus het hier verwys na God se woorde aan Josua: “Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie.” (Josua 1:5; vergelyk Deuteronomium 31:6, 8.) Jehovah het Josua nooit begewe nie, en Hy sal ons nie verlaat as ons op Hom vertrou nie.
20. (a) Wat is die jaarteks vir 1990? (b) Wat moet ons onverskrokke aanhou doen?
20 God se onfeilbare hulp sal in die komende maande onder Jehovah se Getuies beklemtoon word, want hulle jaarteks vir 1990 lui: ‘Hou goeie moed en sê: “Jehovah is my helper.”’ Hierdie woorde word in Hebreërs 13:6 (NW) aangetref, waar Paulus die psalmis aangehaal en vir die Hebreërs gesê het: “Dus kan ons goeie moed hê en sê: ‘Jehovah is my helper; ek sal nie bevrees wees nie. Wat kan ’n mens aan my doen?’” (Psalm 118:6, NW). Al word ons vervolg, is ons nie bevrees nie, want mense kan geensins meer doen as wat God toelaat nie (Psalm 27:1). Selfs al moet ons as handhawers van onkreukbaarheid sterf, het ons die opstandingshoop (Handelinge 24:15). Laat ons dus, vol vertroue dat Jehovah ons Helper is, aanhou om ons Voorbeeld na te volg wat die ‘verrigting van heilige diens met godvrugtige vrees en ontsag’ betref.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Waarom het Hebreeuse Christene Jehovah se hulp besonder nodig gehad?
◻ Hoe het Jehovah se volk ‘hulle broederliefde laat voortduur’?
◻ Waarom moet ons gasvry wees?
◻ Wat kan ons doen om te toon dat ons aan mishandelde medegelowiges dink?
◻ Waarom moet die huwelik eerbaar gehou word?