Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 1/1 bl. 18-27
  • ‘Gelukkig is diegene wat volhard het’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Gelukkig is diegene wat volhard het’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom Jehovah die situasie verdra
  • Volharding word beloon
  • Ons beste jaar
  • Volgehoue getrouheid tydens beproewing
  • Onverskilligheid word die hoof gebied
  • Wat die toekoms inhou
  • Volharding—noodsaaklik vir Christene
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Volharding wat die oorwinning behaal
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • “Laat die volharding sy werk voltooi”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Bly na aan Jehovah se organisasie
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 1/1 bl. 18-27

‘Gelukkig is diegene wat volhard het’

1. Watter situasie op aarde vervul sedert 1914 Mattheüs 24:3-8, en watter bewerings oor die Volkebond en die Verenigde Volke is nie bewaarheid nie?

IN SY boek The Present Age praat Robert Nisbet van “die Vyf-en-sewentigjarige Oorlog wat feitlik ononderbroke sedert 1914 woed”. Ja, “oorloë en gerugte van oorloë”, met inbegrip van wêreldoorloë—dit is wat Jesus Christus vir hierdie tyd van die einde voorspel het (Mattheüs 24:3-8). Die Volkebond is in 1920 gestig “om oorlog vir ewig te verhoed”. Hoe jammerlik het dit tog nie gefaal nie! Die Verenigde Volke is in 1945 georganiseer “om toekomstige geslagte die euwel van oorlog te spaar”. Maar Max Harrelson se boek Fires All Around the Horizon sê: “Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog was daar feitlik nie ’n enkele dag waarop daar nie iewers geveg is nie.”

2. Wat vra party mense oor wêreldtoestande, maar watter vrae behoort ons te vra?

2 Terrorisme en geweld, korrupsie en armoede, dwelms en pessiektes—al hierdie dinge maak deel uit van die droewe situasie. Party mense vra dalk: ‘Hoe kan die mensdom aanhou om sulke ontstellende toestande te verduur?’ Maar dit is selfs belangriker dat ons vra: ‘Hoe verdra God die vernietiging van sy aardse skepping? Hoe lank nog sal hy goddelose mense toelaat om die aarde te verwoes en sy kosbare naam smaad aan te doen?’

3. (a) Watter vraag het die profeet Jesaja gevra, en waarom? (b) Watter antwoord het Jehovah gegee, en wat toon dit oor ons dag?

3 Die profeet Jesaja het ’n soortgelyke vraag geopper. Hy het die opdrag ontvang om ’n boodskap van Jehovah aan sy medelandgenote te verkondig. Maar hy is vooraf gewaarsku dat hulle nie na hom of na die God wat hom gestuur het, sou luister nie. Daarom het Jesaja gevra: “Hoe lank, Here?” Ja, hoe lank sou Jesaja vir hierdie hardnekkige volk moes preek, en hoe lank sou Jehovah hulle beledigende weiering om op sy boodskap ag te slaan duld? Jehovah het geantwoord: “Totdat die stede verwoes lê, sonder inwoners, en die huise sonder mense en die land verwoes is tot ’n wildernis” (Jesaja 6:8-11). Vandag verdra God sulke smaad eweneens totdat sy vasgestelde tyd aanbreek om oordeel te voltrek aan ’n wêreld waarin die ontroue Christendom die vernaamste oortreder is.

4. Wat was die afloop van Job se volharding, en watter versekering gee dit ons vandag?

4 Dit is al lank wat Jehovah Satan se uittartings verdra. Sowat 3 600 jaar gelede het getroue Job insgelyks volhard en Satan se uitdaging dat hy nie sy onkreukbaarheid tydens ’n toets sal handhaaf nie as vals bewys. Hoe het dit Jehovah se hart tog nie verbly nie! (Job 2:6-10; 27:5, NW; Spreuke 27:11). Soos Jesus se halfbroer Jakobus later gesê het: “Kyk! Ons noem diegene wat volhard het gelukkig. Julle het van die volharding van Job gehoor en het gesien hoe Jehovah dit laat afloop het, dat Jehovah baie teer in geneentheid en barmhartigheid is.” Diegene wat vandag saam met Jehovah die situasie verdra, is eweneens verseker van ’n gelukkige afloop.—Jakobus 5:11, NW.

5. Hoe het Jesus getoon dat volharding vandag van God se volk vereis sou word, en watter werk sou hulle doen onderwyl hulle volhard?

5 Jesus het duidelik getoon dat volharding in ons dag van God se volk vereis sou word. Toe hy die teken van “die voleinding van die wêreld” voorspel het, het hy gesê: “Wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” Volhard terwyl wat gedoen word? Jesus se daaropvolgende woorde gee die antwoord: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” (Mattheüs 24:3, 13, 14). Slegs dan “sal die einde kom”.—Sien ook Markus 13:10, 13; Lukas 21:17-19.

Waarom Jehovah die situasie verdra

6. Waarom is Jehovah ’n besondere voorbeeld van iemand wat ongunstige omstandighede verdra, en wat is een rede daarvoor?

6 Die apostel Paulus het verduidelik dat “God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het” (Romeine 9:22). Waarom het Jehovah die voortgesette bestaan van die goddeloses, hierdie voorwerpe van toorn, verdra? Een rede is die volgende: om te toon dat menseheerskappy, onafhanklik van die mens se Skepper, tot mislukking gedoem is (Jeremia 10:23). God se soewereiniteit sal binnekort geregverdig word wanneer hy bewys dat net hy, deur middel van Jesus se Koninkryksheerskappy, vrede, harmonie en geluk vir die mensdom kan bring.—Psalm 37:9-11; 45:2, 7, 8.

7. Om watter ander rede het Jehovah die situasie verdra, en watter voordeel het dit sedert die dertigerjare vir miljoene meegebring?

7 Daarbenewens het Jehovah die situasie verdra “om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid” (Romeine 9:23). Hierdie voorwerpe van barmhartigheid is onkreukbare gesalfdes wat “gekoop is uit die mense” om saam met Christus Jesus in sy hemelse Koninkryk te regeer. Die verseëling van die 144 000 vind al sedert apostoliese tye plaas. Dit sal eersdaags voltooi wees (Openbaring 7:3; 14:1, 4). En kyk! Sedert die dertigerjare maak die feit dat Jehovah steeds die situasie verdra die insameling van miljoene ander moontlik, “’n groot menigte . . . uit alle nasies”, wat hulle verheug in die vooruitsig om die finale verdrukking te oorleef sodat hulle die ewige lewe op ’n paradysaarde kan beërwe (Openbaring 7:4, 9, 10, 13-17). Is jy ’n lid van daardie groot menigte? Is jy dan nie bly dat Jehovah die teenwoordigheid van voorwerpe van toorn tot nou toe verdra het nie? Jy moet egter aanhou volhard, net soos Jehovah goddeloosheid verdra.

Volharding word beloon

8. Waarom het ons almal volharding nodig, en op watter voorbeeld van volharding moet ons noukeurig ag gee?

8 Ons almal het volharding nodig as ons die beloftes wil ontvang. Nadat die apostel Paulus hierdie grondwaarheid in Hebreërs 10:36 gemeld het, beskryf hy breedvoerig die verdienstelike geloof en volharding van ’n groot “wolk van getuies” van die ou tyd. Dan vermaan hy ons om “met volharding die wedloop [te] loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is” in heelhartige diens volhard het sonder om ooit die beloning uit die oog te verloor. Hoe versterk sy voorbeeld ons tog om ook te volhard!—Hebreërs 12:1, 2.

9. Wat was die gevolg van hedendaagse voorbeelde van volharding?

9 Daar is ook talle hedendaagse voorbeelde van volharding. Jy ken dalk broers en susters wat besondere volharding aan die dag gelê het, of dalk het jy ander geken wat reeds gesterf het. Hoe het hulle getrouheid ons tog nie aangespoor nie! En elke jaar word verdere opwindende verslae van volharding en volgehoue onkreukbaarheid ontvang wanneer Jehovah se Getuies hulle wêreldwye bedrywighede aan die Wagtoringgenootskap rapporteer. Die tabel op die volgende vier bladsye is ’n samevatting van die wonderlike werk wat gedurende 1989 gedoen is toe hierdie Getuies ‘by hulle geloof volharding gevoeg het’.—2 Petrus 1:5, 6, NW.

Ons beste jaar

10. (a) Hoeveel lande en eilandgroepe het in 1989 ’n aandeel aan die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk gehad, en hoeveel het aan hierdie werk deelgeneem? (b) Wat was die pionierhoogtepunt, en wat was die groottotaal ure wat aan die velddiens gewy is?

10 Soos die voorgaande tabel toon, het 212 lande en eilandgroepe ’n aandeel gehad aan die verkondiging van Jehovah se inkomende Koninkryk. Liewe Wagtoring-leser, was jy bevoorreg om een van die 3 787 188 te wees wat aan hierdie wonderlike werk deelgeneem het? Was jy een van die 808 184 wat as pioniers gerapporteer het die maand toe daar ’n rekordaantal werkers in daardie diens was? Ongeag hoeveel jy bygedra het tot 1989 se wêreldtotaal van 835 426 538 uur wat aan die velddiens gewy is, jy het rede om jou te verbly.—Psalm 104:33, 34; Filippense 4:4.

11. (a) Watter opkoms by die Gedenkmaal op 22 Maart verlede jaar is ’n rede tot blydskap, en waarom? (b) Hoeveel is gedoop, en watter lande in die tabel het ’n besonder hoë doopsyfer?

11 Verbly jou ook oor die puik totaal van 9 479 064 wat verlede jaar op 22 Maart die wêreldwye viering van die Herdenking van Jesus se dood bygewoon het! Dit dui op ’n potensiaal van 5 691 876 bykomende Koninkryksverkondigers, mits hierdie belangstellende skaapgeaardes liefdevol in die kraal ingelei kan word om ’n gereelde aandeel aan Jehovah se diens te hê. Kan ons hulle in hierdie opsig help? (Johannes 10:16; Openbaring 7:9, 15). Die groottotaal van 263 855 nuwe Getuies wat gedurende die 1989-diensjaar gedoop is, toon dat talle reeds op sulke hulp reageer.

12. Wat is party feite wat nie deur die tabel uitgebring word nie (a) ten opsigte van fabrieke van die Wagtoringgenootskap? (b) ten opsigte van tydskrifverspreiding en intekeninge?

12 Daar is party feite wat nie deur die tabel uitgebring word nie. Die aanvraag na publikasies—Bybels, boeke, brosjures, tydskrifte—was onbevredigbaar. Die Wagtoringfabrieke in New York het gevolglik 25 999 ton papier gebruik om 35 811 000 Bybels, boeke en brosjures te druk, ’n toename van 101 persent vergeleke met 1988. Ander groot fabrieke van die Wagtoringgenootskap, veral dié in Duitsland, Italië en Japan, het ekstra skofte gewerk om “die getroue en verstandige dienskneg” te help om geestelike “voedsel op tyd” te voorsien (Mattheüs 24:45). Etlike lande het gerapporteer dat hulle gedurende April en Mei besonder baie tydskrifte versprei en intekeninge verkry het vanweë die spesiale klem op die verspreiding van Die Wagtoring se nommers oor “Babilon die Grote” (Openbaring 17:5, NW). Hierdie komende April sal hulppioniers en ander Getuies ongetwyfeld in die wêreldveld instroom om deel te neem aan wat ons beste getuieniskampanje van die 1990-diensjaar behoort te wees.—Vergelyk Jesaja 40:31; Romeine 12:11, 12, vgl. NW.

13. Watter lande wat nie verlede jaar by name in die tabel verskyn het nie, word vanjaar aangegee? Verduidelik.

13 Kyk weer na die tabel. Sien jy party lande wat verlede jaar nie by name aangegee is nie? Ja, inderdaad! Hongarye en Pole, waar ons werk onlangs gewettig is. Ons is dankbaar teenoor die owerhede in hierdie lande dat hulle nou so toegeeflik teenoor Jehovah se Getuies is. Die wêreldwye broederskap se gebede in hierdie verband is verhoor, “sodat ons kan voortgaan om ’n kalm en rustige lewe te lei met volledige godvrugtige toegewydheid en erns”.—1 Timotheüs 2:1, 2, NW.

14. Meld van die hoogtepunte van die “Godvrugtige Toegewydheid”-Streekbyeenkomste in Pole.

14 “Godvrugtige toegewydheid”! Ja, die “Godvrugtige Toegewydheid”-Streekbyeenkomste kon selfs in Augustus op drie plekke in Pole gehou word! Watter wonderlike gashere was ons 91 024 Poolse broers tog nie! (Hebreërs 13:1, 2, 16). Asof deur ’n wonderwerk het tienduisende broers—Tsjegge, Duitsers, Russe en ander—visums gekry om per bus, trein en selfs te voet daarheen te gaan. Duisende ander het per vliegtuig van die Amerikas, Wes-Europa en so ver as eilande van die Stille Oseaan en Japan gekom. Die reusestadions, wat silwerskoon gemaak is deur ons broers, was skaars groot genoeg vir die 65 710 in Chorzów, 40 442 in Poznan en 60 366 in Warschau—’n gesamentlike opkoms van 166-518! In elke sentrum het die skouspelagtige doopplegtigheid vreugdetrane laat rol. In Poznan is ’n 9-jarige en ’n 90-jarige gedoop, en die totaal van 6 093 wat by die drie byeenkomste gedoop is, het baie tieners ingesluit, waarvan talle uit lande kom waar daar gesê is dat godsdiens saam met die ou mense sal uitsterf. Maar dit gebeur nie met die ware godsdiens wat op God se Woord gebaseer is nie! (Vergelyk Psalm 148:12, 13; Handelinge 2:41; 4:4.) Hoe wonderlik is die volharding van ons broers in Oos-Europa tog nie beloon nie!

Volgehoue getrouheid tydens beproewing

15. Hoe het die Getuies in Libanon volharding en standvastigheid geopenbaar, en met watter goeie gevolge?

15 Soos die apostel Paulus moet Jehovah se Getuies in baie en uiteenlopende omstandighede volharding toon (2 Korinthiërs 11:24-27). In Libanon woed daar burgeroorlog. Hoe reageer ons broers daarop? Hulle is standvastig en vasberade. In 1989 was daar baie hewige kanonvuur en bombardemente, maar selfs waar dit die hewigste was, was die broers vasbeslote om nie te verslap nie. ’n Gemeente in Beiroet berig: “Gereelde velddiensgroepe is op elke aand van die week gereël. Die moeilike veiligheidstoestande het die broers nie ontmoedig nie. Ons het meer gebiede as ooit tevore gedek. In April het ons ’n rekordaantal pioniers gehad. Nuwe Bybelstudies is begin, en meer tydskrifte en boeke is versprei.”

16. Hoe het ons broers in Colombia volharding getoon deur die goeie nuus in dorpe te gaan verkondig waar daar geen Getuies was nie?

16 Colombia was in die nuus vanweë die dwelmhandel en geweld. Maar die getroue volharding van Christene in daardie land kom ook in die nuus. Tydelike spesiale pioniers is onlangs na 31 dorpe gestuur wat minstens tienduisend inwoners het maar waar daar geen Getuies was nie. In een dorp het nuwe belangstellendes die pioniers gesmeek om aan te bly toe hulle gehoor het dat die pioniers net ’n paar maande daar gaan wees. In ’n ander het 18 belangstellendes ’n brief geteken waarin hulle waardering uitgespreek het vir die geestelike hulp wat hulle tydens die pioniers se verblyf van drie maande ontvang het en het hulle verdere hulp gevra. “Dit is ’n ernstige saak”, het hulle gesê. Dit is onnodig om te meld dat daar in albei gevalle reëlings getref is om verdere bystand aan hierdie belangstellendes te verleen. Die ontwikkeling van sulke verafgeleë gebied verg volharding, maar die harde werk van die pioniers wat dit doen, word ryklik geseën.

17, 18. (a) In watter omstandighede het Jehovah se Getuies volhard in Italië? (b) Hoe het die Getuies gevaar ondanks die leuens wat oor hulle versprei is?

17 In Italië het Jehovah se Getuies met kwaai teenstand deur die geestelikes te kampe, maar danksy krag van Jehovah volhard hulle steeds. In verskeie kerkgemeentes het die geestelikes plakkers wat Jehovah se Getuies vra om nie die deurklokkie te lui nie onder hulle kerklidmate uitgedeel om op hulle huisdeure te plak. Baie priesters het jong seuns ingespan om hierdie plakkers op al die deure in ’n sekere gebied te plak—selfs by die huise van Getuie-gesinne! Die Getuies laat hulle egter nie maklik intimideer nie, en hulle gebruik dikwels die plakkers om ’n gesprek aan te knoop. Boonop het die pers en die nasionale televisie wye publisiteit aan die saak gegee en hierdie godsdiensonverdraagsaamheid veroordeel en beklemtoon dat sulke taktieke in werklikheid ’n teken van swakheid aan die kant van die kerk is. Die omstrede anti-Getuie-plakkers het een universiteitsprofessor so ontstig dat hy op Die Wagtoring en Ontwaak! ingeteken het.

18 Die Katolieke Kerk in Italië gebruik selfs afvalliges om leuens oor Jehovah se volk te versprei, maar dit is ook nie geslaag nie omdat die 172 382 verkondigers welbekend is en gerespekteer word. Een man het vir besoekende Getuies gesê dat hy slegte dinge van ons gelees het in lektuur wat deur gewese Getuies geskryf is. Hy was dus baie gekant daarteen toe sy broer een van Jehovah se Getuies geword het. Maar na ’n ruk het hy opgemerk wat ’n goeie uitwerking sy broer se nuwe godsdiens op hom gehad het. Hy het gewonder: ‘Hoe is dit moontlik dat iets wat so sleg is sulke goeie veranderinge kan meebring?’ Daarom het hy die besoekende Getuies gevra om ’n Bybelstudie met hom te begin hou.—Vergelyk Kolossense 3:8-10.

Onverskilligheid word die hoof gebied

19, 20. (a) Watter situasie het volharding van die Getuies in Finland vereis, en wat is werklik insiggewend aangaande ’n meningspeiling deur die kerk? (b) Watter ondervinding illustreer hoe belangrik dit is om te volhard in die verkondiging van die goeie nuus?

19 In lande waar die Getuies mense herhaaldelik besoek, is onverskilligheid teenoor die goeie nuus dikwels iets algemeens. Dit is beslis die geval in Finland. Die kerk in daardie land het ’n meningspeiling gedoen en vasgestel dat 70 persent van die bevolking nie daarvan hou dat die Getuies hulle tuis besoek nie. Maar 30 persent maak nie heftig beswaar daarteen nie, en 4 persent van laasgenoemde groep het gesê dat hulle in werklikheid van Jehovah se Getuies hou. Dit is ’n betekenisvolle syfer. Vier persent van die bevolking van Finland is 200 000 mense. Vergelyk dit met die huidige verkondigersyfer van 17 303!

20 Een verkondiger wat besig was om velddiens te doen, is aan hierdie meningspeiling herinner en gevra: “Weet jy nie dat 70 persent van ons julle as ongewens beskou nie? Waarom hou julle aan om aan ons deure te kom klop?” Die verkondiger het geantwoord: “Ja, maar daardie selfde opname het getoon dat 4 persent van julle van ons hou. Ons probeer daardie mense opspoor. Selfs al was hulle net 1 persent sou ons steeds van huis tot huis gaan om hulle te probeer vind.” Die huisbewoner het ’n rukkie nagedink en gesê: “Is julle boodskap so belangrik vir hulle?” Die verkondiger het geantwoord deur te vra: “Wil jy hoor wat dit is?” Hierdie huisbewoner het sommer gou belangstelling in die goeie nuus getoon.

Wat die toekoms inhou

21. (a) Hoe moet ons in hierdie stelsel stry, en waarom? (b) Wat moet ons dalk verduur, en waarvan verseker Habakuk se profesie ons?

21 Wat van ons almal wat vandag lewe? Is ons vasbeslote om saam met Jehovah en Christus Jesus tot die einde toe te volhard? Dit is dalk nie meer te lank nie, maar ons moet volhard! Ons moet kragtig vir die geloof stry in Satan se stelsel, want ons word van alle kante deur die wêreld se onsedelikheid, korrupsie en haat omring (Judas 3, 20, 21). Ons moet dalk die een of ander soort vervolging verduur. Op hierdie einste oomblik ly duisende van ons broers in tronke, en party word wreed geslaan. Hulle is dankbaar vir ons gebede (2 Thessalonicense 3:1, 2). Binnekort sal die huidige stelsel tot die verlede behoort! Soos Habakuk sê: “Die gesig sal nog duur tot op die vasgestelde tyd; maar dit spoed na die einde en sal nie teleurstel nie. As dit mag vertoef, wag daarop; want alte seker sal dit kom en nie versuim nie.”—Habakuk 2:3.

22. Watter uitkoms kan ons vol vertroue verwag as ons die geduld van die profete en die volharding van Job openbaar?

22 Die dissipel Jakobus sê liefdevol vir ons: “Broeders, neem as ’n model van die lyding van kwaad en die beoefening van geduld die profete, wat in die naam van Jehovah gespreek het.” Net soos Jesaja, Jeremia, Daniël en ander, kan ons wat vandag in Jehovah se naam spreek tydens bittere beproewinge handhawers van onkreukbaarheid wees. Ons kan volhard, soos Job. Hoe wonderlik is hy tog vir sy volharding beloon! Jehovah se barmhartigheid en goedertierenheid sal soortgelyke beloninge vir ons meebring—mits ons tot die einde toe volhard. En mag Jakobus se woorde ten opsigte van elkeen van ons bewaarheid word: “Kyk! Ons noem diegene wat volhard het gelukkig.”—Jakobus 5:10, 11, NW; Job 42:10-13.

Hoe sou jy antwoord?

◻ Hoe het Jesus die belangrikheid van volharding beklemtoon?

◻ Om watter redes het Jehovah volhard?

◻ Wat is party hoogtepunte van die wonderlike werk wat gedurende 1989 gedoen is?

◻ Hoe is die volharding van ons broers in Pole beloon?

◻ Hoe het die Getuies in Libanon, Colombia en Italië tydens beproewing getrouheid geopenbaar?

[Tabel op bladsy 20-23]

1989 SERVICE YEAR REPORT OF JEHOVAH’S WITNESSES WORLDWIDE

(See bound volume)

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel