Wagtoring AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 2/15 bl. 10-15
  • Van seder tot redding

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon laai nie.

  • Van seder tot redding
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Pasga—’n fees van redding
  • Meer as ’n paaslam
  • Lewensreddende bloed
  • Watter redding en waar?
  • ’n “Bepaalde tyd”
  • ‘Dit moet vir julle as ’n gedagtenis dien’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 2/15 bl. 10-15

Van seder tot redding

“Die beker van grootse redding sal ek opneem, en die naam van Jehovah sal ek aanroep.”—PSALM 116:13, “NW”.

1. Watter gunstelinglied kan jou toekoms raak?

SAL jy ’n lied oor ’n lang, gelukkige toekoms wat vir jou voorlê, geniet? In werklikheid is daar so ’n lied wat al baie lank ’n gunsteling is. Tog is jy in ’n beter posisie as die meeste mense om hierdie betekenisvolle lied te verstaan en te geniet. Die Jode noem dit Hallel (Lof). Dit bestaan uit Psalm 113 tot 118 en spoor ons aan om “Halleluja”, of “Loof Jah”, te sing.

2. Hoe word hierdie lied gebruik, en hoe hou dit verband met die Seder?

2 Die Jode sing die Hallel tydens hulle Pasgadiens, en blykbaar dateer hierdie gewoonte nog uit die tyd toe God ’n tempel gehad het waar diere geoffer is. Vandag word dit gedurende die Pasgadiens en -maaltyd, die sogenoemde Seder, in Joodse huise gesing. Maar min wat dit tydens hulle Seder sing, besef wat Psalm 116:13 (NW) waarlik beteken: “Die beker van grootse redding sal ek opneem, en die naam van Jehovah sal ek aanroep.” Waarom word redding egter aan die Pasga gekoppel, en is jou redding dalk daarby betrokke?

Die Pasga—’n fees van redding

3. Wat is die agtergrond van die Seder?

3 Dink terug aan die feit dat die Israeliete slawe in Egipte was onder ’n tirannieke Farao. Uiteindelik het Jehovah Moses verwek om Sy volk na vryheid te lei. Nadat God nege plae oor Egipte gebring het, het Moses die tiende aangekondig. Jehovah sou die eersgeborene in elke Egiptiese huisgesin om die lewe bring (Exodus 11:1-10). Die Israeliete kon egter gespaar word. Hoe? Hulle moes ’n skaap slag, die bloed daarvan op die deurposte en bo-drumpel sprinkel en binne bly terwyl hulle ’n maaltyd bestaande uit die lam, ongesuurde brood en bitter kruie eet. Gedurende daardie Seder sou God “verbygaan” sonder om hulle eersgeborenes dood te maak.—Exodus 12:1-13.

4, 5. Hoe het die Pasga vir baie tot redding gelei? (Psalm 106:7-10).

4 In reaksie op hierdie tiende plaag het Farao vir Moses gesê: “Maak julle klaar, trek weg onder my volk uit, julle sowel as die kinders van Israel, en gaan dien die HERE” (Exodus 12:29-32). Na die vertrek van die Hebreërs en “’n menigte mense van gemengde bloed” wat hulle goedgesind was, het Farao hom bedink en hulle agternagesit. God het sy volk toe wonderdadig gehelp om deur die Rooi See te ontsnap, waar Farao en sy agtervolgende leër omgekom het.—Exodus 12:38; 14:5-28; Psalm 78:51-53; 136:13-15.

5 Moses het by die Rooi See vir Israel gesê: “Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle sal bewerk.” Later het hulle gesing: “My sterkte en my mag is Jah, want hy dien tot my redding. Dit is my God, en ek sal hom prys” (Exodus 14:13; 15:2, NW). Ja, Israel se verlossing, van die tien plae sowel as uit die Rooi See was ’n reddingsdaad. Daarom kon die psalmis Jehovah gepas beskryf as ’n God “wat verlossinge [“grootse redding”, NW] werk op die aarde”.—Psalm 68:7, 21; 74:12-14; 78:12, 13, 22, vgl. NW.

6, 7. Waarom is die Pasga ingestel, maar waarom verskil die manier waarop dit vandag gehou word van die eerste Pasga?

6 Die Hebreërs moes die Pasga hou ter herdenking van hulle redding. God het gesê: “Hierdie dag moet vir julle ’n gedenkdag wees, en julle moet dit as ’n fees tot eer van die HERE vier . . . in [al] julle geslagte” (Exodus 12:14, vgl. NW). Die vader moes sy gesin tydens elke Pasgamaal, of Seder, aan daardie redding herinner. Jehovah het beveel: “As julle kinders julle vra: Wat beteken die diens daar? dan moet julle sê: Dit is ’n paasoffer aan die HERE, wat by die huise van die kinders van Israel in Egipte verbygegaan het, toe Hy die Egiptenaars getref maar ons huise gered het.”—Exodus 12:25-27.

7 Die feit dat Jode tot vandag toe die Pasgaseder hou, bevestig die historiese egtheid van daardie verslag. Party van hulle gebruike verskil egter van wat God beveel het. The Origins of the Seder sê: “Die Bybel bevat breedvoerige besprekings van die Pasga en die Fees van die Ongesuurde Brode; hierdie beskrywings kom egter nie ooreen met latere vierings van die feesdag nie. Die Bybelse ritueel gaan hoofsaaklik om die paasoffer, wat nie meer die middelpunt is in geskrifte wat ná Bybelse tye geskryf is nie.” ’n Vername rede is dat Jode nie ’n tempel vir diereoffers het nie.

8. Om watter spesiale rede moet ons die Pasga ondersoek?

8 Christene kan met vrug al die feeste bestudeer wat God aan eertydse Israel gegee het,* maar vir eers verdien sekere aspekte van die Pasga ons spesiale aandag. Jesus, wat ’n Jood was, het die Pasga gehou. Tydens sy laaste Pasgaviering het hy die enigste godsdienstige viering uiteengesit wat Christene moet hou—die Here se Aandmaal, die herdenking van Jesus se dood. Hierdie Christelike viering hou dus verband met die Pasga.

Meer as ’n paaslam

9, 10. In watter sin was die paaslam ’n spesiale, of unieke, offer?

9 Hebreërs 10:1 sê vir ons dat ‘die wet ’n skaduwee was van die toekomstige weldade’. Die Cyclopædia of Biblical, Theological, and Ecclesiastical Literature, deur M’Clintock en Strong, sê: “Geen ander skaduwee van toekomstige weldade in die wet is so belangrik soos die Pasgafees nie.” Die betekenis van veral die paaslam het meer behels as die seremonie ter herdenking van hoe God die eersgeborenes en toe al die Hebreërs uit Egipte gered het.

10 Daardie lam was in verskeie opsigte uniek. Byvoorbeeld, baie diereoffers van die Mosaïese Wet is deur ’n enkele individu in verband met persoonlike sondes of skuld gebring, en dele van die diere is op die altaar verbrand (Levitikus 4:22-35). Van die dankoffer se vleis is aan die diensdoende priester of aan ander priesters gegee (Levitikus 7:11-38). Maar die paaslam is nie op die altaar gebruik nie, en dit is geoffer deur ’n groep mense, gewoonlik ’n gesin, wat dit self geëet het.—Exodus 12:4, 8-11.

11. Hoe het Jehovah die paaslam beskou, en waarna het dit heengewys? (Numeri 9:13).

11 Jehovah het soveel waarde aan die paaslam geheg dat hy dit “my offer” genoem het (Exodus 23:18; 34:25). Geleerdes het al gesê dat “die paasoffer by uitnemendheid die offer van Jehovah was”. Hierdie lam het onteenseglik heengewys na die offer van Jesus, of as tipe daarvan gedien. Ons weet dit omdat die apostel Paulus Jesus beskryf het as ‘ons paaslam wat geslag is’ (1 Korinthiërs 5:7). Jesus is geïdentifiseer as “die Lam van God” en “die Lam wat geslag is”.—Johannes 1:29; Openbaring 5:12; Handelinge 8:32.

Lewensreddende bloed

12. Watter rol het die lam se bloed tydens die eerste Pasga gespeel?

12 In Egipte was die lam se bloed noodsaaklik vir redding. Toe Jehovah die eersgeborenes gedood het, het hy huise oorgeslaan wat bloed aan die deurposte gehad het. En omdat die Hebreërs nie oor die dood van hulle eersgeborenes gerou het nie, was hulle gereed om deur die Rooi See na vryheid te trek.

13, 14. Hoe is Jesus se bloed lewensreddend en noodsaaklik vir redding? (Efesiërs 1:13, vgl. NW).

13 Bloed is ook vandag by redding betrokke—Jesus se vergote bloed. Toe 32 G.J. se “pasga, die fees van die Jode”, naby was, het Jesus vir ’n groot gehoor gesê: “Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Want my vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik drank” (Johannes 6:4, 54, 55). Al sy Joodse luisteraars sou gedink het aan die naderende Pasga en die feit dat ’n lam se bloed in Egipte gebruik is.

14 Jesus het nie toe die embleme bespreek wat tydens die Here se Aandmaal gebruik word nie. Daardie nuwe viering vir Christene is eers ’n jaar later ingestel, met die gevolg dat selfs die apostels wat in 32 G.J. na Jesus geluister het niks daarvan geweet het nie. Jesus het nogtans getoon dat sy bloed noodsaaklik is vir ewige redding. Paulus het verduidelik: “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Efesiërs 1:7). Dit is slegs deur vergifnis op grond van Jesus se bloed dat ons vir ewig kan lewe.

Watter redding en waar?

15. Watter redding en voorregte het moontlik geword vir die Hebreërs in Egipte, en wat het nie? (1 Korinthiërs 10:1-5, vgl. NW).

15 Net ’n beperkte redding het in eertydse Egipte plaasgevind. Niemand wat Egipte verlaat het, het verwag dat hy ná die uittog die ewige lewe gegee sou word nie. God het weliswaar die Leviete aangestel om priesters vir die nasie te wees, en party lede van die stam van Juda het weliswaar sekulêre konings geword, maar hulle sou almal sterf (Handelinge 2:29; Hebreërs 7:11, 23, 27). Hoewel die “menigte mense van gemengde bloed” wat ook Egipte verlaat het nie daardie voorregte gehad het nie, kon hulle soos die Hebreërs hoop om die Beloofde Land te bereik en ’n normale lewe te geniet terwyl hulle God aanbid. Maar Jehovah se voorchristelike knegte het nogtans ’n grondslag gehad om te hoop dat hulle uiteindelik eindelose lewe op aarde sou kon geniet, die plek waar die mensdom volgens God se voorneme moet lewe. Dit strook met Jesus se belofte in Johannes 6:54.

16. Op watter soort redding kon God se eertydse knegte hoop?

16 God het party van sy eertydse knegte gebruik om besielende woorde neer te skryf wat getoon het dat die aarde geskep is om bewoon te word en dat die opregtes vir ewig daarop sal woon (Psalm 37:9-11; Spreuke 2:21, 22; Jesaja 45:18). Maar hoe sou ware aanbidders sulke redding kon verkry as hulle gesterf het? Deurdat God hulle tot die lewe op aarde sou opwek. Job het byvoorbeeld die hoop uitgespreek dat hy onthou en tot die lewe teruggeroep sal word (Job 14:13-15; Daniël 12:13). Dit is dus duidelik dat een vorm van redding tot die ewige lewe op aarde lei.—Mattheüs 11:11.

17. Watter ander redding is volgens die Bybel vir sekere mense moontlik?

17 Die Bybel praat ook van redding tot lewe in die hemel, waarheen Jesus Christus na sy opstanding gegaan het. “Hy is aan God se regterhand, want hy het heengegaan na die hemel, en engele en owerhede en kragte is aan hom onderwerp” (1 Petrus 3:18, 22, NW; Efesiërs 1:20-22; Hebreërs 9:24). Maar Jesus is nie die enigste mens wat na die hemel geneem word nie. God het bepaal dat hy ook ’n betreklik klein getal ander mense van die aarde sal neem. Jesus het vir die apostels gesê: “In die huis van my Vader is daar baie wonings . . . Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”—Johannes 14:2, 3.

18. Om watter rede gaan ons nou aandag skenk aan redding tot hemelse lewe?

18 Redding tot hemelse lewe saam met Jesus is beslis baie uitnemender as die beperkte redding wat met die eerste Pasga gepaard gegaan het (2 Timotheüs 2:10, vgl. NW). Jesus het op die aand van die laaste geldige Seder, of Pasgamaal, die nuwe viering vir sy volgelinge ingestel, ’n viering wat te doen gehad het met redding tot hemelse lewe. Hy het vir die apostels gesê: “Doen dit tot my gedagtenis” (Lukas 22:19). Voordat ons bespreek hoe Christene hierdie viering moet hou, gaan ons eers ondersoek wanneer ons dit moet doen.

’n “Bepaalde tyd”

19. Waarom is dit logies om die Pasga en die Here se Aandmaal met mekaar in verband te bring?

19 Jesus het gesê: “Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat Ek ly” (Lukas 22:15). Daarna het hy die Here se Aandmaal uiteengesit, wat sy volgelinge ter herdenking van sy dood moes hou (Lukas 22:19, 20). Die Pasga is een keer per jaar gehou. Daarom is dit redelik dat die Here se Aandmaal jaarliks gevier word. Wanneer? Logieserwys in die noordelike lente, gedurende die Pasgatyd. Dit sou beteken op 14 Nisan (volgens die Joodse kalender), pleks van altyd op ’n Vrydag omdat dit die weeksdag was waarop Jesus gesterf het.

20. Waarom stel Jehovah se Getuies in 14 Nisan belang?

20 Gevolglik sou 14 Nisan die dag wees wat Paulus in gedagte gehad het toe hy geskryf het: “So dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom” (1 Korinthiërs 11:26). Gedurende die daaropvolgende twee eeue het baie Christene by 14 Nisan gehou, en hulle het bekendgestaan as Quartodecimane, wat afgelei is van die Latynse woord vir “14de”. M’Clintock en Strong sê: “Die kerke van Klein-Asië het die dood van die Here gevier op die dag wat ooreengekom het met die 14de van die maand Nisan, wat, volgens die opinie van die hele eertydse Kerk, die dag was waarop die kruisiging plaasgevind het.” Vandag hou Jehovah se Getuies die Here se Aandmaal jaarliks op die dag wat met 14 Nisan ooreenkom. Party het egter opgemerk dat dit soms verskil van die dag waarop die Jode hulle Pasga hou. Waarom is dit die geval?

21. Wanneer moes die paaslam geoffer word, maar wat doen die Jode vandag?

21 Die Hebreeuse dag het van sonsondergang (ongeveer sesuur) tot die volgende sonsondergang geduur. God het beveel dat die paaslam op 14 Nisan “tussen die twee aande” doodgemaak moet word (Exodus 12:6, NW). Wanneer sou dit wees? Vandag hou Jode steeds vas aan die rabbynse beskouing dat die lam teen die einde van 14 Nisan geslag moes word, tussen die tyd dat die son begin sak het (ongeveer drie-uur) en die sonsondergang self. Gevolglik hou hulle hul Seder na die sonsondergang, wanneer 15 Nisan begin het.—Markus 1:32, vgl. NW.

22. Wat is een rede waarom die Gedenkmaaldatum soms verskil van die datum wanneer die Jode hulle Pasga hou? (Markus 14:17, NW; Johannes 13:30).

22 Ons het egter goeie rede om die uitdrukking anders te verstaan. Deuteronomium 16:6 het die Israeliete onomwonde beveel om “die paasoffer [te] slag, in die aand, met sononder” (Die Joodse Tanakh-vertaling). Dit dui daarop dat “tussen die twee aande” verwys het na die skemerperiode, van sonsondergang (wat 14 Nisan inlui) tot dit uiteindelik donker is. Die eertydse Karaïtiese Jode* het dit so verstaan, en die Samaritane* beskou dit vandag nog so. Ons beskouing dat die paaslam “op die bepaalde tyd” op 14 Nisan, nie op 15 Nisan nie, geoffer en geëet is, is een rede waarom ons Gedenkmaal soms op ’n ander dag as die Joodse feesdag val.—Numeri 9:2-5, vgl. NW.

23. Waarom word maande by die Hebreeuse kalender bygevoeg, en hoe doen hedendaagse Jode dit?

23 Nog ’n rede waarom ons datum soms van dié van die Jode verskil, is dat hulle ’n voorafbepaalde kalender gebruik, ’n stelsel wat eers in die vierde eeu G.J. ingestel is. Deur dit te volg, kan hulle dekades of eeue voor die tyd bepaal op watter dag 1 Nisan of sekere feeste sal val. Boonop moes ’n 13de maand soms by die ou maankalender gevoeg word sodat die kalender met die seisoene sou ooreenkom. Die huidige Joodse kalender voeg hierdie maand op vasgestelde tye in; in ’n siklus van 19 jaar word dit by jaar 3, 6, 8, 11, 14, 17 en 19 gevoeg.

24, 25. (a) Hoe is daar in Jesus se dag te werk gegaan om maande te bepaal en vas te stel of ekstra maande nodig is? (b) Hoe bepaal Jehovah se Getuies die datum vir die Here se Aandmaal?

24 Emil Schürer sê egter dat die Jode “in Jesus se dag nog geen vaste kalender gehad het nie, maar elke nuwe maand op grond van suiwer empiriese waarneming met die verskyning van die nuwe maan begin het en insgelyks op grond van waarneming” ’n maand bygevoeg het waar nodig. “As . . . daar teen die einde van die jaar bemerk is dat die Pasga voor die lentenagewening [ongeveer 21 Maart] sou val, is daar verorden dat ’n maand voor Nisan ingevoeg moet word” (The History of the Jewish People in the Age of Jesus Christ, Deel 1). Die ekstra maand pas dus natuurlik in en word nie willekeurig bygevoeg nie.

25 Die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies bepaal die datum vir die Here se Aandmaal volgens die eertydse metode. Die 1ste Nisan word bepaal deur wanneer die nuwe maan naaste aan die noordelike lentenagewening met sononder in Jerusalem sigbaar behoort te wees. As ’n mens 14 dae verder tel, bring dit jou by 14 Nisan, wat gewoonlik ooreenkom met die dag van die volmaan. (Sien Die Wagtoring van 1 Maart 1978, bladsye 23-4.) Op grond van hierdie Bybelse metode is Jehovah se Getuies in alle wêrelddele in kennis gestel dat die Gedenkmaal vanjaar op 10 April na sononder gevier sal word.

26. Watter verdere aspekte van die Here se Aandmaal verdien ons aandag?

26 Hierdie datum kom ooreen met 14 Nisan, die dag waarop Jesus die laaste geldige Pasga gehou het. Maar die viering van die Gedenkmaal vestig die aandag op ’n omvattender redding as wat die Joodse Seder herdenk. Ons moet almal verstaan wat tydens die Here se Aandmaal plaasvind, wat dit beteken en hoe ons redding daarby betrokke is.

[Voetnote]

Sien Die Wagtoring van 1 Mei 1980, bladsye 8-24.

M’Clintock en Strong beskryf hulle as “een van die oudste en merkwaardigste sektes van die Joodse sinagoge, wie se kenmerkende leerstuk streng onderhouding van die letter van die geskrewe wet is”.

“Hulle slag die dier in die aand . . . Om middernag eet elke familiegroep die vleis . . . waarna hulle die oorskietvleis en bene voor die oggend verbrand . . . Party kenners het gesê dat die Samaritaanse godsdiens moontlik baie nou ooreenkom met die Bybelse godsdiens voor rabbynse Judaïsme dit hervorm het.”—The Origins of the Seder.

Hoe sou jy antwoord?

□ Waarom hou die Pasga gepas verband met redding?

□ Hoe kan Jesus se offer meer bewerkstellig as wat die paaslam bewerkstellig het?

□ Watter redding word deur Jesus moontlik?

□ Hoe bepaal Jehovah se Getuies die regte tyd vir die Here se Aandmaal?

    Afrikaanse publikasies (1975-2020)
    Teken af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Voorkeure
    • Copyright © 2019 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan