Wat beteken Jesus se dood vir jou?
“AL DIE leërs wat ooit geveg het, al die vlote wat ooit gebou is, al die parlemente wat ooit gesit het en al die konings wat ooit geheers het, het saam nie so ’n kragtige uitwerking op die lewe van die mensdom op aarde gehad as hierdie enkele persoon nie.” Skrywer James A. Francis het hierdie woorde oor Jesus Christus geskryf.
Mense het verskillende beskouings van Jesus, maar die Bybel identifiseer hom as God se Seun en ’n man van selfopofferende liefde. Jesus het ’n vername manier genoem waarop hy daardie liefde betoon het toe hy van homself gesê het: “Die Seun van die mens [het] nie gekom . . . om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie.”—Mattheüs 20:28.
Wat beteken hierdie losprys? Waarom was dit nodig? Wie word losgekoop? Ja, wat beteken Jesus se dood vir jou?
Wat is dit?
’n Losprys is iets wat vrymaak. As iemand losgekoop is, beteken dit dat hy van gevangenskap of straf bevry is omdat iemand ’n prys betaal het. In geestelike sin beteken “om los te koop” die verlossing van sonde en die straf daarvoor. Dit is waarom Jesus gesterf het. Soos die Christenapostel Paulus geskryf het: “Die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.”—Romeine 6:23.
Loskoping word in die Skrif met die betaling van ’n losprys geassosieer. Psalm 49:6-9 (NW) sê: “Diegene wat op hulle middele vir lewensonderhoud vertrou en dié wat hulle op die oorvloed van hulle rykdom beroem, nie één van hulle kan op enige manier selfs ’n broer loskoop nie, of aan God ’n losprys vir hom gee nie (en die loskoopprys vir hulle siel is so kosbaar dat dit tot onbepaalde tyd opgehou het), sodat hy nog vir ewig sou lewe en die kuil nie sou sien nie.” Die losprys is ’n verlossing wat deur God bewerkstellig word, nie deur ’n onvolmaakte mens nie.
Waarom is dit nodig?
Die losprys is nodig omdat ons eerste mensevader, Adam, gesondig het. Hy het derhalwe eindelose, volmaakte lewe verloor, is met reg ter dood veroordeel en het uiteindelik gesterf (Genesis 2:15-17; 3:1-7, 17-19; 5:5). As sy nageslag het ons sonde en die dood geërf. “Deur een mens [het] die sonde in die wêreld ingekom . . . en deur die sonde die dood”, het Paulus geskryf, “en so [het] die dood tot alle mense deurgedring . . . omdat almal gesondig het” (Romeine 5:12). Ja, ‘in Adam sterwe almal’ (1 Korinthiërs 15:22). Die psalmis Dawid het dus tereg gesê: “In ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.”—Psalm 51:7.
Dit is vir enige sondige nakomeling van Adam wat die ewige lewe wil hê noodsaaklik om verlos te word van veroordeling tot sonde en die dood. Aangesien onvolmaakte mense nie hierdie losprys kan voorsien nie, het Jehovah dit liefdevol deur middel van Jesus Christus gedoen. Maar wat word deur die losprys gekoop? Wel, toe Adam gesondig het, het hy ewigdurende, volmaakte menselewe, met al die regte en vooruitsigte daaraan verbonde, verloor. Gevolglik is juis dít deur middel van Jesus se losprysoffer teruggekoop.
Watter moontlikheid dit skep
Die feit dat die dood die straf vir sonde is, het aan die eise van geregtigheid voldoen. Die losprys is dus ’n blyk van God se genade en goedertierenheid. Jesus se volmaakte menselewe, met al die regte en vooruitsigte daaraan verbonde, is in die dood afgelê en nooit teruggeneem nie, want hy is nie as ’n man van vlees en bloed opgewek nie, maar as ’n onsterflike geesskepsel (1 Korinthiërs 15:50; 1 Petrus 3:18, NW). Gevolglik kon die geofferde menselewe van Jesus Christus mense steeds verlos, of vrykoop.
Jesus het hom, as sondelose mens, in ’n soortgelyke posisie bevind as waarin die volmaakte Adam hom oorspronklik bevind het. Omdat Jesus tot die dood toe aan God gehoorsaam was, is hy die groot Hoëpriester gemaak en het hy die waarde van sy volmaakte menseoffer in die hemel aangebied (Hebreërs 9:24-26). Omdat God hierdie losprys aanvaar het, kon Jesus die gelowige nageslag van Adam van sonde en die dood verlos deur die waarde van sy offerande ten behoewe van hulle aan te wend (1 Korinthiërs 6:20; 7:23; 1 Johannes 2:1, 2). Jesus het dus “vir almal wat Hom gehoorsaam is, ’n bewerker van ewige saligheid geword” (Hebreërs 5:8, 9). Dit maak dit vir hulle moontlik om ’n regverdige posisie voor God deur middel van sy Seun te kry.
Wie word losgekoop?
Wie trek dan voordeel uit die losprys? Mense wat in hierdie voorsiening geloof beoefen en gevolglik in harmonie met God kom. As hulle hom getrou dien, kan hulle van sonde en die straf daarvoor, die dood, bevry word en die ewige lewe verkry.—Johannes 17:3.
Die eerste man kon besluit of hy God wou gehoorsaam of nie. Hy het ongehoorsaamheid gekies. “Adam is nie verlei nie”, maar het as ’n opsetlike sondaar gesterf (1 Timotheüs 2:14). Maar wat van Adam se nageslag? Hulle kon kies om God òf na hulle beste, dog onvolmaakte, vermoë te dien, òf om aan hul Skepper ongehoorsaam te wees.—Josua 24:15.
Jesus het gekom om “sy lewe te gee as ’n losprys vir baie” (Markus 10:45). Maar wie is die “baie”? Adam word klaarblyklik uitgesluit omdat hy ’n volmaakte man was wat doelbewus besluit het om aan God ongehoorsaam te wees en as ’n onberouvolle, opsetlike sondaar gesterf het. Maar wat van sy groot familie, wat miljarde tel? Jesus Christus neutraliseer die oorgeërfde veroordeling van Adam se familie met ’n ooreenstemmende prys. (Vergelyk 1 Timotheüs 2:5, 6, NW.) Jesus wend die waarde van sy losprys ten behoewe van die “baie” gelowiges aan.
Losgekoopte gelowiges sluit Jode en nie-Jode in. Paulus sê: “Net soos dit deur een misdaad vir alle mense tot veroordeling gekom het, so ook is dit deur een daad van geregtigheid vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe” (Romeine 5:18). Deurdat hy aan ’n folterpaal gesterf het, het “Christus . . . [Jode] losgekoop van die vloek van die wet deur vir [hulle] ’n vloek te word—want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ’n hout hang” (Galasiërs 3:13; Deuteronomium 21:23). Romeine 4:11 praat van nie-Jode wanneer dit sê dat Abraham, die voorvader van die Jode, terwyl hy onbesnede was “die vader [geword het] van almal wat glo terwyl hulle onbesnede is”. Jesus se losprysoffer strek dus gelowige Jode en nie-Jode tot voordeel.
Die weg wat elkeen inslaan, bepaal of hy voordeel sal trek uit Jesus se offer. Diegene wat, soos Adam, opsetlik goddeloos is, word nie gedwing om die waarde van die losprys en die ewige lewe te aanvaar nie. Soos Christus gesê het: “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom” (Johannes 3:36). Die losprys maak ook ’n opstanding vir die dooies wat in God se geheue is moontlik (Johannes 5:28, 29). As hulle toon dat hulle gehoorsaam en waarderend is, beteken die aanwending van die losprysvoordele dat hulle vir ewig sal lewe. Maar vir diegene wat in hierdie “laaste dae” lewe, bestaan die moontlikheid van ewige lewe sonder dat hulle ooit hoef te sterf.—2 Timotheüs 3:1-5; Mattheüs 24:3-14, 21, 34; Johannes 11:25, 26.
Redes tot dankbaarheid
Almal wat by die losprys wil baat vind, moet groot waardering daarvoor hê. En hoe gepas is sulke dankbaarheid tog! Die losprys het immers groot liefde van God en Christus geverg.
Jehovah God het groot liefde betoon deur die losprys deur middel van sy Seun se dood te voorsien. Jesus het gesê: “So lief het God die [mense]wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word” (Johannes 3:16, 17). Behoort jy nie hierdie blyk van God se liefde te waardeer nie?
Dink verder na oor die diepte van Jehovah se liefde toe hy die losprys moontlik gemaak het. God se Seun het ’n voormenslike bestaan gehad voordat hy na die aarde gestuur is om as ’n volmaakte mens te lewe en te sterwe. Hy was “die Eersgeborene van die hele skepping” waardeur ‘alle dinge in die hemele en op die aarde, sienlik en onsienlik, geskape is’ (Kolossense 1:13-16). Hoe lief het Jehovah sy Seun tog gehad! God het nogtans nie sommer enigeen van die miljoene regverdige engele aarde toe gestuur nie. Sy liefde vir die mensdom was so groot dat hy sy eersgebore Seun gestuur het.
Dink ook aan die groot liefde wat Jesus met betrekking tot die losprys getoon het. Toe hy ’n geesskepsel in die hemel was, was hy God se “meesterwerker”. Ja, “die dinge waarvoor [God se Seun] lief was, was by die mensekinders” (Spreuke 8:22-31, NW). Dit was nogtans nie vir hom maklik om die hemel, en daardie uiters gunstige omstandighede saam met sy Vader en tienduisende regverdige engele, te verlaat nie. Uit sy hemelse posisie kon die Seun van God die bose toestande op die aarde en die skade wat sonde en die dood onder die mensdom aangerig het, sien. Hy het ook geweet dat dit sy dood sou kos om die losprys te voorsien. Maar hy het “die gestalte van ’n dienskneg [aangeneem] en aan die mense gelyk geword; . . . Hy [het] Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe.” Weens sulke getrouheid is Jesus tot glorieryke hemelse lewe opgewek (Filippense 2:5-11). Watter liefde het hy tog ten opsigte van die losprys betoon! Waardeer jy wat Jesus gedoen het?
Wat gaan jy doen?
Die Britse prelaat Richard van Chichester (c. 1198–1253) het eenmaal gebid dat mans en vroue “Jesus Christus beter moet leer ken, hom inniger moet liefhê en hom noukeuriger moet volg”. Jesus se losprysoffer verskaf beslis een goeie rede om hom te leer ken, lief te hê en te volg.
Was dit nie vir die losprys nie, sou ons as sondaars sonder hoop gesterf het, want “die angel wat die dood veroorsaak, is die sonde” (1 Korinthiërs 15:56, NW). Wat moet jy dus doen om gered te word van die dood wat volg omdat jy deur die sonde gesteek is? Jy moet van God se voorsiening vir redding deur middel van Jesus Christus leer. Dan moet jy toon dat jy geloof beoefen in die losprys. Hoe? Deur hartgrondige waardering daarvoor te toon, jou aan God toe te wy en ander van hierdie wonderlike voorsiening vir redding te vertel.
Hierdie handelwyse kan jou ’n lid van die “groot menigte” maak wat “uit die groot verdrukking kom, en . . . hul klere gewas en hul klere wit gemaak [het] in die bloed van die Lam”, Jesus Christus (Openbaring 7:9, 14). Hulle het die hoop om vir ewig op ’n aardse paradys te lewe (Lukas 23:43, NW). Ja, en jy kan ’n lid van daardie vreugdevolle skare wees, as Jesus se dood vir jou werklik iets kosbaars is.
[Prent op bladsy 4]
Die sondelose Jesus het hom in ’n soortgelyke posisie bevind as waarin die volmaakte Adam hom oorspronklik bevind het
[Prent op bladsy 6]
Besef jy wat Jesus se dood werklik beteken?