Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 2/15 bl. 15-20
  • Hoe ons gedurende die Gedenkmaaltyd kan ‘onderskei wat ons is’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe ons gedurende die Gedenkmaaltyd kan ‘onderskei wat ons is’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Dit is my liggaam”
  • Wyn van betekenis
  • Waarom ons gedurende die Gedenkmaaltyd moet onderskei wat ons is
  • ‘Doen dit tot my gedagtenis’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Waarom moet ons die Here se Aandmaal vier?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Die Here se Aandmaal—Hoe moet dit herdenk word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Waarom ons die Here se Aandmaal herdenk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 2/15 bl. 15-20

Hoe ons gedurende die Gedenkmaaltyd kan ‘onderskei wat ons is’

“Indien ons sou onderskei wat ons is, sou ons nie geoordeel word nie . . . sodat ons nie . . . veroordeel word nie.”—1 KORINTHIËRS 11:31, 32, “NW”.

 1. Wat wil ware Christene beslis vermy, en waarom?

DIE laaste ding wat ’n Christen wil hê, is om ongunstig deur Jehovah geoordeel te word. As ons “die Regter van die ganse aarde” mishaag, kan dit daartoe lei dat ons ‘saam met die wêreld veroordeel word’ en redding verbeur. Dit geld hetsy ons hoop op hemelse lewe saam met Jesus of op eindelose lewe in ’n aardse paradys.—Genesis 18:25; 1 Korinthiërs 11:32.

 2, 3. In watter aangeleentheid kan ons ongunstig geoordeel word, en wat het Paulus hieroor gesê?

2 In 1 Korinthiërs hoofstuk 11 het die apostel Paulus gewys op ’n aangeleentheid waarin ons geoordeel kan word. Hoewel hy sy woorde tot gesalfde Christene gerig het, is sy raad belangrik vir almal, veral gedurende die Gedenkmaaltyd. As ons onderskei wat ons is, kan dit ons help om God se goedkeuring te geniet en nie geoordeel te word nie. Paulus het die jaarlikse viering van die Here se Aandmaal bespreek en geskryf:

3 “Die Here Jesus [het] in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem . . . en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.”—1 Korinthiërs 11:23-26.a

 4. Wat sal die aand van 10 April 1990 plaasvind?

4 Jehovah se Getuies sal die Herdenking van Christus se dood op 10 April 1990 na sononder vier. Gewoonlik bestaan elke groep wat byeenkom uit net een gemeente; gevolglik sal daar plek wees vir mense wat nog nie Getuies is nie. Wat sal die vergadering behels? ’n Bybelse toespraak sal gehou word. Dan, na ’n gebed, sal die brood omgestuur word. Nog ’n gebed sal gedoen word voordat die beker omgestuur word. Pleks dat al hierdie dinge volgens ’n formele ritueel of onbuigsame prosedure geskied, word die aantal brode of bekers en die manier waarop dit omgestuur word na gelang van die plaaslike situasie gereël. Die hoofsaak is dat die embleme aan alle aanwesiges beskikbaar gestel moet word, selfs al sal die meeste van hulle dit net aanstuur sonder om dit te gebruik. Maar watter embleme word omgestuur, en wat is die betekenis daarvan? En waaraan moet ons voor die tyd aandag skenk sodat ons kan onderskei wat ons is?

“Dit is my liggaam”

 5, 6. (a) Wat het Jesus met ’n brood gedoen? (b) Watter soort brood het hy gebruik?

5 Ons het gelees wat Paulus met betrekking tot die Gedenkmaal ‘van die Here ontvang het’. Daar is ook verslae deur drie Evangelieskrywers, waarvan een teenwoordig was toe Jesus hierdie viering ingestel het (1 Korinthiërs 11:23; Mattheüs 26:26-29; Markus 14:22-25; Lukas 22:19, 20). Hierdie verslae sê dat Jesus eers ’n brood geneem, gebid en dit toe gebreek en uitgedeel het. Wat was daardie brood? Wat word vandag in die plek daarvan gebruik? Wat beteken dit of stel dit voor?

6 Voedselitems van die Joodse Pasgamaal was byderhand, onder andere brood wat geen suurdeeg bevat het nie, wat Moses “ongesuurde brode . . . , brood van ellende,” genoem het (Deuteronomium 16:3; Exodus 12:8). Hierdie brood is van koringmeel gemaak, en geen suurdeeg, sout of smaakmiddels is gebruik nie. Omdat dit ongesuurd was (Hebreeus, mats·tsahʹ), was dit plat en bros; dit moes in eetbare stukke gebreek word.—Markus 6:41; 8:6; Handelinge 27:35.

 7. Wat gebruik Jehovah se Getuies as brood gedurende die Gedenkmaal?

7 Jesus het ongesuurde brood tydens die Here se Aandmaal gebruik, en daarom doen Jehovah se Getuies vandag dieselfde. Gewone Joodse matzo kan gebruik word mits dit nie met ekstra bestanddele soos mout, uie of eiers gemaak is nie. (Matzo wat daardie bykomende bestanddele bevat, pas nie die beskrywing “brood van ellende” nie.) Of die gemeentelike ouere manne kan reël dat iemand ongesuurde brood bak van ’n deeg wat uit koringmeel en water bestaan. Indien koringmeel onverkrygbaar is, kan ongesuurde brood gemaak word van gars-, rys-, mielie- of ’n ander graanmeel. Die deeg word uitgerol en op ’n broodplaat gebak wat liggies met olie gesmeer is.

 8. Waarom is ongesuurde brood ’n gepaste simbool, en wat dui dit aan as iemand daarvan eet? (Hebreërs 10:5-7; 1 Petrus 4:1).

8 Sulke brood is gepas omdat dit nie suurdeeg (gis) bevat nie, wat in die Bybel gebruik word om verdorwenheid of sonde voor te stel. Paulus het die volgende raad oor ’n onsedelike man in ’n gemeente gegee: ‘’n Bietjie suurdeeg maak die hele deeg suur. Suiwer die ou suurdeeg uit, sodat julle ongesuurd kan wees. Ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid.’ (1 Korinthiërs 5:6-8; vergelyk Mattheüs 13:33; 16:6, 12.) Ongesuurde brood is ’n gepaste simbool van Jesus se menseliggaam, want hy was “heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars” (Hebreërs 7:26). Jesus was teenwoordig in sy volmaakte menseliggaam toe hy vir die apostels gesê het: “Neem en eet hierdie [brood], dit beteken my liggaam” (Mattheüs 26:26, A New Translation of the Bible, deur James Moffatt). As iemand van die brood eet, beteken dit dat hy glo in die nut van die offer wat Jesus ten behoewe van hom gebring het en dat hy dit aanvaar. Maar meer is daarby betrokke.

Wyn van betekenis

 9. Watter ander embleem het Jesus gesê moet gebruik word?

9 Jesus het nog ’n simbool gebruik: “Hy het ook ’n beker geneem, en nadat hy God gedank het, het hy dit vir hulle gegee en gesê: ‘Drink daarvan, julle almal; dit beteken my bloed, die nuwe verbondsbloed, wat vir baie uitgegiet word, om die vergewing van hulle sondes te verkry’” (Mattheüs 26:27, 28, Moffatt). Wat was in daardie gemeenskaplike beker wat hy omgestuur het, en wat beteken dit vir ons terwyl ons probeer onderskei wat ons is?

10. Hoe het dit gekom dat wyn tydens die Joodse Pasga gebruik word?

10 Toe Moses oorspronklik die Pasgafees uiteengesit het, het hy niks gemeld wat gedrink moes word nie. Talle geleerdes meen dat wyn eers baie later, moontlik in die tweede eeu v.G.J.,b ’n deel van die Pasga geword het. Hoe dit ook al sy, die gebruik van wyn tydens hierdie maaltyd was iets algemeens in die eerste eeu, en Jesus het nie beswaar daarteen gemaak nie. Hy het die Pasgawyn gebruik toe hy die Gedenkmaal ingestel het.

11. Watter soort wyn is gepas vir die viering van die Here se Aandmaal?

11 Aangesien die Joodse Pasga lank na die druiwe-oes plaasgevind het, sou Jesus nie ongegiste sap gebruik het nie, maar rooi wyn wat maklik sy bloed kon voorstel. (Vergelyk Openbaring 14:20.) Dit was nie nodig dat Christus se bloed deur enigiets aangevul word nie, en daarom is suiwer wyn gepas, in plaas van wyne wat met brandewyn gefortifiseer is (soos port, sjerrie of muskadelwyn) of waarby speserye of kruie gevoeg is (vermoet, Dubonnet of talle aperitiewe). Ons hoef ons egter nie te bekommer oor hoe ’n wyn berei is—of suiker tydens die gisting bygevoeg is om dit ’n beter smaak of hoër alkoholinhoud te gee en of ’n bietjie swael gebruik is om te verhoed dat dit bederf nie.c Baie gemeentes gebruik ’n kommersiële rooi wyn (soos Chianti, Boergondiese wyn, Beaujolais of klaret) of eenvoudige tuisgemaakte rooi wyn. Die wyn en die brood is bloot embleme, of simbole; daarom kan enige brood en wyn wat oorbly huis toe geneem en later eenvoudig soos ander kos of drank gebruik word.

12. Wat stel die wyn voor, soos Jesus verduidelik het?

12 Die feit dat Jesus tydens die Pasganag van sy bloed gepraat het, het moontlik aan die lam se bloed in Egipte herinner. Maar let op hoe Jesus in werklikheid ’n ander vergelyking getref het toe hy gesê het: “Hierdie beker is die nuwe testament [“verbond”, NW] in my bloed wat vir julle uitgestort word” (Lukas 22:20). God het vroeër ’n verbond met die vleeslike nasie Israel gesluit, en dit is met die bloed van diereoffers bekragtig. Daar was ’n ooreenkoms tussen die bloed van daardie offers en Jesus se bloed. Albei het te doen gehad met God se bekragtiging van ’n verbond met ’n nasie van sy knegte (Exodus 24:3-8; Hebreërs 9:17-20). ’n Kenmerk van die Wetsverbond was dat vleeslike Israel die vooruitsig gehad het om ’n nasie van koning-priesters te wees (Exodus 19:5, 6). Maar nadat Israel versuim het om Jehovah se verbond te hou, het hy gesê dat hy “die eerste verbond” deur “’n nuwe verbond” sou vervang (Hebreërs 9:1, 15, vgl. NW; Jeremia 31:31-34). Die beker wyn wat Jesus nou onder die getroue apostels rondgestuur het, het hierdie nuwe verbond voorgestel.

13, 14. (a) Wat beteken dit om in die nuwe verbond te wees? (b) Wat dui dit aan as iemand die embleme gebruik?

13 Christene met wie hierdie nuwe verbond gesluit is, vorm ’n geestelike nasie van koning-priesters (Galasiërs 6:16). Die apostel Petrus het geskryf: “Julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Petrus 2:9). Dit is duidelik watter redding hulle ontvang—lewe in die hemel as medeheersers saam met Jesus. Openbaring 20:6 bevestig dit: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; . . . hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”

14 Trouens, nadat Jesus die apostels beveel het om die emblematiese brood en wyn te gebruik, het hy vir hulle gesê dat hulle sou ‘eet en drink aan sy tafel in sy koninkryk en op trone sou sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel’ (Lukas 22:28-30). Om die Gedenkmaalembleme te gebruik, beteken gevolglik meer as om bloot in Jesus se offer te glo. Elke Christen moet die losprys aanvaar en geloof beoefen as hy die ewige lewe wil verkry, hetsy in die hemel of op aarde (Mattheüs 20:28; Johannes 6:51). Maar as iemand die embleme gebruik, dui dit aan dat hy in die nuwe verbond is, uitgekies om saam met Jesus in sy Koninkryk te wees.

Waarom ons gedurende die Gedenkmaaltyd moet onderskei wat ons is

15. Hoe het Jesus ’n nuwe hoop vir God se knegte moontlik gemaak?

15 Soos die vorige artikel verduidelik het, het God se lojale knegte wat voor Jesus se tyd gelewe het geen hoop gehad om hemel toe te gaan nie. Hulle het daarna uitgesien om die ewige lewe op aarde, die mensdom se oorspronklike tuiste, te verkry. Jesus Christus was die eerste wat as ’n gees opgewek is, en hy het die eerste mens geword wat na die hemel geneem is (Efesiërs 1:20-22; 1 Petrus 3:18, 22, vgl. NW). Paulus het dit bevestig toe hy geskryf het: “[Ons het] vrymoedigheid . . . om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het” (Hebreërs 10:19, 20). Wie sou volg nadat Jesus daardie weg geopen het?

16. Wat hou die toekoms in vir diegene wat die brood en die wyn gebruik?

16 Die nag toe Jesus die Here se Aandmaal ingestel het, het hy vir sy lojale apostels gesê dat hy vir hulle ’n plek in die hemel gaan berei (Johannes 14:2, 3). Hou egter in gedagte dat Jesus ook gesê het dat diegene wat van die brood eet en uit die beker drink in sy Koninkryk sou wees en op trone sou sit om te oordeel. Sou dit net die apostels wees? Nee, want later is daar aan die apostel Johannes getoon dat ander Christene ook sou oorwin en ‘saam met Jesus op sy troon sou sit’ en dat hulle saam ‘’n koninkryk en priesters sou word wat oor die aarde sal regeer’ (Openbaring 3:21; 5:10, NAV). Daar is ook aan Johannes getoon hoeveel Christene “van die aarde vrygekoop” word—144 000 (Openbaring 14:1-3). Omdat dit ’n betreklik klein groepie is, ’n “klein kuddetjie” vergeleke met almal wat God deur die eeue heen gedien het, is spesiale onderskeidingsvermoë gedurende die Gedenkmaaltyd nodig.—Lukas 12:32.

17, 18. (a) In watter gewoonte het party Christene in Korinthe verval? (b) Waarom was oormatige etery en drinkery so ernstig? (Hebreërs 10:28-31).

17 Paulus het hierdie kwessie aangeroer in sy brief aan die Korinthiërs, toe party apostels nog gelewe het en toe God Christene geroep het om “heiliges” te wees. Paulus het gesê dat ’n slegte gewoonte posgevat het onder diegene in daardie gemeente wat verplig was om die embleme te gebruik. Party het voor die tyd maaltye genuttig waartydens hulle te veel geëet of gedrink het, sodat hulle lomerig geword het, afgestomp in hulle sinne. Gevolglik kon hulle “die liggaam”, Jesus se fisiese liggaam wat deur die brood voorgestel is, nie “onderskei” nie. Was dit so ernstig? Ja! Deur op onwaardige wyse te eet en te drink, het hulle “skuldig [geword] aan die liggaam en bloed van die Here”. As hulle verstandelik en geestelik wakker was, ‘sou hulle kon onderskei wat hulle was en sou hulle nie geoordeel word nie’.—1 Korinthiërs 1:2; 11:20-22, 27-31, vgl. NW.

18 Wat moes daardie Christene onderskei en hoe? Allereers moes hulle in hul hart en verstand oortuig wees dat hulle geroep is om onder die 144 000 erfgename van die hemelse lewe te wees. Hoe het hulle dit onderskei, en het baie wat vandag leef rede om te glo dat hulle lede is van hierdie klein groepie wat God sedert die dae van die apostels uitkies?

19. Wat was die onthullende situasie tydens die Gedenkmaal in 1989?

19 In werklikheid onderskei ’n baie klein minderheid van die ware Christene wat vandag lewe dat hulle tot hierdie groep behoort. Tydens die viering van die Here se Aandmaal in 1989 het meer as 9 479 000 wêreldwyd in die gemeentes van Jehovah se Getuies vergader. Ongeveer 8 700 het bely dat hulle die hoop het om ‘gered te word om in die hemelse koninkryk in te gaan’ (2 Timotheüs 4:18). Die oorgrote meerderheid—ja, miljoene ander lojale, geseënde Christene wat byeengekom het—het onderskei dat dit hulle geldige hoop is om vir ewig op aarde te lewe.

20. Hoe word die lede van die 144 000 bewus gemaak van die feit dat hulle geroep is? (1 Johannes 2:27).

20 Dit was op Pinkster 33 G.J. dat God begin het om die 144 000 vir hemelse lewe uit te kies. Hoe sou diegene wat uitgekies is van hierdie hoop weet en daarvan verseker wees, aangesien hierdie hoop nuut was en God se knegte voor Jesus se tyd dit nie gehad het nie? Hulle onderskei dit deur die getuienis te ontvang wat God se heilige gees daaromtrent gee. Dit beteken nie dat hulle die gees sién (dit is nie ’n persoon nie) of die een of ander geestesbeeld het dat die gees met hulle kommunikeer nie, en hulle hoor ook nie stemme uit die geesteryk nie. Paulus verduidelik: “Die [gees] self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; . . . [ons is] erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.”—Romeine 8:16, 17, vgl. NW.

21. (a) Hoe weet die gesalfdes dat hulle die hemelse hoop het? (1 Korinthiërs 10:15-17, vgl. NW). (b) Watter soort mense is die gesalfdes, en hoe getuig hulle met beskeidenheid van hulle hoop?

21 Hierdie getuienis, of besef, reoriënteer hulle denke en hoop. Hulle is steeds mense wat die goeie dinge van Jehovah se aardse skepping geniet, maar die spil van hulle lewe en belange is om mede-erfgename saam met Christus te wees. Hierdie beskouing is nie op emosionalisme gebaseer nie. Hulle is normale mense met gebalanseerde sienings en gedrag. Omdat hulle deur God se gees geheilig is, is hulle egter oortuig van hulle roeping en het hulle nie blywende twyfel daaroor nie. Hulle besef dat hulle redding tot hemelse lewe sal lei mits hulle getrou bly (2 Thessalonicense 2:13; 2 Timotheüs 2:10-12). Aangesien hulle verstaan wat Jesus se offer vir hulle beteken en onderskei dat hulle geesgesalfde Christene is, gebruik hulle die Gedenkmaalembleme met beskeidenheid.

22. Wat sal die meeste van diegene wat die Here se Aandmaal bywoon, onderskei?

22 Die meeste van dié wat op 10 April gehoorsaam byeen sal kom, het nie daardie hoop nie, want God het hulle nie met gees gesalf en tot hemelse lewe geroep nie. Soos ons reeds gesê het, het God die 144 000 al in die dae van die apostels begin uitkies. Maar dit is te verwagte dat ander wat hom ná die voltooiing van daardie uitkiesing begin aanbid dieselfde hoop sal hê as Moses, Dawid, Johannes die Doper en ander getroue knegte van God wat gesterf het voor Jesus die weg tot lewe in die hemel geopen het. Gevolglik gebruik miljoene lojale en ywerige Christene nie vandag die Gedenkmaalembleme nie. Sulke Christene onderskei wat hulle voor God is in die sin dat hulle besef wat hulle geldige hoop is. Hulle vind baat by Jesus se bloed en liggaam deurdat hulle sondes vergewe word en hulle dan eindelose lewe op aarde verkry.—1 Petrus 1:19; 2:24; Openbaring 7:9, 15.

23. Waarom sal die Gedenkmaal ’n vreugdevolle viering wees? (Vergelyk 2 Kronieke 30:21.)

23 Laat ons dus uitsien na die vreugdevolle viering op 10 April. Dit sal ’n tyd wees om onderskeidingsvermoë aan die dag te lê, maar ook ’n tyd vir blydskap. Blydskap vir die klein groepie met die hemelse hoop wat gepas en gehoorsaam van die brood sal eet en uit die beker sal drink (Openbaring 19:7). En ook blydskap vir miljoene vreugdevolle Christene wat daardie aand sal toekyk en leer en wat hoop om daardie betekenisvolle viering vir ewig op aarde te onthou.—Johannes 3:29.

[Voetnote]

a “In die nag waarin Hy oorhandig is, het die Here Jesus brood geneem; Hy het gedank, dit gebreek en gesê: ‘Dit is my liggaam wat vir julle is; doen dit tot my herdenking.’ Hy het insgelyks die beker geneem nadat die aandete oor was en gesê: ‘Hierdie beker is die nuwe verbond, verseël deur my bloed; elke keer wat julle dit drink, moet julle dit doen tot my herdenking.’”—An Expanded Paraphrase of the Epistles of Paul, deur F. F. Bruce.

b Een geleerde verstrek hierdie opinie oor waarom wyn bygevoeg is: “[Die Pasga] sou nie meer ’n plegtige jaarlikse vergadering van volwasse mans wees nie; dit sou die geleentheid vir gesinsfeestelikheid word, waarin die drink van wyn natuurlikerwys ingepas het.”—The Hebrew Passover—From the Earliest Times to A.D. 70, deur J. B. Segal.

c Sedert die ou tyd word sout, eierwit en ander bestanddele gebruik om wyn te verhelder of die kleur en smaak daarvan te laat uitkom. Die Romeine het selfs swael as ’n ontsmetmiddel tydens wynbereiding gebruik.

Wat is jou antwoord?

◻ Waarom word ongesuurde brood tydens die Gedenkmaal omgestuur, en wat simboliseer dit?

◻ Wat is die beker wat tydens die Here se Aandmaal omgestuur word, en wat stel dit voor?

◻ Waarom is onderskeidingsvermoë nodig in verband met die Gedenkmaal?

◻ Waarom sien jy uit na die komende Gedenkmaal?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel